“Ons kan maar vir Oerson stadig inbring,” sê Geelsuiker en draai die windpompbriek vas.
Terwyl hy die windpomp uitklim, praat hy ondertoe: “Oerson se troppie bees vreet nou in die onderste kamp van Spookwerwe, daar in die rivierloop in. Dit neuk om hulle daar uitgejaag te kry met die koeie en kallertjies saam. Hulle kruip alte graag vir ’n man weg tussen die doringbosse, en daardie jersey-bulletjie het ’n beneuktgeit op hom.”
Toe hy bo kom, waai daar ’n flukse windjie.
“Dan sal dit goed wees as Milano ons kan kom help aanja,” meen Hennerik so van onder af.
“Hoesê?”
“Ek sê, Milano sal ons moet help aanja.”
“Maar die kind is dan innie skool.”
“Ons kan hom mos Vrydag ná skool gaan oplaai en uitry na die bees. As hy ons net kan help om die bees uit die droë rivier se doringbome te kry, sal ons rustig met hulle terugstap.”
“Die wind.” Geelsuiker beduie na sy ore dat hy nie mooi kan hoor in die windjie nie. Hy draai die proppie bo by die kop af en druk vinger vir vinger die ghries daarin. Skraap die oortollige ghries aan sy vinger teen een van die windpompskeppers af, draai die proppie weer op en begin afklim.
“Hoe’t jy nou weer gesê van die kind?” vra hy toe hy onder is, en vee sy vinger uit gewoonte verder skoon teen sy broek.
“Ek sê, ons kan Milano Vrydag by die skool gaan oplaai en dan sommer uitry na die bees. Hy moet ons net help om hulle uit die doringbosse te kry, dan sal ons alleen verder met hulle aankom huis toe.”
“Dis reg, ja, maar my gevoelte is ons sal meer aanjaers benodig. Niklaas kan mos ook help. Dan is ons al vier man sterk,” suigpraat Geelsuiker deur sy pyp. Hy maak weer die windpompbriek los en die skeppers begin egalig woer in die wind.
“Ons keer vir Oerson Saterdagoggend af, dan kan Milano en Niklaas help om die troppie bees met die perde in te bring,” maak Hennerik die finale reëlings vas.
In sy skik staan Geelsuiker die windpomp en kyk. “Hierdie wind gaan die dam sommer nou vol hê. Het jy die miere opgemerk? Hulle is darem altemit bedrywig. Maar hulle sê vir ons net van wind.”
“Die miere praat nou weliswaar net van wind, ja, maar ek sien die losloperwolkies deesdae. Die veld is nie stil nie. Hier’s reent op pad.” Hennerik trek ’n diep teug aan sy zol, stoot die rook stadig deur sy neus uit en skiet die entjie weg.
Saam stap hulle terug om die blikkie ghries te bêre en vat dan koers na Geelsuiker se huis.
“As die reent goed kom, dan maak ons twee van Spookwerwe se kampe vanjaar spaarveldkampe,” sê Geelsuiker. “Ek het dit so met die baas bespreek. As daardie kampe gelos word, sal die gras goed ryp kan word en lekker saadskiet. Hoe lyk Huurkop se veld vir jou?”
“Put se kamp staan nog vol gannabos, en laer af in die springbokkamp staan nog so bietjie gras,” praat Hennerik soos hy terugdink hoe hy en Milano onlangs gery het om lyndrade te kyk. “Ons kan die veld daar bietjie swaarder laai. Eenders so met Vlekberg se veld ook. Hy sal ook kan skaap vat as ek nou my gedagtes agtermekaar het, maar dan sal die reent moet kom.”
By die huis laai Geelsuiker die leë dieseldrom op die bakkie en hulle kry koers dorp toe. Hennerik kyk terug in sy kantspieëltjie en sien die stofstreep sleep laag agter die bakkie aan; dit dwarrel nie hoog uit soos gewoonlik nie. Daar is vog in die lug. Sy vermoede dat reën broei, word bevestig toe hy die swaeltjies in die pad sien sit, eerder as op die telefoondrade.
*
Vyf dae later is dit toe ook so. Die wolke begin die Maandagoggend bymekaarkom met ’n vlies wat onderdeur sprei. Spierwit kolomme vorm, maar later word dit ’n dik bank kobaltblou donderwolke wat ’n skaduwee oor die vlaktes gooi. Ook maar goed hulle het Saterdag vir Oerson uit die rivierloop gekry. As die rivier eers afkom en gesak het, is dit net ’n moddergetrap.
Net ná tweede pouse val die eerste vet druppels, en kort daarna keer die hemele emmers uit. Die gedruis is so oorweldigend op die sinkdak dat onderrig onmoontlik is. Die kinders gaan staan op die stoepie en steek hulle arms onder die sinkdakkie uit. Kort voor lank stamp een kind ’n ander een van die stoepie af.
’n Blits weerlig skrik die kinders tot stilte, en toe ruk die donderslag die aarde. Gillend vlug die spul kinders terug klaskamer toe. ’n Paar meisiekinders begin huil en juffrou Meintjies het haar hande vol om almal weer te laat bedaar.
Milano het hom buite weste geskrik en staan doodstil in die leeshoekie. Hy sien hoe soek Niklaas na Boetie en wil net bekommerd raak, toe Juffrou hom onder die tafel kry. Die hael klater op die sinkdak.
“Kyk die wit balle, julle! Dis so groot soos ghoens!”
“Gaan haal een, toe.”
“Is jy mal! Dit sal ’n man seer slat.”
Voor juffrou Meintjies kan keer, hardloop Arrie dapper uit en kom terug met die huil vlak in sy oë. Maar die bewondering van sy maats is genoeg troos toe hy die haelkorrels wys.
“Eet dit, Arrie. Eet dit,” sê Klaas en vat sommer een vir homself ook.
Maria gil toe ’n haelkorrel teen haar rug afgly. Die seuns vind dit baie vermaaklik en begin mekaar rondjaag in die klaskamer. Banke en stoele word wild rondgestamp.
Milano staan in die leeshoekie en bekyk die spul toe ’n waterdruppel op hom drup. Hy kyk op. Die dak lek. Daar lê alreeds ’n nat kol op die mat. Hy sien nog ’n lekplek wat op die rand van die boekrak drup en die boeke natspat.
“Dis nou genoeg! Almal uit op die stoep! Uit!” Met die bordliniaal werk juffrou Meintjies die spulletjie uit.
Milano is laaste om by die deur uit te gaan. “Juffrou. Juffrou …” probeer hy, maar ’n kind hardloop in hom vas.
“Milano, Niklaas, Klaas. Kom, Arrie, jy ook sommer. Gaan skuif die banke en stoele weer op hulle plekke.”
“Juffrou, die dak lek. Op die mat en op die boeke,” kry Milano eindelik sy kans.
Juffrou Meintjies loer by die klaskamer in asof sy moet seker maak. “Kry die tafel daar weg, Milano, en sit die snippermandjie onder die ergste lekplek. Niklaas, gaan gooi die sandemmer uit en sit dit onder die ander lekplek. Rensie, Tillie, kom tel die goed op wat hier op die vloer geval het.”
“Ons wil ook inkom. Dis koud hier buite. En ek is bang hy slat weer soos netnou, Juffrou,” kerm Maria.
“Hou net op!” kom dit van Kapokkie. “Kan jy nie sien Juffrou is kla kwaad nie?”
Soos die reënbui bedaar, bedaar die kinders ook uiteindelik. Heel bedees stap hulle in en gaan sit op hulle plekke.
Milano steek sy hand op. “Juffrou, Juffrou kan mos nou vir ons die storie verder lees?” Juffrou Meintjies kyk op haar horlosie en sien daar is maar bietjie meer as ’n halfuur van die skooldag oor. Sy knik.
Milano bring vir haar die boek. “Agarob, kind van die duine,” lees hy hardop en soek met sy vinger waar die boekmerk is. Van die kinders gaan lê op hulle arms, ander sit ken in die hande.
“Nou goed. Wie kan onthou waar ons laas opgehou lees het?”
“Dis van die Boesman, Juffrou, Agarob. Hy het ’n boer se bees geskiet, omdat hy gedink het dit was, uhm …” Kapokkie sweep haar voorvingertjie dat die antwoord moet kom. “Uhm, so ’n anner soort bok …”
“’n Elandbok!” roep Niklaas uit.
“Ja, dit was ’n elandbok, en nou is hy in die moeilikheid oorlat hy die bees geskiet het,” onthou Rensie.
“Ja! En toe eet hy die bees se warm oog!” roep Boetie uit en geniet dit toe ’n klompie meisies kamma gril by die gedagte.
“Toe