My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
* *

      Dit was Januarie toe Hannelie haar meer as twee jaar gelede vroeg een Sondagoggend bel. Corinne wou knak onder die spanning wat by die huis heers. Naweke het sy geslaap soveel as wat sy kon, maar sy wou haar nie ’n lang vakansie veroorloof nie; daar was te veel pasiënte wat op haar staatmaak. Toe sy en Frank mekaar leer ken het, was dit een van die dinge wat hulle met mekaar gemeen gehad het: as jou medemens jou nodig het, vat jy nie af nie. Jy hou aan, verby die tweede myl se saamloop.

      Corinne is nog deur die slaap toe sy die foon nader trek van die bedkassie in die spaarkamer, wat ook diens doen as haar studeerkamer. Sy’t weer laatnag opgestaan en hier kom lê toe Frank teen twee-uur nog nie uit sy studeerkamer te voorskyn gekom het nie.

      “Sus, het jy die koerant gesien?”

      “Hannelie?” Corinne sit regop, druk ’n kussing agter haar rug in en hou weer die foon teen haar oor. “Wat bedoel jy? Wat is so erg dat jy my so vroeg op ’n Sondag bel om te hoor of ek die koerant gesien het?”

      “H’m, Sus … sjoe, dis erg om dit oor die foon te sê, maar ek het gedink dis dalk beter as dat jy dit blatant in jou gesig kry.”

      “Wát? Sê my asseblief wat aangaan!”

      “Daardie vrou van wie jy my ’n tyd gelede vertel het – ek dink dis van haar wat hulle skryf. Al het jy nooit haar naam genoem nie, iets aan die berig sê vir my dit mag dalk sý wees.”

      Corinne weet dadelik na wie sy verwys. In al die jare wat sy praktiseer, het sy nog net oor een geval met iemand gepraat, en dit was met Hannelie. Die aanhoor van daardie verpletterde mens se verhaal het soos hamerslae in haar binneste geval; sy móés dit eenvoudig met iemand wat sy vertrou, bespreek. Anoniem, natuurlik, maar sy’t ’n uitlaatklep bitter nodig gehad. Met Frank kon – wou – sy nie daaroor praat nie. Hy het genoeg van sy eie dramas gehad met gemeentelede wat oplossings vir hul probleme soek.

      “Lees,” vra sy. “Wat sê die opskrif?”

      “Dis op die voorblad, onderaan,” sê Hannelie. “In groot, vet letters: ‘Hoofbestuurder van pensioenfondse drink gif’. En daar is ’n foto van ’n uitgeteerde vrou, meer been as vel.”

      Corinne trek haar klein onder die duvet. Hoe hou ’n mens hierdie dinge verder weg van jouself af?

      Nadat sy afgelui het, staan sy op en loop kombuis toe. Frank het die koerant reeds onder oë gehad; die dele is weer inmekaar geskuif, maar die bylaag steek skeef uit. Sy’t nie kans gesien om saam met hom kerk toe te gaan vanoggend nie. Dit voel of haar immuniteitstelsel op tien persent funksioneer. Sy kyk na die foto op die voorblad, sien weer die vrou soos sy voor haar gesit het.

      Linette het haar ’n paar keer kom sien, en elke keer was sy nog meer inmekaargekrimp. “Getroud?!” Sy’t Corinne ongelowig aangestaar toe sy eindelik die vraag durf vra. Kliphard en skel gelag. “Wie sal iemand soos ek wil hê? Damaged goods! ’n Sak bene met ’n verlede.

      “Ek het jou al gesê: dis ’n vriendin – wel, as jy dit ’n vriendin kan noem; iemand van die werk wat my by my woonstel kom besoek, maar nooit saam met my in die openbaar gesien wil word nie – wat my hierin gedwing het. Gesê ek is ’n wandelende lyk, geen mens kan in ’n restaurant iets geniet saam met iemand soos ek nie. Gedink my eetstoornis sal weggaan as ek ’n sielkundige gaan sien. Maar ek besef nou – of eintlik het ek van die begin af geweet – daar is niks, níks, wat enigiemand vir my kan doen nie. So, vanmiddag is my laaste keer.”

      Dit was haar vierde sessie en daar was niks wat Corinne kon doen om haar te oortuig om terug te kom nie. Sy het die middag nadat die vrou weg is, haar kantoordeur gesluit en ’n lang ent langs die see by die Strand gaan loop, haar oë op die nat sand, haar voete versigtig tussen die slingers van die bloublasies.

      Daardie dag het sy opnuut besef: daar is baie slagoffers, maar daar is altyd mense wat nog slegter daaraan toe is as jyself. Sy het haar pa haar lewe lank nog verkwalik oor sy harde woorde, die feit dat hy haar meesal geïgnoreer het, daardie een klap deur haar gesig – maar sý het anderkant uitgekom.

      Corinne bly lank by die tafel sit nadat sy die berig gelees het. Hoe gretig is die media nie om die gruwelikste detail aan die groot klok te hang nie. Kon hulle die arme vrou dit nie maar gespaar het om ’n foto van haar uitgeteerde liggaam in die koerant te sit nie?

      Linette wou nooit uitwei oor wat van haar familie geword het toe sy ná skool weg is uit die huis nie. Al wat sy gesê het, was dat hulle vir haar dood is, en dat sy nooit weer haar ma of pa wil sien nie.

      Nadat hul sessies geëindig het, het Corinne dae lank gewik en weeg om Linette op te bel. Toe sy uiteindelik skakel, was haar nommer geblok. Sy het weke lank rondgeloop met Linette se laaste woorde wat deur haar kop maal: “Daar’s niks wat jy kan doen nie, doktor. Jy’t my storie gehoor; dink jy rêrig daar is enigiets wat daardie herinneringe uit my kop sal laat verdwyn?”

      Daar gaan ’n rilling deur Corinne se lyf. Sy vou die koerant toe en loop buitentoe. Hierdie vrou wat by haar blý spook, wat in haar drome voor haar staan – ’n dogtertjie wat kyk na die ballon wat haar sussie van die paal losmaak voordat sy terughardloop oor die straat – los haar nooit vir lank nie. As sy haar kom kry, sien sy weer die verwese kind; hoor sy die geskreeu van die motorbande, die uitroepe van die mense wat saamdrom.

      Onder die knoetsige wilgerboom gaan sit sy op die skommelbankie wat Frank jare gelede spesiaal vir haar gemaak het. Hy is goed met houtwerk, regtig goed. ’n Vaardigheid wat hy in die skool op Skuilkranz geleer het en wat hy vroeër gebruik het om vir hulle allerhande interessante, anderster meubels te maak. Van olien en esdoring, of kersiehout waarvan sy ná jare nog die geure kan ruik. En mooi klein figuurtjies wat hy met sy rooi messie uit sagte hout gekerf het.

      Frank het haar ná die oggenddiens onder die boom gekry. “En nou?”

      “Ai, Frank.” Sy’t opgeskuif sodat hy langs haar kon sit. ’n Rukkie het dit gevoel soos vroeër, asof sy haarself in hom kon verloor. “Net mooi toe ek einde laas jaar dink ek het één mens ’n entjie verder kon help op die pad, gebeur dít. Daardie vrou in die koerant, op die voorblad, sy was een van my pasiënte, en sy … Ek kon nie keer dat sy …”

      Die volgende oggend het hy lompweg uit die studeerkamer gekom nadat hy die vorige nag lank stil langs haar in die bed gesit, en toe opgestaan en weggeloop het. Sy’t niks gesê nie, maar die innigheid van die vorige dag was weg. Dis asof hy homself weer in ’n duikpak toegerits het, het sy gedink terwyl sy Seepunt toe ry.

      Siegfried, die psigiater met wie sy baie jare lank saamgewerk het, was die oggend by die kliniek om twee pasiënte te sien. Sy’t vir hom ’n sms gestuur: Kan ons praat as jy tyd het later?

      * * *

      Nou duur hierdie sabbatical al baie langer as wat sy beplan het. Hoe meer sy vir Siegfried oor talle koppies koffie in sy kantoor vertel het hoe dit by die huis gaan, en hoe sy haarself kwalik neem oor Linette, hoe meer het sy begin insien dat dinge nie so kon voortgaan nie.

      Sy’t skuldig gevoel om Frank agter sy rug te bespreek, maar hy’t haar nie kans gegee om met hom te praat nie. In haar hart weet sy hulle is die regte twee mense bymekaar, maar sy kon nie anders as om Sieg te vertel van die meer as ’n halwe bottel whiskey wat Frank soms op ’n aand wegsluk nie.

      Sieg het rustig geluister, haar aangemoedig om haar hart uit te praat, gesê hy sien al lank dat daar dinge is wat haar pla. Maar êrens in haar het die groot onsekerheid gesit, ’n ontsetting wat een middag tydens ’n sessie met Deon in haar kop geplons het. Dít was iets waaroor sy nie met Sieg kon praat nie, iets wat haar lugpyp toegedruk het.

      Daar was soveel ooreenkomste, maar Deon het alles gedoen om sy spoke uit die donker te haal, terwyl Frank net al hoe stiller geword het. Wát as haar vermoedens reg is? Wat sal beter wees vir hom – om daaroor te praat, of om stil te bly? Sieg het lank gelede een keer teenoor haar opgemerk: “Daar is dinge wat so diep in ’n mens se psige kan lê, dat as hy die dieptes moes induik om dit na bowe te bring, hy waarskynlik sou verdrink in die pyn.”

      Uiteindelik het sy een oggend teenoor Sieg beken: “Ek kan nie meer nie. Ek is