My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
dis jou enigste behoud, én Deon en Kobussie s’n.”

      Die woorde spat soos modder deur ’n sifdeur op Deon en Kobus waar hulle in die skemer om die hoek van die stoep sit en luister.

      Kobus is nog so klein. Deon trek hom nader, sit sy arm om die skerp skouertjies. Hy fluister die dominee se woorde toe hulle ma begrawe is: “‘Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie.’ Onthou dit. Jy is my boetie, Kabous.”

      Twee Sondae daarna staan Pa Frederik vroeg in die kamerdeur. “Gaan was en trek julle beste klere aan; ons gaan kerk toe.”

      Die derde keer dat hulle kerk toe gaan, stel dominee Vos die weduwee aan hulle pa bekend – ’n tannie met drie klein dogtertjies. Toe hy en Kobus weer sien, trou hulle pa sommer ’n maand daarna met haar.

      Sy praat mooi met hulle twee seuns ook, maar dis haar dogtertjies wat nou op sy pa se skoot sit as hy saans uitval. Deon en Kobus slaap op ’n matras in die voorhuis van die tweeslaapkamerhuis.

      Die droogte raak erger; oom Gawie kan nie meer elke maand dieselfde loon betaal as vroeër nie. Sy pa word al hoe stiller en maerder.

      Die aand ná ete toe hulle klaar gewas het in die sinkkom, roep hy sy twee seuntjies kombuis toe. Tannie Let sit styf teen hulle pa, sy hou sy hand vas. Hulle pa vat ’n paar teue aan sy pyp. “Dis nie maklik vir my om vanaand …” Hy bly stil, skraap sy keel. “Ek en tannie Let …”

      “Kinders,” vat tannie Let oor toe hulle pa nie verder kan praat nie, “ek en julle pa het gepraat – hiernatoe, soontoe, maar dit kan nie anders nie. Die droogte maak dat ons nie al vyf kinders onderdak kan hou nie, al wil ons ook hoe graag.”

      Dis ’n koue oggend in Junie toe oom Gawie hulle wegbring stasie toe. Tannie Let gee vir hulle elkeen ’n pakkie toebroodjies in bruinpapier en ’n appel in die hand. “Onthou, kinders, julle kan nog altyd lang vakansies huis toe kom. Intussen sal Liewe Jesus mooi na julle kyk, Hy is ’n mens se enigste troos. Onthou julle gebedjies elke aand.” Tannie Let vryf oor hulle koppe.

      Die stasiegebou is geelwit; die spoorlyne swart, dit ruik na yster en rook. Oom Gawie druk die twee kaartjies in sý hand, want hy is die oudste. Dan neem hy hulle na die kondukteur. “Mooi kyk na jou boetie, my kind. Alles sal goed uitwerk, vertrou net op ons almagtige Vader. Hy sal na julle omsien.”

      Die lokomotief stoom die stasie binne en fluit skril. Die rook uit die skoorsteen is groot donderwolke wat opsteek. Die trein ruk. Tjoekepaf-tjoekepaf … Weg neem dit hulle, weg, weg, weg …

      * * *

      Dis al drie dae sedert die ontmoeting in die Stellenbosch Hotel. Snags lê Deon wakker; hy dink aan Liezl in die kamer langs syne, sy kind wat haar bes doen om haar pa wat sy feitlik nooit geken het nie, te verstaan. Maar die duiwels wat hy gedink het hy besweer het, dans om sy bed in die blou middernagure.

      Wanneer sy hand teen sy nek opbeweeg, dwing hy dit met alles waartoe hy in staat is, weer af, weg van die rou geplukte onderste stukkie aan sy skedel.

      Wat sal doktor Corinne besluit? Sal sy kans sien? Die feit dat Liezl saamgaan, sal dit vir haar makliker maak om ja te sê, glo hy.

      Hy voel die spiere in sy wange in ’n glimlag trek; nooit gedink sy kind sal eendag vir hom ’n chaperone wees nie!

      * * *

      Corinne tik Siegfried se nommer in. “Sieg! Ek is op die punt om ja te sê vir iets, maar ek is bang dis die verkeerde ding!” val sy met die deur in die huis toe hy antwoord. “Daardie pasiënt van my van destyds – die een wat jy nou nog sien, Deon de Swardt – hy het my iets gevra wat ek nie kan weier nie, maar as ek ja sê, veroorsaak ek vir myself ook ’n groot dilemma.”

      “Ek hoor wat jy sê,” antwoord Sieg toe sy ’n paar minute gepraat het en die koppie lou koffie voor haar optel. “Ek hoor ook dat daar goed is wat jy nié sê nie. Maar ek kan nie vir jou besluit nie. Ek het geen etiese beswaar dat jy saam met Deon gaan nie, dis heeltemal aanvaarbaar dat jy hom vergesel ná dié lang tyd wat jy nie gepraktiseer het nie. Maar dan mag jy nooit weer in die toekoms sy berader wees nie – dit weet jy.

      “En as jy wel saam met hom gaan, onthou: jy kan my enige tyd bel as jy dalk ’n oor nodig kry. Ek mag jou kollega en ’n berader wees, maar ek bly ook jou vriend.

      “Belangrik: speel oop kaarte met Frank – sê waarheen jy gaan en probeer hom oorreed om ook saam te gaan.”

      Sy weet sy gaan nie kan weier nie; sy’t geweet vanaf die oomblik toe Deon die naam van die dorp genoem het. Daar is niks wat sy nie sal doen om Frank terug te bring uit die halfdonkerte waarin hy hom die afgelope jare bevind nie. En sonder dat Deon dit weet, het hy vir haar ’n sleutel gegee – en sy sal die regte sleutelgat moet vind om die kamer oop te sluit.

      * * *

      Frank sit vir ’n verandering in die sitkamer en lees. Sy loer na die titel van die boek. Dis nog iets wat verander het – anders as tevore, toe hy byna net teologiese boeke gelees het, het hy die afgelope jare begin om Colin Forbes, John Grisham, selfs Stephen King te verslind.

      Sy gaan maak koffie, neem dit vir hom saam met van die beskuit wat sy in die week gebak het.

      “Frank, daar is iets waaroor ek met jou wil praat. Dis belangrik.”

      Hy kyk op van sy boek. “Hmm?” Hy vat die beker koffie en een van die beskuite voor hy met ’n glimlag om sy mond vra: “Iets waarmee ek kan help?”

      Haar hart wil regop spring. Frank is in ’n besonder goeie bui en nou gaan sy hom met ’n vuurwarm yster in sy hart brand.

      Sy doop een van die beskuite in haar eie koffie. “Daar is ’n pasiënt van vroeër wat my ’n baie groot guns gevra het – om saam te gaan op ’n terugreis na sy verlede. Dit sal my so vyf, ses dae neem om uit en tuis te wees.”

      Hy kyk haar vraend aan. “Hoekom nou, Corinne? Jy’t dan juis die sabbatical geneem sodat jy kan wegkom van alles wat jou so teister?”

      Maar jou optrede is een van die goed wat my teister, sê sy in haar gedagtes. En dis vir jóú wat ek dit wil doen, vir ons huwelik, meer as enigiets anders.

      “Is dit regtig jou verantwoordelikheid? Kan die persoon nie iemand anders kry nie? Jy weet oom Petrus het weer ’n ligte hartaanval gehad, en tannie Susan gaan ons dalk nodig kry.” Sy sien hoe die frons langs die letsel bo sy oog inkeep.

      “Die ding is, Frank,” antwoord sy op egalige toon, “die persoon se dogter, van wie hy baie jare vervreem was, is nou terug in sy lewe – en dis belangrik dat sy moet verstaan waardeur haar pa is om hulle verhouding heeltemal te herstel. Maar daar is nie iemand met genoeg kennis wat hom sal kan help as hy weer terugval nie.”

      “Ek weet darem nie – jy praktiseer nou wel nie op die oomblik nie, maar jy weet ’n mens moet jou professionele lewe en jou privaat lewe uitmekaar hou. Dis iets wat ek ook moet toepas.”

      “Ek weet.” Sy staan op, loop tot agter sy stoel en sit haar hand teen sy nek. “Dis net, hierdie persoon het deur diep waters gegaan, verdrink-diep, Frank. Ek kan nie weier nie.”

      Sy haal drie keer diep asem. “Daar is twee goed wat ek jou wil vra, en ek bid in my hart dat jy sal ja sê. Die een ding is: Sal jy my jou seën gee op hierdie reis? En die ander ding is: Wil jy nie saamkom nie? Asseblief?”

      Hy kyk haar ongelowig aan. “Corinne? Ons het aan die begin besluit om my lidmate en jou pasiënte se lewens apart te hou van ons eie lewe. Wat gaan aan dat jy my nou wil saamneem op so ’n tog?”

      Sy kyk af na haar hande: haar vingers is wit soos sy hulle inmekaargestrengel het. Die woorde wat sy dink, wil nie oor haar tong kom nie. As sy net die regte manier gehad het om hulle uit te spreek!

      “Dis ’n slegte tyd, my vrou, jy weet dit. Waarnatoe moet jy die persoon vergesel? Dalk kan ons later ’n vakansie op ons eie beplan? Dit sal my ook goed doen, veral noudat ek so vas is met die ouman. Hulle eie kinders verroer g’n vinger om hulle ouers te help nie. Hoe kan ek hom nou ook sommer net los?” Frank hou sy hand uit na haar. “Wat gaan aan, Corinne?