My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
dit die één woord wat soos ’n byl haar kop oopgekloof het.

      Sy kan voel hoe haar vingers glip om die tak, hoe die klippe onder haar weggly soos daardie middag teen die krans op die plaas buite George. Sy gryp in haar gedagtes na vashouplekke, pleit oplaas migraine: “Deon, Liezl, ek kan nie uit my oë sien nie – ek is jammer, maar kan ons later weer praat? Ek sal daaroor dink en laat weet so gou as wat ek kan. Maar een ding: as my man ook sê dis reg, sal ek hom moet vra of hy nie wil saamgaan nie. Sal jy tevrede wees daarmee, Deon? Uit die aard van die saak sal ek nooit van jou verwag om iets oor jou ervaringe en herinneringe te sê wanneer hy by is nie; hy sal jou privaatheid en ons vertrouensverhouding respekteer.”

      “Dis goed so, dok,” sê hy. “Wat ook al jy besluit, ek sal verstaan. En as jy ja sê, laat weet net dat ons ’n blyplek kan bespreek. ’n Mens sal seker ook in P.E. of daar rond moet oorbly, want S-s-kuil-kranz is nie ’n dagrit ver nie.” Die stameling is weer daar.

      As jy maar weet wat jy oopkrap met hierdie versoek, Deon! raas dit deur haar brein toe sy lam in haar bene opstaan en saam met hulle by die hoofingang uitloop. Oom Petrus – kan dit hý wees?

      * * *

      Sy is ’n robot toe sy in die kar klim. In die spitsverkeer is sy skaars bewus van die ander voertuie voor en agter haar. “Hoe gaan ek hierdie ding met my man bepraat, Here?” vra sy hardop in die ruimte van die Toyota. Die geskreeu van remme en ’n lang, uitgerekte toet van ’n FedEx-vragmotor agter haar laat haar so skrik dat sy op die skouer van die pad aftrek om te bedaar.

      Daar is mense wat die vermoë besit om jou te laat voel asof jy die belangrikste, mees geliefde persoon op aarde is. Mense wat jou betower met hul aandag en komplimente.

      “My kind,” het oom Petrus op sy sjarmante manier gesê toe Frank hom die dag aan haar voorgestel het, “jy kry ’n wonderlike man. Maar uit wat ek van hom gehoor het, klink dit of jy die blinkste pêrel ooit is. En van nou af is jy, soos Frank, deel van ons familie. Soos my eie dogter.”

      “Jy is danig begogel deur oom Petrus,” het Frank opgemerk toe hulle laatmiddag langs die Eersterivier loop.

      “Hy’s ’n fantastiese mens!” het sy uitgeroep. “As ek my eie pa maar kon inruil vir hom!”

      “Deon,” praat sy weer in die stilstaande kar, “ek het só hard probeer om die dinge wat jy my vertel het van my af weg te skuif nadat ek jou die laaste keer gesien het. Om die tekens by Frank weg te rasionaliseer. En nooit, ooit het ek Frank se liewe pa van misbruik verdink nie. Iemand anders, ja, êrens langs sy pad – maar nie die minsame man wat my soms op Onrus by die see eenkant toe getrek het en so belangstellend na my werk uitgevra het nie.”

      “Julle doen goeie werk, my kind,” het oom Petrus soveel male vir haar gesê, “jy én Frank. Om siele na die Here te lei en om mense in hul uur van reddeloosheid aan te hoor, dis van die mooiste dinge wat ’n mens vir God op hierdie aarde kan doen.” Hy’t sy arm om haar skouer gesit en haar ’n drukkie gegee voordat hy gesê het hulle twee moet darem weer by tannie Susan en Frank gaan aansluit.

      Oom Petrus … dit kán nie, dit mág nie hy wees nie – niemand sal so iets van hom wil glo nie! Sy ook nie. Nie daardie mens wat haar en haar gesin oorlaai het met liefde en geld en goedheid nie. Maar hoeveel sulke goeie sportafrigters was daar in Deon en in Frank se tyd op Skuilkranz?

      En nou is haar lewe met die noem van één dorpnaam omvergegooi. Want as dit Deon gegeld het, geld dit dalk haar eie man ook. Deon en Frank is byna ewe oud. Of sien sy verkeerd? Kon daar nie ’n ander onderwyser gewees het wat die seuns so gemanipuleer en misbruik het nie? Iemand wat ook sport afgerig het, dalk ’n aflos-koshuisvader was?

      Sy skakel die motor aan en trek weer weg. Die bladsye van die bietjie meer as twee jaar wat sy Deon gereeld gesien het, blaai voor haar verby, ’n boek wat sy uitgehaal het om weer van voor af te lees. Lang stukke, paragrawe, een-reël-aanhalings wat hy ook in haar ingeplant het, goed wat in haar brein geëts is.

      Sonder dat haar kop daarby is, kry haar voete en hande die kar by die huis. Sy druk die knoppie by die oprit van die garage om die roldeur oop te maak.

      Wat van Frank? Wat van haar seuns? As die man van wie Deon haar bietjie vir bietjie vertel het dieselfde onderwyser is wat vir haar eie man skoolgehou het – hoe ver strek die parallelle?

      Sy sou nooit daardie eerste middag in haar privaat spreekkamer in die Strand kon dink dat dit hierop sou uitloop nie. Maar sy is sekerlik besig om spoke op te jaag – oom Petrus is die liefste mens wat sy ken; sy hart loop oor van goedheid. Hy was nog altyd net vaderlik en sag teenoor haar.

      Hoeveel keer het hy nie aangebied om die pasiënte in die kliniek op te beur deur as sanger op te tree en ’n boodskap te bring nie? Hermes die boodskapper, so het hy homself gedoop nadat hy van DeoTwee af weggebreek het. By hoeveel geleenthede het hy nie die hele opbrengs net so aan organisasies wat met verkragtingslagoffers werk, geskenk nie? Die saggeaarde man wat gesing het van die Kind van Betlehem wat die kinders van hierdie wêreld na Hom toe wil trek. “Genade, onbeskryflik groot”; “Die Lam van God is heilig en liefdevol”; “Hoe groot is U”. En ná die optrede ’n boodskap gebring het oor God se grote liefde. “God het die kinders by uitstek lief …”

      Sy glo dit nie. Frank sal Deon aan die keel gryp as hy moet hoor daar word selfs net so iets gesuggereer oor die pa wat hy liefhet. Dié pa wat hom menigmaal in die openbaar uitgespreek het teen misbruik; wat wil hê die gereg moet baie strenger optree teen sulke misdadigers.

      Die vraag is: hoe is só ’n mens bedraad, iemand wat hom wel aan so iets skuldig maak? Hoe ver kan ’n man ander mense manipuleer en ’n rat voor die oë draai? Siele en liggame in die geheime agterkamer van ’n eie lewe verwoes. Oom Petrus is dit nié. Nooit sou hy so iets doen nie.

      Haar kop, haar hart, haar siel – daardie ding wat jou maak wat jy is binne-in die omhulsel wat hulle ’n liggaam noem, is ’n geelperske wat al meer as drie weke op die winkelrak lê. Sag, gekneus, verkrimp; buite en binne vol bruin vlekke van verrotting, met ’n wurm of twee wat deur die vlees van die perske rimpel en die hart uit die vrug wegvreet.

      Oom Petrus en sy vrou het haar met liefde oorlaai; haar soos hul eie kind laat voel. En sonder hulle geldelike hulp sou sy en Frank nooit die seehuis by Onrus kon bekostig nie. Vakansies het die oom met haar en Frank se seuntjies by die see gespeel asof hulle sy eie kleinkinders is.

      Soms was sy jaloers as sy sien hoe Frank en oom Petrus wegstap strand toe, en hoe het sy haar nie daaroor geskaam nie! Sy wou ook ingesluit gewees het in die intieme kringetjie. Maar hoe kon sy, ná alles wat hulle vir Frank gedoen het, oom Petrus dit misgun om sy geliefde seun partymaal net vir homself te wil hê?

      ’n Helder lig flits meteens deur die herinneringe aan hul vakansies op Onrus: Wanneer oom Petrus die kinders kom haal het om te gaan visvang of in die see te gaan speel, het Frank áltyd saamgegaan. Al het oom Petrus ook hoe nadruklik daarop aangedring dat Frank en sy vrou darem ook ’n tydjie moet kry om alleen te wees.

      Dankie tog! Die sug kom uit haar hart. Frank is weg vir ’n spesiale sinodevergadering en kom eers oor drie dae terug. Sy weet nie of sy al ooit dankbaarder was dat sy alleen kan wees nie; sy sou dit nie kon regkry om haar donker, deurmekaar moes van gedagtes en emosies vir hom weg te steek nie.

      * * *

      Die volgende paar dae bly die gedagtes deur haar maal, soos ’n hewige sooibrand wat net nie wil bedaar nie. Omdat Frank nie daar is nie, kan sy haar masker laat sak. Maar Liza kyk haar ondersoekend aan wanneer sy die linnekaste regpak en kassies begin skoonmaak. “Wat is dit met mevrou Corrie? Wat hang jou arms so pap en slap soos hongerbly-mieliepap? Watse ding kou so aan jou maagvel? Daai’s nie ’n goeie ding nie, mevrou.”

      “Nee wat, Liza, dis sommer maar … Ek kan nie besluit of ek ná die twee jare van by die huis sit weer moet teruggaan werk toe nie,” probeer sy dit afmaak, maar sy besef die vrou sien deur haar.

      Sy moet vir Deon laat weet of sy saamgaan Skuilkranz toe of nie. Dis al twee dae sedert hulle mekaar by die hotel gesien het en sy kan hulle nie onbepaald laat wag nie. Maar hoe kom sy by Frank verby? Sy weet klaar wat sy antwoord gaan