Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089223
Скачать книгу
waarvoor Ian by die inweegtoonbank gevra het. Dis ’n lang man met ’n groot haakneus. Hy’s te lank vir ’n sitplek in cattle class. Miskien ses voet vier. Dis ’n geopinioneerde neus, dink Ian, in geen luim om homself voor te stel en die nag deur te klets nie. Toe hy nog ’n starter traveller was (hy pas Thuli se frase oor starter housing aan, dink hy meewarig), het hy ook op lang nagvlugte verval in biegsessies met wie hulle ook al langs hom bevind het, welwetende dis iemand wat hy nooit weer sal raakloop nie.

      Maar deesdae. Nee.

      Ian kyk na sy instapkaart. Inderdaad die middelste sitplek. Dit was sy ongeduldige opmerking by die inweegtoonbank dat die tou asseblief vinniger moet beweeg wat aan hom die middelste sitplek besorg het. Ondanks sy versoek om teen die paadjie te sit.

      “Luister. Vergewe my, maar ek sal vannag baie moet opstaan.” Ian beduie na die vliegtuig se stert en buig na die lang man se oor. “Blaasontsteking.”

      Die man kyk na Ian. Ian beweeg sy oë na die middelsitplek. “Gee u om?”

      “O. O.” Die man dink vir ’n oomblik en vryf oor sy neus. “Okay!”

      Hulle skik hul vere reg vir die langpad. Mettertyd word die treurige aandete voorgesit. Klein porsies ingepers in bakkies wat met foelie bedek is en wat Ian sukkel om oop te maak, onpraktiese plastiekgerei, ’n messie wat buig wanneer Ian daarmee wil sny.

      ’n Koppietjie, veerlig en van dun plastiek, net genoeg vir ’n slukkie. Ian sit en kyk na die taai pastatjie wat vasgelym sit in droë sous.

      Sy reisgenoot val egter gulsig weg, sy neus hang nes ’n aasvoël se snawel oor die verskuiwende skinkbordjie.

      Thuli.

      Ian dink: Is ek dus die res van my lewe in ’n staat van beskuldiging?

      #

      Dis lank ná die ete, en ná meer wyn as wat op ’n nagvlug gesond geag word, dat Ian se eie stem hom laat wakkerskrik. Hy het gesit en dut.

      “Valliste.”

      “Wat was dit?” vra die man langs hom, en draai sy kop na Ian.

      “O. O, ek is jammer. Dis sommer …”

      “Jy’s ’n lektor.”

      “Nee. Student.”

      “Valliste.”

      “Ja.”

      Ian besluit om die aandag na sy reisgenoot te skuif. “En jy?”

      “Plastiese chirurg,” kondig die man aan met die genoegdoening waarmee sommige beroepslui hulself voorstel. Kennelik het hy terwyl Ian ingesluimer het stilweg nog ’n rooietjie of twee bestel.

      “Jou beroep?” vra die chirurg.

      “Prokureur,” antwoord Ian.

      En daar gaat die man, klaarblyklik ’n raconteur.

      Een somersoggend, vertel hy, in die Kaapstadse Waterfront, sit hy op ’n terras voor ’n koffiewinkel. Hy knipoog na Ian. “Ek is ’n man vir mooi vroue.” Hy sien daardie oggend ’n mooi jong vrou oor die plaveisel tussen sy terras en die hawemuur stap. Sy stap weg van hom en soos sy gewoonte is, “hou ek haar dop en doen ’n vinnige opname van hoe ek haar sou kon verbeter”. Toe Ian verras na hom kyk, knyp hy sy neusvleuels tussen duim en voorvinger. Iets wat hy aanhoudend tydens die nagvlug sou doen. Knyp. “Dis my beroep, nie waar nie?” Knyp. “Jy hoor my?”

      Sy’t pragtige bene, bevind hy daardie oggend op die terras. Ook ’n mooi Italiaanse gesig. ’n Florentynse neus (en hy tik glimlaggend met sy vingerpunt teen sy eie spoggerige neus), sy’t mooi kuite en pragtige blink hare. Tot op haar skouerblaaie. “Sy’t ’n nogals aantreklike manier van stap. Hups-hups! Asof sy marsmusiek hoor. Miskien nie die mees vroulike stappie nie, maar feisty – soos die Engelse sê. Sy skarnier haar voorarms, van die elmboog op. Links-regs! Oempah!”

      Ian knik.

      “Miskien nie die mees sexy stappie nie. Maar feisty.” En hier, vir effek, wag hy. “Maar.”

      “Ja?”

      “Maar daar was ’n probleem met haar popliteale fossas.”

      “Jammer?”

      “Die twee oë op haar agterbene.”

      “Die wát?”

      Die plastiese chirurg lag. “Moenie sleg voel dat jy nie van hierdie verrukking weet nie. Min mense weet wat ’n popliteale fossa is. Luister. Die voorste deel van die betrokke gewrig het ’n naam wat ons almal ken. Die knie. Maar die agterste deel van die knielit is, wat die meeste mense betref, naamloos. Wanneer jou bene gebuig is, is hulle weggevou. Wanneer jy byvoorbeeld sit, soos ons nou, is die fossae onsigbaar.

      “As jou bene egter reguit is, is dit daar vir almal om te sien. ’n Interessante velpatroon. Soms lyk dit soos die letter H.

      “Of by sommige mense nes ’n oog in ’n boomstam. Of ’n vlek.

      “Maar altyd simmetries.”

      Ian is verras deur die chirurg se poëtiese stelwyse. ’n Boek, miskien? ’n Nuwe outeur vir Elizabeth se publikasielys? Iets anders as die skielike vlaag boeke oor politiek en misdaad?

      Plastiese chirurgie! Body alteration, in hierdie tyd van image crafting; hierdie tyd van whiteness en wieweetwatnog. Van deugaktiviste en selfaangestelde, skimagtige makelaars van verontwaardiging wat die internet polisieer. Van con queens en clickbots en pseudo-realiteit, samesweringsteorieë en die diepstaat!

      Die chirurg-as-raconteur het definitief knap tydsberekening. Hy kyk oor sy skouer, asof hy die lugwaardin verwag. Sy voutafeltjie is oop en sy vingers trommel daarop nes die bene van ’n spinnekop.

      Ian voel duiselig. Hy het nog nooit werklik opgestaan van daardie toiletdeksel nie; in sy gemoed is hy steeds die slagoffer van Elizabeth met die kloppende slagaar teen haar slaap. Dis donker buite, maar voor sy geestesoog is die lug rooi en die strate aan die brand. ’n Kruitreuk hang oor die stad en alle vreugdes het die wyk geneem. Hy sien, ná middernag, ’n ruiterlose perd deur die verlate Adderleystraat afgalop. Hy sien, in helder sonlig, ’n horde mense op die sypaadjie wat ’n sakkeroller jaag. Hulle vang hul prooi, trek hom kaalgat uit en laat hom voor hulle uitmarsjeer deur die strate.

      Ian slaap nie, nóg is hy wakker. Die reënboog brand. Sy bloed is vervloek. Die heli kantel. Rat-a-tat-a-tát!

      Hy vlieg noord en sonder dat hy dit weet, en by die grasie van KLM, vlieg hy na sy eie teregstelling.

      #

      “Toe ek daardie jong vrou met die Florentynse neus sien, was dit duidelik dat haar popliteale fossas die res van haar liggaam – én haar persoonlikheid – weerspreek.

      “Haar hele wése is afgeknou deur die fisieke defek. ’n Totaal onnodige lelikheid. Haar kniefossas was twee treurige oë wat teen die vrolike bons van haar arms ingaan. Die manier waarop sy haar kop hou.

      “Dit het haar persoonlikheid beveg.

      “En ek kon dit fix!

      “Ek. Ekke!” Knyp. Hy kyk na Ian. “Nou, ek weet van al die ideologiese getjommel op daardie kampus van jou en die ontoegerustes en die doodgewoon dommes. Ek weet van wat julle ek glo korrektheid noem.

      “Pol Pot. Maoïsme. Sjampanje-neofasciste. Na my gevoel. Als gedryf deur skaamte.

      “Maar luister.” Knyp. Hy kyk oor sy skouer. Knyp.

      “Die era van biologiese ingenieurswese met die mikroskyfie wat praat met die biologiese sel is hier.

      “Weet julle ouens daar by UCT daarvan?

      “Daai UCT-student op YouTube wat vir Newton en swaartekrag toegetakel het, die ene wat aanvoer Westerse wetenskap kan nie verklaar hoe toordokters in Afrika weerlig kan stuur om iemand dood te slaan nie?” Ian knik. “Daai ene. Vergewe my. Holy shit. G’n wonder jul professore pleeg al selfdood nie.

      “Luister,