Die kinders van Spookwerwe. Lize Albertyn-du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lize Albertyn-du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798177191
Скачать книгу
Hennerik kom uit die kookskerm en hoor wat die twee praat. “Wat bring jy nou hier aan vanoggend?” Hennerik stap bakkie toe en voel die velletjies deur.

      “Ja wat, hulle lê daar by my vir nikswerd. Gedink ek bring hulle hiernatoe.”

      Milano haal die gesoute winddroog velletjies af en sit hulle mooi opmekaar op die stoepie. “Wat gaan ons met die velle maak, oom?”

      “Ons gaan hulle saf brei.”

      “Soos die jakkalsvelle?”

      “Net so. Doeksaf.”

      “Ma! Kom kyk wat het oom Geelsuiker vir ons gebring. Dis dasvelle.”

      Mieta kom uit en bekyk die velle. Tel ’n paar op. “Dis mooi velle dié. Dis sommer groot dasse gewees.”

      “Oom Geelsuiker sê ons gaan hulle saf brei soos die jakkalsvelle.”

      “Dis maar reg so,” sê Hennerik. “Laat ons hulle aanvat en kyk of ons hulle kan wen.”

      Mieta kyk na Hennerik. Sy weet dis ’n groot werk wat hulle nou van praat. “As julle hulle kan saf kry, maak ek ’n mooi karos hiervan.” Sy kry ’n snuifbehoefte, haal haar blikkie snuif uit haar kopdoek en nies sodat haar binnestes tril. Vee dan haar neus en oë uit met ’n sakdoek.

      “Hoeveel is daar?” vra sy.

      “Hier’s agt winddroës, en …” Geelsuiker tel in sy gedagtes die ander velle wat by sy huis lê. “En ek skat so twaalf na vyftien stokstyfdroës by die huis.”

      Uit gewoonte stap hulle kookskerm toe vir koffie en gaan sit buite teen die sinkmuurtjie vir bietjie oggendson.

      “Hoekom vang oom die dasse?” vra Milano.

      “Ek het nou eerlik nie gehoop om das te vang nie. Hulle het maar self gekies om my ysters te kom aftrap. Dit was seker maar naby hulle broeiplek gewees. My ysters was vir ’n rooikat gestel daar in die rantjies. Maar toe ek die eerste das vang, dink ek by myself ek kan maar net sowel ’n paar van hulle vang. Ek gee nie om vir dasvang nie. In die ou dae het ek my ysters by hulle pisplekke loop stel. ’n Das kan net so skadelik gevaarlik wees vir die skape soos ’n jakkals of rooikat. Vreet jou veld stomp af. Nog bokant ’n donkie uit! Hy maak skóón waar hy bly.”

      Geelsuiker sit wydsbeen met sy knieë teen sy lyf opgetrek, geknak soos sy knipmes. Hy krap die twak in sy pyp los, klop dit teen ’n klip uit en krap weer skoon.

      “Een jaar, daar by Doringfontein se koppietjie, toe ek nog ’n jongmannetjie was, het daar bykans nie meer ’n gras gegroei nie. Net van die trop dasse skoongevreet. Daai ding se kop bly mos deurentyd tussen die bossies. Tel hom nie eens op nie. Als wat daar uit die grond wil opkom, sny hy mors-stomp-af. Daai koppietjie by Doringfontein lyk tot vandag toe héél anderster van al die dasse wat hom so gebewei het.”

      Geelsuiker draai sy pypsteel los en laat die swart pypolie uitdrup, skud die besigheid ’n paar keer en draai weer vas. Troetelend vryf hy ’n paar keer oor die ronding van die pypkop en begin hom weer stop voor hy verder gesels.

      “Vanlat onse mense mos die jakkalse en die rooikatte bewei, teel die dasspanne nou alte gerieflik aan. Vroeër dae het die rooikatte en jakkalse en die arendse hom help uitdun. Jy moet onthou, enige ding wat vleis eet, het ook das gevang. Dit het hulle getalle in toom gehou. Die ou dae se mense het hom ook gevang – sommer baie gevang, maar dan meer vir sy vel. Ons bruinmense het hulle gebrei en dan weer aan die witmanne geverkoop. Sommer in sulke stêkke van ’n honderd. Die smousbase het met hulle bakkies omgekom en dan word jy goed betaal daarvoor, of jy kon ruil: broeke, lappe, of enige dooie ding wat mooi sal wees vir die vroumense.”

      “Wat het die smousbase dan met al daardie velle gemaak?” vra Milano.

      Geelsuiker gee vir Milano ’n stokkie aan wat hy sommer daar langs hom sien lê. “Gaan sit vir my eers ’n vlammetjie hierop lat hierdie oompie kan rook.”

      Milano vat die stokkie, gaan druk dit in die vuurtjie tot dit vlamvat en kom bakhand terug na Geelsuiker dat die vlammetjie nie blus nie. Geelsuiker vat die stokkie en suig die vlammetjie holwange diep in sy pypkop in.

      “Wat het hulle dan met die velle gemaak?” vra Milano weer.

      Ná ’n paar diep trekke antwoord Geelsuiker: “Dit weet ek nie aldag nie, ons het maar net die breiwerk gedoen. Maar ek vermoed hulle het ook maar karosse gemaak. ’n Ander keer het ’n man my jaste van sulke soorte velle gewys uit ’n prenteboek. Maar die velle was nou nie juis dasvelle nie, dit kon ’n man darem ook nou sien. Daar was glads wit velle met kolle op. Baie soos die velle van ons kolkatte, net so bietjie anders. Maar van die witvrouens op ons eie dorp het daai tyd soms sulke haasvelle en goed om hulle jaste se krae gehad. Dit wil vir my nou voorkom asof die velle ook vir klere-mooimaakgoed gebruik is. Maar onse bruinmense het net die nut vir karosse gehad.”

      “Kan ons dan nie ook hierdie velle verkoop nie?” vra Milano. “Ek sal tog nie ’n broek en daai wil ruil nie. Ek sal eerder die geld vir my vat. Ons kan mos hierdie velle verkoop en dan nog dasse gaan vang? Of hase, nè, Pappa?”

      “Wie sal nou in vandag se tyd nog die velle wil koop?” Hennerik blaas sy woorde saam met ’n bolling rook uit. Suig weer diep aan sy zol en kyk die verte oop.

      “Ja,” antwoord Geelsuiker. “En wat sal hulle bereid wees om ’n man te vergoed daarvoor? Dis dáár waar die moeilikgeit lê.” Hy beduie met sy pyp vorentoe. “’n Man kan niks maak met een of twee velle nie.”

      “Die baas sal miskien koop,” hoop Milano hardop.

      Geelsuiker blaas deur sy neus. “Sal nie baat om dit vandag te wil verkoop nie. Deestedae se mense weet nie meer wat dit vat om velle te brei nie, en dasvelle wil nie meer gebetaal word nie. En ek dink ’n man sal op die koop toe ook nog probleme byloop as die polieste jou met ’n honderd stêk velle op die dorp aantref,” lag hy. “Brei maar hierdie velle vir jouself. Dis die beste. Vergeet van wil verkoop.”

      Mieta druk met haar hande op haar knieë en kom orent van die sitstomp af. “Julle mansmense kan nou maar lekker verder hier in die son sit, maar ek wat vroumens is, het nog werk wat wag.”

      Sy stap huis toe met die gedagte dat sy nog brood moet knie. Hierdie flou wintersonnetjie is tydsaam met ’n insuurdery. Gister se insuursel sal sekerlik vanoggend bietjie oorgesuur moet word, en die gedagte laat haar terugdraai na die kookskerm om die ketel met kookwater te gaan haal.

      Die potjie insuur het op die kombuistafel oornag, toegedraai met kookwater-koeldrankbottels vir hitte. Sy maak die reisdeken versigtig los, en toe sy die deksel lig, is die saak doodstil daar binne. Sy voel om die pens van die potjie en is bly toe sy darem nog ’n effense temperatuurtjie kan voel. Met ’n vurk karring sy die meel, wat nou in ’n dooie klont lê, deurmekaar met die water in die pot. Toe die pappery deurgeklits is, gooi sy bietjie kookwater bo-op, strooi ’n handjie meel bo-oor en draai dit weer sorgvuldig toe. Eers netjies in koerantpapier en daarna met die reisdeken. Toe gaan sit sy dit buite in die son.

      *

      Geelsuiker, Hennerik en Milano het die velle fluks begin brei. In opdrag van Geelsuiker het Milano ’n kommetjie water gaan haal, en die Lyle’s Golden Syrup-blik vol uitgebraaide skaapvet. Milano hou van die groen stroopblikke en maak hulle bymekaar om sy goed in te sit. Die een blik is al byna vol van sy mooiste albasters en ’n ander blik is vol optelgoed. Die laaste toevoeging was twee blou vinkeiertjies en ’n uitgedroogde skilpadkloutjie met al die naels wat nog aan die poot vassit.

      Geelsuiker kyk na die blik. “Dié besigheid verstaan ek ook nie aldag nie. Daardie leeukat met die spul vlieë wat so om hom draai, laat my mos sommer herinner aan ’n vrot jakkals in ’n yster. Dat hulle nou vir jou stroop in so ’n blik wil verkoop!”

      Milano lag. “Dis nie vlieë nie, oom Geelsuiker. Dis bye wat in hom heuning maak.”

      “Nou het daai bye die leeukat eers vrekgesteek?”

      “Nee, oom, juffrou Meintjies sê dis ’n Bybelstorie van ’n bitter sterk man.