My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу

      HUMAN & ROUSSEAU

      Vir Maria en vir Helena

      wat elkeen ’n eiesoortige, spesiale pad met my loop.

      “God vergewe ons baie,

      maar God vergewe ons nie die kwaad

      wat ons ’n kind aandoen nie.”

      Dalene Matthee – Fiela se kind

      Hoofstuk 1

      September 1971 – Morganbaai

      Was dit tóé dat hy die eerste keer daardie warm gevoel in sy bors en teen sy nek gekry het?

      Hy’t in die tweede ry van voor af in die rammelkasbussie gesit. Was dit daardie oomblik voordat die groot blou water oopgesprei het voor sy oë? Die sekonde toe hy opgekyk het, toe Pa Pietie sy oog in die truspieëltjie van die bus gevang het – die skelm oogknip wat net hy kon sien. Die intieme, vlugtige raak van twee ooglede oor sy blou-blou oog; ’n geheim beloof?

      Of wanneer wás dit dan?

      “Kyk,” sê Pa Pietie na agter – sy hand wys na die duine, wit tussen die groen bosse – “nog een klein draaitjie, dan is ons daar.”

      Die seunslywe bars soos ertjies uit ’n ryp peul, hol na waar die groot water begin en die klein brandertjies breek. Deon steek vas waar die see in die sand wegsyfer. Wye blou, alkant ver.

      Pa Pietie kom staan agter hom, sy swaar hand op sy skouer. “Wonderlik, nè? Ons liewe Heer het als só mooi gemaak.” Deon knik. Hy’t nie woorde nie. Vir die eerste keer vandat hy en Kobus weggestuur is van hulle pa en die plaas, sak die huil in hom weg.

      “Kom ons loop ’n bietjie daardie kant, rotse toe, dan wys ek jou hoe lyk die ander kant.” Die hand is nog op sy skouer; hy moet sy treë rek, Pa Pietie se bene is lank.

      Vissies glip in die poeletjies, krappies skarrel oor gladgespoelde klippe. Verder weg slaan die water al hoe woester. ’n Seestroom bars ineens skuins in teen die rots waarop hulle staan. Kragtig en hard; die skuimwit strale spuit hoog in die lug.

      Deon sidder, deins terug. Wát sê Pa Pietie? Die water ruis en raas in sy ore. Hy spring om, sy seningrige beentjies hardloop, weg, weg van die helse slag. Die see is ’n sweep, dit weet hy nou – verskriklik. Hy sláán. Hard. En wreed.

      * * *

      Deon se kopvel jeuk; sy hand kruip op teen die agterkant van sy nek, verby die norratjie. Wanneer sy gedagtes hom terugvat na daardie tyd, die tyd toe hy die mees geliefd en die mees verlore ooit gevoel het, sien hy meesal agterna die bondeltjie hare tussen sy vingers. It was the best of times, it was the worst of times … Hoe dikwels het hy nie al wanneer hy geskiedenis met sy leerders behandel na hierdie aanhaling van Dickens verwys nie – hulle uitgedaag om die verskriklike en die slegte, maar ook die blink van goedheid en medemenslikheid in tye van oorlog te sien.

      Die laaste tyd word dit weer erger, hy sal vir doktor Corinne móét bel. Dit het hom soveel selfvertroue teruggegee dat hy Liezl opgespoor het; sy kind teruggekry het, maar haar aandrang om te verstaan, om meer uit te vind oor vroeër, maak hom opnuut kwesbaar. En hy kan nie bekostig dat die goeie werk van die terapie ongedaan gemaak word nie.

      Hy’t ver gekom – die sessies by die sielkundige is al meer as vier en twintig maande gelede verby – maar nou, met die pratery met Liezl, glip die goed wat hy gedink het hy onder beheer het, weer uit sy hande: kwiksilwerballetjies wat hy nie kan opraap en terugsit waar hy hulle wou bêre nie.

      Dis warm in die kombuis van die pastorie. Die hitte van die stoof slaan op in Corinne se gesig toe sy die oonddeur oopmaak om die skaapvleispastei wat sy vir aandete gemaak het, uit te haal. Frank se gunsteling.

      Hy het laat weet hy gaan laat wees. Die vergadering gaan langer as gewoonlik aanhou; daar is baie punte op die agenda. Iemand het ’n aanbod gemaak vir die stuk grond wat aan die kerk behoort, en die kerkraad sit vol korrelkoppe wat stry oor die saak.

      Eintlik is sy bly, al beteken dit Frank gaan opgewarmde kos moet eet. Dit hou hom minstens ’n paar uur langer weg uit sy studeerkamer, waar hy hom toenemend opsluit. Sy weet nie meer wat sy moet maak nie; sy’t gedink die feit dat sy die sabbatical neem, sou help om sy spanning minder te maak, maar dit word erger in plaas van beter. Sy goeie oomblikke is “few and far between”, soos Gerdus sê.

      Vandat haar man ’n paar jaar gelede teruggekeer het van die reis saam met sy grootmaakouers na sy grootwordplek, het hy vreemd begin optree. En ná oom Petrus se eerste hartaanval drie jaar gelede het sy gedrag drasties vererger. Hy het begin deure klap, teen ’n angswekkende spoed begin ry, hom meer en meer afgesonder.

      Een Saterdagaand toe hy van oom Petrus en tannie Susan af teruggekom het, was daar ’n ongeluk. Die bestuurder van die bakkie het Corinne by die hospitaal ingewag terwyl hulle Frank se arm gespalk het. “Hy’t voor my ingery, tannie!” het die student ontsteld uitgeroep. “Regtig, ek kon nie uitswaai nie!” Sy oë wou uit hul kasse spring.

      Op die ou end het Corinne hóm getroos. Eers toe haar eie kinders daar aankom, het sy haarself vir die eerste keer toegelaat om die skok te voel.

      “Ma,” het Joshua gesê toe hy haar in sy stewige arms toevou. “Ai, Ma. Daar’s iets wat ek vir Ma moet sê. Michael – dis die dokter wat by Noodgevalle was toe hulle Pa ingebring het; hy was saam met my in die koshuis op Stellenbosch – het toe hy my bel, gesê Pa … Die alkoholvlak in Pa se bloed was sky-high, Ma.”

      “Maar die polisie dan, hoe …?” Haar hand het oor haar mond geklap.

      “Gelukkig is die polisie nie betrokke nie, want die ou in die bakkie wil nie ’n saak maak nie; sy ouers is lidmate van Pa se gemeente. Hy het vir Pa dadelik by hom in die bakkie gelaai, en hospitaal toe gery; sy pel het met Pa se Fortuner agter hulle aangery. En die skade aan beide voertuie is minimaal. Niemand het die polisie laat kom nie.”

      Oom Petrus het dit met liefde op hom geneem om die skade aan albei voertuie uit sy sak te betaal. Maar die vraag het aan Corinne bly knaag: hét Frank opsetlik voor die bakkie ingery?

      Sy’t Frank met omsigtigheid begin benader, bang om sake te vererger. Die ietwat onseker, maar liefdevolle, aanhanklike man wat sy destyds op universiteit ontmoet het, het ná sy terugkeer van die reünie in Skuilkranz verander in ’n mens wie se gemoed so vinnig wissel dat jy nooit weet wat om te verwag nie. Sy’t ligvoets rondom hom begin beweeg asof daar ’n skerpioen lê wat wag dat sy op hom trap. Ook by oom Petrus en tannie Susan was hy anders as tevore, asof hy ’n onsigbare skans tussen hom en die ouer mense opgerig het. Soms wanneer hulle daar gekuier het, het Corinne die oom jammer gekry oor die kyk in sy oë wanneer Frank so stug en stil daar gesit het.

      Wanneer sy saam met Frank kerk toe gaan, kan sy die tekens halfpad deur die diens opmerk: die gereelde uithaal van sy sakdoek, die styfgespanne vel om sy kake.

      Haar versigtige uitvraery na wat dit is wat hom so ry, het haar net sy gramskap op die hals gehaal. “Hou jou maar by die mense met wie jy werk – ek is nie een van jou pasiënte wat sielkundige hulp nodig het nie. Ek weet waar my hulp en heil vandaan kom.”

      Agterna kom hy meesal jammer sê. “Ek weet jy bedoel goed, my lief, maar daar is dinge waaraan jy niks kan doen nie; ek moet self daardeur worstel – die posisie van die kerk, die kwessies wat in die koerante oopgevlek word …”

      Maar sy vermoed dit wat hom so verskriklik hinder, het niks te doen met die posisie van die kerk of iets in dié rigting nie. Dis asof Frank wegkruip. Selfs vandat sy op die sabbatical is, is hulle liefdevolle saamwees van vroeër ’n versigtige geskuifel rondom mekaar, en soms twee pole wat mekaar afstoot.

      En sy is self ook skuldig, want wanneer hy haar omgee vir die soveelste keer nie wil aanvaar nie, slaan haar toenadering en sagte woorde partymaal oor in ongeduld en grimmigheid. En so du sy hom net nog verder weg. Maar sy is ten einde raad, en al slaan sy haar oë op na die berge, kom daar geen antwoord nie.

      Telkens