Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
is die toneelstuk ’n metode om die voorgeskrewe boek makliker onthoubaar te maak? Daarteenoor was georganiseerde sport van die allergrootste belang. ’n Sekere groep, wat nie voldoende aandag aan alles kon gee nie, moes kies tussen die twee. Aangesien Colet geen besondere talent in hierdie laaste rigting getoon het nie, moes hy hom by die eerste groep skaar en daar homself met alle mag laat geld.

      Hy het gou agtergekom dat daar nie plek vir die alleenloper was nie. Nie alleen het die onderwysers alleenlopery met allerhande siniese aanmerkings ontmoedig nie, maar die seuns het self ’n besondere vermoë gehad om die wanaangepaste se lewe ondraaglik te maak. Die verskil tussen hierdie lewe en die vertroetelde bestaan by die huis was so opvallend dat hy in sy poging om suksesvol te wees, uit sy pad gegaan het om alle bande met die verlede te verbreek. Sy herinnerings daaraan het derhalwe al dadelik vervaag, maar ook die persone daaraan verbonde het, in hierdie nuwe milieu, heeltemal anders voorgekom. Party aande het hy gelê en dink: “Ek was darem ’n eienaardige klein skepseltjie gewees. ’n Pure vroulike klein gesiggie.” As hy soms aan Johan dink, het hy hom só geskaam oor wat hy alles gesê en gedoen het dat hy bewustelik van hom probeer vergeet het. Die beeld van juffrou Du Toit het ook vervaag, en hy het moeite gehad om selfs te onthou presies hoe sy gelyk het. Suzanne en Theuns het begin word soos meubelstukke: hy is geheg aan hulle en skryf gereeld vir hulle, maar verder het hulle geen besondere betekenis meer nie. Van almal, snaaks genoeg, was dit slegs Agnes aan wie hy telkemale gedink het. Op skool het jong meisies ’n besondere plek in die gedagtes van die seuns ingeneem. Hy het baie stories van sy maats gehoor oor hoe hulle met een of ander “kat” gevry het. Elkeen het ’n besondere ondervinding gehad om te vertel. Agnes was sy enigste. Hy het allerhande versinsels bygedink in sy vertellinge, en dit naderhand self geglo. Die herinnering aan haar fris skooldogterfiguur het die nodige prikkeling ingehou, en hy het heelwat ander Agnesse ontmoet met tiekie-aande en, soos al die ander seuns, lawwe dingetjies begin sê en onder allerhande voorwendsels onbeholpe soentjies gesteel en hande vasgehou in die bioskoop.

      Die bioskoop het ’n belangrike plek in sy lewe ingeneem. Dit was ’n gereelde Saterdagse instelling. Hy het altyd na dieselfde skouburg gegaan, ongeag watter prent vertoon is, en saam met sy maats heel agter in die saal gesit. Hy het hom verlustig in die sagte tapyte, die harige sitplekke, die yskoue limonade, die gesoute grondboontjies, die pakkies twintig Flag-sigarette en die gevoel van verwagting as die donkerte meteens toesak en alle aandag gevestig word op die flikkerende wit letters wat meteens op die doek verskyn. In die ry voor hulle het gewoonlik ’n klomp jong dogters gesit: ’n veelkleurige streep giggelende, welriekende, geverfde, gretige bondeltjies seks. As alles stil is, en almal se oë gevestig is op die ontvlugtingstonele op die doek, het hulle hulle hande stadig deur die openings tussen die stoele laat gly en aan sagte lyfies geraak wat rillend meegee en met ingewikkelde wentelings deelneem aan die spel. Gedurende pouses het hulle uitgegaan en in die skel lig van die son groot stukke roomys verslind en in groepies rondgeloer na dieselfde meisies, wat nou maak asof hulle hulle nie meer ken nie, en hulle rûe draai op die verspotte aanmerkings en tog, met dieselfde draaibewegings, uitnodigings stuur en beloftes sein vir verdere proefnemings in die donker.

      Hy het ook, soos al die ander seuns, volgens sekere maatstawwe gehandel, gepraat en gedink: die linkerhand altyd in die broeksak, die stem effens hard en trekkerig en deurspek met “slang”-woorde, algehele onverskilligheid teenoor sentimentele aandoenings en “dieper” dinge, fanaties getrou aan ’n kode wat terselfdertyd selfpynigend en sadisties was. Hy het elke oggend, winter en somer, ’n koue stortbad geneem – selfs toe die krane toegeys was en die water traagdruppend uit die nou gaatjies gekom het. Hy het agter die swembad deelgeneem aan ’n vuisgeveg met ’n seun wat, na noukeurige oorweging, swakker as hy was. Hulle het sulke gevegte “rough and tumble” genoem, en het enige hou toegelaat: hoe woester, hoe nader aan die standaard wat geverg word. Sy opponent het sterker geblyk as wat hy voorgekom het, maar Colet het hom onverwags gepootjie en toe op hom geval. Terwyl hy hom met sy groter gewig vasgelê het, het hy met sy vuiste aanhoudend geslaan op ’n lip wat naderhand heeltemal opgeswel was, totdat die ander een ingegee het. ’n Week later het hy dieselfde ondervinding deurgemaak en in die oomblik se pyniging tóg die vreugde gevoel van iemand wat ’n noodsaaklike inisiasie deurgaan en in die proses tot ’n hoër sfeer toegelaat word.

      Hy het ook geleer dat ’n medeskolier nooit verklik word nie. As iemand iets verkeerds gedoen het, het die onderwyser almal gestraf sonder dat daar ooit ’n woord gerep is oor wie die skuldige is. Aan die ander kant is daar van elkeen verwag om dadelik te erken as hy iets verkeerds gedoen het en sy pak te staan: die hoeveelheid houe was terselfdertyd ’n maatstaf waarvolgens sy aansien verhoog is.

      Gedurende die vakansies, wanneer Colet huis toe gegaan het, het hy sy nuwe persoonlikheid slegs ’n kort tydjie behou. Op die plaas, as die onmiddellike herinnerings afgeneem het en hy blootgestel was aan Suzanne se klein opofferinkies en deel geword het van die huisroetine, het dit vervaag en het hy in ’n soort lugleë ruimte oorgebly. Al die ou plekke en assosiasies was daar, maar hy kon hom nie meer daarin terugplaas nie, sodat hy gedurig rondgedwaal het en nooit presies geweet het wat om met homself aan te vang nie. Juffrou Du Toit was nooit daar met vakansies nie; slegs haar kamer het eenkant in die huis toe gestaan. Hy het een middag daarin gegaan toe Suzanne-hulle weg was, en die deur agter hom toegemaak. Hy het op die skoonopgemaakte bed vir ’n rukkie gelê en kyk na die leë kas en die spieëltafeltjie, sonder om juis ’n bepaalde gevoel te kry. Nou en dan het hy tekens van haar bestaan gesien: ’n skoen eenkant langs die bed vergeet, ’n jas teen die deur en ’n ou handsak bo-op die kas. In sy gedagtes het hy beelde van haar opgetower en ’n ooreenkoms gevind met ’n paar filmsterre. Dan het hy ’n onkeerbare drang gevoel om homself aan haar te toon, nie soos sy hom eers geken het nie, maar soos hy nou is: iemand wat al grootgeword het, wat die klappe van die sweep ken – wat al van meer weet as net hand-vashou. Hy het toe skielik van die bed af opgestaan en op ’n papiertjie geskryf: “Ek was hier in die kamer. Volgende keer sien ons miskien mekaar. Dan sal die leerling wys dat hy al baie geleer het.” Hy het die papiertjie sorgvuldig onder die kussing gesit en die lakens, onder die komberse, verkreukel sodat, as sy sou terugkom, sy kon weet dat iemand daar was.

      Eenkeer het hy in sy kas gekrap en die gehawende oorblyfsels van Coral Island daar uitgehaal. Die boek het net ’n vae herinnering by hom gewek, maar was op een of ander manier in so ’n mate ’n simbool van sy vroeëre gebondenheid dat hy dit stukkend geskeur en die stukkies in die eetkamerkaggel verbrand het. Maar toe hy later van Suzanne hoor dat sy ou kombers weggegee is aan een van die bediendes, het ’n onkeerbare gevoel van weemoed hom heeltemal oormeester.

      Toe hy eendag na die rivier gestap het waar hy en Agnes geswem en waar hy en Johan die aand gelê en gesels het, het alles vreeslik klein en gering gelyk en hy het opnuut skaam gekry oor sy geselsery met Johan, sodat hy nooit weer daarnatoe gegaan het nie, en boonop alles in sy vermoë gedoen het om alle plekke te vermy wat hom aan sy jare op die plaas herinner het.

      Toe hy sy matriekjaar op skool begin het, het die moontlikheid van suksesvolle eksamenuitslae die belangrikste oorweging geword. Sy Afrikaans-onderwyser het in sy opstelle en in sy algemene taalkennis sekere moontlikhede gesien, en hom só aangemoedig dat hy gevoel het dat die grootste roeping in sy lewe was om die hoogste simbole in tale te kry. Noukeurig gelei in daardie rigting, het hy allerhande uitknipsels uit tydskrifte in verband met taalkunde gemaak, en heelwat gevorderde boeke gelees om sy algemene kennis van letterkunde en kultuurgeskiedenis te verhoog. Aangesien niemand anders in die klas ooit sulke werke gelees het nie, het dit sy gevoel van eiewaarde verhoog en hom verder aangespoor, alhoewel hy nie alles verstaan het nie en net bekend wou wees as iemand wat dit gelees het. Na aanleiding van sy sukses in hierdie rigting het hy sy opstelle so anders as moontlik begin skryf, tot groot vreugde van sy onderwyser, wat in die afwykings vae tekens van letterkundige vaardigheid gesien het.

      Al hierdie dinge het ook meegebring dat hy ’n roepingsbesef ontwikkel het. Hy sou miskien eendag ’n groot skrywer kon word. En terselfdertyd het hy saam met die ander matriekseuns oorgeskakel na ’n ernstiger en voorbeeldiger bestaan. Dis asof almal in matriek heeltemal vervel het, en vaarwel kon sê aan die tradisionele patroon, en ander standaarde met die grootste gemak kon aanneem. Party van sy maats het in die eerste rugbyspan gespeel, ander het prefekte geword of leiers van hierdie of daardie verenigings, en hulle ook dienooreenkomstig in hulle houdings en maniere aangepas by die een of ander uitkyk op