My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу

      Julie 1971 – Skuilkranz

      Deon lê in die smal koshuisbedjie en bibber. Hy wens Kobus was wakker, dat hy saam met hom kan onthou, saam kan terugdink aan die Saterdae se visvang en die reuk van sy pa se twak. Hierdie koue is ’n koue waarteen komberse niks kan doen nie. Dis die krytwit koudheid van alleenwees.

      * * *

      Hy’t lank gedink hieroor. Eintlik was dit Liezl wat daarmee begin het – dat hy moet teruggaan, en dat sy sal saamgaan, hom sal bystaan. En dat hy die sielkundige moet vra om ook saam te gaan. Dokter Siegfried, die psigiater wat hy deesdae nog een keer per maand sien, het lank terug laat val dat sy nie meer praktiseer nie. Maar dúrf hy dit van haar verwag?

      Hy soek die fyn haartjies in sy nek met sy vingers, rol dit heen en weer voor hy die nommer op sy selfoon soek.

      Corinne hoor die foon in die gang lui en hardloop met die trappies op voordeur toe. Hulle het net ’n uur in die oggend om tuin nat te maak, en weer ’n uur teen skemeraand. Frank is kerkkantoor toe. Nadat sy gevra het, het hy ’n nuwe waterstelsel vir die tuin aangelê wat ook die boorgatwater spaar en maklik is om te bestuur. Hulle vriende vind dit vreemd dat ’n dominee so goed is met praktiese dinge; sy is net te bly.

      Sy haas haar in die gang af. Die foon hou op lui net voor sy dit kan optel. Toe begin dit opnuut en sy druk dit teen haar oor.

      Dis Deon op die lyn, sy herken onmiddellik sy stem: “Kan ek jou sien, dok, asseblief? Daar’s iets belangriks wat ek met jou wil bespreek.” Hy maak nie gesellige praatjies nie; dis asof hy die sinne ingestudeer het en die woorde afvuur voor sy aandag afgelei kan word deur hoflikheidsvrae na hoe dit gaan of opmerkings oor die weer.

      Sy huiwer. Sy’t carte blanche – sy praktiseer al langer as twee jaar nie meer nie – maar wil sy regtig ’n ekspasiënt in haar lewe toelaat, met al die verpligtinge wat onafwendbaar daarmee saamgaan? Die ordening van haar huishouding en die af en toe se gemakliker samesyn met Frank, die tuisgekookte etes wat sy kan sien hy waardeer, help om party van die spoke in haar kop weg te vee soos ’n mens spinnewebbe wegwerk uit die hoeke van ’n vertrek wat min gebruik word. Al bly dit aan die stoffer vassit.

      Sy het ’n lang pad met Deon geloop; sy’s dankbaar dat hy die dinge uit sy verlede kon opgrawe, kon besef dat hy nie die mislukking is wat hy homself jare lank laat glo het nie. En vandat sy op die sabbatical is, het sy, hoewel sy intens bekommerd was en steeds is oor Frank, haarself begin wysmaak dat die ooreenkomste wat sy tussen hom en Deon gesien het, blote toeval was.

      ’n Mens wil die dinge wat voor jou oopgegooi word en wat jou bangmaak liewer in ’n boksie sit en ver wegbêre. Maar al het sy Deon twee jaar lank nie gesien nie, bring haar dink en die vrae oor haar eie situasie tuis hom daagliks oor die drumpel.

      Dis, soos sy al talle male in haar praktyk gesien het, soos ouers wat vermoed hulle kind is gay, maar verkies om die tekens nie raak te sien nie. Versigtig om iets wakker te maak wat die kind voor soveel moeilike uitdagings te staan sal bring.

      Haar hart hamer in haar bors toe sy antwoord: “Goed dan, Woensdag. Waar sal ons mekaar ontmoet? Die Stellenbosch Hotel?”

      * * *

      Dis stil by die hotel toe sy Deon die middag vieruur ontmoet. Die oorsese gaste is nog weg op hulle daguitstappies en sal eers teen vyf- of sesuur terugkeer.

      Hy staan op toe sy binnekom, groet haar met ’n skewe glimlag: “Dok. Dis goed om jou weer te sien.” Hy sit sy arm om die skouer van die blonde meisie langs hom. “Ontmoet vir Liezl, my dogter. Ek het jou van haar vertel. Ons het mekaar so ses maande terug weer gevind, en sedertdien bly sy by my in die kothuis op die plaas. Ek help ’n boer met sy boekhouding in ruil vir verblyf.”

      Sy stem is warm. In al die tye wat Corinne hom gesien het, het sy oë nog nooit so gestraal soos wanneer hy na sy kind kyk nie. “Sy studeer op Stellenbosch en ry soggens saam met ’n paar ander studente in. En saans kuier ons vir al die aande wat ons nie gehad het nie.”

      Die meisie se hare is rooiblond, haar oë ’n sonderlinge blou – turkoois amper. Sy steek haar hand uit. “Doktor Prinsloo, ek is so bly dat ek jou kan leer ken. My pa het my baie van jou vertel, en dat jy hom uit die hel van sy kinderdae help red het. Sielkunde is ook my een hoofvak, en ek moet besluit of ek dié rigting gaan kies, en of ek met Duits wil aankap, toergids vir buitelanders of so iets word.”

      “Sê sommer ‘tannie’, jong, dis makliker so – my kinders is ook net ’n bietjie ouer as jy.” Die meisie draai na Deon, haar oë lag na haar pa toe.

      Eers toe die koffie gekom en die laaste suikerkorrel in Deon se koppie beslis weggesmelt het, kom hy tot die punt. Liezl sit met haar kop skuins en luister.

      “Dok, ek weet ek is nie meer jou pasiënt nie en jy is niks aan my verskuldig nie. Ek voel vandag soveel beter oor die mens wat ek is as ooit tevore in my volwasse lewe – eintlik, kan jy sê, my hele lewe lank, want die dinge wat ingebrand is in my geheue, het begin toe my pa ons Sk-skuil-kranz toe gestuur het.”

      Corinne moet haarself keer om nie haar asem hard in te trek nie. Deon wou nog nooit tevore sy grootworddorp se naam noem nie; elke keer as sy tydens die sessies in daardie rigting begin praat het, het hy weggeskram en die onderwerp verander.

      En nou, hier: die bevestiging, of die byna-bevestiging, van dit waarvoor sy gevrees het nadat sy Deon begin sien het. Sy onthou hoe hy gehakkel het toe hy die eerste keer die naam van sy grootmaakpa gesê het: “P-Pa Pie-t-tie.” Sy klem haar hande inmekaar onder die tafel, wag tot hy verder praat.

      “Ek weet die paadjie wat jy met my geloop het, het lankal tot ’n einde gekom, en ek sal nooit vergeet wat jy vir my gedoen het nie. Jy het die hopie verskrompelde mens wat ek was aan die hand geneem sodat ek in my gedagtes kon teruggaan na daar waar alles begin het. En ek weet ook wat ek jou nou gaan vra, is seker nie protokol nie. Maar daar’s ’n goeie rede daarvoor.

      “Ek het aansoek gedoen vir ’n aflospos by ’n skool in Durbanville, en ek het dit gekry. Maar ná die aanvanklike euforie het ek begin twyfel, weer begin dink, weer begin delf … veral toe ek en Liezl oor die verlede begin praat het.

      “Toe ek destyds vir jou gesê het ek gaan nooit weer terug na daardie plek toe nie, het ek dit bedoel, maar my binneste sê nou ek moet teruggaan na die plek waar dit alles gebeur het. Eers as ek my kan vergewis dat dit wat Herkie vir my oor die e-posse geskryf het, ís wat destyds gebeur het, sal ek die verlede in die krematorium kan stoot.”

      Corinne voel hoe die senuwees in haar tone se koppe, in die toppe van haar vingers en in haar neus se punt prikkel. Sy leun vorentoe. “As jy voel jy is sterk genoeg om te gaan, is dit wonderlik, Deon,” sê sy so neutraal moontlik terwyl sy ongemerk na sy hande kyk. Daar is ineens weer ’n effense bewing wat hom dwing om die koffiekoppie met al twee hande vas te hou.

      “Maar dok …” Hy sit die koppie neer en strek sy hand – die hand waarmee hy in die verlede nooit iemand wou groet nie – na haar toe uit oor die tafel, lê dit langs hare neer. Sy weet wat hy gaan sê voordat hy verder praat. Sy stem is meteens weer dié van die pleitende seuntjie wat sy soms tydens hul terapiesessies gehoor het: “Dok, jy werk mos nou lankal nie meer nie, dokter Sieg het dit bevestig, en ek is nie meer jou pasiënt nie … En dit was eintlik … Liezl het een aand gevra of ek nie dink dit sal die spoke finaal laat rus as ek teruggaan nie. En sy wil saamgaan. Maar ek … ek is skrikkerig. As ek weer so word soos wat ek was … Jy is die enigste een wat my kan help om hierdie reis aan te pak. Sal jy nie ook saamgaan nie? Asseblief?”

      Die meisie pen haar vas met haar oë. “Tannie, dit sal vir my pa so baie beteken as jy kan saamgaan. En vir my ook. Dis ek wat aangehou het dat hy jou moet kontak en vra om saam te gaan. Want selfs ná al ons gesels is daar goed wat ek nie begryp nie, en ek wíl verstaan. Sal tannie saamkom? Groot asseblief?”

      Corinne hoor dieselfde smekende klank in haar stem as in Deon s’n. Anderkant die binnemuur is die geklater van breekgoed en trollies iewers uit die hotel se maag vaagweg hoorbaar. Die meisie langs Deon kyk vol afwagting na haar, haar blou oë hoopvol.

      Corinne druk haar bene teen mekaar onder die tafel om die