Bos. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624086048
Скачать книгу
tion>

      

      BOS

      Jaco Wolmarans

      Tafelberg

      1

      Die sagte voetval van ’n MPLA-patrollie is duidelik in die nagstilte hoorbaar. Net ’n klipgooi ver. Ons durf nie roer nie. En tog skreeu elke deel van my wese om te beweeg, bloot te verdwyn in die Angolese bos.

      Voor ons is die kobra steeds onseker, kop wiegend soos dit die lug toets. In die groen lig van ons nagsigtoerusting is die vlietende tong duidelik sigbaar. In en uit, sy akkurate jagradar wat nou lewe bespeur, voor én agter hom.

      En dit maak die slang ongelukkig. Hy’s in die voetpaadjie, in die pad van die patrollie. Ons, ’n meter verder, in digte bos versteek.

      Langs my hou Carlos sy hand waarskuwend op. In hemelsnaam, beduie hy, staan vas. Die patrollie is nou sigbaar: seksiegrootte, tien man. ’n Paar treë weg. Ek is yskoud. Trap hulle op die slang, of sien hulle dit, gaan dit ’n mal skietery ontketen. Reg teenaan ons oplê-posisie.

      My hand klem sweterig om die AK47 se pistoolkolf. ’n Ongelukkige kobra is baie slegte nuus. Mense wat binne oomblikke in die donker daaroor gaan struikel, nog erger. Daar’s eenvoudig te veel veranderlikes om te kan beheer.

      En retireer, ons tweemanspan se normale modus operandi in sulke gevalle, is nie nou ’n opsie nie.

      Dan kom die voorste figuur tot stilstand, sy hand omhoog, palm na vore. Hy draai sy kop, luister.

      Ek haal oopmond asem, sag, vlak, angsbevange dat my hartklop wat so in my ore dawer ook elders hoorbaar is. Alles hang stil in die naglug. Die skril naggeluide van ver af, die jakkalse, krieke en geitjies wat klank-kamoeflering bied – en dan in afwagting stilbly. Asof hulle wéét.

      Enige sekonde nou, die metaalklank van ’n AK47 wat ’n patroon in die kamer skop, die nagkalmte skeur, die reaksie van die kobra, sy veerkragtige sydelingse slag, die pyn wat soos ’n rooiwarm yster deur my skouer brand. Ek verloor die stryd om dit binne te hou, gil so hard en onophoudelik dat dit seker byna die diep thoep-thoep-thoep van die AK smoor.

      Dan’s ek wakker, die lakens deurdrenk van sweet. Alleen in my bed.

      Dieselfde droom. Presies dieselfde, bliksemse droom. En die gevoel van katastrofiese mislukking, van teleurstelling wat nie wil wyk nie.

      * * *

      Sunnyside, Pretoria, 10:15 vm.

      Ek’s doodmoeg. Dis hoekom ek haar teenwoordigheid in die koffiewinkel te laat opmerk. Die dik leerbaadjie se wolkraag hoog opgetrek teen die Hoëveldse koue, mooi olyfkleurige vel. En fyn plooitjies om heldergroen oë, sien ek toe sy oorkant my inskuif.

      My tweede cappuccino daag op, ’n teenvoeter vir die gebrek aan slaap.

      Sy is skralerig met kort, donker hare. Niks uitsonderliks nie, die soort mens wat in ’n skare kan verdwyn. Intelligensiediens, sonder twyfel.

      Ek wag. Sy maak ’n bruin handsak op haar skoot oop.

      “Meneer Texeira, kan ek gesels?” Uit die handsak haal sy ’n leeromhulsel so groot soos ’n mansbeursie. Sy vou dit oop, wys dit onderlangs. Haar foto, en langs dit die Suid-Afrikaanse skild. Military Intelligence.

      Ek neem die identifikasie by haar: Helena Paxton. Analyst.

      Dis nie die eerste keer dat MI my kontak nie. Ek sit die identifikasie voor haar neer en leun dan terug in my stoel, vertrou nie die vrede nie. Oudlede van spesiale magte word gereeld vir “sensitiewe” operasies ingespan, soms baie jare nadat ons amptelik uitgetree het.

      Dis nooit lekker werk nie; jy weet ook nooit vir wie jy werk nie. Daar is altyd kompartementalisering – genoeg intel om die werk te doen, maar nie om vinger te kan wys as iets skeefloop nie. Dis die aard van die job. Ons weet dit en hulle buit dit uit.

      Ek knik vir haar om voort te gaan. Sy kyk rond. Die Vida e Caffè se rooi-en-wit interieur is raserig genoeg, anoniem. Ons is bloot twee mense by ’n bliktafeltjie.

      “Ons het jou nodig.”

      Op my ouderdom, met my agtergrond, is daar nie baie waarmee ek deesdae kan help nie. Sedert my uittrede uit die uniformmag was daar min werk vir my spesifieke kundigheid: tweeman-operasies oorkant die grens.

      Hel, daar is deesdae beswaarlik ’n grens. Ons buurlande se mense stroom ongehinderd in en daar is nóg die politieke wil om hulle te stop, nóg die kundigheid om die soort intelligensie wat ons insamel ordentlik aan te wend.

      Ek moes aanpas: veiligheidswerk in Irak en Afganistan, en toe daardie deur toeklap, terug na Suid-Afrika vir die persoonlike beskerming van VIPs.

      Maar jy kan jou lyf net só lank as skild gebruik, die politici om wie ons skildstaan se ego’s beskerm, gehoorstukke in die oor en ’n afstandelike kyk in die oë om die verveling te verbloem.

      Daarna het gevolg korporatiewe ondersoeke saam met forensiese spanne, lewenstyl-oudits vir die inkomstediens, werk vir die direktoraat van koverte insameling, agtergrondondersoeke van staatsamptenare voordat hulle bevorder word na sensitiewer posisies. Roetine, sieldodend voorspelbaar.

      Ek twyfel daarom sterk dat iets uit my onlangse werkervaring vir MI van waarde kan wees. Buitendien was ek ’n jaar laas operasioneel aktief.

      “Hoe kan ek help?”

      Die handsak gaan weer oop, en sy haal ’n foto van om en by agtien by twaalf sentimeter uit. Swart-en-wit, ’n bebaarde man. Onderbelig, greinerig, die gesig half weggedraai van die kamera. Maar ek herken hom dadelik. Nie net aan die baard nie; die kamerasku liggaamstaal is onmiskenbaar.

      “Dis Carlos Viyera.”

      “Jou geheue is goed.”

      Regtig? Hoe vergeet ’n mens jare se intense saamleef met iemand in die Angolese bos?

      Carlos was waarskynlik die beste pseudo-ops-verkenner ooit in die Suid-Afrikaanse Weermag. ’n Agtergrond-legende, waarskynlik ook die enigste recce wat ooit ’n Honoris Crux-silwermedalje vir dapperheid van die hand gewys het.

      Ons paaie het in 1992 geskei. Hy’t bloot verdwyn. Geen ferm handdruk by die eenheid se afskeidsgeleentheid nie, geen laaste heildronk in die offisiersmenasie nie, geen ongemaklike omhelsing tussen twee mans nie. Hy het eenvoudig verdwyn soos wat hy in 1984 vanuit Angola verskyn het: ’n man met amper geen verlede nie en in daardie jare nog minder van ’n toekoms.

      Ek het nooit weer van hom gehoor nie. Dikwels nog aan hom gedink, ja, en die herinneringe was soms pynlik, dikwels bloedig.

      “Ek het hom dekades laas gesien. Toe hy bedank het uit die weermag.”

      Sy sit die foto weg.

      “Ons is bewus daarvan, ja. Hy het nog tot onlangs vir ons gewerk.”

      Oukei, nou het jy my aandag, juffrou. As Carlos soveel jare vir MI gewerk het sonder die wete van sy oudkollegas, was dit diepdonker, koverte werk. Waarskynlik in die buiteland. En hy is waarskynlik nou diep in die kak as MI mý nodig het.

      “Is hy in die moeilikheid?”

      “Hy máák moeilikheid, meneer Texeira. Carlos is in Mosambiek. Hy’s ’n renosterstroper,” sê sy sag, en leun vorentoe. “Ons het meer as ’n jaar laas met hom kontak gehad. Die bietjies inligting wat ons kry, wys dat hy vinnig ’n baie slegte reputasie as poacher boss ontwikkel het. Een van die mees gevreesde in die suide van Mosambiek.”

      “Ek dag hy werk vir julle?”

      “Hét, ja. Maar nou word mense geskiet en die stropery is byna buite beheer. Ons is seker hy kry intel van ons kant af. En hy het beskerming in Mosambiek self. Ons kan nie by hom uitkom nie.”

      “Waar’s hy?”

      “Hy bly in ’n klein dorpie oorkant die grens van die Krugerwildtuin. Massingir.”

      Dis nie die Carlos wat ek onthou nie. Hy was van nature agterdogtig, altyd meer tuis in die bos as op die dorp. Hy kon nooit vinnig genoeg uit ons basisse wegkom vir operasies nie. In die bos kon hy spoorsny,