My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
herhaal sy die sin wat sy saggies gesê het: “Eintlik wil ek hê jy moet saamgaan, Frank, want die man wat gevra het ek moet hom vergesel, hy kom van jou plek af – Skuilkranz.”

      Die res van haar betoog, haar motivering, het in haar mond agtergebly toe hy opspring.

      “Oor my dooie liggaam! Jy’t niks daar te soek nie. Ek sal jou self soontoe neem as jy dan soontoe móét gaan, maar nié saam met hierdie man nie! Wat is sy naam? Wanneer was hy daar op skool? Wat sal die mense sê as hulle moet weet hulle predikant se vrou flenter die Oos-Kaap in saam met ’n ander man!”

      Sy was nie verbaas oor sy reaksie nie, maar sy heftigheid het haar nog sterker laat vermoed dat die legkaartstukke wat sy inmekaarpas, ’n prentjie begin vorm.

      Onthou, my kind, daar is twee nodig om te baklei, hoor sy weer haar ma se woorde wat die grimmigheid in hulle huis moes afkeer.

      “Asseblief, Frank, moenie kwaad wees nie? Ek bekommer my oor jou, oor ons. Dit sal my dalk ook help om ’n bietjie afstand te kry. En ek sal mos nie alleen saam met hom wees nie; sy dogter gaan saam. Anders sou ek dit nooit oorweeg het nie.”

      Hy’t sy middel- en ringvingers weerskante teen sy slape gedruk. “Jy kon darem eers met my gepraat het!”

      * * *

      Twee jaar gelede, die dag toe sy haar sabbatical aangekondig het, het Joshua haar vasgepen met sy oë. “Wat is dit met Ma?” Hy en Gerdus het die Sondagmiddag by hulle kom eet en hy het haar sit en bekyk asof sy ’n vreemde spesie was. “Ma kyk so anders? So asof Ma iets sien wat Ma nog nie vantevore raakgesien het nie, of soek na iets wat Ma nie kan kry nie.”

      “Jy’s sommer laf,” het sy gesê, “dis maar my pasiënte en hulle probleme wat my soms nie kan los nie.” In die stilligheid het sy gedink: Vader weet, ’n mens se kinders sien alles raak! Een van haar kollegas het op ’n keer gesê: “Jou kinders kyk jou uit vandat hulle die dag hulle oë oopmaak – daar is niemand wat jou so goed ken soos jou kind nie.”

      Sy het nie beplan om dit tydens die ete te doen nie, maar Joshua se opmerking het haar die gaping gegee en haar verder laat praat.

      Sy’t haar bord weggeskuif. “Frank,” het sy na sy kant toe gesê, bang vir wat kan volg, “ek het met Sieg gepraat; ek voel asof ek dinge glad nie meer kan hanteer op die oomblik nie. Dié ding van my pasiënt se selfdood – ek kan nie teruggaan werk toe voor ek weer myself is nie; dit voel of ek ook terapie nodig het. Wil jy nie saam met my na Siegfried toe gaan nie, asseblief? Dan kan ons ’n bietjie praat, ek weet daar’s goed wat aan jou ook knaag.”

      Joshua het eerste gereageer. “Má?” Die ongeloof het breed oor sy voorkop gerimpel. “Ma is dan altyd so in beheer?”

      “Corinne, as jy met jou kollega wil praat, doen dit dan, maar los my daaruit. Ek sal my sake self uitsorteer, ek is immers ook ’n pastorale berader! En buitendien, as jy oor sulke goed wil praat, doen dit dan wanneer die kinders nie by is nie.” Frank het sy stoel geïrriteerd agteruit geskuif.

      Frank, wou sy antwoord, maar die woorde het op haar tong bly lê, ek lê wakker oor jou. En dis nie soseer oor die drank wat ek bekommerd is nie, dis oor hoekom dit so geraak het.

      Sy’t dit nie gesê nie. Net: “Ai, Frank, ek is lief vir jou. Maar ook dit word geskaad deur hoe ek op die oomblik, en al vir ’n hele tyd lank, voel. Gun my net die kans om myself weer in rat te kry.”

      “Maar hoekom kan jy nie dit wat jou opeet met my bepraat nie?” Die are in haar dominee-man se nek het gebult.

      * * *

      Noudat Frank die kwaad uit hom uitgespoeg het, sit en kyk hy na haar asof hy ’n hond is wat ’n onverdiende skop gekry het.

      “Corinne, kon jy nie darem maar ’n ander tyd gekies het om hierdie reis saam met ’n vreemdeling aan te pak nie? Die ouman is nog steeds baie swak.”

      Sy sit haar hand op sy arm wat op die tafel lê. “Frank, daar’s iets wat my baie lankal pla: hoekom praat jy so van ‘die ouman’? Toe ek hom ontmoet het, het jy hom altyd ‘oom Petrus’ genoem, en dit voel vir my so naar en asof jy wrewelrig is as jy so oneerbiedig van hom praat. Maar in elk geval, dit daar gelaat, oom Petrus is nie die enigste mens wat hulp nodig het nie.”

      “Jinne, Corinne, al my tydgenote praat maar so van hulle pa’s – dis nie neerhalend nie! En ek kan jou seker nie keer om te gaan nie,” sê hy gesmoord.

      “Ek het jou van die begin af ondersteun in dit wat jy gekies het as studierigting en jou beroep, maar nou laat jy my in die steek terwyl ek jou nodig het.” Hy stoot die halfgedrinkte beker koffie van hom af weg. “Ek gaan studeerkamer toe.”

      Sy hoor hoe hy die laai agter die soliede houtdeur met ’n harde ruk ooptrek; sy “private stash”, soos Joshua dit noem, uithaal. Die silwerflessie wat sy destyds, onbewus van wat nog kom, een Kersfees vir hom gegee het.

      Hy’t die aand vroeër bed toe gekom as gewoonlik. Sy kon sy asem ruik, maar nie so erg dat sy haar weggedraai het van hom af nie.

      “Toe jy vanmiddag gesê het jy’s nog lief vir my – ek het dit nie vir jou teruggesê nie,” het hy teen haar skouer gefluister, “maar ek ís. Regtig.”

      Hy’t haar nader getrek, sy kon hom teen haar lyf voel. Hoe lank gelede was dit dat daar iets so sag en mooi vir haar uit sy mond gekom het?

      Versigtig, ongemerk, het sy die nattigheid wat uit haar ooghoeke kruip met haar vinger weggevee en nog digter teen hom aangeskuif.

      * * *

      “Ek sal Liezl vra om dadelik op die internet te kyk vir blyplek,” sê Deon toe sy hom bel om te sê sy sal saamgaan. “En hierdie tyd van die jaar sal dit warm wees daar, jy hoef net ligte dragoed saam te neem.”

      Sy aarsel voor sy verder praat, weet dit wat volg kan hom ontstig, maar weet ook sy moet dit sê; hy moenie agterna uitvind dat sy nog ’n motief gehad het nie.

      “Deon, voor ons dit vasmaak, is daar iets wat ek jou moet sê. En as jy dan besluit jy wil nie meer hê ek moet saamgaan nie, sal ek dit heeltemal verstaan.”

      Hy bly ’n oomblik stil, vra dan: “Wat is dit?”

      “Die ding is,” begin sy, “ek sal saam met jou gaan omdat jy voel ek is vir jou ’n soort veiligheidsnet, al is ek ook maar effens broos in hierdie tyd. Ek hoop maar ek kan jou die ondersteuning bied wat jy nodig het. Maar daar’s nog ’n rede.”

      Sy stem is huiwerig toe hy vra: “Dok? Is dit iets wat my raak?”

      “Nee, nie direk nie,” antwoord sy, die selfoon natgesweet in haar hand.

      “Maar, Deon, iewers in die tyd wat ek jou berader was – daar was goed waaroor ons in die sessies gepraat het wat my laat voel het dat ek my eie man ook beter begin verstaan. Ek dink dat ek dalk meer insig sal kry in dié ding wat soos ’n doring in hom sweer as ek saam met jou en Liezl gaan. Hy weier om met my te praat en hy wil ook nie saamgaan nie, maar ek wil probeer.”

      Vir ’n paar oomblikke is daar net ’n suisgeluid. Dan sê hy: “Dis reg so, dok. Ek verstaan. Ek wil nogtans graag hê dat jy saamgaan.” Sy stem klink egalig en nie of hy ontsteld is nie.

      Toe sy klaar met Deon gepraat het, begin sy rondkyk vir sy lêer. Haar rekenaar, ’n handboek of twee tesame met haar digitale opnemer met die gesprekke wat sy deur jare opgeneem het, is alles bymekaar op die lessenaar.

      Die atmosfeer is ekstra stram tussen haar en Frank. Sy weet hy gáán haar nie toelaat in die diepste van sy binneste nie, nou nog minder as tevore. Hy omring hom voortdurend met ’n aura van onsigbare ystervarkpenne wat waarsku: bly weg!

      Sy bel vir Sieg: “Ek het besluit,” sê sy terwyl sy die sweet met haar een hand van haar voorkop afvee. “Hierdie is my kans om uit te kom by wat Frank so gespanne maak.”

      Voor sy gaan slaap, bel sy vir Hannelie, in die hoop dat haar suster die lewe beter kan ontrafel as syself.

      “Sus, jy was nog altyd impulsief. Ek kan