My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
* *

      Sy sit ’n skinkbord reg vir wanneer Frank terugkom van die vergadering, maar haar kop is nie by wat sy doen nie.

      Wanneer sy regtig ontsteld raak, is sy altyd weer terug op die plaas daardie aand aan die einde van haar standerdnegejaar toe hulle teruggekom het van die prysuitdeling; die jaar toe sy nie die hoofmeisiebalkie gekry het wat haar pa van haar verwag het nie.

      Die eerste keer dat sy haar pa in die steek gelaat het, was toe sy uit haar ma se buik te voorskyn gekom het as ’n dogter in plaas van die seun wat hy wou hê. Vandat sy kan onthou, het hy haar geïgnoreer. Haar ma was altyd bly oor die goeie kommentaar op haar rapporte en haar skoolprestasies, maar dit was die enigste ouer-kindverhouding wat sy ooit gehad het. Soms het sy gevoel haar ma wil-wil haar nader trek, maar haar pa se valkoog het dit nie toegelaat nie.

      Dinsdae en Donderdae het sy netbal geoefen, en Woensdae saam met vier ander redaksielede aan die skoolkoerant gewerk. Naweke het sy in haar kamer lê en lees of in die veld gaan loop saam met Hannelie, dan het hulle die goggas en kleinvolk bekyk wat so onbekommerd voortskarrel met hulle eie lewens.

      Ná die prysuitdeling die aand het hulle in die versmorende hitte stil teruggery plaas toe. Haar pa het in die waenhuis gestop, sy deur oopgemaak en sy enigste kommentaar oor die aand se gebeure oor sy skouer na haar geslinger: “Jy was nog altyd vir my ’n teleurstelling!”

      Haar ma het in die truspieëltjie met haar oë gewys: Bly net stil, my kind, moet hom nie antwoord nie.

      Die volgende môre het sy en Hannelie en haar ma aan tafel gesit toe haar pa inkom vir brekfis ná die eerste twee ure se vroegoggendwerk met die beeste.

      Haar pa eet sy wors en eiers met ’n harde gekletter van sy mes en vurk. Haar ma probeer ’n brug slaan, ’n sagte hand uitsteek: “Corinne, het jy al begin dink wat jy einde volgende jaar ná matriek wil doen?”

      Sy leef op van die belangstelling wat van haar ma se kant af kom. “Ek wil gaan skoolhou, Ma, maar ek wil ’n skoolsielkundige word, iemand wat kinders kan help om die regte keuses te maak en om hulleself beter te verstaan.”

      Haar pa stoot die tafel voor hom so hard weg dat die melkbeker omval en die melk oor die rand loop. “Oor my dooie liggaam sal jy so ’n belaglike ding gaan doen! As jy wil skoolgee, gee wiskunde of wetenskap, dis ten minste die moeite werd!”

      Voor sy haarself kan keer, rol die woorde oor haar tong, al sien sy haar ma se beangste gesig: “Pa, voorligtingsielkunde is ’n belangrike –” Sy bly stil toe haar pa opspring, maar probeer weer: “Pa, meneer Boonzaaier sê –”

      Hy loop om die tafel, pluk haar regop aan haar arm, trek haar ken nader sodat sy gesig sentimeters van haar eie af is en byt die woorde hard en onverbiddelik af: “Ek sê jou, dit sal nié gebeur nie!”

      Toe sy haar asem intrek om nog iets te sê, lig hy sy hand op en klap haar hard op haar wang. Hannelie, wat op die stoel langs hare sit, druk haar hande oor haar oë en begin geluidloos huil, haar lyf rukkend van die onderdrukte snikke.

      ’n Paar oomblikke is Corinne stil geskok. Dan stoot sy haar stoel stadig en saggies onder die tafel in, loop kombuisdeur toe en laat die sifdeur met die swaar raam driftig agter haar toeslaan. Met lang treë loop sy met die kwaad en die seer in haar tot by die hoë krans waarvandaan ’n mens die dorp in die verte sien lê.

      Tot op die randjie loop sy, tot daar waar die rots dun geslyt is, krummelrig onder haar voete. Die grond is ver – ver genoeg om te val en nie weer wakker te word nie.

      ’n Stukkie van die rotslysie breek weg onder haar. Haar voet glip, en wéér. Iets trek haar aan die arm, ’n sagte hand. Sy spring terug. Verskrik. Net betyds. Waar sy gestaan het, het ’n stuk losgekom; die rots is weg.

      Sy draai om, begin hardloop tot sy nie meer kan nie. Met elke tree wat sy gee, dink sy, weet sy: Ek sal doen wat ek moet doen, Pa kan my nie keer nie. Ek sal wegkom onder sy dik stem en sy growwe, swaar hand wat klappe uitdeel. Ek sal mý pad loop!

      * * *

      “Sabbatical!” Frank was vies toe sy twee jaar gelede ná haar gesprek met Sieg die aand aan tafel haar besluit bekendmaak. “Jy besluit net sommer oor goed en dan stel jy dit as ’n feit vir my. Is jy nie veronderstel om so iets eers met my te bespreek nie?” Die letsel wat hy as klein seuntjie opgedoen het, gloeiend op sy voorkop. “Ons is tog getroud – ’n mens praat mos darem eers?”

      Sy’t haar hand opgehou. “Frank, wag bietjie, moenie so ontsteld raak nie! Ek is op ’n slegte plek in my lewe. Hierdie pasiënt – die feit dat ek haar nie kon help nie – dit eet my op. Ek moet eenvoudig ’n breek vat, net om weer te herlaai. Dan kan ek dalk weer vir mense in nood iets beteken.

      “My kop is deesdae op ander plekke wanneer iemand my kom sien. En ek en jy, ons praat byna nooit meer met mekaar nie, ek kry nooit regtig kans om die dinge wat my pla met jou te bespreek nie. En ek verlang na jou, na die man wat my soms saggies op die voorkop gesoen het terwyl ek sit en werk; wat vir my koffie gebring het sonder dat ek vra …

      “Ek weet daar’s goed wat jou ook ontstig, en dit pla my, dit sit soos ’n harde rotsblok in my hart vas. Ek weet maar te goed hoe sommige gemeentelede se klagtes en verhale jou tot …”

      Sy sê dit nie, maar die implikasie hang in die lug. Aan sy uitdrukking en die manier waarop hy die bord vinnig en onnodig hard wegskuif, weet sy hy kan self die sin voltooi: … tot drank dryf.

      Gerdus maak groot oë vir haar. “Ma, h’m, ek dink ek gaan nou maar eers; daar’s nog ’n paar goed om te doen voordat die sel my môreoggend wakker skree.”

      Sy’t in die spaarkamer gaan lê. Meer as ooit het sy nodig gehad om haar man se warmte teen haar te voel, sy hand wat oor haar arm streel, sy asem wat langsaam stadiger raak in haar nek wanneer hy inslaap. Maar hy’t van die tafel opgestaan toe Gerdus sê hy gaan ry.

      “Ek gaan laat werk, Corinne – moenie vir my wag om te kom slaap nie.” Hy het in die gang afgeloop en die deur met ’n besliste klik agter hom toegemaak.

      Teen halftwaalf, toe die lig nog onder die skrefie deur skyn, het sy saggies in die donker na die toe deur geloop. Nog nooit wou Frank haar in die grootwordjare van sy lewe toelaat nie. Maar in die sessies met sommige pasiënte het sy dinge begin vermoed wat haar gedagtes in ’n versamelvoël se nes vasweef.

      Sy kan nie aangaan met haar lewe as sy nie antwoorde kry nie; nie langs en saam met Frank leef as sy die hele tyd bang is vir die onafwendbare nie. Hierdie stuk tyd wat sy nie gaan praktiseer nie moet haar help om die oorsaak van wat by Frank verkeerd geloop het, te ontwar.

      Sy maak die deur saggies oop. Sy kop lê op die lessenaar, die silwer flessie en die glas langs hom. Sy loop nader. Die mat is sag en dik onder haar kaal voete. Sy steek haar hand uit na haar man met die swart hare waarin hier en daar ’n draadjie grys skyn. Meteens ruk sy kop en nek regop uit die kollig van die groen leeslamp. Rondom hom op die houtblad lê oopgeslane boeke en verslae wat hy aan die deurwerk is.

      Hy leun vorentoe, aggressief; frons dat die vertikale lyne tussen sy oë nog dieper vore maak en die letsel bo sy wenkbrou uitstaan. “Wat’s’it, Corinne? Ek het gesê ek gaan laat werk!”

      Hy klap die Bybelkonkordansie voor hom toe dat die lessenaar tril; slaan met sy lang, skraal hande waarop die fyn swart haartjies glinster op die blad voor hom. Die glimmende rooi Victorinox-messie wat altyd op ’n spesiale plek op sy lessenaar lê, skiet oor die oppervlak: ’n klein projektiel op weg na ’n noodlanding.

      Hoofstuk 2

      Januarie 1971 – Appelbos, Langkloof

      Deon, sy pa en sy boetie Kobus vang Saterdae palings in die rivier se donker water. Sy pa maak ’n vuurtjie tussen die klippe. Die son speel wegkruipertjie tussen die groen blare; die strale flits blinkwit oor die water. Saterdae werk sy pa nie, dis sy tyd saam met hulle. Sy pa is maer, maar ystersterk; hy doen al die werk op oom Gawie se plaas. Soms ry Deon en Kobussie saam met