#
hy stap deur die sand goeie bene en klim in sy rooi alfa en ry weg ek ruik die seegras en ek dag dit ruik soos bloed wanneer ’n hond oopskeur jy ruik ook tussenin drol soos die maag ooppeul en dan is hy weg die son wat blits op die alfa se agterruit weg stad toe na sy
#
glaspaleis.
#
“Charmant petit bar – librairie,” hoor Thuli een van die Franse in hul groepie aan ’n ander sê toe hulle op ’n dag oor boekwinkels in Shanghai sit en gesels. Daar in die boomryke Franse Konsessie, in Hunan-weg, daar lê die boekwinkel agter die swart deur, ver van die International Bookshop digby haar blyplek wat Thuli so graag besoek. Hierdie boekwinkel met die swart deur is versteek tussen die stege en die Tudor-villas van afgetrede partyleiers en die boetiekwinkeltjies waar jy die meestal onbekostigbare eksperimente van jong Shanghaise ontwerpers kan gaan besnuffel. Nie ver nie van die onmerkwaardige vaal gebou in Xingye-weg waar die Chinese Kommunistiese Party, verneem sy, in 1921 gestig is en ’n entjie se stap van die Fuxing-park met sy dromerige wutong-bome. Katte, hoor sy oor die boekwinkel. Engelse boeke ook. ’n Agtertuin met lekker stoele en kussings. ’n Basiese spyskaart, maar sagte jazz en personeel wat gangbare Engels praat.
Die winkel het geen straatprofiel nie. Daar is geen naam op die swart metaaldeur nie. Geen straatnommer op die kosyn nie. Net die hoë muur en die swart deur.
Jy moet ingewy wees om dit te vind. Sommiges gee jou raad om die plataanbome te tel vanaf die hoek van Suid-Shaanxi-weg en ander beveel aan dat jy vanaf Changle-weg loop. Stap versigtig teen die straatmure af totdat jy per abuis verby die deur stap, dan sal jy dink jy’s dalk daar en omdraai en besluit: Dít moet die swart deur wees.
Thuli daag een oggend om elfuur hier op, kort ná haar aankoms in Shanghai vanuit Kaapstad. Sy is reissuf, met die ligte vertigo wat sy soms kry wanneer sy onder spanning is en haar eetroetine versteur is. Om hier te kom, moes sy vanaf die Wāibāidū-brug wat skuins teen die Bund sit en waar sy vroegoggend die mistige water staan en bewonder het, die metrolyne trotseer.
Eers die gesukkel om die metrostasie by Oos-Nanjing-weg te vind en oplaas te ontdek dis naby haar slaapplek in die voorportaal van die rommelrige woonstelgebou, toe die redenasie met die kaartjiesklerk agter glas wat haar vrae nie verstaan nie en toe die getjommel met die vreemde munte en die outomaat om die regte kaartjie te koop. Sy’t ’n keer moes omdraai nadat sy die verkeerde trein geneem en onder die stad deurgepyl het na ’n onbekende platform. Sy was tussen die strome mense, verward oor wes en oos. Hierdie gladde, moderne metrostelsel kan jou in ’n oogwink aflewer waar jy nie wil wees nie, het sy besef.
Een ander swart persoon het sy gesien, maar hy was ver weg en gou verdwene in die menigte, nog voordat sy haar instink kon volg en op hom afstorm om hom te groet en te vra van waar hy kom. Toe sy hom nie meer kon sien nie, het sy vir ’n paar oomblikke verlore op haar as gedraai, totdat sy ’n amptenaar wat op ’n klein platformpie staan se oë op haar gevoel en sy weggedraai het om opnuut voor ’n stadskaart te gaan staan.
Toe sy uiteindelik verlig uit die Shanghai-biblioteek-metrostasie met die roltrap opry, kon sy die reën ruik voordat sy dit sien.
Die koue wind wat afgestroom het in die gleuf waarbinne sy beweeg, was klam. Teen die mure weerskante van die opwaartse roltrap het groot plakkate die een of ander film uitgeblaker.
Sy’t regs gedraai en die boomstamme begin tel. Vanaf die ysterhek met die twee leeubeelde weerskante van die hekpilare, vanaf die wyfie met die welpie onder die regtervoorpoot, is dit 43 plataanboomstamme tot by die swart deur. “Of so dink ek,” het die dosent Mandaryns vaagweg opgemerk.
Iewers draai sy verkeerd, loop onderdeur ’n boog sieryster in en ’n entjie op ’n kronkelpad tussen grasperke en bome tussen die wyd verspreide villas wat agter struike lê. Hier is onverwagse rustigheid en sy geniet die voëlgeluide. Maar ’n veiligheidswag in wit hemp en swart broek verskyn hande agter die rug, diskreet, en maan haar vriendelik aan dat sy op private grond is. Toe sy omdraai, sien sy tussen bome, effe agter ’n struik, en daar op die gras by die spuitfontein, ook agter die duur swart motor, nog drie, vier sulke mans wat haar stilweg dophou.
Die stemme van die geskiedenis, dink Thuli, fluister van agter die hoë mure en gekrulde ysterhekke wat huise van die straat afskerm.
Weer buite die sierboog met sy krulysterhekke stap sy verder, straataf onder die bome deur. Stege strek na weerskante van die straat en as sy by een van hulle inloer, versigtiger nou om privaatheid te betree, sien sy dat verskeie voordeure daarop uitloop. Motorfietse, trapfietse, wasgoeddrade en vullisblikke, stoele waarop ouer inwoners sit en dut. Sommige lyk vir Thuli of hulle van die plaas af kom, eenvoudige mense in grysvaal klere. Hier en daar sit een op een van daardie lae bankies wat sy sypaadjiebankies noem. En skielik gaan ’n deur oop en ’n jong man verskyn met vreemd geskeerde hare, blink skoene en stywe broek, ’n aktetas klaarblyklik uit ’n duur boetiek, en ’n swierige kopknik na die oupa. iPhone-oorfone.
Daar is geen klokkie by die boekwinkel se swart deur nie, is sy gewaarsku. Teen die deur lê ’n ronde klip op die drumpel, straatkant. Dit pas mooi in die hand. Tel dit op en hamer drie maal teen die deur, op die kol waar die verf reeds afgedop is en die klip klein kepies gelaat het. Sit die klip versigtig terug op sy lêplek. Wag.
“Met dieselfde geduld waarmee die Verbode Stad in Beijing gebou is.” Dit was die raad van Jeanne, die Franse meisie van Avignon, wat hier by ’n NGO werk wat na straathonde in Shanghai omsien. Jeanne se klere was altyd vol hondehare en wanneer sy lag, het dit vir Thuli soos die klein tjankies van ’n poedel geklink. Sy’t ’n stereotiepe baret gedra. “My Franse oorlogshelm teen die onverstaanbaarheid van hierdie oorweldigende stad,” het sy by hul ontmoeting gesê, asof sy dit al baie keer gesê het. “Ek is immers Jeanne van Avignon.”
#
Jeanne was die leiersfiguur, die inisiatiefnemer, van hul Meetup-groep. Nadat Thuli haar vanuit die International Bookshop (Thuli se frase vir hierdie winkel: “safe space”) via die internet gekontak het, het hulle gereël vir ’n aanvanklike, eerste ontmoeting; net hulle twee. Jeanne wou haar deurkyk.
“In China moet mens maar versigtig wees,” het Jeanne gesê. “Dis nie gesellige Amsterdam nie.”
Só kom dit dan dat Thuli een oggend in die museum op die People’s Square voor die kalligrafie-uitstalling staan en die Franse baretjie nader kom en diskreet ’n entjie van haar huiwer, ’n keer of wat na haar kyk, en toe vra: “Ekskuus, is jy van Amerika of Afrika?”
“Ja, ek is Thuli wat jou oor die Meetups gekontak het.”
“O, ek was versigtig, want jy’t nie met ’n profielfoto aangemeld nie. Dan …” Jeanne het gehuiwer.
Thuli het haar gehelp: “Dan is mens maar versigtig.”
“Presies.” Poedellaggie.
Thuli het haarself behoorlik voorgestel en Jeanne het geantwoord: “O, ons is ’n lekker klomp expats hier. Ons koek saam. Mens moet, om by jou positiewe te bly. Hou jy van jazz? Ons is elke Saterdagaand bymekaar in die jazzklub waar ons hoender en tjips eet, en die wyn nie te duur is nie.” Jeanne het geborrel. “Op die oomblik is Big Walker se Night Flight Band daar. Lekker Blues en Roots. Lui dit ’n klokkie? Te Amerikaans vir jou?” Sy’t Thuli op en af gekyk, geesdriftig eerder as krities. Jeanne die expat wat met groot vreugde ’n nuwe lid wil betrek by die Bund-Expatbende, soos die groepie hulself grappendergewys genoem het. Lede van die groep het gekom en gegaan, soms vir net ’n kort rukkie in Shanghai gebly en dan aangeskuif; ’n onrustige en onvoorspelbare vriendekring bestaande uit jong mense met ’n sintuig vir andersheid en avontuur. Jong mense wat selde lank op een plek woon en maar altyd die onvoorspelbare voel roep.
Verbaas het Thuli, daar langs die glas-uitstalkaste, gereageer: “Ek sal graag kom. Ek is nuut in die stad.” En skielik het sy, Thuli, in trane uitgebars.
Tot haar skaamte, sy wat glo in die onverstoorbare front. In die Britse stiff