My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
sodat niemand kan sien dat ek tien keer langer hande was as enigiemand anders nie?

      “Ek is bang, dok. Ek het onredelike vrese. Ek kan nie eens vir jou sê wat … wat dit is wat ek alles vrees nie. Dinge wat ek weet … ek weet ek sal dit nooit … maar as die gedagtes kom – hulle kom sonder dat ek wil … in die dag en dikwels in die nag; ek is bang om te gaan slaap, want ek is bang ek droom hierdie goed … ek is bang die drome word waar. Hoe meer ek dit probeer onderdruk, hoe meer spring hulle uit en maak my kop vol.”

      Hy het weer hakkelend gepraat en daar was iets herkenbaars aan sy houding. Asof sy iets intuïtief aangevoel het, maar nie met haar vingers of brein kon raakvat nie.

      Ineens het sy oë verstar, verby haar gekyk na die muur waar sy die notas en briewe van vorige pasiënte vasgespeld het.

      “Ek is so verskriklik bang … ek is so bang ek doen iets vreesliks!” Daar was paniek in sy stem, soos ’n swemmer wat in die kolkende water van die see in die moeilikheid geraak het en keer op keer teen die rotse geslaan word. Sy hele lyf het geskree: Help!

      “Daar is dwanggedagtes … My vrou het geloop, jare terug al … Ons het een kind, maar ek’t haar amper nooit gesien … My vrou wou my nooit … En sy, sy is nou saam met iemand anders …”

      Hy het opgestaan, die paar meter wat die spreekkamer beslaan van kant tot kant heen en weer met sy treë afgemeet. Opeens het hy doodstil bly staan. Katatonies. En toe op die grond neergeval terwyl sy spiere onwillekeurig ruk, sy arms en bene na alle kante dwing en sy kop onbeheersd op die harde vloer kap.

      Corinne het opgespring, die deur oopgepluk: “Kom help, asseblief! Stuur manlike verpleërs ook, en kry die dokter aan diens!”

      Dokter Cecile van der Merwe was binne ’n minuut of twee daar. Terwyl die verpleërs Deon vasgehou het, het sy hom ’n kalmeermiddel ingespuit. Chemiese straightjacket, soos hulle dit noem, anders as die dwangbuis wat vroeër gebruik is om pasiënte in bedwang te kry.

      Corinne het Sieg gebel en hy’t gekom so gou hy kon. Hy het Deon ondersoek en die suster aan diens instruksies gegee vir ’n verdere inspuiting as dit nodig sou wees; die Lorazepam-dosis verhoog. Agterna het Sieg lank met haar kom sit en gesels; bevestig dat haar vermoede reg was: Deon was besig om al sy spoke uit te haal en met hulle te praat. Sieg het gesê hy gaan Deon se tyd in die kliniek met ’n week verleng.

      Frank was, vir ’n verandering, vol begrip en empatie toe sy bel. “Kyk mooi na jou pasiënt. Ek sit die kos wat Liza gemaak het vir jou in die mikrogolf, maar sorg dat jy intussen by die kafeteria ook iets eet.”

      Sy het kort-kort gaan kyk hoe Deon lyk. Toe sy Sieg teen elfuur die aand laat weet die pasiënt is rustig en daar is geen abnormale observasies nie, het hy gesê hy dink sy kan nou met ’n geruste hart huis toe gaan, maar die personeel moet hom onmiddellik laat weet as daar ’n verandering in Deon se toestand is.

      Ek sal mooi moet werk met hierdie mens, het sy woordeloos vir haarself gesê toe sy die aand terugry Stellenbosch toe; die ligte van die motors daardie tyd van die nag soos vuurvliegies wat stadig, een-een, afgeskei word deur die donker. Hy is nog glad nie so gesond soos wat dit in die vorige sessies gelyk het nie.

      As hy nie sy vrese kan uitspreek nie, sal sy – en hy – moeilik by die ware kern uitkom om dit oop te breek.

      * * *

      Om halfnege, nadat sy ’n bietjie skuinsgelê het, bel sy vir Deon. As hy nie antwoord nie, is dit goed en wel, dan wil hy en Liezl seker alleen wees. Maar hy antwoord dadelik. “Dok, hier is ek. Ek voel beter ná die stort. As jy wil, kan ons by die Spur hier oorkant gaan eet? Liezl sê sy het lanklaas ’n steak geëet.”

      “Ek kry julle in die voorportaal,” sê sy, “oor vyf minute.”

      Sommige mense sal nooit kan verstaan hoeveel moed dit van iemand soos Deon vat om iets so vanselfsprekend te doen nie, dink sy terwyl sy voor die spieël lipstiffie aansit. Daar was tye in hierdie man se lewe dat hy nóóit in ’n openbare eetplek sou kom nie. Toe sy hom leer ken het, was sy vrees vir kontaminasie die ergste wat sy nog ooit in haar praktyk meegemaak het.

      Sy trek vinnig haar langbroek van die oggend aan, met ’n ander top wat daarby pas. Ingeval daar ’n koue windjie van die see af waai, wikkel sy ’n donkerblou-en-groen serp om haar nek.

      By die ingang waar die gemakstoele is, kry sy die twee. Deon lyk nog moeg, maar sy sien geen bewing nie. In sy vars liggrys broek en ander hemp lyk hy soos ’n doodgewone man wat vir die aand uitgaan. Liezl het ’n donkerblou top by haar jeans aan, en die blou kraletjies wat sy in haar hare gevleg het, laat die kleur van haar oë nog meer opvallend uitstaan.

      “Reg! So jy’t gesê ons gaan Spur toe, Deon,” sê Corinne. “Voel jy orraait?”

      “Steeds apprehensive,” sê hy, “maar vanaand probeer ek vergeet wat môre bring. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad; dis wat my ma altyd gesê het.”

      Voor die Spur hou sy stil. Sy vra vir ’n tafel naby ’n venster, so ver as moontlik van ander mense; sy weet hoe hy ingeperktheid haat. Om tyd te wen en hom op sy gemak te laat voel, bestel sy solank vir elkeen ’n bottel mineraalwater toe die kelner die spyskaarte neersit.

      Soos sy verwag het, staan Deon binne oomblikke op en loop na die manstoilette. Sy lees sy gedagtes asof dit haar eie geword het; die kleedkamer is ’n plek met ontelbare kieme wat daar saamdrom. En dis hier waar hy sy hande nogeens moet was om dit skoner te kry. Hier, waar almal na jou sal staar as jy die kraan drie minute lank laat loop, terwyl ’n waterskaarste byna oral in die land heers.

      “Tannie,” sê Liezl toe hy wegstap, “my pa gaan oukei wees, nè?” Corinne hoor die opgehoopte emosie in haar stem.

      “Jou pa is klaar oukei,” sê sy. “Hy moet dit net self begin glo.”

      “Maar daar is vrae wat in my kop draai – kan ons ’n keer as daar tyd is alleen gesels?” Liezl kyk haar hoopvol in die oë.

      Dit raak Corinne intens: die klein dogtertjie wat nooit regtig haar pa kon leer ken nie; die jong meisie wat probeer verstaan wat met hom, met haar, met hul gesin aan die gang was.

      “Bid dat dit reën,” sê Pieter toe hy die oggend die hek vir hulle oopmaak.

      Die see laat ’n wit skulprand soos dié van ’n bruidsrok regs op die strand uitrol. Deon kyk weg oor die Kabeljousrivier, en ineens praat hy met die stem van ’n seuntjie: “Ek is nie bang vir riviere nie. Ek en Pappa en Kabous vang vis in die rivier.”

      Dis iets wat hy Corinne al vertel het, maar sy hoor hoe hy regresseer tot die agjarige kind van destyds wat op ’n plaas in die Langkloof grootgeword het. Sy sien in die spieëltjie hoe Liezl vraend na haar kyk; skud haar kop liggies, beduie met haar oë: Moet jou nie bekommer nie, dis ’n tydelike reaksie.

      Hoofstuk 5

      Julie 1972 – Skuilkranz

      “Hoeeei! Komaan! Kom my perdjies, kom, kom, kom!” Hulle hoor sy stem, maar kan nie uitmaak wat hy sê nie. Dan roep Pa Pietie in die koshuisgang af: “Komaan, julle outjies, kom kyk!”

      Die nege tuisblyertjies oor naweke en vakansies tros agter hom aan.

      “Nou: maak toe julle oë, vat twee-twee hande. Prins en Deon, hier by my. Herkie, hou jy vas aan Prins; Kobus jy aan Deon. Mooi loop, versigtig, saggies – as ’n mens iets wil mak maak, moet jy mooi te werk gaan.”

      Die twee agter Pa Pietie bots teen hom toe hy stop. “Wag eers, ouens. Oukei, goed, maak maar julle oë oop!” roep hy uitbundig.

      Deon kan sy oë nie glo nie. Op die veld waar hulle altyd rugbyballe rondskop, staan sewe ponies, wit tot vaal tot bruin-en-rooi gevlek. Hulle sien die seuns, bolk en bonk, skop stof op in die lug.

      “Toéé nou, hoo-nou, hoo-nou.” Pa Pietie paai, loop nader. Die ponies bly staan, voel sy troostende hand. Hy vryf hulle tussen die ore, oor die stekelrige nekke.