“Ek dink,” en hier by die wildvreemde Jeanne het Thuli die trane skaam afgevee, “ek het posttraumatiese stres. Die toestand in Suid-Afrika, op die kampusse, dis net … te verskriklik.”
#
Iets wat sy nooit, ooit gedoen het nie: sy’t half uit verveeldheid, half uit nuuskierigheid, op haar pa se rekenaar begin peuter.
En afgekom op die verskrikking van haar dae. Die ding wat die onderwerpe waaroor daar in doktor Eliot se klas gestry is, klein en onvanpas laat voel het, onbelangrik voor die groot openbaring. Voor die aardbewing in haar gemoed.
Dit was die begin van die vaderverraad, die onderhandelings met Elizabeth en die stadige vordering totdat die intense jong wit vrou van die uitgewery oorkant haar “Beth” geword het, en die dubbele boodskappe, en daardie alewig lastige man in die seminaarklasse, daardie Ian Brand, die man wat nie wil verstaan dat dit lank nie meer oor hóm en sy soort gaan nie.
Maar my pa! My eie pa! wou sy dikwels in daardie seminaarklasse uitroep as die domheid van almal om haar, hul reaksionêre stiksienigheid, haar oorweldig.
Sien julle nie! Sién julle nie!
#
Toe het sy uiteindelik die besluit geneem om die Mandaryns-dosent in die skool vir tale aan die Universiteit van Kaapstad te gaan sien. Dit was nadat sy ná baie slapelose nagte besluit het dat sy geen ander keuse het as om na Shanghai te gaan nie.
Oor die boekwinkel agter die swart deur was sy raad: “Geduld.” Met ’n swaai van die handpalm het hy sy intense oë op haar gerig. “Wag geduldig. Berei jou daarop voor dat baie tyd sal verloop tussen jou klop en die oopgaan van die swart deur. Hulle sal wel mettertyd oopmaak.”
Sy visitekaartjie het hy aan haar gegee deur eers soort van op aandag te kom, met sy hakskene styf teen mekaar en sy skoenpunte effe uitgesprei nes ’n balletdanser s’n. Hy’t die kaartjie met albei hande voor hom vasgehou, met die duimnaels boontoe, die kaartjie tussen voorvingers en duim. Hy’t sy kop effe geknik en die kaartjie na haar uitgestoot.
“Asseblief.”
Toe sy dit neem, vinnig daarna kyk en dit in haar tas plaas, wag hy. “Jou kaartjie?”
Sy’t haar skouers opgehaal. “Ek het nie een nie, Doktor …” het sy verleë gesê, “maar ek kan whatsapp, dan het u my op u foon.”
Hy was ’n oomblik van stryk en gaan toe – só het sy haar dit verbeel – effe afgehaal agter sy lessenaar sit. Sy’t die gevoel gekry hy’s iemand wat ronddryf in ’n vreemde stad, asof op ’n stadig bewegende rivier.
Hy was ’n nuwe aanstelling en sy’t hom al vervaard deur die biblioteek sien dwaal. Asof hy iemand soek om te groet eerder as snuffel agter boeke aan, maar niemand vind nie. Soms het hy nikssiende na ’n boekrak gestaan en staar.
Sy’t hom gaan opsoek ná ’n slapelose nag. Sonder om haar pa of ma vooraf te sê. Net die seminaarklas en doktor Eliot sal weet dat sy na China gaan. Maar ook húlle sal onder ’n wanindruk gebring moet word. Hulle sal dink sy gaan navorsing vir ’n essay doen. Dat haar ryk pa, hoog op in die ANC, uit sy gatsak betaal.
Ongelukkig moet doktor Eliot as dosent vooraf verlof toestaan. En hy sou, omdat hy glo in deursigtigheid en dit ook (dalk té) gereeld gesê het, die klas moes meedeel waarheen sy gaan. Of van haar verwag om dit self te doen. Hy sal nie ’n uitsondering kan maak nie.
Nes Ian moes verduidelik waarom hy afwesig sou wees om na sy kongres in Boedapest te gaan, sou sy ook moes verduidelik: waarom nou, in die middel van die semester, na Shanghai, van alle plekke?
Doktor Zhou het van agter sy lessenaar aan haar gesê: “Begin daar by die swart deur. Vra vir …
“Ek sal haar WeChat dat jy op pad is.”
Dit was die eerste keer dat sy van WeChat gehoor het (“die Chinese WhatsApp, maar nie geënkripteer nie. Wees versigtig.” Haar pa, toe sy al in China was).
#
Natgesweet en klam gereën en met al hierdie gedagtes wat by haar opkom, kom sy voor die swart deur te staan, met daardie kop- en lyfmoegheid wat net reisigers ken wat oor weke heen in ’n vreemde stad reis. Sy voel effe koorsig, maar dink dis dalk van ontwatering en spanning hier in die vreemde. Sooibrand ook sedert daardie ontbyt wat sy nie sou bestel het as sy geweet het wat dit behels nie.
Toe sy die klip sien lê, is dit soos die vertroude sleutel na ’n eie woonplek. So bly is sy om dit te sien.
’n Bevestiging.
Sy staan ’n ruk daarna en kyk.
Skielik kom ’n brander verkeer in die straat af. Tuk-tuks en fietse jaag skynbaar resies en skiet verby. Taxi’s boender voort agter die troppie motorfietse aan en tussenin gly duur swart motors met berookte vensters. ’n Robot moet rooi geslaan het, en die straat dawer skielik.
Dit het vir haar gelyk of niemand oor hul skouer kyk, of selfs regs en links nie.
Die groot energie van China is vorentoe gerig.
Sy hamer drie keer aan die deur. Niks gebeur nie. Dalk hou ’n onsigbare kameratjie haar dop. In hierdie stad verras die saambestaan van die antieke en selfs agterlike met die modernste tegnologie haar. Buitendien is sy haar pa se kind. Sedert sy Struggle-dae as banneling in Londen sal hy altyd wanneer hy by ’n hotelkamer in die vreemde inboek die plafon versigtig nagaan vir versteekte kameras.
Hy is trots op sy waaksaamheid. “Ek is ’n soldaat,” sal hy graag sê terwyl die ys in sy whiskyglas rinkel.
Sy wag voor die swart deur, onseker wat om te doen. Dalk is sy te vroeg. Dalk is die winkel Maandae gesluit. Dalk het die owerheid daarop toegeslaan.
Uiteindelik swaai die deur met ’n piepgeluid oop. ’n Petite meisie met pikswart, gladde hare, kort gesny, maak oop. Sy dra ’n sjiek kuitbroek, ’n gryserige truitjie van fynwol, en ’n duur, eksentrieke brilraam.
Sy knik vriendelik na Thuli, maar handhaaf ’n professionele en effe skeptiese afstand. “Kom binne,” sê sy, asof sy Thuli ’n guns doen.
Die meisie het geskrik toe sy haar sien, kon Thuli opmerk. Daar is min swart mense in hierdie stad. Sy’t die oë op haar gevoel in die metrostasie. Op die trein. Teen die water op die Bund. Wanneer sy by ’n kosstalletjie huiwer en uiteindelik haar hand uitsteek na die veiligste keuse: ’n hoendersosatie.
En tóg het sy meer tuis gevoel in Shanghai as op daardie kampus in Suid-Afrika.
Regs in die gangetjie staan ’n bondel fietse, drie rietmandjies, ’n vullisdrom en moppe by ’n emmer. ’n Tuinvurk hang teen die muur, droë modder nog aan sy tande. ’n Kruiwa, waarop ’n kat na haar sit en staar.
“Ons deurwag,” sê die meisie en beduie glimlaggend na die kat.
Thuli ruik hier in die skemerte die vae reuk van riool of ’n ou drein wat deur klip bloei.
Links van haar, terwyl sy agter die meisie aanstap, is ’n rak met potplante, stowwerige blompotte en allerlei. Daar is iets huisliks en onopgesmuks aan die portaal en gang en sy is verras toe sy die knus kamer binnestap met sy boeke skynbaar arbitrêr gerangskik tussen potplante en skilderye.
Nog katte, opgekrul op kussings. ’n Leë bamboeshok vir ’n voëltjie wat al uitgevlieg het. Vinielplate op ’n rak, die platespeler staan eenkant, langs ’n geel ketel.
By die klein toonbank waar sy versigtig in Engels moet herhaal en uiteindelik