Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
die onverstoorde hare, die hoë voorkop met ’n aartjie wat teen die regterslaap klop; in een asem weg, asof sy nooit daar was nie.

      Elizabeth tango graag, onthou hy toe sy daardie exit maak.

      En toe ’n beteuterde man, duidelik van stryk gebring nadat sy met die diep geur van ’n malse parfuum en saad by die deur uitgeswiep het, binnekom, glimlag Ian meewarig na hom.

      Dit lyk of die man iets wil sê, maar homself bedink. Ian staan voor die spieël en trek sy klere reg.

      Die man gaan die toilet binne, en van agter die toe deur sê hy hardop: “Lucky bliksem.”

      #

      Ek vat eerder die Jammie klas toe volgende keer. Dis veiliger. Dankie.

      Toe hy by die inweegtoonbank vir ’n sitplek teenaan die paadjie vra en sy tas op die skaal tel, onthou hy hoedat, op een van hul eerste oggende saam in die motor op pad kampus toe, hy Thuli sy perspektief op die naam Jammie en Jameson gegee het.

      Die UK se Jameson-saal is beroemd en die naam daarvan diep gegraveer in die publiek se bewussyn. In die ou dae is dit daar, op daardie trappe, dat onstuimige protesvergaderings teen apartheid plaasgevind het. Die naam Jammie het sinoniem geraak met weerstand teen die mag van ’n onderdrukkende staat. So stewig is die Jammie-handelsmerk, dat die universiteit se busdiens boonop dié naam gekry het. The Jammie.

      Soos in amptelike kommunikasie van die universiteit se skakelafdeling: The Jammie service will not run today, due to the barricading of University Avenue by protesters.

      Vir ons Afrikaners, het Ian aan Thuli verduidelik, is Jameson ’n naam gedoop in skande.

      Dis hy, vertel Ian, daardie Jameson, wat vooraan was toe Engeland op die hoogtepunt van sy empaaier-hamartia die twee Boererepublieke aan die einde van die negentiende eeu binnegeval en geboelie het.

      Die Engelse was agter die goud en diamante aan wat toe maar pas in die Transvaal ontdek is. Met daardie Jameson-inval in 1895 was Jameson heel vooraan, hy was ’n groot tjommie van Cecil John Rhodes, ja-nee, als vir Queen en Country.

      Ian was verras oor sy eie bitterheid, daar by Thuli.

      “Veilig in die blou empaaier-hulsel van daardie Jameson-bussies ry studente soggens klas toe. En geen haan kraai daarna nie. Die klomp Engelse dink nie twee keer daaroor nie.

      “Nooit het hulle gewonder hoe ek as Afrikaner oor daardie Rhodes-standbeeld sou voel nie. Die man het my mense verneder.

      “Nee, die Engelse se sondes is heeltemal onsigbaar.”

      “Moenie bekommerd wees nie,” het Thuli hom stilweg geantwoord. “Ons het die Jameson-saal al klaar herdoop tot die Marikana-saal.”

      “En gaan die bussies nou Marikanas word?”

      Voor sy geestesoog het Ian stakende mynwerkers onder polisiekoeëls sien val. Vier jaar gelede. Een van die regering se groot skandes. 34 mynwerkers het daardie dag op Marikana gesterf.

      En Marikana, het hy juis die oggend op TV-nuus gesien, word deur baie gesien as die rede waarom Cyril Ramaphosa nooit president sal word nie. Daar is allerlei vrae oor sy rol in die tyd kort voordat daardie werkers destyds afgemaai is.

      Nou, hier op die lughawe, is Thuli se whatsapp ’n lem tussen sy ribbes.

      #

      Die tou beweeg stadig vorentoe. Nie weens tegniese probleme nie, maar te wyte aan die grondpersoneel by die toonbanke se vrolike gekorswel met mekaar. Dit lyk of die werk net terloops gedoen word, die atmosfeer is gesellig en niemand merk skynbaar op dat die tou al langer en langer word nie.

      “Kan ons begin beweeg, asseblief,” hoor Ian homself sê. Te ongeduldig en te hard na sy eie smaak. ’n Groep Franse reisigers draai by die toonbank langsaan om en staar hom aan.

      By sekuriteit gaan dit vinniger. Maar die sekuriteitspersoneel is skynbaar nie onthuts oor die onlangse bomdreigemente nie, en weer eens vorm die kwinkslae en grappery die agtergrondmusiek vir die taak voorhande.

      Ian kry die gevoel dat die atmosfeer meer feestelik as verantwoordelik is.

      Toe hy paspoortbeheer bereik, laat die dame agter die glasvenster hom op die rooi streep wag. Hy wag. Hy is moeg. Druk op kantoor ná die oggend se moeilike seminaar toe hy homself weer eens verras het met dinge wat hy nie geweet het in hom broei nie. Thuli se whatsapp het hom ontstel. Haar frase Dis veiliger is soos die draai van die mes.

      Die flikflooiery tussen die vrou in die paspoort-balie en ’n manlike sekuriteitsbeampte skuins agter haar duur onverpoos voort. Verveeld hang hy oor haar.

      “KFC,” hoor Ian. “Gaan jy saam met my kom?” word skalks in Engels gevra. Die res verstaan hy nie. Xhosa. Of dalk Zoeloe.

      Hy hou asem op.

      En soos hy uiteindelik met ’n argelose stempel op sy paspoort deur paspoortbeheer gewuif word sonder dat sy gesig met die paspoortfoto vergelyk is, en terwyl handbagasie swaar aan sy linkerarm trek, klim hy met sy regterhand op sy slimfoon en twiet die twiet wat soos ’n haai deur die waters skiet.

      Die twiet wat sy lewe sou verander.

      #

      Customs lady. Cape Town International Departures. In Africa there’s no hurry – except for independence.

      DEEL 2

      Tsotsikapitaal

      6

      Die fossadokter

      Allerlei intelligensies hou haar dop, voel Thuli wanneer sy in Fuzhou-weg, Shanghai afstap. En wie is doktor Zhou? Wie of wat moet hy wees om deur die Confucius Instituut in Shanghai voorgestoot te word om daar aan die suidpunt van Afrika, China se nuwe hinterland, gestasioneer te wees?

      Wie is sy meesters?

      Sy onbeholpenheid, begin sy vermoed, is ’n front.

      Daardie dag in sy kantoor is sy net te netjies, te beslis, verwys na blyplek by sy verlangse niggie, en na die boekwinkel met die swart deur.

      Sy sal wag.

      Want: waarin het sy beland?

      #

      Dear respected sir

      I am the daughter of the late vice-president of Nigeria, Mr Khole Iyayi. As it happens, I have been in political exile in London due to political disturbances in my home country and because of counter-revolutionary forces plotting against my father and his family.

      What I can mention to you, is that his maternal family are oil billionaires and my aunt has now died. With my father very ill, I am, as his only daughter, the sole inheritor of the family fortune.

      For a small fee of fifty thousand US dollars to cover my costs, I will forward you more intimate details of a pan-African business proposal, to which I invite you as my exclusive and only partner.

      On request, I will furnish you with my bank details, on the Isle of Man.

      If, however, you need further information, my South African representative will meet you on the boulevard in Sea Point, opposite La Perla restaurant. If you wait there on the sidewalk in plain sight of the restaurant terrace at the hour of six, in precisely one week’s time as of today, wear a bright red cap, he will identify himself to you.

      Yours in the struggle for independence, Ali Mala Iyayi, daughter of the stricken ex-vice-president, People’s Party of Nigeria.

      Aluta continua!

      #

      Thuli se mes sit nog tussen Ian se ribbes en die geur van Elizabeth se parfuum aan sy vingers toe hy met die loopgang na die KLM Airbus stap. Asof sy dit al lankal aan’t beplan is, het Thuli dit behendig laat ingly tussen twee ribbes. Daar sit die lem terwyl hy stap.

      En of Elizabeth se honger vir hom troos was, weet hy nie. Soms is dit sulke tye met haar asof jy broek op die knieë oor ’n afgrond staar. Só dink Ian meewarig