My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
sommer in die ry, of wat sê jy, Deon? Ek het Wet Wipes hier voor in die paneelkissie. Liezl? Is dit reg met jou? Hulle skuif mos darem die pizza direk van die plaat in die boks.”

      Toe hulle wegry uit Mosselbaai, begin daar ’n fyn motreëntjie neersif. Regs van hulle skyn ’n reënboog met sewe helder bane en ’n ligter, valer boog daaronder. ’n Gloed slaan teen die berg uit die wolke op. Wederkomswolke. As Hy weer kom, sal dit só lyk, dink Corinne. Ás Hy weer kom?

      Sy gló. Sy glo onwrikbaar daar bestaan ’n “God”, maar Hy lyk nie vir haar soos die een wat die kerk dikwels predik nie.

      * * *

      “Kan ons die Langkloofpad ry?” het Deon gevra toe sy bel om te sê sy sal saamgaan. “Ek sal net een keer weer wil sien hoe dit lyk waar ek vandaan kom, waar ek ’n kind was voor ek weggestuur is.”

      “Ja, natuurlik!” Sy was opgewonde oor die teken dat hy wil terugkeer na daardie heel eerste verlies. Dit is iets groots dat hy kans sien om terug te gaan na die tyd van onskuld, dat hy bereid is om die idille van daardie tyd teen die afskuwelikheid van Skuilkranz te meet.

      “Hoekom wil jy eintlik nóú juis terug na Skuilkranz toe?” het sy gevra toe hulle die dag by die hotel ontmoet het.

      Liezl het na haar pa gedraai. Corinne kon die onderlinge samehorigheid van die twee sien; dat hy uiteindelik ’n verhouding met sy kind kon opbou nadat sy vrou haar so van hom vervreem het, het haar bly gemaak.

      “Eers wou ek nie, maar ná die terapiesessies het ek begin dink. En dié Labuschagne van wie Herkie geskryf het en van wie ek vertel het in die kliniek, hy was lank voor ons tyd op Skuilkranz, maar Herkie het gesê hy het ’n groot klomp inligting – dinge wat die destydse kinders in briewe en e-posse vir hom vertel het. Soos wat ’n mens seker makliker op ’n bus of trein teenoor ’n vreemdeling jou hart uitpraat, wetende dat jy die persoon waarskynlik nooit weer sal sien nie. ’n Anonieme oor. Maar jy’t tog vir hom geskryf toe ek jou van hom vertel het, dok? En hy het mos gesê hy sal nog meer inligting gee as jy wil. Het hy daarna weer iets laat weet?”

      “Nee,” sê sy. “Toe ons sessies opgehou het, kon ek nie op professionele gronde die korrespondensie voortsit nie. Maar ek het hom gebel nadat ek jou laat weet het ek sal saamgaan. Hy’t gesê ons is welkom, hy sal met ons praat.”

      “Dis goed,” sê hy, “want ek soek na die groter konteks van dít waarvan ek skynbaar net ’n onderdeel was.”

      Hy draai skuins na agter, praat oor sy skouer: “Liezl, onthou wat ek gesê het – ek is baie dankbaar dat jy saamgaan, dit laat my veilig voel, maar jy hoef beslis nie oral by te wees as jy nie wil nie. Al die vreeslikhede … Die feit dat jy hier is, beteken vir my reeds genoeg.”

      Sy leun vorentoe, sit haar hand op haar pa se skouer. “Dis fine, Pappa, ons vat dit soos dit kom.”

      Anderkant George neem Corinne die Langkloof-afdraai en volg die Uniondale-bordjie.

      “Ken jy die verhaal van die spookmeisie van Uniondale?” vra sy na Deon se kant toe.

      “Die ongeluk het in 1968 gebeur,” antwoord hy, “’n paar jaar voor ek Skuilkranz toe is. Die grootmense het suutjies-suutjies daaroor gepraat. Nie met ons nie, net so onder mekaar; ek onthou so vaagweg tannies wat in ons kombuis gesit het en in hulle sakdoeke gesnuit het.”

      “Deon,” kaart sy die vraag versigtig aan, “dit het aan jou vertel destyds geklink of jou pa nadat hy met die nuwe vrou getroud is darem weer sy lewe bymekaar kon trek – het ek jou reg verstaan? Het hulle goed saam geleef? Jy’t nie toe uitgebrei daarop nie.”

      “Sy was ’n goeie mens. Maar ek kan byvoorbeeld net van een keer onthou dat ek en Kobus ook in die tweedehandse kar wat hy daarna gekoop het, kon ry. Dis maar met die vrou en die dogters wat my pa somtyds – min, maar tog – Baai toe gery het.”

      “En jou pa het al hoe minder ’n rol in julle lewens gespeel?” Die vraag bly hang in die lug soos ’n reuk – onsigbaar, maar daar.

      Toe hulle tussen die skadu’s van die denne in die Outeniquapas deurry, antwoord hy: “Kyk, dok, ek haat hom nie, maar ek weet ook nie of ek hom ooit weer liefgehad het nadat hy ons weggestuur het nie. Ek het mos toe ’n ander pa gekry.” Die bitterheid slaan deur in sy stem.

      Hoofstuk 4

      Junie 1971 – Skuilkranz

      Die vrolike oom met die wit krulkop kry hulle waar hulle in die stasie se wagkamer met hul voete op hul koffertjies sit. Sy hare is dieselfde kleur as hul ma s’n.

      “So dis nou my twee nuwe kinders!” Hy druk eers vir Kobus teen hom vas, dan vir Deon. “Julle sal nooit weet hoe bly is ek dat julle hier kom skoolgaan nie. Julle stiefma en dominee Vos het vir my geskryf oor julle. Op Skuilkranz is ons een groot familie. En onthou, vir my sê julle sommer Pa – Pa Pietie.”

      “Ek hoop julle twee hou van afval?” vra die tannie toe hulle om die tafel sit. Deon moet sy mond toeknyp, so water dit. Dis die lekkerste kos wat sy ma kon maak.

      Die oom maak die deur na die gang oop. Daar is vier ysterbeddens in die naaste kamer. Opgemaak met ’n laken, ’n grys stekelrige kombers bo-oor soos dié waarop hulle ma gestryk het, en plat kussings. Grys staalkaste langsaan vir klere en skoene.

      “Kom, ek gaan wys vir julle die kalkoene en die duiwe – julle lyk vir my na kinders wat hou van diere.” Dit voel of hulle die eerste prys gewen het.

      * * *

      “Dok,” het hy vir Corinne gesê toe hy vertel het van sy en Kobus se aankoms by Skuilkranz, “ek was so bang vir alles wat vreemd en anders is, maar daar was ook ’n blyheid. Hier was iemand wat ons graag wou hê.” Die hortende, halwe sinne, stiltes en afgebreekte woorde waarmee hy aan die begin probeer het om sy herinneringe na bo te haal, het ná ’n paar weke se sessies meesal plek gemaak vir volsinne.

      * * *

      By Malgasrivier trap ’n fietsryer verbete die opdraand uit. Aan die een kant van die pad, ondertoe, is die bloekoms koolswart gebrand; aan die ander kant, bokant die pad, blom hulle krone helderrooi. ’n Paar kilometer verder groei die wildevarings geil en groen. Hier het dit ook gebrand, maar in die geheel is die Langkloof veel minder getref as die Boland.

      Wie kies uiteindelik voor wie se deur die goed of die kwaad neergesit word soos ’n agtergelate baba in ’n mandjie? dink Corinne. Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk … Dis een van Frank se teksverse waaroor hy herhaaldelik preek. Gerdus het op ’n keer ná so ’n diens toe sy en die seuns terugloop huis toe, gesê dit klink of sy pa homself probeer oortuig. Sy’t hom betig: “Dít sê jy nou ten ene male nooit vir jou pa nie!”

      ’n Professor in haar derdejaar het aangehaal: “What’s not living is dead.” Maar die omgekeerde is ook waar: Wat nie dood is nie, lééf. Dis by hierdie punt dat sy Deon van die begin af wou uitbring. Hy is nie dood nie. Hy kan nog funksioneer. En dit het hy klaarblyklik merendeels sy eie oortuiging gemaak deur die baie maande wat verby is.

      Maar sy weet ook dis normaal vir hom om nou weer vrese te hê, en dwanggedagtes. Sieg het haar gewaarsku dat sy bedag moet wees daarop.

      Sy glo teen hierdie tyd kan hy meesal terugpraat met die stemme in sy kop wat hom teister: Een van die dae doen jy dieselfde as wat aan jou gedoen is! En kan antwoord: Ek weet julle is daar, maar ek steur my nie aan julle nie. Ek gaan nie daarop in nie; ek gaan nie verder daaroor dink nie en dit ook nie doen nie. Ek het geen skuld aan wat met my gebeur het nie.

      Sy sit die radio aan. ’n Flarde musiek van die sender kom oor die luidspreker: “The road is long, with many a winding turn …” Ná soveel jare slaan The Hollies die spyker steeds op die kop: “… He’s my brother …”

      Frank sê partykeer sy verbeel haar allerhande goed, maar in werklikheid bring die lewe dikwels onverwags dinge en mense, woorde en wyshede na haar toe op presies die regte oomblik. En dit