My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
die worsteling in die feitlik slaaplose ure. Sy’s bly dis Liza se afdag, sy hoef haar nie in die oë te kyk nie.

      Wat doen sy met hierdie inligting wat sy by Deon gekry het? Wat sê sy vir Frank? Moet sy iets sê? Mág sy iets sê? Hoe gaan hy reageer?

      Maar hoe sy ook al dink, sy kan nie glo dat Pa Pietie en oom Petrus dieselfde mens is nie. Die antwoord moet elders lê. Géén mens kan so toneelspeel nie.

      Corinne kyk na die vrou in die spieël, vra die vraag vir die oë wat van onder dik ooglede na haar terugstaar. Sy draai die stort oop, stroop die klere waarmee sy die vorige aand aan die slaap geraak het van haar af. Die geiser is nie aan nie; Frank probeer geld spaar. Vanoggend is sy dankbaar vir die koel water wat oor haar stroom, wat deur haar hare spoel en dit skoon was.

      Terwyl sy haar afdroog en room aan haar bene smeer, besef sy: Hannelie – sy moet by haar uitkom voor Frank terugkom. Dis die enigste mens met wie sy nou sal kan praat. En Hannelie is minder emosioneel as syself; sy het ’n manier om met ’n reguit blik na dinge te kyk en direk tot by die hart van die saak te sien.

      “Ek sal elfuur by die huis wees,” sê Hannelie dadelik toe sy bel. “Ek bring sommer iets vir middagete saam, dan kan ons lank en rustig praat.”

      * * *

      Corinne trek haar jeans en ’n rooi T-hemp aan en ry soos ’n zombie Gordonsbaai toe. By die interkom druk sy die knoppie en die groot hek skuif oop. Haar suster kom by die voordeur uit, reeds weer in ’n verfbestreepte oorjas. “Ek was ’n bietjie gouer terug en het gou ’n paar skadu’s ingesit waar ek gister gesien het daar is nog werk aan die painting nodig. Kom in. Sorry om te sê, maar jy lyk oes, Sus.”

      Corinne loop agter haar aan kombuis toe. “Dit was nie nodig om kos –”

      “Is jy nou laf! Dink jy nou dit sal vir my lekker wees om net vinnig-vinnig te luister na wat jou pla – en duidelik is daar iets wat baie swaar op jou hart druk – en dan later op my eie iets te sit en afsluk? Kom sit hier by my, dan breek jy solank die kropslaai in stukkies en sny die tamaties. Ek sny die gaar hoender wat ek gebring het en ons maak ’n lekker slaai voordat ons rustig in my studio gaan sit, dis die koelste plek op die oomblik. Ek haal vir ons ’n koue bottel witwyn ook uit. As ons klaar gepraat het, kan jy eers gaan lê en rus; jy’t dit beslis nodig as ek dinge so bekyk.”

      Hannelie klink haar glas teen Corinne s’n toe hulle hul sit gekry het met skinkborde op die skoot. “Here’s to you: jou vertel, jou vrae, jou besluite.”

      Corinne weet nie hoe Hannelie dit regkry om altyd ’n situasie so klinkklaar op te som nie. Sy dink dikwels haar suster sou ’n baie beter sielkundige gewees het as syself.

      “Ek weet nie,” sê Corinne ná twee happies hoenderslaai. “Hannelie, ek weet nie of ek weer na die praktyk kan teruggaan nie; ek het myself nou twee jaar gegun om te herlaai, maar dalk was Pa destyds reg: ek moes nie hierdie rigting gekies het nie. Want daar is goed uit ander mense se lewens wat ek oordra na my eie, en soms help dit my, maar ander kere hoor ek sulke verskriklike dinge en dan sit ek dit soos ’n sjabloon op my eie lewe. Tereg of ten onregte, en dit maak my lewe hel. Daar’s mense wie se lewens ek op ’n beter spoor probeer kry het, maar ek weet nie of ek enige verskil kon maak nie. Daar’s goed wat ek uitgevind het wat ek liewer nie wou geweet het nie. En dinge tussen my en Frank – jy weet hoeveel jare dit al nie goed gaan nie.

      “Ek vra my af: wat het geword van die man met die sagte hart en die weerlose oë? En wat het geword van die Corinne wat enigiets sou doen om hom te help, om hom te dra, deur dik en dun? Maar deur dit alles moes ek myself ook partymaal hard maak teen hierdie drinkery van hom. Hy deel homself lankal nie meer met my nie; hy het so verander die afgelope jare. Ek voel by die dag hoe ek ook verander – en ek hou nie van die mens wat ek is wanneer ek hom ’n skewe antwoord gee nie! Terwyl ek eintlik net in stilte saam met hom op die strand wil sit en kyk na die branders wat uitrol en die pienk wolke oor die see in die laatdag.

      “En nou het daar iets opgeduik: ’n pasiënt van vroeër wat iets laat val het wat my verskriklik ontstel, maar wat my ook laat dink dat ek Frank se probleme kan begin ontrafel. Maar miskien projekteer ek net die pasiënt se verlede en sy gedrag op Frank. In elk geval, wat Frank betref, begin party dinge vir my duidelik word, maar daar is ander dinge waarmee ek my eenvoudig net nie kan versoen nie.”

      Hannelie sit met die glas halfpad na haar mond gelig. “Hoekom – ek weet daar het al goed in jou beroep gebeur wat jou erg geknou het, Sus – maar hoekom nóú? En hierdie spesifieke pasiënt, wat is jou betrokkenheid?”

      Daar is dit weer, die vinger op die seerplek. Direk, daar waar sy die afgelope twee dae die pleisters so dik probeer opplak het sodat sy dit nie moet voel nie.

      “Ek weet nie,” sê sy huiwerend. Sy wíl met Hannelie praat, sy wíl haar raad hê, maar daar is goed wat sy eenvoudig nie kan sê nie; goed wat sy nie wil weet nie. Sy neem ’n slukkie wyn. “Dalk het die opstapeling van jare se probleme van pasiënte, tesame met Linette se dood destyds, en die feit dat ek en Frank al verder van mekaar af wegdryf, nou net te veel geword.”

      Hannelie sit haar in stilte en aankyk. “Kyk, Sus, ek weet jou en Pa se verhouding was destyds, om dit sagkens te stel, nie die beste ouer-kindverhouding nie. En ek weet ook Ma het haar eie dop gehad waarin sy gekruip het. Om haarself te beskerm. Met my en Pa was dit ’n bietjie anders, so asof hy al sy argwaan reeds uitgespook het toe hy klaar was met jou. Anders as jy, het ek eintlik goeie herinneringe aan my kindertyd. Ek weet dis nie vir jou lekker om dit te hoor nie, maar ek en Pa het mekaar taamlik goed verstaan. Ek en Ma bel mekaar ten minste twee keer ’n week, en gewoonlik maak Pa ook ’n praatjie.

      “Ek het al baie gewonder, is dit – het jy gedink as jy ander mense help, sal jy self ook …?”

      Corinne het dit nooit vir haarself so uitgemaak nie. Maar die middag op die plaas, die dag toe die afgrond haar geroep het en sy teruggeskrik het, die inloop by die kombuis daarna, haar ma voor die stoof, ’n troostende hand in die verbygaan op haar arm – in haar agterkop het sy al die jare bly weet van haar gewaarwording in daardie oomblik: dat sy wanneer haar emosies opgeskerp is, kan vóél hoe ’n ander voel. Dat sy haar ma se seer binnekant kon wéét, asof dit haar eie is. En al sou haar voorouers miskien dinge gesê het soos “met die helm gebore”, is dit nie waaroor dit gaan nie. Dis ’n fyn sien en voel, hoor en beleef, wat haar binne-in iemand anders se vel laat inklim.

      Juis dít is die ergste. Want al die seine wat Frank ongemerk uitstuur, lei haar tot die konklusie dat sy behoort te weet – maar nie wíl weet nie.

      Terwyl sy later van Hannelie af terugry Stellenbosch toe, is sy steeds sonder oplossing. Tog het die praat haar perspektief gegee, effens meer lig gebring tussen die donker beelde en prente in haar kop. Die ware rede vir haar heftige reaksie toe Deon die dorp se naam genoem het, kon sy nie vir Hannelie vertel nie. Nog nie. Daar is te veel goed waarvan sy nie seker is nie. En bowenal moet sy vir Frank beskerm – en vir oom Petrus, wat soveel jare al meer van ’n pa vir haar was as haar eie pa.

      * * *

      Frank is stil toe hy die volgende middag by die huis kom. Sy probeer haar eie ontstemdheid op die agtergrond druk, gaan haal hom by die voordeur en sit haar arm om sy nek, soen hom op die litteken. “En toe, jong, wat het hulle toe besluit? Is die sinode nou rêrig steeds daarteen dat gays predikante mag word? Dink jy al die gemeentes in die land sal ooit hieroor saamstem?”

      Dis die verkeerde vrae wat sy nou vra, maar sy weet nie meer waaroor om met haar man te gesels nie; alles is ’n potensiële landmyn. Wat kan ek doen om jou te help? wil sy uitroep, maar die woorde bly in haar binneste weergalm, buite die deur waaragter hy die lessenaarlaai ooptrek en hard toestamp. Die gedwonge waterkarryery van die afgelope paar dae ontspoor in ’n ure lange sessie met die heuningkleurige vloeistof in sy studeerkamer.

      Al wat sy sou wou hê, is dat haar man met sy kop op haar skoot kom lê en met haar praat oor sy kindertyd. Maar watter pad moet sy kies om daar uit te kom?

      Hoofstuk 3

      Maart