“Kom, my ou bybietjie, kom vat Mamma se tiet. Net so bietjietjies. Hoekom sou jou ma nou vir jou loop weggooi het, hè?” Sy knyp die lam tussen haar bene vas vir ’n beter greep. “Jy’s dan so mooi met jou swart koppietjie en spierewit lyfie. Hierdie melk van jou het eiergeel in. Nogal, nè? Ja-a, die ander kry nie van hiérdie medisyne van ou Mieta nie. Kom, my ou bybietjie. Vat maar so bietjies vir bietjies.” Sy forseer die bekkie saggies oop. “Ek gaan nog vir jou ’n mooi naam bedink. Maar jy sal eers moet wys wat in jou steek. Sterk word, sodat die ander spanne jou nie uitdruk nie. Maar onner Mieta se twee hanne gaan jy sterk word, gehoor. Jy moet jou man kan staan in die kraal.” Toe die lam die tiet vat, kielie sy hom onder sy stertjie soos sy ma sou gedoen het om hom lus te maak vir drink.
Milano kyk af hoe Hennerik en Geelsuiker terugstap huis toe. Hy kon vir Riem gehelp het. Hy voel vreemd hartseer oor die hond. Riem het hom eintlik meeste van die tyd gepla; hom meer dikwels probeer ontwyk as wat hy sy vriend was. Maar die onthou hoe Riem gespartel het om hoop en hulp, maak dat die seer in hom opstoot. Hy moes hom probeer help het. Eintlik het hy nie geweet wat om te doen nie, maar dalk, as hy net saam met die stroom gehardloop het … Riem was besig om op goeters te klouter. Hy het daarop gedryf toe hy om die draai verdwyn het.
Milano klouter rats met die windpompleertjie af en hardloop na Hennerik en Geelsuiker toe.
“Die water het vir Riem gevat, Pappa. Kan ons hom gaan soek, seblief? Ek het hom gesien. Hy het op goeters geklouter. Oom Geelsuiker, ’n hond kan mos swem? Riem is eintlik ’n sterk hond. Weet oom, hy is ook nie bang vir water nie. Hy spring sommer maklik in die krippe in en so aan. Sy bene is lekker lank ook. Ek het gesien sy voorpote kom so mooi op en op. Hy was besig om plan te maak,” vat sy gedagtes die spoor.
“Ja, ja, beslis kan ’n hond swem, en baie goed ook,” bevestig Geelsuiker die hoop.
“Dan moet ons hom gaan soek, nè, Pappa?” blaas Milano die gedagtevonkie aan.
Hennerik kyk op sy horlosie, maar onthou hy het dit in die bakkie se voëlnessie gesit toe die reën begin val het. Hy kyk op en meet die laatson. Daar is seker so ’n tydjie oor vir soek. “Ons kan die perde vat en gaan kyk,” stem hy in.
“Ek gaan maar sôre dat ek by my eie huis uitkom,” sê Geelsuiker en maak aanstaltes om te loop. “Ek sal vir Streepmuis melk voor ek koers vat,” sê hy.
“Kan ek die perde maar gaan opsaal, Pappa?” Milano mik-mik na die perdekamp toe tot Hennerik instemmend knik. Toe hardloop hy volspoed, hakke teen die boude. Nadat die perde opgesaal is, klim hulle in die saal.
Hennerik en Milano ry al langs die rivier af. Die water se woede het bedaar, alhoewel die vloei nog sterk is. Romerige skuimbolle koek saam met die opdrifsels langs die kante. Elkeen het ’n idee in sy kop van hoe die ontmoeting met Riem sal verloop.
Milano kyk vir beweging. Dalk spartel Riem nog. Dis wat hy laaste gedoen het, dink hy hoopvol. Of miskien sal hy vir my blaf.
Hier en daar kolk van die opdrifsels nog. Ander is teen die kante vasgespoel soos die watervlak reeds gesak het.
“Rieeem! Rieeem!” Milano luister fyn vir ’n blaf of ’n tjank.
Hennerik se oë soek na hondespore al op die oewer langs, of na Riem se vaalgeel pels, wat goed gekamoefleer sal wees in die vuil skuim as hy tussen die opdrifsels lê. Die water het so kragtig afgekom dat die rivier se walle diep uitgekalwe is. Hennerik besef die volgende paar dae sal hulle die drade weer dig moet kry in die lope sodra die water afgeloop het. Sy hoop raak min vir die hond. Hy sien ’n deurkomplek vir Robyn waar die rivier wyer loop en besluit om na die oorkant toe te gaan.
“Boesman, ek gaan hier deur,” roep hy. “Hou jy maar net so aan. Dis beter dat ons albei kante soek.” Hy stuur die perd versigtig deur die bruin water.
Milano ry al hoe vinniger en die afstand tussen hom en Hennerik rek. “Rieeem! Rieeem!” Milano probeer so na as moontlik aan die water hou, maar die soetdorings en haakdorings maak dit plek-plek moeilik. Nou en dan ruk ’n haakdoring aan sy voet of kuit. Hy weet die afgebreekte swart dorinkies sal goed sweer oor ’n paar dae, maar hy traak nie nou oor die seer nie. Hy moet vir Riem kry.
Later kom hy op die trop beeste af en besef hy is al by Spookwerwe se laaste lyndraad. Die lig is nou so swak dat hy nie meer mooi kan sien nie. Hy kyk terug, maar daar is geen teken van sy pa nie. Hy kry sy baken: die windpomp by Grootboom se kamp, en draai Agaat in daardie rigting. Van daar af sal hy makliker deur die oop veld huis toe kan ry, eerder as om deur die dorings sy pad te probeer vind. Hy gaan oor in ’n flukse galop. Hy sal môre vroeg weer kom soek. Riem kan mos vir hom ’n muis of ’n tarentaal vang om te eet, troos hy homself. Gelukkig is daar nou oorgenoeg water vir hom om te drink.
Hennerik kry vir Riem, soos hy verwag het, versuipens toe verstrengel tussen ’n hoop takke en plantmateriaal. Hy klim af en sleep die hond saam met die bondel opdrifsels uit. Vir ’n ruk kyk hy na die lewelose dier. Hy was ’n voorstebos jaghond gewees. Daardie windhondbloed het hom laat jakkals inhardloop soos min. Geelsuiker het hom nog spesiaal by ’n jakkalsjagtervriend gaan haal. Hom vol vlooie en brandmaer kom aflaai, maar onder Mieta se hande het hy gou van sy ellende ontslae geraak. Nou is hy wat Hennerik is, sy jaghond kwyt. Hy gooi Riem oor die voorkant van sy saal, klim op en ry die veld in op soek na ’n ou erdvarkgat.
Milano en Hennerik kom byna gelyk by die huis aan in die vroeë maanlig. Mieta is besig om die melkbottels te was by die kraan.
“Kon julle hom kry?”
“Nee, Mamma. Maar ek gaan môre weer soek. Die donker het ons net gevang.”
“Nou ja. Beter dan ook so. Kom eet bietjie vetkoek. Ek het dit so effens warm gehou by die vuurtjie. Ek sal later klaarmaak met die bottels.” Sy droog haar hande aan haar voorskoot af.
Elkeen gaan sit op sy plek met ’n beker tee, eet van die vetkoek en luister vir sy eie gedagtes. Die veld is lewendig ná die reën. Mieta hoor hoe twee uile mekaar roep.
Daardie aand lê Hennerik en Mieta lepel in die koelte van die nareën.
Hy vou sy arm om Mieta se groot, sagte lyf. “Ek het toe vir Riem gekry. Hom diep in ’n erdvarkgat gaan indruk en met bosse toegepak. Milano hoef nie te weet nie.”
“Dis beterder so, Hennerik.” Sy vat sy hand en druk dit teen haar lippe.
“Dankie, Hennerik.” Na ’n rukkie praat sy weer: “Sal jy vir my môre die perdekarretjie inspan? Ek wil maar weer ’n slag Geelsuiker se huis gaan skoonmaak.”
4
Wintermaande is instandhoudingsmaande, maar met die dood van die tweeling het Hennerik baie van die werke alreeds gedoen toe hy daardie tyd vir Mieta se onthalwe by die huis gebly het. Daarom is daar dae wat hy draal en drentel wanneer die boerderysake afgehandel is. Die skape verkeer in goeie kondisie ná die goeie somerreëns en sy bekommernisse is min.
Hy het sy lot by Geelsuiker bekla, en dis toe dat Geelsuiker die oggend met ’n klompie dasvelle daar aankom.
Milano sien die blou bakkie en draf om die hek oop te maak. “Môre, oom.”
“Môre, Boesman.”
Milano los die hek oop, spring om die bakkie se tralies raak te gryp en ry die kort entjie saam tot by die huis.
“Watse velle is hier agterop, oom?” vra hy toe Geelsuiker uitklim.
“Dasse,” antwoord Geelsuiker.
“Waar het oom hulle gevang?”
“In my ysters gekry die laaste paar keers.”
“Nou hoekom vang oom dan dasse?”
“Ek kies