'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
se hemelse woning aan elkeen wat Hom vra. Hy sluit die lewe vir altyd voor elke smekeling oop, vandag nog! Ja, ook vir jou is daar genade by die Man van die kruis te vind. Gaan vra Hom net.

      Here Jesus, dink ook aan my.

      9 FEBRUARIE Lees Daniël 12:3

      Wees God se verteenwoordiger

      “… en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos sterre” (3).

      Daniël se visioen eindig goed. Dit vertel dat God ’n einde aan die swaarkry van sy volk sal bring. Daar sal ’n tyd kom dat Hy ingryp om sy mense te red. Hier in ons eie tyd smag ons sekerlik ook na daardie groot dag van die Here; daardie dag van uitkoms! Intussen moet ons die Here se wil dag en nag doen.

      Dit laat my nou dink aan iemand wat in die Kaap aangekom het. Sy eerste woorde was: “Is hier ’n regering in die Kaap? Want as daar een is, is ek teen hulle!” Miskien is sy woorde sprekend van die mentaliteit van sommige kerkmense in ons dag. Vir hulle is ’n Christen iemand wat van vroeg tot laat teen alles en almal gekant is. ’n Gelowige moet blykbaar heeltyd sondes uitsnuffel, die gevare daarvan vir almal binne hoorafstand uitbasuin, mense links en regs verdag maak, ensovoorts. Elke nuwigheid moet ook dadelik aan die een of ander kommissie van ondersoek onderwerp word. Natuurlik is dit nie verkeerd om sonde te ontbloot vir wat dit is nie. ’n Kerk wat te gemaklik met sonde raak, is vinnig en onherroeplik op die afdraande pad. Maar dit is nie nodig om met ’n “kommissie van ondersoek”-mentaliteit rond te loop en mense wat van jou verskil, te verketter nie. Ons is aangestel as God se verteenwoordigers. Net dit! Kom ons wees presies dit totdat Christus terugkeer. Kom ons maak net sy Naam groot.

      Here, laat ons u Naam heilig totdat U weer kom.

      10 FEBRUARIE Lees Johannes 3:3

      Is jy regtig deel van God se familie?

      “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (3).

      Een nag het Nikodemus, ’n lid van die Joodse Raad, Jesus kom besoek. Die Joodse Raad was die belangrikste godsdienstige liggaam van die Jode onder voorsitterskap van die hoëpriester. Nikodemus was baie beïndruk met Jesus, maar Jesus het dwarsdeur hom gekyk en sy eintlike probleem gediagnoseer: Nikodemus moes opnuut, of van bo af, gebore word. Nikodemus was uit die veld geslaan. Hy wat ’n ou man was, kon tog nie weer in sy ma se buik ingaan nie. Hoe op aarde kon hy dan deel word van God se ryk?

      Jesus se antwoord wys dat ’n mens nie vanself lid van God se nuwe aardse familie kan word nie. Jy kan nie beter begin leef en dink dat God jou dan outomaties moet aanvaar as een van sy kinders nie. Nee, daar is net een manier: Jy moet ’n tweede, geestelike geboorte ondergaan. Die Heilige Gees moet jou lewe aanraak en jou van kop tot tone nuut maak. Hoe gebeur dit prakties? Die bekende woorde van Johannes 3:16 bied die antwoord: GLO IN CHRISTUS!

      Op jou eie kan jy nie ’n kind van God word nie. Maar as jy as genadebedelaar voor Jesus buig met al jou sondes, verander Hy jou in ’n kind van God. Dan lyf die Gees jou by die wonderlikste familie in. Dan word alles nuut!

      Here Jesus, dankie dat ek ’n lid van u familie is.

      11 FEBRUARIE Lees Filemon vers 7

      Sien raak dat God ander mense aanraak

      Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy … die harte van die gelowiges verkwik het … (7).

      Jy hoef nie duisende kilometer te stap om God se aangesig te soek nie. Ook hoef jy nie op eie stoom ’n leer hemel toe te probeer bou nie. Paulus skryf in Romeine 10:6-8 dat wanneer jy in God glo, jy weet dat Christus die hele tyd naby aan jou is. Jy hoef nie in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, jy moet net jou oë oopmaak en in Christus glo.

      Onthou: God is net een gebed ver. Maar ook hierdie klein stukkie afstand verdwyn wanneer jy die kans van jou lewe aangryp om met Hom te praat. Wanneer jy in Jesus se Naam bid, trek jou woorde miljoene kere vinniger as die spoed van lig oor daardie pad wat Jesus tussen hemel en aarde gebou het. Wanneer jy bid, is jy een gebed naby! Dan is afstand weg!

      Omdat Paulus hierdie geheim goed gesnap het, het hy nie gehuiwer om vir sy vriend Filemon te bid en vir God dankie te sê vir hom nie. Net so het Paulus ook nie gehuiwer om Filemon aan te moedig om te volhard op die pad van die Here nie. Nee, Paulus het hom nie met mooi woorde gevlei nie. Dis skynheilig. Hy het egter wel die mooi dinge raakgesien wat God in hom doen en daaroor opgewonde geraak. Hoe wonderlik om saam met Paulus God se werk in ander raak te sien en vir Hom dankie te sê daarvoor.

      Here God, dankie vir alles wat U in my vriende se lewe doen.

      12 FEBRUARIE Lees Prediker 3:11

      Ek kan God nie verklaar nie

      Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie (11).

      God is onverklaarbaar. So sê ons, maar glo dit nie regtig nie, want ons probeer steeds om sy handewerk te verklaar. Staan ons voor ’n siekbed, sê ons alte maklik: “Toe maar, julle sal later verstaan hoekom dit gebeur het.” Of: “Die Here het dit toegelaat om julle die volgende te leer …”

      Die skrywer van Prediker het van beter geweet as om God te verklaar. Hy het besef dat slim teologie, ingewikkelde kerklike leerstellings en menslike redenasies nie toereikend is om God se handelinge te verduidelik nie. Trouens, een van die dinge wat mense se vreugde steel, is juis hulle slimmighede oor God. Kerke stry onder mekaar en skeur oor onbenullighede. Sinodes en kerkrade debatteer ure aaneen oor nuttelose stellings. Elkeen probeer ’n slimmer storie oor God opdis as die ander. Maar die feit is dat dit mense hard maak teenoor mekaar. Kort voor lank is almal aan die stry omdat elkeen meen hy of sy is reg.

      Die oplossing is om God nie te probeer verklaar nie. Glo net in Hom. Moenie antwoorde probeer gee op elke raaisel in die lewe nie. Hou net aan God vas soos ’n kind. Jy is nie geroep om ’n verklaarder van sy planne te wees nie, maar om in Hom te glo en op Hom te vertrou. Doen net dít. En troos ander met hierdie goeie nuus.

      Jesus, dankie vir die wysheid wat ek vandag uit u Woord geleer het.

      13 FEBRUARIE Lees Eksodus 23:1-9

      Wees goed vir ander mense as hulle nie by is nie

      “Jy mag nie skinderstories versprei nie” (1).

      Skinder is baie mense se gunstelingtydverdryf. Party mense kan nie wag om die nuutste skinderstories oor ander aan hulle vriende te gaan oorvertel nie. Dit is so maklik om te skinder, om lelike dinge oor ander in hulle afwesigheid te sê. Party mense speel hierdie speletjie selfs heel versigtig. Hulle skinder dalk nie openlik nie, maar hulle staan ook maar alte lekker en luister hoe ander se naam deur die modder gesleep word. En hulle doen net mooi niks hieraan nie. Ja, om te skinder is op die ou end net so erg as om stilswyend na skinderstories te luister wat ander mense se naam beswadder sonder dat jy hulle beskerm.

      God haat ’n geskinder. Hy verbied dit. Want Hy weet dat diegene oor wie daar geskinder word, nie self teenwoordig is om hulle kant van die saak te stel nie. Wees daarom goed vir ander mense in hulle afwesigheid: Beskerm hulle naam. Gee aan hulle die voordeel van die twyfel. Wys die skindertonge daarop dat daar ook ’n ander kant aan elke saak is. Noem vir hulle ’n paar goeie eienskappe op van die mense wat nou so kwaai onder hulle woorde deurloop. Vra vir hulle of een van hulle al ooit die moed gehad het om onder vier oë, reguit, met die persoon te praat wat hulle nou agteraf bespreek.

      Wees vandag ’n beskermer van ander mense se goeie naam. Beskerm hulle deur net mooi dinge agter hulle rug van hulle te sê.

      Here, leer my om vandag mooi te praat oor ander.

      14 FEBRUARIE Lees Rut 2:1-13

      Wees goed vir mekaar

      “Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het” (12).

      ’n Vrou het op ’n keer ’n boom in die hoek van haar tuin geplant.