Nicholl knik. “Ek lei af dis oor daardie voorval dat jy weer getrek het?”
“Ja, en toe ek moes besluit waarheen, het dit vir my logies gevoel om hierheen te kom. Die huis staan leeg ná my pa se dood.”
“Ek hoop regtig dit gaan beter hierdie keer. Jy kan maar enige tyd op my knoppie druk, hoor. Ek sal enigiets binne my vermoë doen om te verhoed dat jou eks jou opspoor. Jou lewe van voor af versuur.”
“Dankie, Nicholl, ek waardeer dit.” Sy huiwer ’n oomblik, druk dan tog deur. “Ongelukkig het hy my reeds weer opgespoor. Hy het my klaar weer begin bel.” Miskien is dit beter dat iemand weet.
“Liewe hemel, Vasti!” Vir die eerste keer kyk hy haar in die oë. “Ek is so jammer om dit te hoor.”
“Selfs Dolf sal seker die een of ander tyd moeg raak vir die speletjie.” Sy praat teen haar beterwete in en sy sien Nicholl besef dit ook. “Hy sal meer as duisend kilometer moet aflê om hier te kom. Hopelik bly dit by oproepe,” probeer sy haar redenasie versterk.
“Kom ons hoop so. Maar as hy jou pla, moenie huiwer om die interdik te gebruik nie. Dankie vir die koffie,” besluit hy klaarblyklik om die saak daar te laat, al lyk hy nie oortuig nie.
Sy volg hom tot by die voordeur en sluit oop.
“Jy moet veiligheidshekke kry.” Kommer spreek uit die erns waarmee hy na haar afkyk.
Sy knik. “Dis my plan.”
“Het jy nog my selnommer?”
“Dis op my selfoon.”
“Bel my enige tyd oor enigiets.” Hy buig en soen haar onverwags op die voorkop. Sy lippe is warm en effens klam. “Pas jouself op.”
Vasti kyk die Discovery met gemengde gevoelens agterna. Hy het haar kom steur, haar ritme onderbreek, maar dit was gaaf van hom om te kom groet. Gaaf dat hy hom oor haar wil ontferm. En tog kan sy die vae gevoel van onrus nie afskud nie. Die gevoel dat Nicholl van nature ’n man met meer as een agenda is.
Sy sit die bekers in die opwasbak. Sy sal dit later was, as daar meer skottelgoed is. Môre. Oormôre. Wanneer ook al.
Toe sy weer voor haar skildery gaan staan, skok die knalkleure op die doek haar. Die distorsie van die gesig ook. Die rou emosie in die oë. Onmiskenbaar ’n diep intense vrees. Is dit regtig haar werk hierdie?
’n Moedeloosheid spoel oor haar. Wat is sy besig om aan te vang? Wie sal willens en wetens iets so ontstellends in hulle huis wil hang?
Vasti gee ’n tree terug en voel die muur teen haar rug. Sy skuur daarteen af en hurk met haar knieë teen haar lyf vasgetrek. Met al die skade en verhuisings lyk haar bankrekening beroerd. En die kommersiële goed vir Runa wil nie meer geredelik kom nie. Waar sy nadat sy van Dolf af weggevlug het nie meer ernstige kuns kon skep nie, kan sy nou nie meer die oppervlakkigheid veel nie. Maar hierdie skildery . . . Dit lyk soos die werk van ’n mal mens.
Miskien moet sy maar êrens gaan werk soek. Sy voel hoe die trane weer vlak gaan sit. Nee, sonder skilder sal sy nie kan leef nie. Veral nie noudat sy weer uiting kan gee aan dit wat diep binne-in haar lê nie. Sy druk haar vuis teen haar voorkop tot haar kop van binne en buite pyn.
Hierdie keer hoor sy die deurklokkie.
Vasti sit vir ’n oomblik nog botstil en luister na die eggo van die skril klank, stoot haarself dan traag teen die muur op. Met die rugkant van haar hand vee sy die oorblyfsels van die trane af en stap dan behoedsaam sitkamer toe.
Sy loer deur die venster. Dis nie Dolf nie. Gelukkig ook nie Nicholl nie. Sy maak die voordeur oop en kyk vraend na die lang skraal seun – nee, jongman – voor haar. Sy vaalblonde kuif is deurmekaar en natgesweet, die bril voor die ligbruin oë sit effens skeef asof die een lens dalk heelwat swaarder as die ander kan wees. Sy klere is verkreukel en die sak wat oor ’n maer skouer hang, is gehawend.
“Middag?” vra-groet Vasti toe hy net na haar staar.
“Hallo, tannie. Is tannie Vasti de Leeuw?” Die stem is ’n oktaaf hoër as wat mens sou verwag.
Vasti knik.
“Die skilder?”
Vasti knik weer.
“Ek . . .” Hy vee deur die kuif. “Ek skilder ook. Ek het tannie se bakkie hier sien staan. Ek . . . Lesse, tannie. Ek wil lesse by tannie neem.” Daar is ’n waaksaamheid in sy oë, asof hy verwag dat sy hom enige oomblik ’n oorveeg gaan gee.
“Lesse?” herhaal sy sinneloos.
Hy knik. “Ek neem kuns op skool, tannie, maar dis . . . dis nie genoeg nie. My ouma het gesê ek kan maar kom vra. Sy’t gesê ek moet sê daar is genoeg geld in die trust. Ons kan die lesse bekostig.”
“Wat is jou naam?” Vasti vra dit eerder om haar gedagtes georden te kry as omdat sy intens belangstel in die antwoord.
“Eben, tannie. Eben Kirsten.” Hy wikkel ’n groot plat lêer uit die sak en hou dit na haar toe uit. “Ek het van my goed gebring . . . as tannie wil kyk.”
Sy verbeel haar sy onthou die naam Kirsten. As sy reg onthou, het sy op laerskool ’n onderwyser met daardie van gehad. Hy is dood kort nadat sy hoërskool toe is. En dit was ook die weduwee-buurvrou wat deur haar pa verwilder is se van, onthou sy nou. Dalk nog die fairy godmother wat haar huis vir haar skoongemaak het.
Vasti kyk stip na die lêer, draai dan om. “Kom in. Hou net in hemelsnaam op om my te tannie,” verras sy haarself met ’n trae opvlieëndheid. “Noem my liewer net Vasti,” probeer sy vergoed.
Sy sprei die stukke wat uit die lêer kom op die koffietafel uit, bekyk hulle, tel een op en stap venster toe daarmee, hou dit in die lig. Sy herhaal die proses met ’n paar van die ander.
Vasti kyk na die seun. Hy kou sy lip en die kneukels bult wit om die slingers van sy drasak.
“Jy kan kom. Donderdae. Halfdrie tot ons klaarmaak. Van aankomende week af.”
“Dankie! Baie dankie, tan– . . . Vasti. Ek kan nie vir jou sê wat dit vir my beteken nie. Ek . . .”
Haar handgebaar keer hom om verder te gaan. “Kom ons kyk maar eers hoe dit gaan.” Sy wik en weeg ’n oomblik, vra dan tog: “Jou ouma was nie dalk eergister hier om my te verwelkom of iets nie?”
Hy skud sy kop. “Nee, jinning, sy kan nie eens met die rolstoel uit die huis kom nie. Dis die trappe, sien.”
Tata, buurvrou-teorie. “Sy het nie dalk haar huishulp oorgestuur nie?” probeer weer.
“Nee, Jemima kom net een oggend ’n week en dis Vrydagoggende. Verder moet ek maar inspring. My ouma is streng oor die trustgeld. Oor ek universiteit toe wil gaan.”
Suzie kom skuur flikflooierig teen Vasti se bene.
Eben hurk. “Ag, sweet. Hallo, kietsiekat.” Hy steek sy hand na Suzie uit en gee die volgende oomblik ’n uitroep, val agteruit toe hy probeer wegkom van die kat wat sekelrug sis en grom. Eben kom orent en inspekteer die bloedrooi hale wat oor sy hand en voorarm lê met ’n uitdrukking van ongeloof. “Jissis,” prewel hy en vee van die bloeddruppels af teen sy broek. Sy ouma gaan hom bless oor die vlekke, dink Vasti, maar sy kyk ewe verstom na Suzie wat steeds nie ’n tree agteruit staan nie, net harder grom.
Hy druk sy bril wat skuins geval het terug en skud sy kop. “Ek laaik katte, dêmmit.”
Vasti buk en streel ietwat lugtig oor Suzie se rug. Die kat ontspan effens. Vasti tel haar op en staan ’n tree weg van Eben af.
“Ek dink sy sal uit jou pad bly, moet maar net nie met haar probeer speel nie, oukei?”
Eben se oë vernou effens toe hy