Wat het die goeie doktor Zhou tog besiel om my hier aan sy familie af te smeer? Hulle het my opgenooi na die agste vloer vir tee en in die twee kamertjies wat hulle daar beset, het ek gesien hoedat mense hier net so ingeprop woon as in ’n sinkhuis in Khayelitsha.
Hulle slaap in wat lyk na klerekaste. Daar is ’n verwagtende jong vrou, dalk hul dogter, wat iewers nagskof werk en bedags bewegingloos lê en slaap in die hangmat wat bo-oor die kombuis se opwasbak gespan is. Ek neem aan sy werk met haar hande.
En dat sy van kleins af met haar hande moes werk, want wanneer sy in die hangmat slaap, hang daardie hande soos groot krappe aan haar dun arms.
Jy kan dan maar raas met skottels en potte, sy slaap ononderbroke, die naeltjie op haar boep wat pront deur die hangmat uitsteek.
Dalk werk sy in die een of ander raserige fabriek of op ’n perron en is sy gewoond aan geraas.
Daar is ook twee ander kinders van die mense, ’n jong man en vrou, en hulle is heel modern. Eintlik so modern as wat jy in New York of Londen sou verwag. Kom net vinnig in, gesels ’n bietjie, los altyd ’n sak vol eetgoed, en is weer vort. Die gesin se twee slim kinders, lyk dit my. Ontsnap uit die armoede. Jongste ontwerpersklere.
Maar die agtergeblewenes, as ek hulle so kan noem! Hulle slaap in skofte, hierdie familie, want snags, wanneer sy werk, slaap hier ’n man met ’n opgeskote seuntjie in dieselfde hangmat, half ingewurm oor mekaar.
In wat ek eers gedink het die koskas is, is die egpaar, my gasheer en gasvrou, se bed ingerig. Hoe hulle dit regkry om daar geslaap te kry onder die bolle uie wat in die kas hang, en so half onder die hangende klere in, weet ek nie.
Beth, hierdie stad is nooit stil nie. Oorkant die straat is wat ek noem die hellesteeg. Hoekom ’n doodgewone stegie so by my spook, weet ek nie. Dis net ’n gewone, aaklige steeg tussen twee hoë geboue in ’n groot stad. Met pype en vullisblikke en ’n swart agterkeel. Maar dit is sigbaar vanaf my slaapplek in die voorportaal wanneer ek my kop effe lig van die kussing (wat na goedkoop parfuum of insekgif ruik, ek weet nie wat nie), en deur fietsspeke en die veiligheidshek se tralies kyk, oor die straat in die steeg af.
Dis die laaste ding wat ek sien voor ek slaap en die eerste ding in die oggend. Niks of niemand roer ooit in daardie steeg nie.
Om die een of ander rede laat hierdie steeg my dink aan daardie klasgenoot van my, jou vriend Ian. Ek wil hom nie beswadder by ’n vriendin nie, maar as ek na hom kyk, word ek vervul met dieselfde gevoel van angs as wanneer ek na die steeg kyk.
Jy weet, Beth, dan kom sit hy daar in die klas en dring aan daarop om sy stuk in Afrikaans te lees. Hy bied dit as kleinood aan, asof hy ’n juweelkis se deksel oopmaak. Hy lees dit terwyl die helfte van ons wat daar sit nie ’n snars verstaan wat hy sê nie, en dan kyk hy op en daar is hierdie pyn in sy oë: Maar hoekom oe en aa julle nie?
En hoekom wil niemand van julle dit verstáán nie?
Moet ons dit terwyl ons hier sit, deur Google Translate gooi, Ian?
En wat gaan jy sê, Ian, as ek hier met iets in Xhosa aankom … hoe gaan jy dít in daai moedertaal van jou vertaal? Ken jy Xhosa? Nie? Zoeloe? Nie? In watter seepbel het jy dan gelewe? Hier in Afrika?
Jy weet, Beth: daardie steeg. Ek dink hy strek diep in, terug, terúg, verby my ouers, verby my oupas en oumas, daardie steeg loop tot diep in my voorgeslagte in, en hy ken van als. Hy ken van als.
Kyk hoe donker is sy bodem van die bloed.
Maar Beth, wag. Wag. Kort ná my aankoms beduie my gasvrou my straatop nadat sy die notatjie gelees het wat doktor Zhou my gegee het om aan haar te toon.
En Beth, net twee straatblokke verder kon ek dit aanvoel voordat ek dit sien. Die pragtige Bund. Jy stap daar by die trappe na die promenade op en agter jou strek die ou geboue uit ’n era waarvan mens nog net in boeke kan lees – en daar, oorkant die water, in die helder, oop wind, is die ongelooflike poskaart van hipermoderniteit. China se droom van die toekoms.
My arme, arme pa. ’n China-bewonderaar.
My liewe pa. Ek dink, Beth, hy weet wat ek op sy rekenaar gelees het. Hy weet. Hy weet presies hoekom ek in Shanghai is.
Hy weet wat op hom wag.
Dis net: ek dink nie ék weet heeltemal wat op my wag as ek dit waarvoor ek hiernatoe gekom het, regkry nie.
Jou vriendin
Thuli.
Ns. Jammer om af te pak, vanuit van alle plekke China, oor jou vriend Ian. Maar dis lekker om met jou te praat. Ek onthou nog jou woorde aan my: “Maar Thuli! Sensuur behoort nie deel van die wapentuig van die Left te wees nie! Sensuur was nog altyd die kortswaard van Regs!”
Hieroor dink ek steeds. Ek beloof.
Ek onthou wat jy gesê het oor hierdie soort sensuur as ’n tipe Heckler’s veto. Ek dink, ek dink.
#
Ek was ’n klip wat uit die hemel geval het, het Thuli geskryf, vier maande voor haar lyf gedryf het by die Bund. Die klip het ék geword. Só het sy haar ouers laat weet kort voordat die gety haar saggies suidwaarts in die rivier gestoot het.
Sy’t natuurlik na ’n klassieke Chinese roman verwys, maar haar ouers sou dit nie weet nie. En dag: Kom ek laat hulle goed voel. Toe vertel sy ’n kind het die Yu-tuin vir sy ouers gebou – uit respek en waardering. Iets om in hul oudag te geniet.
Agterna het dit geblyk dat die klein expatgroepie – Oos-Europeërs, Afrikane en Skandinawiërs, soms met ’n Kubaan of Skot daarby – glo sy is in die tuin vanaf ’n voetbruggie in ’n poel in gestámp.
’n Waarskuwing aan haar.
Dat sy moes oppas. Dat sy dopgehou word. Dat sy besig was om ’n spel te speel op ’n speelveld waarvan sy niks weet nie.
Dis ironies dat dit in die Tuin van Vrede en Gemak gebeur het, net daar langs die God-van-die-Stad-tempel in die oustad.
Hulle was ’n klompie jong mense wat die middag in die tuin gaan stap het. Hulle het almal via MeetupExpatShanghai ontmoet en minstens een keer ’n week het hulle ’n Meetup gehad en saam iets interessants gedoen. Meestal ontdekkingstogte die stad in.
Thuli het die Meetup-groep kort ná haar aankoms in die International Bookshop digby haar slaapplek op die internet nageslaan en aangesluit.
Hulle het daardie dag elkeen op hul eie, van waar in die stad hulle ook al ingery het, lyn 10 op die besige metro geneem, deur die gewoel gedruk en soos afgespreek mekaar in die binnehof van die tempel ontmoet. Monnike het nou en dan by ’n venster op die tweede verdieping uitgeloer of in geel jurke agter ’n boom met laaghangende takke verskyn. In die middel van die binnehof het groot stokke wierook in ’n groot, oop vuurmaakplek gesmeul. As jy dieper die tempel in beweeg, kyk lewensgroot goue standbeelde op jou neer.
Hulle was ’n groepie wat saamgebind is deur die lojaliteit van ver-van-huis en Saterdagaande het hulle met serpe en gek hoedjies op die kop gaan jazz luister in die House of Blues and Jazz in Fuzhou-weg daar by die Bund.
Naweke het hulle saam die stad verken. Die miljoenestad, het Thuli dit in haar kop genoem. As alle stadsinwoners uit hul woonstelle sou afkom straat toe, is daar op straat en sypaadjie nie genoeg staanplek nie.
Oral het hulle gaan kyk. Verbysterend vinnig met die spoedhyser in die Oriental Pearl TV-toring opgery of effe pretensieus gaan rondhang op ’n stoep in die boomryke French Concession, waar jy op ’n goeie Saterdagmiddag nog op ’n restaurantterras digby ’n tafel met gesofistikeerde Franse kon beland. Hul melodieuse taal spoel oor jou terwyl jy ’n martini drink en die oneindige stroom motorfietse, taxi’s in alle kleure en driewielbromponies verbystroom.
Aan haar ouers skryf sy ’n langerige WeChat-boodskap die dag nadat sy in die tuin van die groepie afgedwaal en op een van daardie paadjies beland het waar jy skielik alleen op ’n voetbruggie is by een van die gestileerde spoelrotse onder ’n geil boomtak.
Onder jou is ’n diep poel met groot geel