'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
my lewe en my huis oop vir u kerk, Here.

      20 FEBRUARIE Lees Genesis 7:5

      Doen alles wat God van jou vra

      Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het (5).

      Partykeer vra geloof dat ’n mens die onmoontlike vir God moet doen – soos wat met Noag die geval was. Om ’n reuseboot in die middel van ’n droë landstreek te bou en boonop vir almal rondom jou te vertel daar kom binnekort ’n groot oorstroming, vra leeuemoed. Nee, dit vra onverskrokke geloof in God. Maar Noag was bereid om dit te doen. Al het sy bure hom vreemd aangekyk en hulle koppe meewarig geskud oor sy “koddige optrede”, het Noag maar net aanhou bou. Daarna het hy boonop al wat ’n dier is geduldig begin aankeer na sy boot toe. Almal in die buurt het seker lekker geskinder oor ou Noag en sy vreemde optrede. Totdat die reën begin val het. En aanhou val het. En die spotstemme uiteindelik doodstil geword het.

      Om alles te doen wat die Here jou beveel, vra gehoorsaamheid; dit vra ’n vaste geloofsoortuiging. Ja, dit vra dat jy die Onsienlike moet kan sien. Jy moet kan loop waar ander nie kan of wil loop nie. En jy moet dinge kan hoor waarvoor die wêreld rondom jou heeltemal doof is. Ja, jy moet ’n oor hê wat fyn ingestel is op God se hemelse frekwensie. En ’n oog wat sy wêreld, sy hemelse koninkryk, raaksien agter al die dinge van hierdie wêreld.

      Doen vandag wat God van jou vra, selfs al spot ander met jou. Onthou, hulle het met Noag gespot. En wie was op die ou end reg?

      Here, hou my gehoorsaam aan U.

      21 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 2:5

      Laat die Bouer lewenslank aan jou bou

      Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis … (5).

      Bouers werk om klaar te kry, want tyd is geld en daar is ander projekte wat wag. Party bouers bou so vinnig dat hulle knoei en afskeep. Die hemelse Bouer doen dit egter nie. Christus het die tender aanvaar om lewenslank aan jou te timmer en te bou! Hy jaag nooit om klaar te kry nie.

      Die Here werk heeltemal anders as aardse bouers. As Hy die dag besluit om aan jou lewe te kom bou, kan jy maar weet: Hy gee nie weer pad nie. Die Here werk lewenslank aan elke aardse bouperseel wat onder sy bestuur is. Op elke gelowige se bouperseel is daar altyd ’n hemelse projek aan die gang. Nuwe kamers moet in elkeen se lewe gebou word waar God verheerlik kan word; binneversierings moet opgeknap word; dinge wat teen God se wil is, moet weggekap word en donker kolle moet lig kry.

      Kyk langs jou. Ja, hier reg langs jou lewe is ’n bordjie opgerig wat sê dat jy lewenslank onder konstruksie van die hemelse Bouer is. Wees dan nou goeie boumateriaal. Laat toe dat Christus jou deur sy Gees omskep tot ’n lewende huis wat God se Naam grootmaak. Wees lewende stene in die hande van die Meesterbouer sodat Hy sy hemelse doel met jou lewe kan bereik!

      Here Jesus, dankie dat U aan my lewe bou.

      22 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 2:17

      Tree reg teenoor mekaar op

      Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê (17).

      “My other vehicle is a broom,” vertel ’n plakker op ’n motor voor my nou die dag. Helaas, dit geld ook vir baie mense in die kerk. Al sê Jesus dat sy volgelinge aan hulle liefde vir mekaar uitgeken word, is party kerkmense maar bra liefdeloos. Vir sommige mense gaan godsdiens net oor uiterlike gebruike, wette, reëls en rituele. Verder karring hulle net soos die res van die wêreld aan.

      Doen vandag ’n paar mooi dinge vir ander in die Here se Naam. Moenie vanaand jou kop op die kussing neerlê voordat jy iemand by jou werk of langs die sportveld met ’n paar deernisvolle woorde of met ’n liefdevolle daad of twee gedien het nie. Jesus sê as jy aan een van die heel onbelangrikste van sy navolgers ’n bekertjie koue water gee, sal God dit raaksien.

      Wees wetsgehoorsaam soos die Here dit van jou verwag. Onthou, toe Petrus dit in vers 17 gevra het, moes die eerste lesers lojaliteit aan ’n heidense keiser bewys. Die owerhede hoef dus nie eers Christelik te wees voordat jy na hulle moet luister nie. Nee, gehoorsaam hulle, solank jy nie jou geloof op die spel hoef te plaas nie. Dan tree jy reg op.

      Maak my ander mense se naaste, Here.

      23 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 3:9

      Loop twee myl

      Moenie kwaad met kwaad vergeld nie … (9).

      Deesdae leef almal net vir hulleself. Die grootste siekte van ons tyd is selfsug. Die Here se mense durf nooit so leef nie. Dit druis in teen die hartklop van die evangelie. Kyk maar na Jesus se aardse sending: Sy hele lewe was van begin tot einde gerig op God se eer en op ander mense se nood, nooit op Homself nie. Jesus het gekom om God se koninkryk aan uitgeworpenes en verlorenes bekend te maak. Daarom dat Hy bereid was om sy hemelse glorie op te offer vir ’n nederige aardse bestaan.

      Jesus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as die grootste sondaar denkbaar behandel, sodat ons wat in Hom glo, vrygespreek kan word. Wat ’n lewe van opoffering en omgee vir ander het Jesus nie geleef nie!

      Dieselfde gesindheid van selfverloëning wat in Jesus was, moet ook in ons wees. As dit begin gebeur, sal ons mekaar ook met groter respek behandel. Selfsug sal dan verdwyn uit ons lewe. Dan sal ons nie ander mense beledig wat ons slegsê nie. Dan sal daar gedurig sagte woorde op ons lippe wees, selfs vir ons heel grootste vyande. Vermy die kwaad. Staan dit teë met liefde en deernis. Loop die tweede myl. Dryf sonde in ’n hoek in met goeie dade wat Christus se hart en gesindheid weerspieël.

      Here, op u pad van tweede myle leer ek ook om al hoe meer in u voetspore te volg. Dankie hiervoor!

      24 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 3:15

      Praat oor die evangelie

      Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (15).

      Vertel jy ooit vir ander van Christus se ingrype in jou lewe, of is jy te skaam? Vertel jy vir mense by die werk of tussen jou vriende dat jy die Here ken? As jy nie bereid is om dit in die openbaar te doen nie, sal Jesus ook nie bereid wees om in die hemel voor sy Vader oor jou te praat nie.

      Vertel minstens een keer per week vir iemand van iets wat jy in ’n preek gehoor het, of van ’n les wat jy in die Bybel of in ’n geestelike boek ontdek het. Laat hulle besef dat God baie goed is. Laat hulle uit jou woorde en dade agterkom dat Hy nou nog mense se lewe splinternuut maak. Praat groot oor God; hou die soeklig op Hom!

      Gesels minstens een keer per dag saam met jou gesin oor God. Vertel vir hulle van iets wat jy gelees het in die Bybel. Vra hulle opinie oor geestelike sake. Maak Christenskap ’n normale deel van jou gesin se daaglikse lewe.

      Onthou dat die Here van jou verwag om rekenskap te gee van jou geloof. Hy vra dat jy aan elkeen wat wil weet hoekom jy sy kind is, ’n goeie verduideliking kan gee van die inhoud van jou geloof.

      Grote God, dankie dat ek elke dag ’n geleentheid het om oor U te praat.

      25 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 4:9

      Wees goed vir mekaar

      Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla (9).

      Christene het korttermyngeheues. Hulle onthou nie meer hulle sondes as hulle dit by Christus se voete gaan neersit het nie. Hulle hou ook nie wrokke teen ander nie. Verder versprei hulle nie lelike stories oor ander nie. God doen ook nie sulke dinge nie. Hy het nie genoeg plek in die hemel om al die lelike dinge oor mense te stoor as hulle dit in Jesus se Naam laat staan het nie. So ver soos die ooste en die weste van mekaar af is, so ver en nog verder, vat God ons sondes van ons af weg. Hy het nie lus om ooit weer daaraan terug te dink nie. Ons moet daarom presies dieselfde doen met ons eie foute en ander mense s’n. Ons moet dit agter ons kry! Anders is ons geloof nie veel meer werd as ’n geestelike winkelversiering nie.

      Geloof kan verskriklik ingewikkeld word. Ons kan ons koppe breek oor moeilike