Padmaker. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153768
Скачать книгу
Is dít wat ’n boer sy stuk grond so ’n ironiese naam laat gee?

      Sy is kwaad. Kwaad oor die onbesonnenheid van ’n ou vrou wat haar lewe lank almal gemanipuleer het. En nou, nou ry sý die wye niet in omdat sy van haar af wil wegkom, maar nie anders kan nie as om haar in die verlede te gaan soek.

      En sy moet. Want sy weet as sy haar nie kry nie, bly sy self net die negatief van ’n foto. ’n Skim sonder die skadu’s en dimensies wat

      die kleur en perspektief moet bring.

      Meulsteenhoogte.

      Vonkelfontein.

      Die pad word ’n enkele blink, silwer streep. Sou dit die blouklip wees waarvan haar pa gepraat het? Die chips wat hulle gebruik het op die teerblad? Sy is nooit seker of sy reg onthou of nie. Soveel jare en jare is verby, soveel plekke, soveel materiaal, soveel dinge wat amper dieselfde was, maar tog ook nooit presies eenders nie. Wat sy gehoor en gesien het, moet ook in haar eie kop verwring geraak het; dit is iets wat sy moet aanvaar.

      “Dit is die ou paaie wat jy nou náry, my kind, en wat jy daar gaan kry, dit weet ek nie. Daar was goed en daar was sleg, en wie weet wat is wat. Ons het soveel kere versit.”

      Sy hoor sy stem in die rewolusies wat die enjin maak, onthou hoe hy die dag langs haar kom sit het op die sementblad waarop die warmwatertenk gestaan het. Dit was warm. Binnekant, aan die stoofkant van die kombuis se muur, het sy gehoor hoe haar ma oor die hitte kla voordat haar pa by die agterdeur uitgekom en om die hoek geloop het. Dit was die Noord-Kaapdae, en sy woorde kon sy hoor, maar wat hulle gesê het, het vir haar soos ’n storie geklink wat hy in Engels vertel. Onverstaanbaar.

      “Ons het van Hartswater na Kakamas toe gekom, en dit was ’n ver ent, Katrien. Dis moeilik vir Mamma. Haar mense is onder in die Oos-Kaap, Sand-flats se wêreld.”

      Die hand waarmee hy hare vasgehou en oor haar vuilgespeelde vingernaeltjies gevryf het, was effens grof, soos die staalwol waarmee haar ma die potte blinkgemaak het.

      Sy het geluister na sy stem, meer as na sy woorde. Al die plekke waar haar pa-hulle voorheen al gebly het – sy kon haar dit nie voorstel nie. Haar blyplek was hiér. Hier in die huis waar dit geruik het na tamatiekos en aartappels wat haar ma gekook het en waar Oubie soggens skool toe gegaan en haar smiddae op die driewiel gestoot het. Waar Dina van tannie Griet partykeer haar nuwe bal gebring en by haar kom speel het, al was sy ouer as sy.

      “By Keurboomsrivier,” het hy gesê, “daar het ons aan die pad by Bloukrans gewerk.”

      “Wat is ’n krans, Pappa?” het sy gevra. Sy kon nie weet hoe hoog so ’n ding moet wees toe hy vir haar sê nie. Sy het iets onthou van kiekies wat haar ma in die rooi blikkie gehad het. Mense wat huil, en wit blomme. Kranse, het haar ma gesê. Vir haar broer wat dood is.

      In die nag het sy gedroom van blomme so hoog soos ’n boom. Blomme wat van klippe gemaak was, soos die kranse waarvan haar pa vertel het. Sy het teen die boom opgeklim en sy kon nie weer af nie. Bo in die boom het ’n voël geskree en geskree.

      Haar ma het haar kom wakker maak en vir haar water in die blikbeker gebring. “Wat skree jy so in jou slaap? Mens huil nie oor niks nie!”

      Sy kon nie ophou nie; sy was bang vir die blou kranse en die hoë, wit kranse wat soos mense met lang spokearms gelyk het. Haar pa het haar opgetel en tussen hom en haar ma in die bed laat lê. Sy het gehoor hoe hy vertel van die ysterstoel van die grader waarop hy bedags sit, van die pad wat hy oopsny, die stuk tussenin-pad tussen Kakamas en Upington.

      Sy het gevoel hoe warm hy kry, hoe die son van bo af op sy gesig geval het en hoe die sand sy voete en sy bene brand. Soos die duiwelsevuur, het sy gedink, die plek wat haar ma gesê het sy wat Katrien is, na toe sal gaan.

      “Alles moet mos presies gelyk wees, Kinnie,” het haar pa gesê terwyl haar ma opgestaan het om solank haar gesig te was in die enemmelkom.

      “En laas Woendag daar kom Boelie met die stootskraper … ag hemel, ek het hom so jammer gehad … dit het gevoel of die lem van daai bulldozer hier binne-in my insny … snykant van die lem meegegee …”

      Oom Boelie, wat agter hulle gebly het in die huis waarlangs die druiwetrosse gegroei het, het eerste met die groot lem van die stootskraper gery oor die pad wat gemaak moes word. Hy moes die onnodige stukkies rots en klip wegstoot.

      Haar ma het haar hare in ’n bolla gedraai en op haar kop vasgesteek. Haar pa het nog gepraat en gepraat, maar haar ma het goeters in die kamer begin regskuif, en sý het net halfpad gehoor; nie geweet waaroor dit gaan nie.

      “Vreemde grond, anders as die gewone sanderigheid …” Haar pa se stem het aangehou al het dit nie gelyk of haar ma luister nie. “Druk daai lem in ’n stuk graniet … só skerp … klank dwarsdeur die dreun van die masjiene … blok soliede, klipharde rots … nooit verwag … wie sal sê waar die Here sy klippe moet pak … gesit en ruk op die masjien … ek moes hom afhaal daarbo …”

      Sy het in haar kop gesien hoe loop die oom die veld in, sy hande so boontoe gegooi soos haar pa gesê het. “Lem in sy peetjie, winkelhaak … ingenieur sê so iets het hy nog nooit …”

      “Kinnie …”

      Sy het gesien hoe haar ma die kamerdeur agter haar op knip trek. Deur die muur het sy gelê en wag dat die primus begin sjjj, dat die water kook, dat haar pa moes opstaan en haar saamneem kombuis toe.

      Dit het gelyk of hy nie eens weet dat hulle twee alleen oor was in die kamer nie; hy het aanhou praat. Van die tannie vir wie oom Boelie alles moes doen omdat sy nie kon loop nie, van die werk wat hy nou nie meer gehad het nie, van die ander mense wat praat oor die ding. Die meeste van die goed het sy nie verstaan nie.

      “Ek dink, Kinnie,” het haar pa gesê toe haar ma sy koffie vir hom in die bed kom gee, “dit is vir hom die ergste. Want kind of kraai het hy nie, en Marta sit in die stoel – sy werk wás sy kind. Vir ’n man wat sy sout werd is, vir hom is hy en sy werk één ding. Dis vir hom alles – dit en sy kinders …”

      Haar pa het soos iemand anders gelyk, daar was lyne langs sy mond, sy stem het snaaks geraak. “Destyds, daardie tyd op Sand-flats, dat ek dáárdeur gekom het …”

      Haar ma het haar kop geskud en iets gesê van “tyd dat jy vrede maak, Japie, jy het nou jou eie …”

      Hy het opgestaan en in die kamer langsaan sy werkklere gaan aantrek. Sy het begin slaperig raak. Tussendeur het sy nog woorde gehoor: “board” en “… nou van hom word?”

      “… aftreeouderdom buitendien,” het haar ma se stem gesê, maar sy het dieper onder die kombers ingeskuif.

      Gedink aan die handjie vol grondboontjies wat oom Boelie vir haar by die draad gegee het wanneer hy van die werk af verbygeloop het huis toe.

      Aan die regterkant loop die groot kanaal van die Olifantsrivier. Die teerpad word ’n roller-coaster wat haar meesleep en sy weet nie waar hy haar gaan uitspoeg nie. Maar die gevoel van vrees vir die onbekende, die gat in haar maag, die wag vir dit wat gaan kom – dit is groter as wat dit was toe sy vroegoggend by die huis op die plaas weg is. Moet sy nie maar terugdraai nie?

      Voor Klawer begin daar lappe wingerde langs die pad wys.

      Trawal. Ratelfontein.

      Die linkervoorwiel skuif op die gruis. Sy trap rem en die kar gly effens teen die walletjie af.

      “Nooit rem trap as jy gly nie, Oubie!” Haar pa se stem was ernstig. Haar broer, sestien jaar oud, was agter die stuur met sy oë stip voor op die pad. Saterdag-en Sondagmiddae was daar rylesse op die grondpaaie. Sý op die agterste sitplek. Vir háár moes Sebastiaan leer bestuur, want toe was haar leermeester nie meer daar nie.

      Sy klim uit. Bewerig. Sy sal haarself moet dwing om te konsentreer. Dit het geen sin om haar pa en haar ma se lewe te wil naspoor en haar eie weg te smyt nie.

      Die motor het effens van die pad af geloop. Nie erg nie, maar genoeg dat sy skrikkerig is om die enjin weer aan te skakel. ’n Afgrond is dit nie juis nie, nie in dié wêreld nie, maar