Eers ná kilometers deur die Swartland begin Sebastiaan se gesig wegvaag in die geploegde lande en die droë, onbewerkte stukke grond. Sy wil hom weg. Sy onvermoë tot begrip is nie iets waaroor sy haar ook nog wil bekommer nie, nie met haar eie deurmekaar gemoed oor hierdie ding wat sy so impulsief aangepak het nie.
Maar Juli se oë, dít bly haar by; hulle speel in die skaduwees wat vroegoggend nog op plekke teen die koppies wegkruip vir die son. Oë wat na haar kyk uit die skilpaddop wat oor die grys teerpad loop.
Ek móét die pad loop, Juli. Sy praat met haar, hardop, asof sy regtig daar sit. Dis nie net omdat sy my ma, jou ouma, was nie. Is nie. Maar vir myself, om klarigheid te kry. Om te kyk na die paaie waarlangs ons getrek het; om hóm uit die kiekies en toe boeke te haal. My pa is die enigste een wat my sal kan vertel. Ek wens dat jy jou oupa kon ken … Hý sou jou kon sê hoe ’n mens moet bou, versigtig en deeglik. Want niks kan vorentoe gaan as die rots en klip rondom jou steeds weer na onder tuimel nie.
Jy is op die verkeerde pad!
Dit was nie Ma-Kinnie wat sy gehoor het die nag toe Juli ná die matriekeksamen saam met die ander klomp see toe is nie; dit was haar eie stem wat sy in die handdoek in die badkamer moes smoor sodat Sebastiaan dit nie in sy studeerkamer langsaan kon hoor nie. Hulle het woorde gehad, sy en Juli, oor die ryery see toe, oor die oorslapery.
“Ma kan my nie my lewe lank toesluit nie!”
Die woorde het uit die mure na haar bly eggo. Haar kind was weg; uiteindelik het dit tot hier gekom. Sy moes haarself doelbewus keer om nie jammerlik op die vloer te gaan lê nie, inmekaargetrek, soos ’n geelthysie wat sy hart en sy binnegoed toerol met sy lyf. Sy moes veg om nie ook die patroon wat sy so goed geken het te volg nie; haar ma se rooigehuilde gesig, die hare wat letterlik uit die kop getrek word, die oë beskuldigend en verontreg.
Dit sou makliker wees om háár ook terug te trek in ’n kamer, haar oor te gee aan die selfbejammering, wetende dat sy nog meer alleen sou wees met Juli wat die volgende jaar nie meer elke dag by die huis sou wees nie. Met Sebastiaan wat dag vir dag steeds verder wegglip in sy eie wêreld van rekenaarbeheerde boerdery, wat aand ná aand voor die vierkantige skerm sit met statistieke van buitelandse en binnelandse melkpryse, graanpryse, subsidies en rampverslae. Dít, tesame met die feit dat sy die onderwys ses maande tevore gelos het omdat sy ál meer getwyfel het aan haar vermoë om iemand anders se kinders iets meer as idiome en sinskonstruksies te leer.
“Jy grawe ’n gat vir jouself,” was Sebastiaan se kommentaar toe sy die aand aan etenstafel sê sy het haar bedanking ingedien. “Dis hierdie díng wat jou beethet, hierdie gekrap in die papiere wat jy by daardie sielkundige gekry het – as jy niks anders het om te doen nie, gaan dit jou heeltemal opvreet.”
Snags het sy in twyfel wakker gelê en dink aan dit wat tussen haar en Juli bestaan het. Het sy gewonder óf daar iets bestaan het. Was daar werklik, soos sielkundiges beweer, ’n onlosmaaklike band tussen moeder en dogter? Is dit regtig soos Henry, vir wie sy oor haar ma se vreemde gedrag geraadpleeg het, sê? Dat daar geen groter rolmodel is vir ’n kind as dié van ’n ouer van dieselfde geslag nie?
Teen die afdruk van daardie model op haarself het sy baklei. Tog het sy die driehoekige brandmerk van die swart yster bo haar voel huiwer; kon sy die hitte daarvan voel.
Maar wat sou sý doen aan Juli? ’n Mens se eie invloed kan jy nie bepaal nie. En hoe stop ’n mens ’n proses? Kán jy?
Toe Juli die Sondag teen middagete se tyd terugkom van die see af, wou sy met haar praat, maar die kind was oormoeg en het gesê sy wil niks anders doen as om net te gaan slaap nie. Toe sy teen skemertyd in haar kamer gaan inloer, was sy weg. Sy het deur die huis gedwaal, kombuis toe geloop en die ketel aangeskakel.
Deur die venster het sy Sebastiaan en Juli in die lusernland anderkant die huis sien loop. Dit het gelyk of Juli gespanne was, of sy iets ernstigs met hom bespreek. Toe hulle deur die hek kom, het hy sy hand op haar skouer gesit en haar nader aan hom getrek.
Sy het gemaak of sy hulle nie gesien het nie; die koppies reggesit, en die koffie gemaak net voordat hulle by die deur ingekom het. Waaroor sou die twee gepraat het? Hóékom kon sy nie vir haarself uitmaak nie, maar dit het haar bly hinder.
Dis daaraan wat sy vanoggend weer gedink het toe sy Juli gebel het voordat sy in die kar geklim het, al het sy geweet dat sy dalk nog slaap. Asof sy bang was dat die kind haar sou vergeet.
“Ek gaan ’n bietjie terugry na al die plekke waar ek as kind gebly het,” het sy gesê, en haar daarvan weerhou om goed kwyt te raak soos Ek gaan my verlede soek, of Ma wil Ma-self gaan vind.
“Wanneer ek terug is, ry ek Stellenbosch om, en dan gaan eet en fliek ons.” Laasgenoemde om Juli gerus te stel dat sy nie ook gaan verdwyn soos haar ouma wat al weke tevore die pad gevat en nog niks van haar laat hoor het nie.
Toe sy inklim, het sy ’n plek vir Juli gelos op die sitplek langs haar. ’n Onsigbare passasier, maar met ’n teenwoordigheid wat sou kon praat wanneer die oomblik daar was. Iemand aan wie sy dit wat sy sien en hoor, kon oordra. Vir die toekoms. Want om iets vir môre te hê, moet jy dit aan die verlede kan vasmaak. Dít het sy as kind geleer by haar pa, Japie Badenhorst, die padskraperoperateur.
Om vorentoe te loop moet ’n mens se voete ook geplant bly in die stukkies aarde wat jy as padmakerkind so skrams en vlug bewoon het; moet jy dié stukkies grond aan jou skoensole bewaar.
Om te weet waarheen jy op pad is, moet ’n mens onthou waar jy vandaan kom, Pa se kind.
Die naambordjies waar sy verbyry, steek in haar kop vas.
Muishondrivier, Swartberg.
Blindefontein.
By Piketberg draai sy regs af na die rietdak waar die curiostalletjie is. Sy het gedink dat sy hier iets te ete sal kry, maar die bruin man agter die kasregister beduie na langsaan. “By die Boutique,” sê hy.
Sy loop uit in die skerp son, neem ’n klaargemaakte hoenderen-mayonnaisebroodjie uit die koelrak by die winkeltjie wat aan die garage gekoppel is; vra vir koffie om weg te neem. By die motor draai sy die regter-voorruit en die linker-agterruit oop sodat die luggie kan deurtrek. Sy wikkel die deksel van die foamalite-glasie af en sit dit voor op die paneelbord neer.
By die petrolstop is net een ander motor behalwe hare. Daaruit kom die geblêr van die een of ander Afrikaanse sanger wie se naam sy liewer nie eens wil weet nie. Al wat sy kan uitmaak, is bokkie en baby. Terstond draai sy die ruit toe; kyk na die brandstofmeter. Citrusdal, waar sy ook petrol sal kan kry, lê van die pad af, maar daar is in elk geval genoeg brandstof in die tenk om deur te ry Springbok toe.
Agter die draad aan die linkerkant van die hoofpad is ’n land met bitterboelas; duskant die draad, teen ’n paaltjie vasgespyker, staan ’n houtkruis met ’n verdroogde blommekrans.
Sy wil nie daaraan dink nie. Ongelukke en dood. Hý is hiér. Die stem wat haar nog nooit in die steek gelaat het nie, kan nie net weggedink word as iets wat lankal nie meer bestaan nie. Haar pa, wie se lewer en pankreas lank gelede met die slag van metaal op metaal gebars het, is steeds die pa wat haar op sy skouers gedra het, wat haar vertel het hoe ’n mens deur die lewe moet reis.
Is jy dors? vra sy na die leë sitplek langs haar. Lig, grappenderwys, asof sy Juli se reaksie kan sien. Asof sy werklik daar sit. Hoewel sy haar met ander oë tussen die wiskunde-en chemieklasse op Stellenbosch sien loop.
Ma is darem maar weird … Dis of sy die woorde hoor spring van die passasiersitplek tot in haar linkeroor.
Anderkant Goedemanskraal staan ’n enorme sambreelboom op ’n oop stuk grond. So ’n boom onthou sy uit haar sub b-jaar. Leesboek-Jaap wat met sy diertjies in die skaduwee speel. ’n Boom wat geplant is by ’n huis waarin mense vir áltyd kon bly.
Die name bly by haar oë intregter. Sandfontein, Paleisheuwel.
Huis paleis pondok varkhok – die kinders sê ons bly in bokse …
Verby Clanwilliam lê newels teen die horison, mistige sout-en-peper