'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
Dis die vraag waarmee Miga worstel.

      God gee ’n verrassende antwoord in vers 8. Nee, die Here vra nie dooie offers nie, maar lewende mense. God vra dat mense wat op pad is na Hom toe reg sal doen aan ander en hulle liefde en trou sal bewys aan hulle naaste. Verder moet hulle elke dag versigtig en met nederigheid voor God leef. Soos vers 9 sê, mense wat die Here dien, moet elke dag met hemelse wysheid leef. Ons kan God nie omkoop met geld en blink dinge nie. Al wat Hy vra, is onvoorwaardelike lojaliteit!

      Almagtige Heer, hier is my lewe as offer.

      29 JANUARIE Lees Psalm 46

      Maak God se hart bly

      God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming … (2).

      Psalms leer ons om God se hart bly te maak. Dit laat my dink aan ’n verhaal van Bill McCartney. Hy was die afrigter van ’n Amerikaanse “gridiron”-voetbalspan. Een Vrydagaand, voor ’n belangrike wedstryd wat sou bepaal of sy span in die finaal in die Rose Bowl sou speel, het John Wong, ’n jong speler, by hom kom pleit vir ’n plek in die span. McCartney het gesê hy sou daaroor dink en die volgende oggend vir hom ’n antwoord gee.

      Toe Wong vroeg die Saterdag weer aan sy kamerdeur klop, het McCartney besluit om hom ’n kans te gee. Daardie Saterdag het Wong die heel beste wedstryd ooit gespeel. Binne oomblikke het hy ’n bal onderskep en deurgehardloop om punte aan te teken. Daarna was hy onkeerbaar. Sy span het gewen!

      Later het McCartney vir John Wong eenkant in ’n hoekie aangetref waar hy bitterlik gehuil het. Toe hy hom vra hoekom hy huil, antwoord Wong: “My pa wat sy lewe lank blind was, het Donderdag gesterf. Dink net, vir die eerste keer in sy lewe het hy my vanoggend sien speel!” Aangrypend om te dink dat Wong net vir ’n gehoor van een gespeel het daardie Saterdag na sy pa se dood.

      Vir wie speel jy? Is jou oog net op God gerig? Is dit jou begeerte om Hom te eer? Pas jou spelpatroon vandag nog aan om God trots te maak.

      Here, laat my lewe u hart bly maak.

      30 JANUARIE Lees Openbaring 9

      Wees stil voor God

      Ek het ’n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor (13).

      Ooreenstemming met die tiende plaag in Egipte is vanaf vers 13 voor die hand liggend. Johannes gebruik die verhaal van die dood van alle eersgebore Egiptenaars (Eks 11–12) as die raamwerk waarbinne hierdie visioen gegiet word. Kyk weer na vers 13 en vergelyk dit met wat ons in Openbaring 1–8 gelees het: voor die troon waar gebede opstyg (8:3-5), en naby die altaar (6:9-11) praat God.

      In vers 14 lees ons van die Eufraat: Dit was natuurlik die “oergrens” tussen die Romeine en alle barbare. Vroeër het die Israeliete dit ook as die grens tussen hulle en die heidense volke beskou. Ons lees nou hoe engele wat hierdie grens tussen orde en chaos patrolleer, losgemaak word om die ongelowige wêreld te teister. ’n Derde van die mense sterf wanneer die engele in vers 15 hulle oordele begin voltrek. Hier loop genade en straf steeds hand aan hand, want weer word nie alle mense vernietig nie.

      Vers 17-19 is onheilspellend. Ons het hier ’n opeenstapeling van onreinheid. Alle denkbare vorme van goddeloosheid word saamgevoeg in die sataniese drogbeelde wat beskryf word. Tog, ten spyte van die skrikwekkende beelde wat die wêreld teister, sê vers 20-21 dat daar geen bekering is nie. Mense luister eenvoudig nie. Sonde neem steeds toe! Moet dus nie jou hoop op die wêreld vestig om ’n beter plek te word nie. Dit sal nie. Vestig jou hoop op God.

      Lei u kinders in hierdie gevaarlike tyd, drie-enige Here.

      31 JANUARIE Lees Eksodus 37:1-9

      My allerbeste vir die Allerhoogste

      Daarna het hy die deksel van suiwer goud gemaak … (6).

      Ons het al so gewoond geraak daaraan dat alles by die kerk tweedehands is dat dit ons nie eens meer pla nie. Dinge moet so goedkoop moontlik gebou en in stand gehou word. Want daar is mos nooit geld nie. Dit was glad nie die geval toe Moses se vakmanne die Here se heiligdom gebou het nie. Toe was net die beste materiale en metale goed genoeg, want dit was hulle “geskenk” aan die Allerhoogste. Hulle kon eenvoudig nie afskeep nie. Hulle kon nie afskeepwerk lewer nie. Want die naasbeste is nie goed genoeg vir God nie. Hoe kon hulle die beste deel vir hulleself hou en God se heiligdom van minderwaardige materiale bou? Dit sou tog nooit deug nie.

      Ons hoef nie deesdae reusekatedrale en blink geboue vir God te bou om Hom tevrede te stel nie. Hy bly in elk geval nie meer in sulke plekke nie. Hy bly binne-in ons, sy lewende kerk. Maar dit beteken nie ons moet altyd afskeep by die kerk nie. Ons moet steeds ons beste vir Hom gee: ons beste musiek; ons beste stemme in elke koor; ons beste preke op die kansel; ons beste kategete; ons beste diakens en ouderlinge.

      Gee jy jou beste vir God? Of hou jy dit vir die werk? Is jy so moeg ná die week dat God Sondae net stukkies afskeeptyd by jou kry? Wel, begin dan om jou allerbeste vir die Allerhoogste te gee.

      Here, Almagtige, ek gee my allerbeste vir U.

      Februarie

      Padlangs met God

      1 FEBRUARIE Lees Jeremia 15:10-21

      Padlangs met God

      Ek kan nie op U reken nie … (18).

      Hoe reageer God wanneer mense Hom beskuldig van traak-my-nieagtigheid? Wel, toe Jeremia begin kla dat God hom in die steek laat, is hy aangesê om sy foutiewe idees dadelik te laat staan! Terwyl Jeremia planne beraam het om te bedank uit die Here se diens, het God reguit vir hom gesê dat hy maar weer moet begin doen wat hy nog altyd gedoen het. Hy moes gaan profeteer en sy onverantwoordelike praatjies laat staan. Dan kon hy weer namens die Here praat.

      ’n Mens kan jou maklik blind staar teen moeilike omstandighede. Dan begin jy ook kla: “Die Here het van my vergeet.” Dit is nie waar nie. Nooit mag jou eie gevoelens of omstandighede die instrument wees waarmee jy God se afstand van jou af meet nie. Moenie dink omdat God ver van jou af voel, Hy regtig ver is nie. Moenie uit jou swaarkry aflei dat Hy jou verlaat het nie. Want God laat jou nie in die steek as dit sleg gaan met jou nie. Hy laat jou nie deur sy vingers glip as die storms om jou losbreek nie. Skeur jou bedankingsbriefie op wat jy dalk voor God se deur wil neersit. Laat staan jou verwyte teen Hom, want dit is ongegrond. Kry die regte feite by God!

      Here, help my om op te hou kla.

      2 FEBRUARIE Lees Jesaja 63:7

      Praat groot oor God

      Ek sal die troue liefde van die Here verkondig … (7).

      Ek is seker jy hou ook nie te veel van grootpraters nie. Party mense kan mos nooit ophou om oor hulleself te praat nie. Hulle vertel van vroeg tot laat vir almal binne hoorafstand hoe goed hulle is. En hoe ryk, sterk, vinnig, belangrik, of wat ook al. Hulle is eintlik ’n regte pyn in die nek.

      Grootpratery is sleg. Want daardie een wat heeltyd oor hom- of haarself praat, trek al die aandag. Maar daar is een uitsondering. Daar is een wettige vorm van grootpraat. En dit is wanneer ons die slag begin grootpraat oor God. Wanneer ons links en regs oor God se grootheid en sy troue liefde bly praat, dan is ons netjies binne die sentrum van God se wil.

      Ons mag, nee ons moet, oor God praat. Want Hy is ons God, die Heer oor die ganse heelal. Hy is die Almagtige oor wie ons by almal kan spog. Want God is regtig so groot, en nog groter, as al ons woorde oor Hom. Hy is waarlik die Een oor wie ons dag vir dag moet getuig, sing en jubel.

      Praat jy graag groot oor jou groot God? Vertel jy vir ander van sy lewensveranderende wonderwerke in jou lewe en in die lewe van ander rondom jou? Besing jy sy roemryke heldedade in die geskiedenis? Wel, dan is vandag net die regte dag om daarmee te begin, of aan te hou as jy dit reeds doen!

      Heer, laat my tong vandag grootpraat oor U.

      3 FEBRUARIE Lees Kolossense 2:20

      Los godsdiens, dien God!

      Julle