My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
jou aandag op hóm toe. Dis hy wat jou gevra het om saam te gaan en jou die geleentheid bied om Frank dalk te kan help.

      “Jy moet my wys waar julle gebly het,” sê sy na Deon se kant toe. “Al het van die name van die plase en plekke dalk verander, sal jy dit miskien nog herken. Jy het ’n besonder goeie geheue.”

      Hy antwoord nie, draai net sy kop soekend na links en regs, maar sonder om die stuk grond te identifiseer waar hy en sy broer as seuntjies gebly het. Sy sien hoe die teleurstelling oor sy gesig trek.

      “Hoe voel jy, Deon?” vra sy toe hulle by die klein garage en winkeltjie links van die pad petrol ingooi en iets koels kry om te drink. Hy het die Coke-botteltjie se doppie afgehaal en eers buite op die parkeerplek die koeldrank al in die rondte oor die randjie van die opening laat uitloop. Soos wat hy tydens hulle sessies altyd ’n bietjie van die koffie oor die rand van die koppie laat loop het voor hy kon drink. Misofobie, waarmee hy kennelik nou weer sukkel.

      Liezl het na die outydse motors wat die eienaar van die garage versamel, geloop. Sy drentel op haar tyd om die ysterheining waarbinne die voertuie getrek is, party op blokke, ander byna klaar gerestoureer. Sy haal haar selfoon uit, neem ’n paar foto’s voordat sy tydsaam terugstap.

      Deon antwoord nie. Sy voorkop en slape is nat, teen sy arms blink die son in minuskule druppeltjies tussen die ligte hare op sy voorarms. Die lou windjie van die Langkloof bring nie verligting nie. Toe hy vir Liezl wink en terugklim in die afgeslote ruimte van die kar, ruik Corinne die angssweet wat uit sy porieë bars.

      “Onthou, jy moet praat as jy kan, dit sal help,” sê sy en probeer om nie te bekommerd te klink nie. “Jy het besluit dat jy hierdie terugpad gaan loop, maar jy móét onthou, soos ek jou die middag by die hotel al gesê het: vir ’n ruk sal jy dalk weer slegter voel, weer die angstigheid en vrees beleef.

      “Wat die plaas van jou kinderjare betref: ek kan dink jy’s teleurgesteld dat jy dit nie kon uitken nie, maar dis nie weg nie. Onthou, dis blou jare dat jy nie meer daar was nie. As jy ’n keer regtig spesiaal daarna gaan soek, tussen die plase deurry, sal jy dit wel kry.”

      “My ma …” sê hy verlangend, “my ma het soveel warmte in die huis gebring.”

      Hy draai skuins na agter. “Hoe baie het ek nie al gewens dat jy haar kon ken nie, Liezl. Haar lyf het na poeier geruik, of na soetkoekiedeeg. Ek en Kobus kon om die beurt die bak uitlek – die ander een het ’n lepel vol deeg gekry om hom tevrede te hou.”

      Liezl het vir hulle plek bespreek by Framesby House in P.E. Billike akkommodasie en netjies en skoon, het Deon vir haar gesê na aanleiding van die foto’s van die kamers en eetkamer. Corinne ry eers by die afdraai verby. Makro is die landmerk waarvoor sy moet uitkyk, maar sy sien dit eers in haar truspieëltjie. Toe sy haar kom kry, is sy op Cape Road. Sy hou op die skouer van die pad stil, loer na Liezl. “Bel asseblief die man van die gastehuis, Liezl. Wat is sy naam nou weer?”

      “Pieter sê tannie moet net aanhou, ons is op die regte pad,” antwoord die meisie toe sy die foon dooddruk. “Jy gaan verby ’n winkelkompleks en by die tweede straat draai jy regs. Reguit aan, draai af in Willowby. Ons is baie naby die adres.” Liezl vat haar foon weer, tik die adres in op Google Maps. “Ja, dis net hier af, reguit – hier, draai hier regs en dan nog ’n ent voor jy die huis sal sien. Op die hoek.”

      “Ek sal bestuur, en ons ry met my voertuig,” het Deon aangebied, maar Corinne wou nie daarvan hoor nie; hy het genoeg stres oor die weersiens en die herontmoeting met sy jeug. Dis beter dat hy sy gedagtes kan laat gaan – na destyds, na dit wat voorlê, eerder as om op die pad te konsentreer. En syself kan haar gedagtes vrye loop gee wanneer sy bestuur; sy dink op haar beste wanneer sy iets meganies doen terwyl haar onderbewuste rondskarrel, gryp na wat bymekaar hoort en ’n geheel begin vorm.

      Sy druk die knoppies vir die hekkode soos Liezl dit vir haar voorsê. Die hek skuif stadig oop, en onmiddellik weer terug toe die kar binne is. Op die terras sit ’n man met twee krukke langs hom. Sy kan nie uitmaak wat fout is met sy been nie.

      Hy wag tot hulle nader kom voor hy praat. “Middag, of moet ek sê naand? Dit moet die De Swardts wees? Al die ander gaste wat bespreek het, is reeds ingeboek. Al drie kamers is in die hoofhuis. Daar is ’n koffiestasie in elke kamer, en die groot kombuis is vir almal se gebruik. Daar is ’n stoof, ’n mikrogolfoond, ’n yskas en vrieskas, borde, messe, vurke, potte, panne, bakke … Aan die oorkant by die sentrum waar julle regs afgedraai het, is ’n Spar en take-away-plekke. Ek het iemand wat catering doen, maar dis vir groepe van so ag tot twintig mense. Die Spur laat ook aflewer, die nommer is agter teen die kamers se deure geplak.” Hy’s uitasem toe hy die hele rympie afgerammel het.

      Hy hobbel met die krukke voor hulle uit. Corinne se kamer loop uit op die groot eet- en sitkamer. “Dié kamer het ongelukkig net ’n stort,” maak hy verskoning.

      “Als reg, ek stort eerder as om te bad,” antwoord sy. Sy sit haar goed neer en loop saam met die twee mans en Liezl na die kamers wat regs in ’n gang uitloop aan die agterkant van die huis.

      “As julle ingesettle is, bel my,” sê sy vir Deon. “Maar neem julle tyd, stort lekker en rus ’n bietjie, dis mos darem nog nie só laat nie. Ek sal solank gaan afreken, ons kan later al die geldsake uitsorteer.”

      Sy volg Pieter na die kantoor. “Ek wil sommer betaal,” sê sy, “dan is ons môreoggend reg en kan ons ry so gou ons klaar is.” Liezl het gesê hulle moet al die strokies vir haar gee, sy sal die optel- en aftrekwerk doen en uitreken wat hulle op die ou end vir Corinne skuld.

      Pieter trek die krukke nader toe hy haar die kwitansie gee en hop ’n ent met haar saam na haar kamer.

      In die badkamer trek Corinne die langbroek en bloes wat moedswillig aan haar vel bly kleef, uit. Sy draai die warmwaterkraan net effens oop; dis so warm dat ’n mens eintlik in ’n koue swembad wil spring. Die sweet sit vasgeverf aan haar lyf. Sy lig haar kop agteroor, laat die water deur haar gryswordende hare met die ligstrepies stroom voor sy die sjampoe-bediener druk. Een keer, twee keer, drié keer voordat daar genoeg seperigheid is om haar hare goed in te vryf. Dit ruik na sitrus, die sonnige geel en oranje vrugte van die Oos-Kaap.

      Vir Deon moet dit ná hierdie rit wees soos om onder die Victoria-waterval te staan! Sy is so dankbaar vir die feit dat Liezl ook by is; sy’s ’n wakker meisiekind. Aan die vrae wat sy die middag in Stellenbosch gevra het en haar opmerkings in die motor vandag, kon sy sien dis iemand wat baie vir haar pasiënte sal beteken as sy uiteindelik sou besluit om dié rigting te kies.

      Corinne het skuinsweg ’n halwe vraag oor Ella, haar ma, gevra, maar Liezl het gesê sy wil nou eers op haar pa konsentreer; hulle kan later oor haar ma praat.

      Toe Deon die middag by die hotel opgestaan het om ’n draai te gaan loop, het sy vir Corinne gevra of sy die een of ander tyd met haar sal praat oor die ekstreme angsaanval wat haar pa in die kliniek gekry het. Sy’t ja gesê, op voorwaarde dat sy haar pa se toestemming daarvoor kry.

      * * *

      Dit was net voordat Deon ontslaan is dat hy die hewige angsaanval gekry het. Corinne het vermoed dit het te doen gehad met die feit dat daar stadigaan steeds meer van sy skrikbeelde op die voorgrond tree. Nadat hy homself toegelaat het om die deur na die verlede oop te maak, was dit soveel makliker vir die herinneringe om hulle aan te meld.

      “Ek sal nóóit weer in die werklike lewe iets kan beteken nie,” het hy koponderstebo gesê nadat hy haar skaars gegroet het en stoïsyns ’n halfuur lank as ’n binnepasiënt in haar spreekkamer in die kliniek gesit het.

      “Jy het voorheen ook gesê jy kan nie meer reg funksioneer nie, Deon. In watter opsig? Wil jy vandag ’n bietjie meer hieroor sê?” Sy het haarself gemaan om rustig te bly, geduldig te luister na wat hy sê en ook na dit wat hy verswyg.

      “Kan ’n man wat kinders wil opvoed, só leef, dok?” Hy het stuurs geklink. Kwaad vir die lewe, kwaad vir homself.

      “Jy weet hoe skoolkinders is – hulle het lankal agtergekom hierdie meneer is heeltemal die kluts kwyt. En die onderwysers, dink jy hulle sien nie dat ek dikwels soggens laat kom nie, dat ek meer as enige ander