Sy maak die agterdeur naaste aan die pad oop, haal ’n appel uit die sakkie, byt in die groen skil. ’n Stuk tong glip te laat uit die pad van haar kiestande.
Met ’n slag gooi sy die deur agter haar toe; die plek waar die pendoring destyds op Steynsburg haar voetsening en -senuwee vergiftig het, trek pynlik toe sy vorentoe loop. Elke jaar of twee begin dit opnuut van binne af uitsweer.
Teen een van die wit paaltjies langs die pad gaan sy sit. Sy is verby die pad wat na Lutzville uitdraai. Grootdrif lê regs, maar sy twyfel of dit ’n plék sal wees. Die veld is blou van die vaalte. Afstand is blou, het haar pa gesê wanneer hulle vir Kersfees na tannie Ousus toe gery het en die pad nie wou end kry nie.
Haar oë wag. Op ’n Lutzviller wat dalk by die hoofpad sal indraai om die kar tog net weer op die pad te trek. Sy bak in die son. En in haar selfbejammering. Kwaad omdat sy Sebastiaan se stem hoor: Ek het jou gesê jy soek moeilikheid so vrou-alleen.
’n Halfuur. Driekwartier. Vier motors wat verbysnel. Almal grou of grys of swart soos die pad self. G’n bestuurder wat hom of haar iets aantrek van ’n vrou wat alleen in die niks sit met ’n motor wat opsigtelik half van die pad af staan nie. Moet sy dan met armgebare soos ’n hanswors probeer om iemand tog net tot stilstand te bring? En wie sou sy eintlik kon, wóú bel, selfs al was daar selfoonontvangs?
Van ver af hoor sy hom aankom, lank voor sy kan sien wat dit is – ’n swaarvoertuig, aan die klank van die enjin en die wiele op die pad. Sy hoor hoe hy afrat, en wéér. Stadiger ry. Totdat hy binne sigafstand is.
“Jy weet darem seker dis nie die regte ding om te doen nie.”
Die man wat uit die Leyland-vragmotor geklim het, staan voor haar sodat sy skaduwee oor haar val. “As jy moeilikheid kry, bly sit jy in die kar en wag tot iemand kom. En sluit jou deur!”
Sy gesig is donker onder die hoed, sy oë bedonderd onder die breë voorkop. Hy maak die deur oop, stoot die sitplek agtertoe dat sy lang, maer bene tussen die sitplek en pedale kan inpas.
Sy staan en kyk hoe hy, met die deur nog oop, die koppelaar in-trap, dan die trurat in plek skuif en sy voet op die petrolpedaal laat sak. Stadig, sodat die motor agteruit begin loop. Hy draai die stuurwiel en sy moet vinnig padgee sodat die motor nie teen haar vasry nie.
Die woede én die dankbaarheid, die seer van haar stukkende tong, dit alles is gelyktydig in haar aanwesig. En ’n magteloosheid. Omdat sy hom wel nodig het; boonop dankie moet sê.
Toe hy die kar ordentlik op die pad getrek het, moeiteloos, en met ’n bejammerende kyk die deur vir haar oophou dat sy kan inklim, het sy steeds nie woorde nie. Sy knik. Hoop dat hy sal weet sy waardeer dit. Hy wag totdat sy wegtrek voordat hy sy vragmotor aanskakel; in die spieëltjie sien sy hoe hy teen sy hoed tik soos die Ruiter in Swart in die slapbandboekies van ouds. Dalk is dit wat haar kwater maak as enigiets anders; die feit dat hy homself as ’n soort ridder sien dat hy hom veroorloof om sy goed- en afkeuring oor haar optrede uit te spreek.
Sy ry met opset stadig sodat hy weer verby haar moet ry. Toe sy weet hy kan haar motor nie meer sien nie, hou sy weer stil, klim uit. Sy maak haar mond wyd oop om dit oor die vlakte uit te skree: Hoe kan jý weet waar ek vandaan kom!
Maar ná ’n rukkie klim sy terug, sit met die oop ruit, hoor hoe die stilte om haar opslaan. Sy kyk in die spieël, steek haar tong uit. Aan die regterkant is ’n opgehewe, rooi rand waar sy haar raakgebyt het. Sy maak haar mond toe. Kyk hoër. Haar neus en wange is droog. Uit die paneelkissie haal sy ’n buisie room en druk ’n koel wit wurmpie in haar hand uit, smeer dit oor haar vel sonder om weer in die spieël te kyk. Wat sy in die weerkaatsing van haarself gesien het, moet sy liewer vermy.
Verkeerde pad.
Oor die radio sing Nana Mouskouri … but never ever on a Sunday, a Sunday, a Sunday … Sy draai die volumeknoppie na regs om die klank harder te kry.
Die Sondae van tóé het met ’n tyd om te soen soos die liedjie sê niks te make gehad nie. Hulle het Sondagskool toe gegaan om die diplomas met seëls vol te maak. Haar pa het hulle by die kerkdeur afgelaai wanneer hy en haar ma nie self kerk toe gegaan het nie. Binnekant was mans met strak, swart pakke en vroue met blomrokke en groot hoede sodat jy in elk geval nie die dominee kon sien nie.
Niks mag hulle gedoen het op ’n Sondag nie. Nie langbroek gedra het nie, nie gesing het nie – behalwe hallelujas. Niks gelees het nie, behalwe die Bybel, die heilige Woord van God.
Die Smalle Weg se God-oog in die gang regoor haar slaapkamer het haar dopgehou.
Moedverloor. Bitterfontein.
Sy is godweetbly sy woon nie in hierdie deel van die land nie. Pessimisme is hier jou voorland.
Maar dalk kyk sy verkeerd. En miskien het sy die Samaritaan langs die pad onregverdig geoordeel. Skewe-oog, lieg-oog, het Oubie gekoggel nadat hulle uitgevind het haar regteroog is eintlik maar net ’n ornament. Maar wanneer sy haar linkeroog toegemaak het, het sy ander soort prentjies gesien – prentjies met koppe en sterte en uitsteeksels soos van goeters wat sy toe nog nooit êrens anders gesien het nie.
Weerskante staan veldjies met sukkelende oumansoutbos beplant; ’n klein poging tot versekering vir die droë dae. Net duskant Springbok draai Soebatsfontein en Krymekaar in teenoorgestelde rigtings uit.
Die name los haar nie.
Dit is laat, Ma-Kinnie, praat sy na binne toe. Die tyd dat die kluite hul teiken begin soek, kom ál vinniger nader. Waar is jy?
Sy wil in die skadu van ’n doringboom gaan sit en met ’n stokkie in die tregtergaatjie van ’n mierleeu vee, lok: Kom uit, jy met jou weerlose pienk lyf, dat ons mekaar in die oë kan kyk.
Het oom Boelie inmekaar gaan sit toe hy geboard is? Haar pa het die storie ook later jare vertel, en hoe die jong ingenieurtjie die mense se sake vir hulle gewerk het; gesê het dat as dit moes, hý sou sorg dat die mense met handbesems, en as dit nodig is kaalhande, die korreltjies grond en sand wat nog oorbly, van die pad stroop.
Maar min van die boekgeleerdes het hulle ooit werklik bokant die padmakers aangestel, dit het haar pa ook gesê. Baie van hulle het, ten spyte van jare se geleerdheid, reguit erken dat hulle eintlik maar eers by die padmakers op ’n konstruksie-seksie kom leer het.
Toe hulle langs die Oranjerivier gebly het, was dit nie ’n nasionale pad wat hulle moes bou nie, maar die boere van Kakamas en Keimoes was afhanklik van die pad; hulle moes hulle vrugte en hulle druiwe oor daardie pad aanry. En dit moes lánk hou. Al was dit nou nie, soos die ingenieurs gesê het, ’n hoofpad en een van die slagare van die provinsie nie.
Sy wens sy kon Juli regtig by haar hê; haar ook laat hoor hoe haar oupa vertel hoe hy ’n pad uitgesny het. Dit was op Kakamas dat die Bezuidenhout-man met die rooi kuif, die grondkoker wat kom inspeksie hou het, vir haar pa gevra het toe hy van die grader afklim: “Meneer Badenhorst, hoe op aarde kry jy dit reg om met jou blote oog daardie pad so presies uit te meet?”
Haar pa het vir haar ma gewys hoe die man met sy hande deur sy bos rooi hare gevryf het. Sy eie hande was vol bloukolle van die werk, maar hulle was ook rooi van die skrop met die naelborsel en die Lifebuoy-seep.
Vroegoggende, nog nag, in die stilte van die Noordweste nadat die windjie ophou waai het, het sy in haar dun slaaprokkie op die bedjie in haar kamer gelê; gehoor hoe rommel en raas die bulldozers en die padskrapers in haar ore soos hulle van die kamp af na die werkplek ry, na die plek waar die pad gemaak moes word.
Op die teer voor haar in die pad vorm die buitelyne van die groot geel graders, die Caterpillars, die hoë wiele wat die pad oopdruk, die rondlêgoed wegskraap, al die gemors uit die pad haal.
’n Mens moet ’n skoon blad hê voor jy die rêrige pad kan begin maak ; jy moet van onder af oopmaak sodat jy ’n stabiele pad bo-op kan lê, het haar pa gesê.
Maar toe sy Droëdap verbyry, verby die turksvybosse met hul onwaarskynlike vrugte tussen die dik doringblare, sien sy uit haar vroeë herinnerings hom langsaan staan – oom Boelie met die krom skouertjies. Sy hoor hoe skeur die lem teen die