Geelsuiker sê niks.
“Simson was bitterlik sterk, oom,” gaan Milano voort. “Hy het ook nooit sy hare gesny nie, want dis wat hom sy krag gegee het. Weet oom, hy het eenkeer driehonderd jakkalse gevang en almal se sterte aanmekaar geknoop!”
Geelsuiker sê niks. Ná ’n paar diep suie uit sy pyp sê hy: “Ek dink daai’s ’n groot lieg.”
“Maar dit staan so in die Bybel!”
“Dit bly ’n lieg. Hoe vang ’n man driehonderd jakkalse lewendig sonner dat hy uitmekaar gebyt word? En hoe staat knoop hy nou nog hulle sterte ook aanmekaar? Hoe doen ’n man dit?”
“Pappa?” Milano kyk na Hennerik vir hulp.
“Driehonderd jakkalse. Daai man sou ’n ryk man gewees het vandag,” meen Hennerik, en hy en Geelsuiker hoes-lag die rook bietjies-bietjies uit hulle longe.
Milano lag maar net verleë saam.
Geelsuiker en Hennerik vat elkeen ’n vel, maak dit effens klam met die water en begin dit tussen hulle hande vryf. Ná ’n rukkie se kyk vat Milano sy eie velletjie. Sodra dit voel die vel versag, word bietjies skaapvet bygevat en ingebrei.
“Het oom ’n dasvelkaros?”
“My eie ma het vir my een gemaak. Sy het later so ’n laken, so ’n flennielap-lakending aan sy binnekant vasgewerk. Daarvanaf is die buitekant dasvel en die binnekant lap. Daai’s nou vir jou ’n kwaai kombers.”
Milano is bly as oom Geelsuiker lus is vir woorde uitkeer. Daar is dae wat hy met geen sterfling wil praat nie en net die nodigste sê. Sulke dae sal hy sê hy het al sy prate klaar met Blits uitgepraat. Dan sal hy net daar by hulle vuurtjie kom sit, maar nie ’n dooie woord te sê hê nie.
“Nou, daardie jare was ek nog skeerveld toe. So rondgetrek saam met die Bantoes. Daar voel jy hoe voel bitterlike koue. Dan sê daai skeermanne vir my: ‘Kry vir ons ook so ’n daskaros, man.’ Dan’t ek niks met hulle te praat nie; kyk hulle maar net aan. Daai’s darem te harde werk! Nie enige man het ’n dasvelkaros vir ’n besitting nie. My ma het myne met haar eie hande uitgebrei. Later het ek vrou gevat met die kombers, en hy is tot vandag toe nog saam met my,” spog hy.
“Maar jy moet weet, ’n dasvel is bitterlik taai om te brei. Vernaam hier op sy kruis langs. Die res is makliker, maar daardie kruis! Hy laat ’n man later ’n plan forseer soos ’n houtblokkietjie of ’n ding. Dan stamp-stamp jy hom maar daarmee tot hy meegee en saamwerk. My mammie-karos lê sestig velle vol. Dis sommer ’n voorstebos karos.” Ná ’n rukkie herhaal hy: “Gebruik hom nou nog.”
“Sestig is darem te baie, oom Geelsuiker. Ek het nie so ’n groot een nodig nie. Ek sal maar eerder vir my ’n kleiner enetjie wil maak. Hoeveel dasse het oom al in oom se ysters gevang?”
“Vir hierdie rondte mos agt. Jy’t hulle self getel. Dan lê daar so ’n twaalfstêkkie by die huis.” Geelsuiker sien die mannetjie se kop staan nou in ’n rigting vir karosmaak.
Milano maak sy som, en die teleurstelling staan duidelik oor sy gesig geskryf. “Dan het ons maar nog net twintig.”
“Dit wil mos nou vir my voorkom of die klonkie net vir hom allenig ’n karos wil laat uitbrei.” Geelsuiker lag vir die kind se verleentheid oor die waarheid.
“Daar is altyd ’n plan te berame.” Hennerik los sy breiery om sy hande te laat rus. “Die dorpmanne sê Blou Willem vang weer dik onder die ongediertes. Ons kan by hom gaan hoor of hy ’n paar dasvelle het. Dié winter brei ons hierdie spul dasvelle doeksaf. Ons het baie tyd.”
Hy glimlag vir Milano. Hy is trots op sy klong. Aard na sy ma: sy hande of kop staan vir niks terug nie. Hy is sommer handig met die breiery, en hy’t sterk hande.
Die hele dag lank word daar gesit en brei so tussen die geselse deur. As hulle hande goed lam raak, staan hulle so ’n bietjie op om ’n trekseltjie koffie te loop maak, of loop ’n draaitjie deur die veld met ’n lemoen in die hand. Huurkop se boord hang swaar van die oranjeryp lemoene. Laas Woensdag het Hennerik ’n halwe streepsak vol huis toe gebring.
Teen drie-uur die middag keer Mieta eers haar bakbrood uit: goudbruin met ’n bros korsie. Mieta sny dik skaapwagtersnye en laat die ergste stoom uittrek voor sy die manne nader roep. Hulle is ook glad nie skaam met die skaapvet en die gouestroop, wat Geelsuiker “jakkalsheuning” gedoop het, bo-op nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.