Bos. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624086048
Скачать книгу
die Krugerwildtuin.

      “Feitlik hierdie hele streek is deur die bedryf gekriminaliseer. Omtrent almal maak ’n inkomste uit stropery. Dit is ’n ekonomie op sy eie, en feitlik al inkomste vir die mense in die omgewing. Hulle is baie arm, met die gevolg dat hulle uiters lojaal teenoor die poacher bosses is.

      “Dit maak infiltrasie natuurlik baie moeilik. Ons probeer ’n netwerk van informante op die been bring, maar kommunikasie is moeilik en onvoorspelbaar. Die mense word goed betaal, maar hulle vrees ook vir hul lewens. Dis ’n gevaarlike plek met gevaarlike mense. Ons is besig om die oorlog te verloor, Tex, en Carlos Viyera is in ’n groot mate daarvoor verantwoordelik.”

      Langa maak sy lêer oop en haal ’n paar A4-grootte lugfoto’s uit. Ek neem aan dit is die dorpie wat die kern van die smokkelbedrywighede is.

      “Carlos het so ’n jaar terug hier in Massingir verskyn. Uit die bloute. Ons het in daardie stadium natuurlik nie geweet wie hy is nie. Ons kon hom ook glad nie verbind met die Carlos Viyera wat verdwyn het nie. Daar was geen rede daarvoor nie.

      “Die area hier was in die verlede onder twee of drie poacher bosses. Almal oud-Frelimo-mense, waarskynlik oorspronklik van die omgewing. So hulle ken die plaaslike mense, en beheer dinge met geweld en intimidasie.

      “Dinge was redelik normaal, elkeen het sy eie netwerk gehad en jagspanne oor die grens gestuur en uit mekaar se pad gebly. Ons kon informante werf, en was op die punt om die netwerke self te begin infiltreer toe dié Kalingono opdaag. Die moeilikheid het byna dadelik begin – inligting het opgedroog, die mense wou nie met ons praat nie, en ons het al hoe meer verliese begin ly. Tientalle renosters op ’n dag. Maar toe begin daar ’n ander dinamika in die gebied kom.”

      Langa vertel dat een groep stropers volgens hul inligting ’n ander groep van oortreding op hul gebied begin beskuldig het, en dat die derde groep kant gekies en die eerste groep help uitroei het. En nie lank daarna nie, toe tel die twee oorblywende groepe stry op en begin onder mekaar skiet.

      “Ons inligting het duidelik gewys iemand was besig om die leiers te manipuleer en teen mekaar aan te hits. Kalingono was in daardie stadium ’n ‘luitenant’ in een van die groepe, iemand net vaagweg op ons radar. Maar toe bars alle hel los tussen daardie twee groepe.”

      “En toe die stof gaan lê, he was the only one left standing,” voeg Stephens by.

      Langa knik.

      Met die geheimsinnige Kalingono die de facto-leier van die oorblywende bendelede, het hy blykbaar vinnig sy posisie by Massingir gekonsolideer en binne enkele maande feitlik alle toegang uit Mosambiek suid van die Parque Nacional do Limpopo tot die Kruger en die private wildreservate beheer.

      “As jy in dié deel jou smokkelnetwerk wou opereer, moes jy hierdeur beweeg en dan het jy betaal.” Langa leun terug in sy stoel en sy nekvelle beur uit bo sy nou kraag.

      “Ook die gereelde aantal horingkopers is eensklaps uitgedun. Ons het inligting ontvang dat van hulle bloot weggeraak het, en daar was ander kopers wat om die een of ander rede begin wegbly het. Maar ons is redelik oortuig dit was Kalingono wat sy voorkeure gehad het en die mense begin uitdun het sodat hy net met een koper kon werk.”

      En toe begin die stroom van inligting stelselmatig opdroog namate die nuwe boss se vreesbewind posgevat het. Niemand wou praat nie, en die gesamentlike taakspan se beperkte fondse vir informante kon eenvoudig nie meeding met die koopkrag van vrees nie.

      Kalingono was stewig in die saal.

      7

      Lynnwood, Pretoria, 3:00 nm.

      My klere is gepak, die handvol wat ek kan saamvat. Een swart zipsakkie is genoeg, want vir die volgende twee weke gaan ek weer uniform dra. Of watter klere MI ook al aan ons uitreik.

      Ons sal môreoggend voor sonop vanaf Waterkloof se lugmagbasis vlieg sodat ons ongesiens kan wegkom. Met my hele middag oop, maak ek my huis en kantoor aan die kant. Met dít klaar, beland ek voor my rekenaar en op die internet. Op ’n ingewing doen ek ’n Google-soektog oor renosterstropery.

      Daar is vragte stories oor die kwessie, argumente vir en teen die handel in horings, hoe ver die smokkelnetwerke strek, en wie almal betrokke is.

      Wat my die meeste interesseer, is die politieke intrige rondom pogings om die handel te wettig. Die redenasie is dat as die produk openlik beskikbaar is, dit die aanvraag en prys, en daarmee saam die stropery, sal verminder.

      Groot renostertelers saag al jare horings af om die diere minder kwesbaar te maak. Dit was teen die wet om die horings te verkoop, en hulle het later die regering hof toe gevat om die binnelandse handel te probeer wettig. Die hof het die aansoek toegestaan, maar die minister van omgewingsake het kort daarna suksesvol teen die uitspraak geappelleer.

      Maar toe, uit die bloute, kondig die minister planne aan om die beperkte binnelandse handel te wettig. Dit nadat die regering al jare lank enige pogings daartoe teengestaan het: ’n totale ommekeer. Diep onder die lys van voorwaardes weggesteek was daar die bepaling dat horings “vir persoonlike gebruik” uitgevoer kon word, mits die nodige permitte uitgereik is.

      Die Grondwethof het kort daarna die regering se eie aansoek om die handel onwettig te hou, van die hand gewys. Dit lyk my dit was omtrent ’n formaliteit, want dit het effektief die binnelandse handel gewettig.

      Ek volg al die ingewikkelde hofgedoentes met moeite. Die slotsom is dat hoewel binnelandse handel toegelaat word, die grootmaat-uitvoer daarvan steeds onwettig is. Daarom sou die aanvraag na horings, en natuurlik die prys daarvan, hoog bly. Ek begin ’n sameswering ruik.

      Waarom sou die regering binnelandse handel steun as dit glad nie die stropery sal verminder nie? Dit is verbluffend teenstrydig.

      ’n Onlangse berig op News24 tref my oog. Erwin Bester, een van die twee groot renosterboere in die land, het ’n internetveiling van sy opgegaarde hoop horings aangekondig. Toe het Natuurbewaring hom daaroor aangevat en daarvan beskuldig dat hy weer die vraag aanblaas. Hy kap toe terug en sê die regering sit self op tonne horings wat hulle wil verkoop, dat hulle nie vir hom moet kom preek nie.

      Dan lui my telefoon. Ek herken die nommer.

      “Hallo, Sharon.”

      “Tex! Hoe gaan dit nou? Is jou huis nog skoon?” Sy lag lig, speels. Geen wonder Liesl was so mal oor haar nie. Dis goed om haar stem te hoor. Nog beter dat dit in ander omstandighede is as laas.

      “Ja, ek gedra my. En dankie, ek skuld jou. Nie net vir die skoonmaak hier nie. Dit gaan nou baie beter.”

      Ek besef dat ek vir die eerste keer my depressie erken het, en dat ek beheer oor my lewe begin neem het.

      “Ek’s bly, jong. Ons was baie bekommerd. Ís nog bekommerd.”

      Ek’s nie seker of ek iets moet sê nie.

      “Tex?” Nou klink sy ongemaklik.

      “Ek’s hier.”

      “Kan ek vanmiddag gou ’n paar van Liesl se persoonlike goedjies vir jou bring? Ons het haar kantoor nou eers ontruim … iemand nuut is in haar pos aangestel.” Dit verklaar haar ongemak. Ou wonde oopkrap.

      “Ek is vanmiddag heeltyd hier. Hoe laat?”

      “Ná werk. So vyfuur.”

      “Sien jou dan.”

      Die gedagte aan ’n boks vol herinneringe demp my gemoed. Ek voer die afgelope twee dae ’n relatief geslaagde stryd teen die oorweldigende neerslagtigheid wat die verlede bring. Nou, op die vooraand van ons operasie, kan ek nie bekostig om weer in swartgalligheid te verval nie.

      Ek loop na buite en kyk uit oor die dynserigheid wat met laatmiddag oor Pretoria neerdaal. Hoe lank nog? Hoe lank voordat ek weer normaal voel – nee, voor ek ooit weer iets sal vóél, iets anders as verwydering, die magteloosheid en leegheid, die intense haat? Vir die wese wat my beroof het van die enigste teerheid wat ek myself ooit toegelaat het om te ervaar.

      Dit was die ergste, daardie gevoel van jouself