Dan is daar die tweede reuk, wat al meer bekend raak en die inwoners van Kaapstad en omstreke bekruip – riool. Soos jy in ou huise in Rome kry, onthou Ian, waar die subtiele reuk van riool en nat klip van diep uit die antieke tyd opstyg in trapsuile en kelders, só styg die reuk van riool uit die Kaapse vlak se sand.
Ongemerk, eers, net ’n snuifie. Maar mettertyd meer.
Soos die watertafels sak en damme opdroog en mense toilette minder trek en minder water gebruik, verstop die pype onder die stad. Of hulle verdroog en reuke stoot na bo.
Dis die tyd van kokkerotte wat al groter lyk, dink hy. Snags, op soek na kos of vog, skarrel hulle uit droë dreinpype op en vlug oor huise se sitkamervloere wanneer jy die ligte aanskakel.
Maar daar is altyd die wind, Kaapstad se swart suidooster. Wanneer hy oor die berg begin stoot, is geen reuk meer moontlik nie.
Totdat hy bedaar en gaan lê, en stadig maar seker, van iewers en van nêrens, dalk van oral, skuif die geure van hierdie jaar van afwagting oor die stad en woonbuurte uit.
#
Dis só ’n kokkerot wat een van die gaste by sy ouers se aandete doodgetrap het toe dit onverwags van agter ’n sofa uitskarrel.
Vir sy ouers ’n groot verleentheid, maar hulle is gou verseker: Ons het dit almal; dis die droogte.
Toe sê iemand saggies: “Ja, in Rwanda het hulle mos aanvanklik net gepraat van kokkerotte, en toe volg die slagting. Die etniese suiwering.”
Oor die skaapboud het die gaste na mekaar gesit en kyk. “Nou ja toe, kokkerotte,” het Ian se pa gegrap en sy glasie gelig: “Lekker eet!”
En toe die poeding kom, sê iemand wat met sy selfoon besig was omdat sy beroep dit noodsaak dat hy heeltyd dinge moes nagaan (só het hy sy verslawing verskoon): “Netwerk24 is steeds besig met daardie UCT-professor wat selfmoord gepleeg het.” Hy’t vinnig na Ian gekyk en toe verder met sy vingerpunt gestiplees terwyl die gaste wag. “Skynbaar in sy kantoor.”
“Ai.” Ian se ma het haar kop geskud.
“En die feit dat hy sy kantoor gekies het vir sy selfmoord …”
“Selfdood,” help die skrywer hom stilweg reg.
Maar hy stoom voort: “… word nou gesien as ’n simboliese gebaar … waarmee hy ’n boodskap wou gee aan die universiteit … skynbaar het studente verlede jaar ’n petrolbom …”
“Is hy ’n Engelsman?” het Ian se pa gevra.
“Nee, nee. Hy’s swart. ’n Sotho. Van Boshoff in die Vrystaat.” Die gas het verder gelees. “Skynbaar ’n briljante man. Nes jy, Ian,” en nou swaai elke gesig na Ian, “’n Rhodes Scholar.”
“Nou ja, toe,” het Ian se ma betekenisvol gesê en die familiesilwer op die wit linnetafeldoek voor haar reggeskuif.
#
“Ek wonder wie’t hom so seergemaak,” vra Ian se ma. Vanaand dra sy haar oorlede ma se pêrels. Ter ere van die beroemde skrywer aan tafel, op haar tweede besoek by hulle en vanaand effe meer ontspanne as die eerste keer. Die skrywer knik en lê oor na Ian se ma, asof sy net met haar praat:
“Kinders van sy eie mense. Die Valliste, hoor ek.”
“Wel, mens weet nie,” antwoord Ian se pa, “die koerant het gister geskryf dis net kwaadwillige gerugte dat studentewoede die oorsaak van sy selfmoord was. Maar dit kan wees dat hy hulle op die een of ander manier beledig het en hulle hom swaar laat lewe het.”
Hy neem ’n slukkie wyn en sy oë trek genoeglik nou. “Luister, Ian,” gaan hy voort in ’n poging om Ian by die geselskap te betrek, “is dit nie so dat ons ouer geslag uit ’n ander kultuur kom nie? Dignitas. As jy getref word deur iets, wanneer jy swaarkry, as jy beledig word, dra jy dit stilweg. Soos hierdie oorlede professor dit skynbaar gedra het.”
Ian se ma knik. “Stiff upper lip.”
“’n Vernedering om jou pyn uit te basuin,” voeg die selfoonman by wie se naam Ian nie mooi gehoor het nie.
“En deesdae?” gaan Ian Brand senior voort, met sy oë op sy seun. “Deesdae speel jy by die geringste stekie die rol van slagoffer.”
“En jy hol sosiale media toe daarmee!” roep die man met die slimfoon uit.
“Ek wonder,” sê die skrywer stilweg terwyl sy na Ian kyk (niks ontgaan haar nie, dink Ian), “of hierdie selfdood-professor inderdaad aan die ou skool van dra-jou-eina-met-waardigheid behoort het.
“Lyk my nie hulle kry ’n spoor van klagtes nie.
“Dalk het hy dit stilweg opgekrop – tot dit te laat was.”
“Mikroaggressie is die nuwe term,” sê die man met die selfoon. Die skermliggie skyn op sy gesig. “Luister, hier is ’n Amerikaanse universiteit wat sy studente nooi om die volgende sake te polisieer – ja, dis die term wat gebruik word, polisieer, I kid you not, om die volgende oortredings aan die groot klok te hang.” Hy giggel. “Maak julle reg vir ’n lang lys.” Hy lag en begin lees: “Klasgerigtheid, seksisme, homofobie, cisseksisme of …”
“Wat beteken dit?” giggel Ian se ma. “Siesaseksisme? Of ses van wat?” Die staanklok in die sitkamer slaan elf. Niemand probeer antwoord nie.
Dalk het die gasvrou enetjie te veel gehad.
#
“Nog soetpampoen, net ’n ou skeppie?”
“… luister, hier kom nóg Grieks. Ableism. Wat de joos is dit?”
“Seker as jy ’n man is wat able is, wat dinge gedoen kry,” sê Ian se pa.
“Able was I ere I saw Elba,” giggel Ian se ma.
Ian senior kyk na Ian junior. “Ou seun, kan julle nie ook taaldiskriminasie op daardie lysie parkeer nie?”
Ian sluk. “Die Engelse praat van linguicide.”
“Nou toe, jy swot mos vertaling. Wat sou mens dit noem, taaluitwissing? Taalangs?”
Ian is nie seker of sy pa met hom spot nie. Sy pa dink sy kursus in vertaalkunde is ’n behoorlike gek idee. Boonop sit Ian nou en dink: Daardie uitdagende stukke van my in Eliot se klas … wie sê ek is nie al op ’n kampuslys van mikroaggressors nie?
Die skrywer kom tot sy redding. “Wel, ek dink inderdaad die Afrikaner is daarvan nie vry te spreek nie. Kyk hoe AfriForum die trom van slagofferskap slaan. Oor die Afrikaner as slagoffer in die nuwe bedeling. Kyk na die drukgroepe oor plaasmoorde. Daar is terwyl ons hier sit ’n plaasboereafvaardiging op pad om in Australië te gaan kla oor die druk op boere hier in Suid-Afrika.”
’n Nuwe energie neem van die tafel besit. Plaasmoorde. Sny tot in die boerehart. Ian se pa haal nog ’n bottel uit. Die skrywer het ’n klip in die bos gegooi. Nog laaste skeppies kos vind hul weg na borde; dis nou eerder gesellig eet, proe-proe, vir die lekkerte en nie vir die honger nie.
“Jy bedoel …” vra Ian se ma aan die belangrike gas aan tafel wat pas wonderbaarlik op gevorderde ouderdom haar derde Hertzogprys gekry het, “so jy bedoel plaasmoorde is nie ’n probleem nie.”
Ian se ma is versigtig. Sy en Ian Brand senior maak ’n punt daarvan om “Afrikaans se ikone” (haar woorde) na hul tafel te nooi, altyd saam met ’n paar nabye en diskrete vriende. Die skrywer, wat nie juis sosiaal is nie, is ’n juweel in hul sosiale kroon (en op tweede besoek! Jy kan haar dalkies al ’n huisvriendin noem!). Sy moet met respek behandel word.
Sy antwoord stilweg: “Wel, wanneer gaan ’n afvaardiging Australië toe oor die geweld teen vroue in ons plakkerskampe?” Ook sy dra pêrels, ook iewers uit die familie, het sy vroeër teenoor haar gasvrou gesê toe iemand Ian se ma se juwele bewonder het. “My moeder se mense,” het die skrywer gesê, “kom