Labirint
Chanette Paul
Queillerie
Soms is vlug nie meer ’n opsie nie
Vooraf
Woensdag 29 Februarie
Woorde wat toiletgraffiti na kinderkuns laat lyk, drup in rooi, skewe letters teen die woonkamermuur.
Op die mat lê ’n blik PVA in ’n poel verf die kleur van bloed. Die blik kom uit haar eie motorhuis. Sy wou ’n tafeltjie daarmee verf. Die kleur bots met sommige van die kelim se aardse kleure en versmelt in ander. Sitkamermeubels is op hulle sye gekantel, die bank- en stoelkussings oor die vloer verstrooi. Dik derms stoffeersel peul oral uit. Boeke is uit die rakke gepluk. Die skemerlamp leun skuins in sy eie skerwe.
Vasti draai stadig in die rondte, lees die ontstellende woorde teen die mure. Asof sy haarself wil straf omdat sy hierdie nagmerrie raak gedroom het in ’n dimensie waarvan sy nie eens bewus was nie. Slet is die makste daarvan.
Bekers, pierings en borde lê aan stukke op die vloer van die oopplankombuis. ’n Blou en wit skerf krul langs ’n porselein-sirkeltjie – die tuit en oor van ouma Marien se Delft-teepot wat nog saam met oupa Kees uit Holland gekom het.
Die deure na albei slaapkamers staan oop. In die eerste is die beddegoed afgeruk. Die matras hang halfmas oor die bed – donkergrys blertse deur die glansmateriaal geabsorbeer. Die bed, die vloer besaai met haar klere.
In die tweede slaapkamer, haar ateljee, lê verflenterde skilderye hot en haar. In ’n dwaal stap sy daarheen. Die sterk reuk van terpentyn oordonder hier die reuk van verf. Die hele besending wat na Runa toe moes gaan, is daarmee heen. Net die laaste oorblywende deel van haar Paas-triptiek en haar eerste engelskildery is nie verwoes nie.
Vasti gaan terug sitkamer toe, hurk by ’n boek wat oopgevlerk op die vloer lê. The Unbearable Lightness of Being. Die blaaie het van die stinkerige water uit die omgekeerde blompot geabsorbeer en die hoed op die omslag staan bol van die vog.
Sy skud die ergste water van die deurdrenkte blaaie af, lees in ’n dwaal ’n gedeelte wat sy jare gelede onderstreep het. The idea of eternal return is a mysterious one, and Nietzsche has often perplexed other philosophers with it: to think that everything recurs as we once experienced it, and that the recurrence itself recurs ad infinitum!
’n Geluid by die venster laat haar verskrik regop kom. Die geknars van glas wat breek. Sy koes, struikel, oorkompenseer, trap iets in die chaos om haar voete raak. Die laaste beeld voor haar oë is die hoek van die koffietafel wat teen verbysterende spoed naderkom.
1
Maandag 26 Maart
Deure waaragter die onbekende lê, lyk om die een of ander rede anders as dié wat na die bekende lei. Vasti staar na die een voor haar. Met sy koperhandvatsel en relatief beskeie koperplaatjie op ooghoogte, is hierdie een onpretensieus. Die plaatjie profeteer dat Stiaan Sonnekus aan die onbekende ander kant sal wees. En dat hy ’n kliniese sielkundige is.
Dolf Verster het dit uiteindelik tog reggekry. Hy het haar van haar verstand af. Twee en twintig jaar nadat hulle mekaar die eerste keer ontmoet het. Op ’n blind date wat sekerlik sy oorsprong in die hel gehad het. Of dalk het sy iets in ’n vorige lewe aangevang en betaal die afgelope twee dekades af aan die karmaskuld. Dit moes werklik ’n gruwelike ding gewees het. En om te dink die blind date was so onskuldig bedoel. Net iemand om haar na Karlien-dameskoshuis se Donkiedans te vergesel. ’n Eenmalige date omdat die liefde van haar lewe op Kovsies studeer het en eerstejaars verplig was om die dans by te woon.
Dis natuurlik ook moontlik dat sy mal gebore is en Dolf net die sneller was. Op Bredellsdorp hang daar hoeka ’n swaar vraagteken oor die De Leeuws se geestesgesondheid. En dis maar een van vele vraagtekens.
Vasti druk die deur oop. Regs is ’n toonbank, so onpretensieus soos die deur; ’n ontvangsdame, minder onpretensieus, daaragter. Teen die een muur ’n klompie soldaatregop stoele in ’n ry. Twee beset. Sy vermy die twee mans se oë en draai na die ontvangsdame wat haar groet en vraend aankyk.
“Vasti de Leeuw. Dokter Benade het geskakel vir ’n afspraak?” Haar stem klink kalm, verraai nie haar gespannenheid nie. Of so hoop sy.
Die ontvangsdame knik. “U sal net ’n bietjie geduldig moet wees. Ons moes u indruk en meneer Sonnekus is reeds effens agter met sy afsprake,” maak sy diplomaties seker Vasti weet sy verontrief hulle. Sy stoot ’n spul vorms en ’n pen na Vasti toe. “U kan solank hierdie begin invul. Die los vorm kan u vir my gee wanneer u klaar is. Die vraelyste wat met die skuifspeld bymekaar gehou word, kan u op u tyd invul solank dit ons ’n dag of twee voor u volgende afspraak bereik. Ek het vir u ’n afspraak ingeruim vir volgende week. Woensdag, die vierde April, om halftwaalf. Sal dit u pas?”
Vasti kan nie onthou wanneer laas iemand haar as u aangespreek het nie. Sy knik ingedagte, besef dan sy is regtig nie van plan om weer hierheen te kom nie. Sy gaan haar nie weer deur Dawid Benade laat afpers nie. “Ek bedoel . . .”
“Sit gerus,” val die ontvangsdame haar in die rede toe die foon begin lui. Sy steek haar een hand uit na die instrument, beduie met die ander in die rigting van die stoele en antwoord die foon in ’n professionele stem. Vasti vind haar bekwaamheid en vermoë tot multi-tasking onrusbarend.
Sy gaan sit in die hoek verste weg van die ander twee wagtendes, vermy steeds hulle oë. Die eerste vorm gaan vinnig. Vasti de Leeuw. Nege en dertig. Vroulik. Geskei. Sy vul die Leeuwendrift-adres, haar selnommer en na ’n kort huiwering haar nuwe landlynnommer in. Beroep. Sy rol die pen tussen haar middelvinger en duim. Dit sal bra aanstellerig klink om te sê sy is ’n kunstenaar, maar skilder kan beteken sy verf dakke. Kunstenaar dan maar. Geen mediese fonds nie. Haar mediese geskiedenis pas in twee lyntjies. Mangels uitgehaal. Histerektomie. Verwys deur: Dokter Dawid Benade.
Dawid. “Jy’s ’n wrak, Vasti. En dis ook g’n wonder nie. Runa het my vertel van jou meenthuis daar by Hartbeespoortdam. Van die vandalisme.” Baie ernstig. Dawid kon nog altyd baie ernstig raak. “Dis goed dat jy teruggekom het hierheen. Uiteindelik. Hier het jy ten minste vriende, kan ons jou probeer help.”
Vriende? wou sy vra, maar wou liefs nie aan daardie miernes krap nie. Haar kamermaat op universiteit wat intussen haar kunsagent geword het, tel as vriendin, maar sy het Runa nog nie eens laat weet sy kom terug Overberg toe nie. Net van die vandalisme en dat die besending skilderye wat sy binnekort sou gestuur het, verwoes is.
En Dawid? Beskou hy homself werklik as haar vriend? Ná al die misverstande, leuens, beskuldigings, oordele en vooroordele? Die gevolge wat daar rondom uitgekring het?
Selfs op skool was vriende maak nie haar sterk punt nie. Nie op Leeuwendrift in die laerskool nie en nog minder hier op Bredellsdorp waar die naaste hoërskool is.
Op Leeuwendrift, die agterspeen-dorpie waar sy gebore is, het sy apart gestaan van die res omdat haar pa ryk, bombastiese Leon de Leeuw was, en haar oupa aan moederskant ’n Hollander.
Hier op Bredellsdorp, die vooruitstrewende een van die tweelingdorpe twaalf kilometer uitmekaar, word Leeuwendrift-kinders as agtertangs beskou, ongeag wie jou pa of oupa is. Hier word vriendskapsbande op laerskool al gesmee en die klieks uitgesorteer voor die hoërskooljare aanbreek. Maar die ware nagmerrie het eers begin toe Vasti ná ouma Marien se dood, so kort ná ma Truida s’n, koshuis toe moes gaan. Dis toe dat sy werklik agtergekom het hoe sterk die vete tussen die twee dorpe is. En die vete tussen die Bredells en De Leeuws.
En nou is sy weer op pad Leeuwendrift toe. Of sy sal wees as Dawid net vir haar die ellendige sleutels vir haar pa se huis sal gee. Gisteraand het sy te laat hier aangekom om Dawid te pla en het sy in die Backpackers oornag. En toe sy vroeër vanoggend by sy spreekkamer instap, het Dawid haar net een kyk gegee en dadelik aangedring om haar te ondersoek. Tussendeur het hy haar uitgevra en uiteindelik geweier om die sleutels te gee tot sy by Stiaan Sonnekus was. Sodat sy “met iemand kan praat”.
En nou moet sy ’n verdomde sielkundige kom sien voor sy by Leeuwendrift kan uitkom. Leeuwendrift, waar sy hopelik haar wonde kan lek. Waar sy die verlede noodwendig in die oë sal moet kyk, maar selfs dit