“Ja, goed, julle onthou baie mooi. Agarob het nou die boer hoor aankom op sy perd, en toe gaan kruip hy diep in ’n erdvarkgat weg.” Juffrou Meintjies lees verder: “Vinnig draai hy om, en voete eerste gly hy by die erdvarkgat in. Ook net betyds, want hy kan al die rooi sebra se voete hoor!”
Teen huistoegaantyd is dit byna heeltemal oopgetrek. Die ganse vlakte lê natgereën en ruik na veld. Stroompies bruin water loop in die voetpaadjies en vorm dammetjies hier en daar, of hardloop afdraand na groter stroompies. Milano, Niklaas, Boetie en Rensie loop en skop water op. Rysmiere fladder blinkvlerk in die veld en die voëls hou fees. Groot wit ooievaars stap langbeen tussen die bossies en pik insekte op met hulle bloedrooi snawels.
Van Niklaas-hulle se huis af kies Milano kortpad deur die kampe. Hy trap sagte modderspore uit tussen die bossies. Die modder peul tussen sy tone deur en hy verbeel hom hy is Agarob, die Boesmanseuntjie. Hy sny spoor in die nat grond en kyk of hy kan sien waar skape aan die bossies gevreet het. Hy ruik die veld, nat skaapmis, perdemis. As hy by die huis kom, gaan hy vir hom ’n pyl en boog maak, besluit hy, en met dié gedagte slaan hy oor na ’n flukse jakkalsdraffie. Dis lekker koel. Hier en daar lê nog haelkorrels aan die skadukant van die bossies en voortjies. Hy stop elke nou en dan om daarvan op te tel en suig so in die draf daaraan.
3
Die seer van die tweeling sit stildiep in Mieta. Die gemis is groot, veral noudat Hankies Goeieman weer swanger is met haar sesde kind. Mieta kom self uit ’n gesin van agt kinders. Haar ouma Grietjie Geduld sê ’n vrou moet haarself uitteel, dan sal sy lank en gesond lewe. En waarlik, daar sit Grietjie Geduld vandag op nege-en-tagtig met agter-agterkleinkinders van haar eie gebaarde twaalf kinders. “By net een man,” beklemtoon Ouma Grietjie altyd graag. Dan voel Mieta so leeg. Sit soos ’n vlaktevoël met net een kuiken.
Sy staan voor haar kookskerm. Dis Vrydag en ’n alleendag op die werf. Hennerik sal heeldag uit wees met skaapwerk en Milano is skool toe. Die wasgoed hang alreeds uit op die draad, die huis is uitgevee, die skottelgoed gewas. Die laaste paar dae lê daar ’n swaarte op haar hart. Sy het dit probeer uitwerk, wegwerk – selfs haar kombuiskas gister uitgepak, alles afgevee en weer teruggepak. Maar die swaar bly lê.
Dis waar wat Geelsuiker gesê het. Die dood kry kort-kort weer jou spoor en sluip rond daar waar jy hom probeer wegwerk. Die verlange krop op, stoot in haar keel op sodat sy moet uitstap om asem te skep. Sy gaan staan op die stoep en kyk na die kameeldorings waar haar kindertjies in die koelte lê. Mieta vryf deur die roosmaryn wat saam met haar hier op Spookwerwe aangekom het. Sy ruik aan haar hande en probeer iets van haar pa onthou. Wonder of hy haar ook so gemis het toe hy destyds van haar af weggeneem is.
Dis toe dat sy die koffertjie met kleertjies onder haar kooi gaan uittrek. Binne-in lê die blou en pienk kleertjies en wit doeke en kombersies deurmekaar. Truitjies, babygrows, die sokkies wat sy gebrei het. Sy pak alles uit op die kooi. Dit ruik nie meer na hulle nie. Eerder na stof, of na niks.
Sy bondel alles op en koester dit teen haar bors. Druk haar neus daarin om tog nog iets daaruit te probeer kry. ’n Herinnering, ’n troosreukie. Maar sy ruik die stof. Tot stof sal jy terugkeer …
In die kombuis kry sy die waskom en strooi ’n hand vol Surf in. Sy loop buitekraan toe en tap water in dat die skuim opwoel. Die draadtafeltjie gaan sit sy onder die kareeboom, presies daar waar die adder gelê het. Waar haar kinders laaste gespeel het.
Eers druk sy die kleertjies met haar oop hande af in die water in. Die skuim pof ’n vars geur deur haar vingers. Sy snuif dit diep in. Liefdevol begin sy die kleertjies een vir een tussen haar hande uitvryf.
Toe alles oor die draad hang, gaan maak sy vir haar tee. Sy gaan sit in die koelte van die karee en swaai uiteindelik Hennerik se geskifte kraag om. Teen laatoggend pak sy die kleertjies sorgvuldig terug in die koffertjie. Pienk by pienk, blou by blou. Tussenin druk sy ’n koekie Johnson’s-babaseep in, knip die koffertjie toe en stoot dit weer diep onder die kooi in.
*
Saterdagoggend staan die bollings rook hoog uit die hoenderhok. Hennerik en Milano het vroegmôre ’n klomp tolbosse en droë grasse daar ingesit en brandgesteek. Die tolbosse knetter gevaarlik, maar die vuur se fut is gou uit. Toe die ergste hitte bedaar, hark Hennerik die as heen en weer in die hok sodat dit met die sand kan meng. Milano loop veld toe om nesmaakgoed te soek.
“Moet nou nie kortpad vat en ander voëlneste se kooigoed bymekaarmaak nie. Hulle het hulle eie luis wat daarin broei. Jy moet skoon grasse vat.”
Milano en Riem loop daar waar die sand dikker lê. Dis waar die gras ook beter staan. Met Hennerik se knipmes sny hy die halms af en sommer gou het hy ’n dienlike vraggie nesmaakgoed.
Toe Hennerik die hok klaar uitgehark het, vat hy sy houtsaag om ’n paar nuwe latte by die kareeboom te gaan afsaag vir die hoenderstellasie.
Milano kom met sy draggie gras en begin weer die neste uitpak met die bakstene. Hy geniet die Saterdagwerkie en in sy skik kyk hy na die skoon neste wat hy mooi met gras uitgevoer het. Nuuskierig kom ’n paar henne ondersoek instel en skrop van die neste uitmekaar.
“Ag nee! Voertsek! Gaan skrop in die veld vir julle kos uit,” skel hy en verwilder hulle uit die hok. “Die hok is eers vanaand vir julle reg.” Hy maak weer die uitgeskropte gras bymekaar en trek die hok se deurtjie agter hom toe.
Later kom Hennerik met die kareelatte en prakseer ’n nuwe stellasie wat hy weerskante van die hok stewig vasdraai met draad.
Daardie aand, toe al die hoenders niksvermoedend knus teenmekaar op hul stellasie sit, word hulle met as gepoeier vir die luis. Mieta het die hele week die as van haar kookskerm in ’n ou verfdrom bymekaargemaak.
Een vir een haal Milano ’n hoender van die stellasie af. Mieta poeier hom op sy rug en onder die vlerke in, en die pote doop sy in ’n platblik ou kookolie. Dan sit Milano die hoender weer terug op sy lat – asvaal, en met blink geoliede pote. Verontwaardig skud die gedokterde hoender ’n wolk as uit sy vere en skuif styf teen die naaste buurhoender op die stellasie.
In haar skik skud Mieta die vaal as van haar hande af. “So ja, nou is julle luis goed gedokter en julle pootskubbe sal mooi skoon afdop. Laat ek julle nou uitvang dat julle loop sleg lê, dan word julle geslag, een vir een! Dis nog nie veertyd nie, julle sal nog vir ’n ruk julle kant van die saak moet bring.”
*
Maartmaand val die reën ruim. Hennerik en Geelsuiker is in die agterste kampe besig met die lyndrade. Hulle het met die blou bakkie gery omdat daar klip gelaai moet word om die lyndraad toe te pak waar ’n ongedierte deurgekruip het. Daar is nog een plek wat toegepak moet word toe die weer ernstig begin saampak.
Laatoggend verdwyn die son agter ’n dreigende bank grysblou wolke en die veld word reënskemer. Weerlig speel in die wolke rond en dan sweepklap ’n kragtige straal aarde toe. Die grond word lewendig onder hulle. ’n Vlaag wind volg. Dit rammel en grom, en die nuus versprei deur die veld. Die veldlewe raak stil. Blits lê platoor onder die bakkie ingekruip. Dan val die reën ’n reguit sluier uit. Hennerik en Geelsuiker pak haastig die laaste gat toe en hardloop in die gietende reën vir die bakkie.
“Die Groot Man speel nie vandag met ’n mens nie. Die driffie gaan ’n man gou afkeer as die reën so afkom,” sê Geelsuiker en skakel die bakkie aan. Die voorruit wasem toe sodat hy amper niks kan sien nie. Blits lê opgekrul agterop teenaan die kajuit, sy kop weggesteek in sy lieste.
Op Spookwerwe sit Mieta en Milano in die donker huis. Mieta steek die paraffienlampie op en begin die vetkoekdeeg in bolletjies afknyp. Troetel hulle dan tydsaam tot goudbruin in die kookolie. ’n Weerligstraal flits deur die huis, verblindend wit, en laat Mieta waaksaam na buite kyk, dan na Milano waar hy op die vloer met die kat speel. Hulle oë ontmoet en toe klap die donderslag met soveel geweld dat al twee ruk van skrik.
Die kat krap hom los uit Milano se arms. “Sss!” suig Milano die brandseer in en kyk hoe die bloed begin uitsypel.
Die koue skrik verdwyn stadig uit Mieta se lyf, maar die lamte bly in haar bene hang sodat sy sitplek soek. Vrees