Die kinders van Spookwerwe. Lize Albertyn-du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lize Albertyn-du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798177191
Скачать книгу
gaan sy binnetoe. Gaan krul haar op die bed in die kamer op.

      *

      Die klippers spat soos Milano tot stilstand kom op die werf. Hy druk Robyn net so opgesaal by die huiskamp se hekkie in en hardloop huis toe.

      Mieta het die hoewegedonder hoor aankom en opgestaan om hom by die kombuistafel in te wag.

      “Mamma!” roep hy al van buite af. “Mamma!” Hy bars by die kombuis in. Toe hy haar sien, hou sy kindwees nie meer terug nie. “Wat gaan aan, Mamma? Waarheen ry Pappa met die linge?” vra hy heeltemal verwilderd. “Wat is dit, Mamma?” Hy begin huil.

      “Kom hier, my Boesman, kom hier.” Sy maak haar arms wyd oop sodat hy in haar sagte veiligheid kan inloop. Sy vou hom toe. “’n Pofadder het hulle gepik.”

      Vir baie lank sit hulle mekaar so en sus. Sy fluister af en toe trooswoorde, en voel hoe Milano se warm asem bedompig teen haar vassweet.

      Uiteindelik sê Milano: “Ek is baie honger, Mamma.”

      *

      “Die arme kind weet nog niks. Jaag nog net heeldag met die perd op en af,” sê Hennerik afgetrokke.

      “Wie gaan hom sê?” vra Geelsuiker toe hy die teerpad vat.

      “Mieta is maar beter met dié soort van ding.” Hennerik staar voor hom uit. “Hoe is dit dan moontlik, Geelsuiker? Hoe is dit moontlik dat al twee …?” begin hy dan. Hy soek ’n voetpad deur die onwerklikheid. “Ek sou nie wou kies nie, maar al twee!” Sy stem breek soos ’n jong seun s’n. “Waar hoor jy van ’n adder wat so pik? Sê jy dit nou vir my. Waar? Was daar ’n soort onheil op die werf dat ons so uitgelê moet word? Het ons dan van onverskilligheid gelewe?”

      “Daar is niks onheilig aan dié soort ding nie. ’n Adder is net ’n adderlike ding. Vieslik lui van gearendheid. Ekselwers het op ’n dag met my eige twee oë gesien hoe hy byna al die nuwe hondjies gaan staat en doodpik het. Lui vreksel. Hou mos aan pik. Te bang of te lui om te weg, ek weetie. Die goedjies het een ná die ander onnooslik gaan staat en nader ruik uit nuuskierigheid, en die satansmaaksel het hulle almal op ’n ry laat vrek. Kyk, al loop jy ’n reguit spoor, moeilikheid sal altyd deurkruipplek kry en dan kom kwyl hy daar rond op jou werf. Jy kan niks maak nie. Moet maar net deur daardie donkerte en weer spoor vat anderkant uit,” praat Geelsuiker oë-op-die-pad.

      ’n Warm wind skroei dwarsdeur die bakkie se kajuit en die broeiende hitte van sy twee dooie kinders lê Hennerik se arms lam. In die middagson kook die teer plek-plek blinkswart uit die pad. Versamelvoëlneste hang aan telefoonpale. Kraaie aas iets op die pad. ’n Troppie springbokkies bewe in ’n lugspieëling bokant die veld. Hy kyk net uit. Ver uit. Want om af te kyk, is om twee papies in sy arms te sien.

      “Mieta sê die pik was in hulle gesigte in,” praat hy weer ná ’n lang stilte. “Sy’t my laat beloof om hulle nie oop te draai nie.”

      “Miskien maar beter so, Hennerik. Laat ons hulle dan maar oor hulle mooigeit onthou.”

      Vir ’n ruk ry hulle langs die goederetrein. Hennerik tel agt-en-dertig trokke.

      “Jy moet jou nie bekommer oor die waters se nary nie. Ek sal instaan met die bakkie tot tyd en wyl. Baas Human het begin Desember twee dromme diesel gegee vir enige gebeurlikheid. Jy moet maar by Mieta wees.”

      Die dorp kom te gou. Hennerik voel om net aan te hou ry asof niks gebeur het nie. Asof hulle net by vriende op besoek gaan. Of gaan groceries koop, of sommer net êrens heen ry, nie na ’n koue lykshuis nie – ’n plek waar hy sy kinders moet afgee sonder om te kon groet.

      ’n Vrydagagtermiddag kan woelig raak op die dorp. Almal wil laaste goedjies koop vir naweek-hou. Die polisiekantoor is op die hoek van Kerk- en Eeufeesstraat. Hulle moet eers daar aanry sodat die wet weet dis nie moord nie. Daarna ry hulle na die hospitaal toe sodat die dokter die doodspapiere kan uitskryf. Hennerik gaan sit onder ’n boom en wag. Die hospitaalreuk het ’n naarheid in hom laat opstoot. Hy moes net uit.

      Teen amper sononder is die doodspapiere geteken. Eerbiedig kyk Hennerik daarna en dit ontroer Geelsuiker so dat hy anderpad moet kyk.

      *

      Geelsuiker het drie dae daarna vroegoggend ingery om die sendingpredikant, dominee Koorts, en die kissie op die dorp te gaan haal. Mieta en Hennerik het versoek dat die tweetjies saam moet lê, want so het hulle die wêreld ingekom. Blou Willem, ant Truia en antie Tries het ook opgeklim. Die Kaliempies het by die eienaar van die plaas, Ben Human, toestemming gekry om die tweeling onder die kameeldorings ’n ent van die huis af te kan begrawe.

      Die groepie roubeklaers staan onder die kameeldoringboom, hoofde geboë. Dominee Koorts se woorde hang swaar in die drukkende hitte. “Net soos die grond en stof die Karoo vol lê, is onse Here ook oralster. Hy lê wyd uit oor onse pad. Ons loop op Hom en ons snuif Hom elke dag in onse binnestes op. Ja, Hy is waarlik oralster! Soms is Hy die klomp blare wat jy net by jou huis wil uitvee. Jy wil Hom nie nou daar gehê het nie, maar Hy kom teruggewaai, want die wind is sy vriend. Ons is nie gemaak om Hom te verstaan nie. Ons is daar om Hom te eerbiedig. Hy is dáár vir ons, en vir die diere, en vir die plante ook. Alles lê binne-in sy hande. Hy praat nie groot oor Homself nie, Hy wil net eerlik hê ons moet dit vir Hom doen. Laat ons dan nederig bly, Here God, en nie opstandig raak nie. Ja, nederig, Here God, soos die grond waarop ons elke dag trap. God is áltyd met ons. Wie is ons om Hom te bevraagteken? Hy sal gee, en Hy sal ook wegneem. Kom ons sluit die oë.”

      Die kissie sak stadig af in die gat wat Hennerik self gegrawe het. Hy het twee dae terug begin om sy verlies in die son en sand en klip uit sy lyf te kap en te grawe. Gysie en Grietjie lê saam. Bymekaar, soos hulle in die lewe ingekom het.

      Dominee Koorts sê amen en die groepie loop na Mieta se kookskerm toe, waar sy reg is met die tee. Nadat genoeg tyd verloop het, kom groet Geelsuiker. Hennerik sien hoe sy adamsappel moeisaam op en af beweeg soos hy die knop in sy keel wegsluk.

      “Dan groet ek maar eers sodat ek Dominee en die dorpspan weer op die dorp kan kry,” sê Geelsuiker, met sy hand op Milano se kop.

      Daarna val hulle bure, die Goeiemans, ook in die pad. ’n Verlepte stilte kom hang tussen Hennerik, Mieta en Milano. Van nie weet wat om te doen nie, dra Hennerik en Milano die groot kooi terug slaapkamer toe en kom maak die houtdeurbed staan op die stoep. Hulle sit net. Die dag se woorde is opgepraat.

      Mieta het ’n ent veldin gestap. Toe hulle haar ’n hol klank hoor losroep, gaan lê Milano op die kooi in die slaapkamer en druk die kussing oor sy kop.

      2

      Die dood is ’n losloperding. Hy stap saam met jou op die werf, kyk vir jou met dowwe oë terug in die spieëltjie. Hy maak mense in die dorp nuuskierig. Saans klim hy met sy koue pote saam met jou in die kooi en kom steel jou slaap. Hy laat jou heelnag lank wakker lê.

      Die Kaliempies moes nuwe voetpaadjies begin uittrap so tussen die verliesplekke en brakkolle deur.

      Mieta was nog altyd ’n sterk vrou. Sy het haar nog nooit laat onderkry deur moeilike tye nie, maar hierdie ding slaan hard. Harder as rondtrek in droogtes op soek na werk, harder as die slag toe sy haar suster uit haar eie versorging moes oorgee aan die bittere lyding van gangreen. Hierdie ding sal sy ook kan deurwerk, dit weet sy, maar op haar tyd, op haar manier, in haar binneste. Buiteom sal sy aangaan, want niks staan mos ooit stil nie. Nie ’n huishouding, ’n hoenderhok, ’n groentetuin of ’n melkkoei nie. Dinge gaan aan, en tussendeur moet jy die dorings uit jou pad vee. Dié wat insteek, moet jy uitwerk, anders sweer dit.

      Die hartseer laat Mieta met ’n drif werk. Sy tilt die hele huis asof dit lentetyd is. Alles word uitgedra. Die houtgoed word met Cobra ingesmeer en opgevryf, die binnemure word afgewas. Soggens vroeg begin sy die kooigoed uitwas voor die son haar vaspen. En as die dag te warm raak, vat sy haar stoel en gaan sit aan die skadukant van die huis vir bietjie lafenis, met ’n nat waslap op haar kop. Vir die kareeboom se koelte sien sy nie kans nie.

      Hennerik kan ook nie so lank by die huis sit nie. Nadat hy Mieta met die uit en in van die meubels gehelp het, raak hy kriewelrig. Loswerkies