“Milano!” roep hy weer.
Milano swaai sy perd en kom fluks aangedraf. “Pappa! Pappa!” roep hy met die aankom. “Pappa sal nie glo nie. Ek het dikkopkuikentjies gesien, Pappa. Hulle’s nog bitter klein. Oom Geelsuiker sê dit bring vir mens …”
“Ek hoor, ek hoor, maar jy moet gou oorry na Geelsuiker toe,” daag die plan in Hennerik se kop op. “Sê vir hom hy moet met die bakkie kom. Dadelik. Dit kan nie wag nie.”
“Is daar fout met die skaap? Hoekom staan Pappa hier met die linge? Dis darem net te warm vir daardie komberse!”
“Ek help net vir jou mamma. Ry jy oor en gee die boodskap af. Moenie met Agaat ry nie, vat Robyn, sy behoort al uitgevars wees. Toe, nou dadelik.”
Milano sien sy pa kyk hom nie heeltemal in die oë nie, maar hy swaai gehoorsaam om en ry huiskamp toe. Waarom staan Robyn nog opgesaal by die waterkrip? Wat gaan aan? Het sy pa nou eers hier aangekom? Nee, hy het dan gesê Robyn behoort uitgevars te wees. Milano sien die doeke op die draadheining. Dan is die linge se mae seker weer aan die loop, besluit hy. Mamma sukkel darem nét te baie.
Eers toe hy ’n ent weg is, besef hy hoe verskriklik dors hy is. En honger. By die hek spring hy af, maak oop, loop na die waterkrip en vee versigtig met sy hand die groen slyk weg. Hy drink die lou water uit sy hande. Gooi ’n bakhand vol in sy gesig, skep sy laphoed vol water en gooi dit oor sy kop uit. Dan lei hy die perd deur, maak die hek weer toe en swaai in die saal.
Geelsuiker bly om en by twaalf kilometer van hulle af op die plaas Huurkop. Milano dryf Robyn al hoe vinniger en later laat hy haar sommer les opsê. Iets voel nie reg nie.
Geelsuiker lê op die naat van sy rug onder ’n groot prosopisboom. Arms agter sy kop gevou, pyp in die mond.
Blits blaf opgewonde en Milano vryf hom tussen die ore. “Middag, oom Geelsuiker, oom moet asseblief kom. Pappa het …”
“Vir wat moor jy daardie perd so? Het jy geen genade vir die dier nie?” praat Geelsuiker toe-oë.
“Skuus, oom, maar Pappa het my gestuur. Hy sê oom moet met die bakkie kom. Hy sê dit kan nie wag nie. Seblief, oom, kom net.” Milano trap rond en klap die miere van sy bene en voete af. Hy het wraggies op ’n miernes loop staan.
Geelsuiker kom regop. Hy sien die kind is nie homself nie. “Wat gaan daar by julle aan? Het ’n waterpyp weer uitgetrek? Dis maar dié tyd van die jaar se moeilikheid. ’n Waterpyp is ’n duiwelse ding wat swel in die somer, en dit kos net ’n dors wilde ding om daar op sy laste te loop krap,” praat hy op pad na die afdakkie waar sy verbleikte blou Datsun-bakkie staan. Hy neem by voorbaat ’n stuk waterpyp en gooi dit agterop. Kyk rond vir sy draadtang en ’n stuk draad.
“Oom Geelsuiker, ek dink nie dis iets met die waters te doen nie. Ek dink dis die linge.”
“O ja, jaa.” Geelsuiker sit weer sy pyp in sy mond en gaan haal die sakkie apteekgoed wat hy vanoggend uit die dorp gebring het in die huis. “Goed jy sê daarvan. Sou dit nou staat en vergeet het. Ek ry solank,” sê hy en klim in sy bakkie.
Net voor hy wegtrek, sê hy: “En sorg dat jy Robyn eers bietjie laat afkoel voor jy weer opklim. Geen dier behoort in so ’n bloedige son daardie soort trieks uit te haal nie. Ek los die hek oop. Maak dit agter jou toe as jy deurkom. En moenie weer so jaag nie.”
Milano staan en kyk hoe die bakkie stof maak. Hy is vies omdat hy nou eers moet wag vir Robyn om af te koel. Hy wil by die huis wees. Sy pa het nie reg gelyk nie en hy wil weet wat fout is. Op en af stap hy met Robyn om haar koud te lei. Oom Geelsuiker sal weet as hy dit nie deeglik gedoen het nie.
Die hongerpyne knaag. Hy dink aan sy ma se vars bakbrood. Met dik skaapvet op, en bietjie sout en peper. Hoe lank is ’n bietjie afkoeltyd? wonder hy. Op en af, op en af stap hy. Sodra daardie krip se skaduwee aan die mierleeu se vangkraal raak, mag ek weer ry, besluit hy. Op en af, op en af.
Milano is al ’n ent deur die hek toe hy die blou bakkie sien terugkom. Hy draai terug om die hek weer te gaan oopmaak. Hulle stop. Sy pa sit voor saam met oom Geelsuiker met die linge in sy arms. Steeds toegedraai? Hulle moet baie siek wees.
“Ons ry in dorp toe, Boesman. Jy moet maar huis kry. Kyk mooi agter jou mamma tot ons terug is.”
“Reg so, Pappa. Is die linge baie siek, Pappa?”
Maar die bakkie trek alreeds weg. Sy pa se oë was nat, besef hy. Hy het mos gehuil. Hoekom? En hoekom moet hy mooi agter Mamma kyk? Sy hart begin vinniger klop en vrees kry deurkruipplek. Hy maak die hek toe en jaag die bloedige duiwel uit die perd. Dinge is nie reg nie.
*
Nadat Hennerik Milano gestuur het om vir Geelsuiker te gaan haal, stap hy met die tweeling terug huis toe. Hy kry Mieta opgekrul op die kooi in die kamer. Sy kinders raak swaar in sy arms, maar hy kan nie besluit of hy hulle wil neersit nie. As hulle uit sy arms is, is hulle van hom af – gewigloos, weg. Besluitloos staan hy in sy verdriet en gaan sit langs haar.
“Milano het vir Geelsuiker gaan haal.”
“Weet hy?”
“Nee.”
Mieta draai stadig om en sit op die rand van die kooi. Sy knik.
“Praat met my, Mieta.”
“Hennerik … Ek het die dood in hulle oë gesien breek. Hulle ís dood, nè, Hennerik?” Sy hou haar gesig toe. “Dis te swaar. Dis te swaar,” sweet die woorde in haar hande.
Hy lê die tweeling in die kot neer en kom sit langs Mieta. Vat-vat onhandig aan haar. “My Mieta, my Mieta.”
“’n Dik, vet pofadder, Hennerik. Die satan self. Ek was net in huis toe … Net gou. Hy het hulle in hulle gesigte in gepik, en op Gysie se arm. Daar het ek hom afgegryp, van sy armpie af. Here, hy het nog half vasgesit aan hom.” Mieta bulk soos ’n kalf, spoegdrade fladder uit haar mond.
Hennerik trek haar onwillige swaar lyf teen hom aan en hou haar vas. ’n Naarte kom oor hom en hy vee die sweet van sy bolip af.
“Dit het so gou geswel. Ek het Vicks aangesit. Hulle gesuig en gesoen, gesuig en gesoen. Wat kon ek anders doen? Wat kon ek doen?” snik sy die woorde uit. “Ek het niks gehad om hulle mee te help nie. Niks nie. Ek kon hulle nie help nie, Hennerik! Hier was niks waarmee ek hulle kon help nie. Dit was eers Gysie. En toe Grietjie. Alles het so stil geword toe die dood hulle kom haal het. Doodstil. Toe draai ek hulle gesiggies toe. Ek wou nie meer sien nie. Dit was ons laastes, Hennerik. My skoot is leeg,” kerm sy in Hennerik se nek. Haar warm asem skroei die woorde in hom in.
Hy bly sit daar by haar tot hy Geelsuiker se bakkie hoor aankom.
*
Dit is vir Geelsuiker duidelik dat daar nie met die skaap of water fout is nie. Die manier waarop Hennerik en Mieta in die deur staan; Hennerik wat nie na hom toe aangestap kom nie, net staan. Die stille heiligheid van die dood is alomteenwoordig.
Nadat die nuus gebreek en sy voorgevoelte bevestig is, stap Geelsuiker na die karee op soek na die slang. Hy ril toe hy die dik adder aan sy stert optel en veldin stap om dit vir die wilde diere en voëls van die veld te gaan gooi.
“Voertsek!” skel hy vir Riem, wat instinktief agter die gooi aanhardloop.
Sonder woorde staan Geelsuiker oor die vlak en uitkyk. Die Kaliempies is vir hom soos eie familie. Eens was hy ook ’n man met ’n vrou en kinders. Maar die lewe het hom nie na ’n huis en rustigheid aangekeer nie, eerder soos ’n tor op sy rug gelos. Toe word hy maar weer jakkalsjagter. ’n Alleenloper.
“Ons sal moet dorp toe met die tweetjies,” praat hy versigtig waar Mieta en Hennerik nou op die stoepkooi sit. “Die hitte is nie goed vir dié soort ding nie.”
Dankbaar dat iemand die leiding neem, aanvaar hulle die voorstel en Hennerik staan op om die tweeling