Milano suig die bloed uit die krapplek. “Dit brrrand, Mamma.”
“Daai kat se naels is mos nie skoon nie. Waar krap hy nie oralster in nie? Maak oop lat ek sien hoe dit lyk.”
’n Voorwind ruk aan die sinkdak. Mieta staan op om die staaldruppels in die kamer te gaan haal. Tip-tip begin dit reën. Nog ’n paar rammelings, en toe val dit. Druis naderhand oorverdowend dat hoor en sien vergaan. Nadat die krapmerke na Mieta se sin goed skoongebloei het, vat sy ’n stukkie watte en druk-druk die staaldruppels op sodat die bloed stol.
Deur die oop deur sien Milano hoe die water soos ’n vaal gordyn buite neerstort. Hy vat ’n vetkoek en gaan staan op die stoep. Riem lê bedremmeld in sy oliedrom. Strome water stort van die sinkplaat se riffels af en val in simmetriese spoelgaatjies in ’n ry voor hom uit.
Op die werf vorm riviertjies wat blare, stokkies, bolletjies kat- en hondehare, hoendervere, sommer ’n hele klomp goeters wegvoer. Riem se drolle reën uitmekaar uit. Die bedsprei wat oor die draad hang, sak swaar op die draad. Mieta hou daarvan om kooigoed in die reën uit te hang, dan spoel dit vir ’n slag ordentlik skoon.
Toe die ergste reën begin bedaar, gaan sit Milano weer by die kombuistafel. Mieta het die pot olie terug op die stoof en bak die res van die vetkoek.
“Pappa sê Mamma het by ’n groot rivier gebly. Is dit dieselfde rivier as waarnatoe Niklaas-hulle was?”
“Ja, dis dieselfde groot rivier. Wanneer praat Pappa dan dié dinge met jou?”
“Toe ons skool toe ry nou die oggend. Is dit baie ver van ons af?”
“Dis ver, ja. Maar deeste dae met die mouterkarre is dit gouer. Toe ek nog jongmeisie was, het Pappa my mos op ’n perdekar hier aangery. Toe was dit lank se geskommel op die pad.”
“Hoekom bly ons dan nie daar as Pappa én Mamma daar gebly het nie?”
“Jy weet mos jou pa is nie ’n boorling van daardie wêreld nie. Hy’s ’n K’roo-man, soos jy ook een is. Gebore hier. Ek het weer my verstand gekry daar in die Kalahari. Jou pa het doerietyd met rosyntjies kom werk op die plaas waar ek opgegroei het. Maar jou pa bly maar ’n skaapman. Sy verlange het hom laat terugswaai K’roo toe. Maar jy ken mos al die storie?”
“Ek wil weer hoor. Mamma moet weer vir my vertel.”
“Nou goed. My eerste grootwordwêreld was ook maar die K’roo. Sommer amper hier ruggelings by ons eie dorp. Jou grootjie Grietjie Geduld bly nog al die jare op Putsonderwater. Ek en jou oorle ouma Ragel het na die duinewêreld getrek met die begint van my skoolgaanjare. Daardie plek is heel ’n annerster plek. Glad nie skaapwêreld nie, meer rosyntjies en beeste. Jou pa het kom werk soek daar op die plaas waar ons gebly het. Teen daardie tyd was ek toe al ’n mooi groot klimmeid,” vertel Mieta.
Mieta verlang sommer haar oorle ma toe sy so praat. “Maar nou ja, ek het my standerd ses gehad en saam met my ma rosyntjies gewerk toe jou pa ook daar aangekom het.”
Mieta vertel voort tot die reën ophou val. Namiddag trek die hemele oop. Die aarde se warm asem stoom uit die grond en die bossieveld maak sy huidmondjies oop. ’n Lieflike veldgeur lok mens en dier uit hul skuiling. Toe Hennerik nog nie uitkom nie, besluit Mieta en Milano om te gaan kyk hoe die rivier afkom.
Soos hulle stap, stroom die water nog in voortjies af rivier toe. By die rivier gekom, sien hulle dit loop met mening. Roomkleurige skuimbolle vorm waar stukke hout en ander opdrifsels saampak. Dis selde dat die rivier afkom en dit skep groot opgewondenheid. Milano kry ’n stok en gooi dit in die stroom water. Hy wil net begin saamhardloop om te kyk hoe vinnig dit dryf, toe Riem dink die stok word vir hom gegooi en inspring. Gou verloor die hond sy vastrap in die stroom en die water sleur hom mee. Verbouereerd trap hy water en probeer kop bo water hou. Hy spoel vas teen ’n hopie opdrifsels en probeer daarop klouter, maar voor Milano ’n plan kan bedink, verdwyn die dier om ’n kromming in die rivier.
“Ons moet hom help, Mamma! Hy gaan versuip,” roep Milano oor sy skouer en begin hardloop.
“Jy staan net waar jy is, gehoor jy my! Staan net waar jy is! Jy sit nie jou voet in daardie water nie!” Mieta kom lomp aangehardloop met ’n spoed wat sy in haarself nie meer ken nie.
“Los die hond! ’n Hond kan vir homself sorg,” sê sy hardop vir haarself. Vrees wil haar keel toetrek. “Jy bly staan! Gehoor jy my?” roep sy uit teen die gedruis van die water.
Toe sy by Milano kom, gryp sy hom stewig aan die boarm om seker te maak dat hy bly staan.
“Ons kan hom mos nie net so los nie, Mamma? Hy sal versuip!” Milano probeer hom loswoel uit haar greep.
“Laat hy versuip! Dis ’n hond. ’n Hond kry ons môre weer.” Sy trek hom aan sy arm van die water weg en begin sommer huis toe stap, Milano stewig geanker in haar houvas.
“Maar, Mamma, ek dink as ons …”
Maar Mieta stap met mening. “Ek dink nie nou nie, ek weet!”
By die driffie staan Geelsuiker en Hennerik voor ’n keuse. Die bruin water loop al gevaarlik vinnig oor, en dis moeilik om te skat hoe diep dit loop. As hulle nie deurkom nie, sit hulle gestrand vir die aand. Daar’s hanslammers wat moet melk kry. Mieta sal sôre, weet hulle, maar bloot die gedagte om nie by die huis te kan kom nie, is nie gerieflik nie.
Hulle klim uit en betrag die afloop. Probeer skat en ’n oordeel vel.
“Word die pistins vandag nat, kan ek maar my bakkie laat opvou,” sê Geelsuiker en vryf die reën met sy plat hand uit sy gesig. Hou dan sy hand bokant sy wenkbroue om die reën te keer en beter te kan sien.
As die klippe op die vloer van die driffie nog stewig vaslê, sal hy kan deur. Hy moet net die regte spoed ry – te vinnig, brander die water oornodig hoog; te stadig, is daar dalk te min krag om hulle deur te vat.
Hulle sal gou ’n besluit moet waag.
Terug in die bakkie sit Geelsuiker hom in tweede rat en steek sy kop by die venster uit – die ruitveër aan sy kant het gaan staan en vashaak. Hy mik versigtig vorentoe. Genadiglik val die reën nou bietjie sagter en kan hy beter sien as netnou.
Hennerik lig sy voete op en roep benoud: “Die water, Geelsuiker, die water kom al in!” Hennerik hang by sy venster uit om die watervlak teen die wiele te meet.
“Dis ma net daar by die roesgate, dis nog nie by die deur nie. Ons moet deur, dinge gaan net erger word.” Geelsuiker trek sy kop terug in die kajuit en vat ’n berekende kans. Hennerik fluit deur sy tande en hou sy voete hoog bo die water wat inborrel.
“Dit was ampertjies, so amper-ampertjies!” sê Geelsuiker toe hy die bakkie anderkant uitry. Hennerik gee ’n verligte laggie en draai sy ruit op. Hulle vat stadig en met eerbied die modderige pad huis toe.
Mieta het reeds die hanslammers se melk opgewarm en is net besig om die lamtiete oor die bierbottels te rek toe hulle aangery kom. Milano sit bo-op die windpomp en kondig die blou bakkie se koms aan, soos Mieta hom versoek het.
“Daai klong moet nou nie gaan gly op daardie nat ysters nie,” bekyk Hennerik die saak. “Kom help gou jou mamma met die lammers,” roep hy.
“Los die kind, hy is vies. Wil mos nou agter die hond loop aanspring die rivier in. Kom help julle liewers vir my,” gebied Mieta.
Hulle stap met die mandjie melkbottels kraal toe waar die nat lammers bedremmeld staan en blêr. “Siestog, Mamma se skapies. Kyk nou hoe maer lyk julle van die nat. Maar toemaar, nou is julle wolletjies witter as die kapokbossie se donsies.”
Die hanslammers druk en stamp soos net ’n hanslam kán ongeskik raak toe sy by die kampie ingaan. Mieta, Geelsuiker en Hennerik tel elkeen ’n lam aan sy voorpote oor die heining en gee hom bottel. Die lammers suig die tiete plat. Nou en dan druk Mieta haar pinkie by die kant van die lam se bek in. Lugborrels sjorr terug in die tiet en die lam suig gulsig voort dat die skuim by die kant van sy bek staan. Die hanslamspannetjie word fluks deurgewerk, maar die