'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
godsdienstige reëls van hierdie wêreld (20).

      Paulus was baie bekommerd oor die verskriklike godsdienstigheid van die gelowiges in Kolosse. Hulle was so vroom dat hulle omtrent kon doodgaan daarvan. Hulle het die strengste reëls denkbaar gehou. “Hieraan mag jy nie vat nie,” en: “Daaraan mag jy nie raak nie,” was bekende uitsprake op hulle lippe. Maar ten spyte van al hulle vroom gebruike was Paulus nie juis beïndruk nie. Kerkbywoning, of die nakom van allerhande godsdienstige reëls, verander jou nie outomaties in ’n kind van God nie. Maar wat dan van almal wat regtig probeer om goed te leef? Wat van mense wat nie steel nie, nie skei nie, nie moord pleeg nie, nie lelik praat nie, goeie dinge vir ander doen? Wel, selfs nie eens dit laat jou outomaties as ’n gelowige kwalifiseer nie. Godsdiens kan daarom bitter gevaarlik wees. Die kans is goed dat jy doodgoed is, maar sonder God. Of dat jy godsdienstig is, maar sonder God!

      Daar is net een raad vir ons almal, of ons nou godsdienstig is, of nie: Ons moet ons toevlug tot God neem. Dan, en dan alleen, kan ons weet: Daar gaan ons genade ontvang. God deel oorvloedige genade uit aan mense wat aan sy voete kom sit. Hy het sy Seun aarde toe laat kom om vir sulke mense te sterf. Laat staan dus al jou godsdienstigheid as dit jou nie nader aan God bring nie. Verruil dit vir ’n lewe aan sy voete!

      Here, aan u voete vind ek rus.

      4 FEBRUARIE Lees Hosea 11:1

      ’n Goeie Vader versus ’n ongehoorsame kind

      Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad (1).

      In Hosea 11 word die aangrypendste beelde gebruik om God se liefde vir sy volk te beskryf. God word hier voorgehou as ’n goeie hemelse Vader wat ’n weeskind, Israel, raakgesien het in sy geweldige lyding en swaarkry daar in Egipte. Toe het die Here die kind aangeneem as sy eie en hom in Egipte gaan haal. Israel het egter hierdie liefde van die Here beantwoord met ongehoorsaamheid. Hy het agter die Baäls aangeloop.

      Die Here het groot moeite gedoen om Israel te leer loop. Hy het hom met deernis in sy arms rondgedra (v 3). Tog het Israel hierdie vaderlike liefde van God verwerp en geweier om te erken dat dit Hy is wat so goed vir hom sorg. God het egter aangehou om goed te wees vir sy kind deur die slawetoue waarmee hy in Egipte vasgebind was te vervang deur liefdesbande. Hy het Israel ook oorlaai met die heel beste kos (v 4-5). Steeds het dit nie gehelp nie. Toe het God geen ander keuse gehad as om ’n oordeel oor sy kind Israel uit te roep nie. Oorlog en slawerny is nou sy voorland (v 6-7).

      Moet tog nie so hardkoppig soos Israel wees nie. Sien raak hoe goed jou hemelse Vader vir jou is. Buig voor Hom in diepe dankbaarheid. Eer sy Naam.

      Here God, u vaderlike liefde oorweldig ons.

      5 FEBRUARIE Lees 2 Petrus 2:2

      Moenie God speel nie

      Baie mense sal hulle losbandigheid navolg … (2).

      Groot handelsname beskerm hulle goeie naam met alles in hulle vermoë. Hulle sal nie huiwer om mense hof toe te vat wat hulle naam onwettig gebruik nie. Ten spyte hiervan dra baie horlosies, klere, kosmetiese produkte, rekenaars en ander produkte die naam van internasionale handelsname, maar is niks anders as goeie vervalsings nie. Petrus sê vir ons dat daar mense is wat die boodskap van Christus vervals en naboots. Hulle doen dit ter wille van allerlei bymotiewe.

      Gelukkig gee Petrus vir ons riglyne oor hoe ons die vervalsings kan uitken: Vervalsers van die evangelie verdraai die Bybel as ’n dekmantel vir hulleself om in sonde te leef (v 2). Hulle vertel vir elke goedgelowige hoorder dat dit reg is om aan losbandige sondes toe te gee. Dan misbruik hulle boonop nog sulke mense ter wille van hulle eie begeertes. Kyk maar net rondom jou hoeveel “vroom” kerkmense al voor seksuele sondes geswig het, dan sien jy hoe aktief vervalsers van die evangelie is.

      Hulle het volgens Petrus net een doel voor oë, en dit is om geld te maak uit die Woord van God (v 3). Hulle vertel graag vroom stories oor hulleself om geld uit ander gelowiges te wurg. Oppas vir sulke mense. Vermy hulle.

      Here, moenie dat ek die knie voor vals leringe buig nie, asseblief.

      6 FEBRUARIE Lees Levitikus 24:16

      Moenie God se Naam verkeerd gebruik nie

      “Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry” (16).

      Ernstige sake hierdie! Dit is geen grap meer om te hoor hoe mense deesdae God se Naam op ligsinnige maniere gebruik nie. Omtrent elke filmster en openbare persoonlikheid gebruik die Here se Naam as ’n stopwoord. Ek wonder hoekom. Hoekom sê hulle nie iets soos: “O, my Mohammed,” of: “O, Boeddha” nie? Ek weet nie, behalwe dat ek dink dit is ’n manier om hulle minagting vir God hardop uit te druk. Eintlik is die god na wie ongelowiges op dié manier verwys nie die God van die Woord nie, want mense wat sy Naam sonder betekenis gebruik, weet nie regtig wie Hy is nie. Tog is dit geen verskoning vir hulle om aan te hou om sy Naam goedkoop te maak nie.

      God self beskerm sy Naam. Gaan lees maar die Tien Gebooie, of ook hier in Levitikus 24, dan sien jy dat God dit nie duld dat mense ligsinnig van of oor Hom praat nie. In die dae van Levitikus is so ’n oortreding met die dood gestraf. Ons moet sorg dat die Here se Naam op ons lippe en in ons lewe geheilig word. Eweneens moet ons diegene wat ’n bespotting van die Here maak, waarsku dat hulle met vuur speel. Hoe dwaas om so iets aan te vang!

      Almagtige Vader, beskerm u heilige Naam.

      7 FEBRUARIE Lees Rigters 19:1–20:2

      Los die res, soek God

      Toe het al die Israeliete bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here (1).

      As jy ernstig is oor jou verhouding met die Here, moet jy vandag nog een van jou heel kosbaarste besittings aan Hom gee: tyd!

      Gelowiges dink nie eintlik aan tyd wanneer hulle dinge op die Here se altaar begin neersit nie. Hulle bring hulle gawes, hulle geld, hulle eie wil, en ’n klompie ander dinge, maar bemaak selde hulle dagprogramme aan die Here. Om ’n betekenisvolle Christelike lewe te voer, moet jy jou horlosie, jou dagboek en jou jaarprogram in die Here se hande sit. Jy moet leer om jou tyd met dié van die Here te sinkroniseer, anders mors jy dit op al die verkeerde goed.

      Praktiese geloof is wanneer jy elke oggend jou dagboek vir die Here gee sodat Hy sy spesiale afsprake met jou, asook sy hemelse prioriteite, bo-oor al joune kan inskryf met hemelse ink. Jou geloof werk teen volsterkte wanneer jy hierdie weggee-oefening dag na dag, jaarin en jaaruit, herhaal. “Tyd is geld,” sê die sakelui, maar vir die Here is dit nog kosbaarder. Elke dag wat jy deur jou vingers laat glip om saam met Hom te wandel, is ’n verlore kans; ’n dag wat jy agteruit groei.

      Hoor weer: Op die Here se pad gaan jy agteruit as jy stilstaan. As jy nie dag vir dag saam met Christus stap nie, raak jy agter. Dan moet jy nie verbaas wees as jou geestelike lewe al halfpad dood is nie.

      Here, neem asseblief volle beheer oor my dagprogram.

      8 FEBRUARIE Lees Lukas 23:32-43

      Dit is werktyd totdat die gordyn sak

      “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (43).

      Jesus se werk het nog nie opgehou nie. Selfs tot daar aan die kruis, toe Hy aan die einde van sy kragte was, het Jesus nog ’n hart vir stukkende mense gehad. Vra maar vir die een misdadiger wat langs Hom aan ’n kruis gehang het. Terwyl die ander gekruisigde met Jesus gespot het, het hierdie man langs Jesus hom tereggewys en vir Jesus gevra om tog net aan hom te dink as Hy in sy hemelse koninkryk aankom.

      Wat ’n verrassing het nie op hierdie man aan die kruis gewag nie! Daardie dag het hy oneindig meer gekry as net ’n blote gedagte. Jesus het nie net aan hom gedink nie. Hy het die hemelse tapyt voor hom uitgerol. Skielik is hierdie man as ’n eregas op die drumpel van die paradys ontvang. Sy laaste asemteug op aarde is verruil vir ’n hemelse genadeteug toe hy net hierna sy oë in die hemel oopmaak. Jesus se belofte dat hy op daardie einste dag nog saam met Hom in die paradys sou wees, was die rede vir hierdie fees!

      Jesus