Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
gou voeg die man by: “Nee, nie nou nie. Jy kom eendag by my kuier wanneer ons terug in die Kaap is. Ek wil als weet. Goed so? Oor hoe dit voel as cisheteronormatiewe mens daar op Bo-kampus. ’n Afrikaner! Ook oor jou praktyk. Dit interesseer my baie. Wat doen ’n tipe prokureur soos jy?”

      Ian knik. Die kans is skraal dat hy hierdie man met sy vreemde idees sal gaan opsoek, maar goed …

      “Ieder geval,” gaan die neus voort. “Ek het ’n markgaping gesien. G’n twee mense se pare popliteale fossae lyk dieselfde nie. Elkeen van ons dra dus ’n unieke stel op die agterknie. Digters …”

      Hy kyk na Ian. “Luister jy?”

      Ian knik.

      “Jy werk met boeke daar in jou kursus, jy sal weet – digters besing hande, lippe; hulle besing wimpers en hare. Maar na my wete bestaan daar geen gedig oor die fossa nie. Dis ál deel van die lyf wat in die algemene spreektaal nie ’n naam het nie.

      “Jy praat van jou knie, jou maermerrie of oksel.

      “Maar die popliteale fossa is ’n versweë liggaamsdeel.

      “Dis ongesê.

      “Dis die groot geheim.

      “Die laaste toevlug van skoonheid.”

      Ian knik na die chirurg, bedoelende: Genoeg. Ek begryp. Maar die man interpreteer dit as ’n teken om verder te vertel.

      “Boonop het ek nog nooit ’n onpaar kniefossas gesien nie. Agterknieë kom in twees. ’n Rorschach-beeld: jou persoonlikheid verdubbel. As jou popliteale fossas sleg lyk, is jy dubbeld verdoem. Maar as die fossas goed lyk, is dit ’n bate – nes fynbesnede hande of opvallende oë.

      “Van al die pare van die lyf is die agterknieë die mins besonge.

      “Soos ek al gesê het.

      “Sien!”

      #

      Nadat die Airbus op Schiphol tot stilstand gekom het en terwyl hulle wag om uit die vliegtuig te stap, skakel Ian sy selfoon aan. ’n Whatsapp van Elizabeth: dis ’n foto van die chaos op Sweedse paaie nadat dié land in 1967 die kant van die pad waar motoriste ry, verander het. Eers het jy links gery, nou regs. Die motors lê soos verstrooide dominoblokkies oor die teerpaaie; jy moet lag daarvoor. Skeef en krom, links en regs, kruis en dwars. Elizabeth skryf daarby:

      Is dit nie wat gebeur het toe die Berlynse muur getuimel het en als verander het nie?

      Skielik, ’n ander wêreld.

      Geniet Boedapest!

      Ander boodskappe begin instroom. Maar hy is moeg. Agterna sou hy wonder: Hoekom het jy die inkomende stroom geïgnoreer? Sonder om ná Elizabeth se boodskap verder na sy sel te kyk, skakel Ian dit af.

      Hy moet vry uitstap.

      #

      Thuli het skaars geluister na Ian se verduideliking oor hoekom dit so belangrik is dat die klas hom verskoon vir sy reis na Boedapest. Voorop in haar gedagtes was nie die getjommel in die klas wat haar die gevoel gegee het van ’n steil bult wat jy moeisaam met lam bene moet uitklim nie. Dit was haar pa en sy ou kameraad uit die Londen-dae, Sello, se fluistergesprekke in haar pa se studeerkamer.

      Sy was gewoond aan hul gekoukus – veral sedert haar ma een aand reguit aan haar pa gevra het of dit waar is dat Sello die man is wat van die Kaapse Vlakte se bekendste bendeleiers na Zuma se Kaapstadse ampswoning Genadendal gebring het vir ’n geheime vergadering.

      “Watter vergadering?” het haar pa skerp gevra. “Dit is fopnuus. Propaganda gedryf deur opposisiepartye.” Thuli het die stemtoon geken. As haar pa só klink, moet jy net daar stop.

      En haar ma het inderdaad geswyg.

      Maar Thuli het ook al op die kampus die gerugte oor hierdie vergadering by die presidensiële ampswoning gehoor. ’n Keer of wat het iemand daarna verwys en dan het ander in die geselskap se oë na haar geflits. Soos altyd wanneer daar oor die ANC-regering geskinder is. Hulle’t deeglik geweet wie haar pa is. Wanneer sy opkyk, het hulle dan weggekyk.

      Haar pa het wel later stilweg laat val dat Sello, ’n lojale en waardevolle kader, die kontakman was vir hoë polisie-offisiere wat met bendeleiers wou vergader “om die bendeoorloë te ontlont en te probeer uitvind watter polisie-eenhede betrokke is by wapensmokkelary”.

      Sello is ’n diplomaat, het haar pa verduidelik. Hy help die polisie ook met die probleem van die bakleierye tussen die maatskappye wat klubs en restaurante bewaak in die Kaapse stadskom en elders. “Uitsmyteroorloë,” was sy term.

      “’n Kriminele Kissinger,” het haar ma gebrom.

      Haar pa: “’n Kader. Niemand wat hy nie ken nie.”

      Verder as dit het dit nooit gegaan nie. Sello was net altyd daar. Haar pa se skaduwee.

      “Sit dit in jou spam-lêer,” het sy Sello hoor sê toe sy die vorige dag uit haar kamer kom en die gang afstap om toilet toe te gaan. Haar pa en Sello was by sy lessenaar in die studeerkamer, waar geraamde foto’s uit die Struggle-dae gehang het, ook ’n gemonteerde koerantplakkaat van Mandela se vrylating. Hulle’t intens in gesprek voor haar pa se rekenaar gesit en die kamer was blou van die sigaarrook. Hulle was so besig dat hulle haar nie gesien verbykom het nie.

      Waarom is Sello deesdae so gereeld by hulle aan huis, en die gesprekke so ernstig en gedemp?

      Thuli was bekommerd. Haar pa kon soms onbesonne wees. Vinnig uit die wegspringblokke. Gelukkig was haar ma altyd daar. Besadig, saggeaard en, het Thuli geweet, meer rasioneel as haar pa.

      “Ma het net een sonde,” sê haar pa altyd, “en dis daardie AliExpress-app op haar selfoon.”

      Eintlik sou haar ma ’n beter politikus as haar pa gewees het. Haar ma was sag en beslis en strategies. Binne die fluweelhandskoen ’n ystervuis. “Oppas maar vir jou ma,” het haar pa dikwels geskerts.

      Haar ma was nie altyd krities oor die regering se optredes nie. Toe Thuli byvoorbeeld kla oor die regering se patronaatstelsel en die ou ANC-garde wat uitgespeel en tam aan kabinetsposte hang of in allerlei poste ontplooi is en niks uitrig nie, het haar ma verduidelik. “Dis mense wat in ballingskap vir die Beweging gewerk het, Thuli. Hulle lewe lank. Hulle is as agtienjariges uit Suid-Afrika uit om te gaan werk aan bevryding. Daar was nie vir hulle tyd of geld of infrastruktuur om grade te verwerf nie. Hulle het nou geen kwalifikasies of die voordeel van universiteitstudie soos jou generasie het nie. Hulle het hul léwe vir die ANC gegee. Vir demokrasie. Vir jou. Hulle was al die dekades in die buiteland afhanklik van die Beweging vir kos en klere. Toe kom bevryding. En hulle kom terug huis toe.

      “Waarheen moes hulle? En as Zuma hulle nou moet afdank, waar is hul oudag? Moet die Beweging hulle uitskop?

      “Nee, ons moet hulle eer. Dis ’n oorgangstadium. Dit sal mettertyd beter gaan.”

      “En op grondvlak? Op munisipale vlak?”

      “Dieselfde storie. Vir die mense is die Beweging alles, Thuli. Dis die groot moeder. Die moeder moet brood gee. Skuiling gee. Jy’s ANC-lid. Jy moet as kader ontplooi word. Die moeder moet sorg.”

      “Kyk die diensleweringsbetogings, Ma. Kyk hoe gaan dit omdat die kaders nie kan …”

      Toe skiet haar ma terug. “Maar kyk na julle jong mense. Jóú generasie wil nie meer dien nie. Want julle kry buite in die privaat sektor drie maal wat julle in die parlement sal verdien. So ons kan nie ’n nuwe geslag kaders kweek nie. Wat sê jy dáároor?”

      Tydens Sello se besoek het Thuli in die gang gehuiwer, net verby die studeerkamerdeur. Haar ma was in die eetkamer voor haar skootrekenaar en Thuli het met spits ore geluister. Haar pa het graag musiek opgesit wanneer Sello daar was. Hulle was veterane van Londen se jazzklubs en het Hugh Masekela en die veel jonger Jimmy Dludlu persoonlik geken.

      “Ek ontmoet hom oormôre,” het haar pa gesê. “Vroegaand in Seepunt. Dan sal ons meer weet.”

      En dis waaraan