Die kinders van Spookwerwe. Lize Albertyn-du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lize Albertyn-du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798177191
Скачать книгу
ction>

      

      Lize Albertyn-du Toit

      Human & Rousseau

      Vir Stephanus, Jan en Fryhoff

      O Here, nee!

      “Nee!”

      Met blinde angs trap sy die adder in die grond, gryp hom aan sy stert en sweep hom vrek teen die boomstam. Gryp haar skreeuende tweeling en hardloop huis toe.

      1

      Die son skroei nou al dae lank die Bo-Karoo. Dis net ná Kersfees, en die hittegolf wil nie skietgee nie. Die waters moet elke dag nagegaan word. Milano is al elf jaar oud en ’n groot hulp dié vakansie. Die môrester skyn nog helder in die ooste wanneer sy pa hom soggens wakker maak.

      Terwyl Milano die perde opsaal, drink Hennerik sy koffie buite die kookskerm. Mieta neem ’n ordentlike knyp snuif, soos haar gewoonte soggens is, en nies haar nieste.

      “Ek hoop hierdie seisoen bring genoegsame reën. Dit gaan water vat vir die bossieveld om bekwaam te raak,” gesels Hennerik met haar en kyk op in die wolkloosheid.

      Hennerik het die laaste tyd wind opgemerk, en wind is goed. Dit is hoe reën begin. Hy en Geelsuiker loop elke dag oopoë rond op soek na tekens: miere wat bedrywig raak, skilpaaie wat paar. Die afwagting is groot, want die dors is groot.

      “Die jakkals het weer gistraand vreeslik erg geroep daar van sy plek af,” praat Mieta terug vanuit die kookskerm waar sy vir Milano tee maak en die laaste twee snye brood dik met skaapvet smeer. Die oortjiesuile het ook besonder baie geroep, onthou sy nou. Was dit regtig so ’n rumoerige nag, of was dit net sy, wat feitlik heelnag bedrywig was met die tweeling, wat nie kon slaap kry nie?

      “Dit gaan verkeerd loop as die jakkals net so van die een kant af roep. Hy baken gebied af. Die skape loop reeds in daardie kant se verste kampe. Ons sal maar moet plan maak met die ongedierte.” Hennerik slurp sy laaste bietjie koffie en skiet die moer uit sy blikbeker toe Milano aankom.

      “Pappa, Robyn is weer beneuks, Pappa. Weet nie wat in haar is vanoggend nie. Sy blaas weer haar pens op. Ek kry nie die saal vasgetrek nie.” Milano neem die tee by sy ma en vat ’n hap brood. “Nes laas keer,” sê hy deur die brood in sy mond.

      Hennerik kry skoon lag toe hy terugdink aan die dag in die huiskampie. Milano was skaars in die saal, toe vat die merrie ’n flukse draffie en blaas haar pens af. Hy, Geelsuiker en Mieta het staan en uitkraai van die lag toe die saal begin gly. Hulle skree vir Milano dat hy moet los, maar dié roep net benoud terug: “Die volstruisdoring lê te dik, Pappa!” Hy het bly klou soos ’n klitsgras, later soos ’n vink onder die perd se pens geswaai, maar los, sal hy nie. Die perd wou net nie tot stilstand kom nie, en dit het Hennerik en Geelsuiker later gekos om die dier in te hardloop terwyl Mieta haar swanger lyf vasgehou het van die lag.

      Daardie aand was Mieta nog steeds vol spot vir die mansmense, tot Geelsuiker pyp in die hand vir haar sê: “Jy kamma lag, ou Mieta, maar jy moet weet ek het jou kleinhuisie toe sien hol met ’n skoon broek in jou hand!”

      Terwyl Milano sy warm tee slurp, loop Hennerik solank huiskampie toe waar die perde gehou word. Hy kry Robyn vasgemaak staan, vat die saal wat op die grond lê en stap paaiend na die perd. “Kom, kom, kom, my ou merrietjie. Hoe’s dit dan met jou vanoggend? Ook al moeg waters omgery, nè? Maar kyk hoe mooi vet is jy van die bederfhawertjies. Daar’s hy, daar’s hy.” Hy sit die saal sag op haar rug. Streel langs haar boud af en sak af om die buikgordel onder haar pens deur te bring. Robyn trippel sywaarts, maar hy fluit saggies deur sy tande. Hy bring die gordel rustig vorentoe, steek dit in die gespe en trek weer hard boontoe. Hou hom, trek, hou hom, en trek totdat die pennetjie by die bruin sweetmerk deur die gaatjie steek.

      “Dáár’s hy, jou ou skelm jakkalswyfie.” Hy klop die perd teen die nek. “Jy kan miskien daai klonkie flous, maar nie vir hierdie volbek nie.”

      Hennerik kyk terug huis toe. “Kom, Boesman!” roep hy.

      Milano plak die laaste stukke brood opmekaar en kom aangehardloop. “Het Pappa gesien hoe blaas sy haar op? Ek kon nie eers die gordel by sy derde gat inkry nie,” mompel hy brood-in-die-kies.

      “Ja, sy wou weer skelm wees. Kom, ons moet veldin sodat ons in die verste kampe kan wees voor die son te warm is.”

      Hulle lei die twee perde by die hek uit, gooi die teuels oor en spring in die saal.

      “Hou jou hoed op!” roep Mieta. Die kind se ligter vel brand mos graagter.

      Mieta kyk hulle agterna en sluk haar laaste bietjie koffie. Riem blaf en rem aan sy ketting, tol al in die rondte, maar sy los hom vasgemaak. Hy kan nie by die perde byhou as hulle in hierdie hitte al die kampe moet nary nie.

      Sy stap huis toe om na haar suurdeeg te gaan kyk. Die vorige nag het sy ingesuur met net meel en water. ’n Aartappel was nie nodig om die besigheid aan te jaag in dié hitte nie. Op die kombuistafel staan haar kastrolletjie toegevou in die reisdeken. Sy vou dit sorgsaam oop. Die skuim wil-wil weer uit die potjie klouter. Nou se dae kry die aande die huis nie meer afgekoel nie. Dan gaan die insuur so gou! Juis gister dit te lank laat staan toe die tweeling vroegdag knieserig was en moes sy als vir die hond loop uitgooi. Hierdie spulletjie ruik soos ’n bedompige, lui poep. Dit sal dadelik geknie moet word.

      Mieta het ’n groot vrou geword ná Gysie en Grietjie se geboorte. Dit was ’n gevaarlike geboorte gewees so met haar hoëbloed saam. Die dokter het haar ter wille van haarself toegemaak, maar sy was tevrede. Sy het mos nou darem drietjies. Ná die swangerskap kon sy haar lyf nie weer gemaklik terugkry nie en haar voete, dié het so bly swel in die hitte. Die nuwe tekkies wat Hennerik vir haar by PEP gekoop het, skaaf rou om haar voetnekke.

      Op sulke warm dae trek sy haar bloes uit en werk in haar bra en katoenromp, wat sy onder haar buusterek indruk. Vandag knie sy hierdie deeg slapper. Dit vat nou weliswaar langer om jou hande skoongeknie te kry, maar dit rys soveel vinniger. Daar gaan ook nie vir ’n tweede rondte afgeknie word vanoggend nie. Die deeg moet sommer dadelik panne toe. As hierdie brood nie vandag uitgekeer word nie, is daar skaarste in die huis.

      Kort voor lank tap die sweet haar af. Druppeltjies kruip uit haar hare, loop teen haar nek af en tussen haar borste in waar haar romprek dit opvang. Ritmies knie sy, en die lendelam tafeltjie protesteer met elke vuisdruk. Kort-kort vat sy die vadoek met haar deeghand om sweetdruppels van haar gesig af te vee voor hulle in die knie-skottel drup.

      Toe haar hande eindelik skoongeknie is, vatklap sy die bol deeg heen en weer tussen haar hande en knyp dit in die helfte af. Sit elkeen in ’n goed uitgesmeerde broodpan en smeer nog van die skaapvet bo-op vir daardie kraakkorsie. Die twee panne word nou met rus gelaat om te rys.

      Sy skep vir haar ’n beker koel windpompwater uit die erde-emmer wat Hennerik soggens vroeg gaan aftap, en begin die huis en stoep te vee. Genadiglik slaap die tweetjies nog. Sy kry die plek aan kant, trek die kooigoed reg waar Hennerik en Milano saam voet-teen-kop op die stoep slaap, en gaan maak die hoenders oop. Riem kry die oorskietkos van gister. Tussendeur word die buite-oond gestook met fynhoutjies. Die draadtafeltjie gaan haal sy onder die kareeboom en kom sit dit op die stoep vir die wasgoed.

      Sy staan die ingeseepte doeke en uitvryf toe sy vir Gysie en Grietjie hoor. Die laaste tyd kom sy beswaarlik voor met doekewas en sy is dankbaar vir die tydjie wat hulle nog tevrede lê en brabbel.

      Op agt maande is hulle moeilik. Die tandvleise jeuk en hulle kwyl oormatig, en met die gesweet saam broei ’n nat rooi ring in hulle nekkies wat sommer seer lyk. Die nagte is besonder moeisaam in die warm huis, en van slaap is min te prate.

      Toe die son die eerste keer deurbreek, voel sy die dag gaan weer ’n groot oond stook. Die hittegolf van die laaste paar dae het die drievertrekhuisie ondraaglik gemaak.

      Hennerik en Milano het die groot kooi op die stoep uitgedra om snags daar saam te lê. Hennerik het die kamer se houtdeur afgeskroef, vier koeldrankkratte vol klip gelaai en die deur stewig bo-op laat lê, en Milano se matras daarop uitgerol. Dit is heeltemal voldoende vir Mieta se behoeftes, want lank lê gebeur nie sommer