'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу

      Al loop daar vandag baie ongelowige voete oor God se grond, kan sy kinders dit terugwen. Ons kan weer God se vlag laat wapper oor sy grond. Abram het dit gedoen deur ’n altaar te bou. Wil jy nie ook vandag ’n vlagdraer wees wat God se vlag op vreemde terrein gaan inplant nie? Gaan praat ’n slag daar by jou werk of tussen jou vriende oor die lewende God. Dan wen jy regtig grond!

      Here, maak my asseblief ’n getuie van Christus!

      23 JANUARIE Lees Lukas 12:13-21

      Kry die regte getuigskrif by God

      “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas!’ ” (20).

      Een van twee broers wat aan die stry was oor hulle pa se erfporsie, het gevra dat Jesus die probleem moet besleg. Omdat Jesus nie belangstel in sulke onderonsies nie, vertel Hy vir hulle die verhaal van ’n ryk man wat so baie geld gehad het dat hy nie geweet het wat om daarmee te maak nie. Toe spandeer hy dit maar op homself. Sonder om ooit te vra of hy daarmee iets kon doen vir die armes, het hy sy geld sinloos uitgemors. Hierdie man se lewensfilosofie was eenvoudig: “Eet, drink en leef lekker!”

      God was glad nie opgewonde oor hierdie man se lewe nie. Trouens, Hy het net ’n paar woorde nodig gehad om vir hom ’n getuigskrif te skryf. Dit het begin met die tragiese woorde: “Jou dwaas!” Daarna het God ’n permanente doodsvonnis oor die ryk man uitgeroep, daardie einste nag nog.

      Hoe hartseer dat mense soms ’n leeftyd deurbring om agter verkeerde dinge aan te hardloop. Van vroeg tot laat skarrel hulle agter waardelose goed aan. Wat sal God sê as Hy vandag vir jou ’n getuigskrif moet skryf? Hoe sal Hy begin? Ook met die skrikwekkende woorde wat die ryk dwaas moes aanhoor, of sal God sê dat jy een van sy goeie dienaars is oor wie Hy Hom verbly? Span jou in om vandag tot God se eer te leef, sodat Hy mooi woorde oor jou kan sê!

      Here Jesus, laat my in gehoorsaamheid voor U leef!

      24 JANUARIE Lees Handelinge 12:6-11

      Vertrou onverskrokke op God

      Meteens staan daar ’n engel van die Here … (7).

      Die haat het weer opgevlam. Jakobus, die groot apostel van die Here, is doodgemaak en ’n klompie gemeentelede is mishandel. Boonop is Petrus, die steunpilaar van die kerk in Jerusalem, in die tronk gegooi. Sy lewe het aan ’n draadjie gehang.

      Die nag voor Petrus se verhoor en moontlike teregstelling is hy deur sestien soldate opgepas. Hy was selfs aan twee wagte vasgeketting. Maar dit het Petrus nie te veel ontstel nie. Hy het rustig aan die slaap geraak. Toe verskyn daar ’n engel van die Here in die tronk. Petrus het so vas geslaap dat hy nie eens die glans van die engel raakgesien het nie. Praat van geloofsvertroue – nie eens ’n engel kon sy rustige nagrus versteur nie! Daarom moes die engel hom wakker maak en uit die tronk lei.

      Die Here se mense hou deur dik en dun aan Hom vas. Hulle verwag die onmoontlike van God. Daarom slaap hulle rustig te midde van die grootste gevaar. Daarom vertrou hulle onverskrokke op God, al weet hulle nie wat môre en oormôre gaan oplewer nie. Staan vandag aan die kant van diegene wat God se hand nooit laat los nie.

      Here Jesus, ek hou net aan U vas.

      25 JANUARIE Lees Jesaja 62:6

      Herinner God gereeld!

      Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie (6).

      Een van die aangrypendste uitsprake in die Bybel tref ons hier in vers 6 aan waar God sy volk oproep om Hom te herinner aan sy belofte dat Hy hulle sal herstel.

      Die Here vra vir gewone mense dat hulle Hom moet bly herinner aan wat Hy belowe! Aangrypend. Natuurlik doen Hy dit nie omdat Hy vergeetagtig is of so iets nie. Nee, die Here weet maar alte goed wat Hy vir ons belowe. Maar Hy wil deurentyd daaraan herinner word deur sy kinders. In ons gebede moet ons van vroeg tot laat aan sy hemelse deur bly klop en vir Hom sê watter beloftes Hy aan ons gemaak het.

      God staan reg om goed te doen. Hy is op die punt om sy seën oor die ganse aarde uit te strooi. Sy geregtigheid moet immers vir almal sigbaar word. Maar dan moet sy eie mense nie huiwer om te kom staan in die voorhowe van die hemel en onverskrokke met Hom bly praat oor al sy beloftes nie. Jy ook nie. Jy moet dag vir dag by sy hemelse deur opdaag om met God oor sy groot beloftes te praat. Jy moet aanhou klop en vra totdat Hy sy beloftes nakom. Moenie dat ’n enkele dag verbygaan sonder dat jy op jou pos voor sy deur was nie. Maar kom asseblief elke keer daar aan met sy beloftes uit die Woord. En pleit dat Hy hulle sal hou. Hy wag op jou om dit vandag van Hom te kom vra!

      Here, dankie dat U laag afbuig na klein mensies toe.

      26 JANUARIE Lees 1 Petrus 4:17

      Leef reg – God sien wat jy doen

      Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God (17).

      Dalk misluk jy keer op keer wanneer jy moet “nee” sê vir sonde. Jy besluit telkens om ’n verkeerde ding te laat staan, maar voor jy jou kom kry, het jy dit weer gedoen. Moontlik is jou geestelike lewe een van val en opstaan. Jy weet mos God hou niks daarvan nie. Hy waarsku jou vandag in sy Woord dat sy oordeel by sy eie mense begin. Kry daarom jou lewe in orde deur jou gedagtes op die regte dinge te rig. Fokus op God! Laat sy grootheid jou gedagtes vul.

      Wanneer jou gedagtes negatief is, sien jy net mislukkings raak en geen oorwinnings nie. Dit is ’n fout, want God is besig met jou. Jy is op die regte pad as jy jou lewe aan die sorg van sy Gees toevertrou. Hy is besig om jou dag na dag al hoe meer te verander na die beeld van Christus. Sien raak wat God in jou doen. Loof Hom dat jy van nou af nie meer op elke afdraaipad sal beland nie.

      Fokus van nou af gereeld op die Here. Praat met Hom wanneer jy ’n kans kry. Bid sonder ophou. Stel jou lewe se kompas al hoe meer in op God. Maak ’n punt daarvan om sy grootheid oral rondom jou raak te sien. Dan sal jy die oordeel heeltemal misloop.

      Heer, leer my u regte weë.

      27 JANUARIE Lees Maleagi 1:2

      Hoor God se liefde

      Ek het julle lief, sê die Here (2).

      In ongeveer die jaar 430 vC verskyn Maleagi op die toneel. Ná die voltooiing van die tempel ’n klompie jare tevore is die volk op soek na God se voetspore en sy vingerafdrukke op hulle lewe. Toe stuur die Here sy boodskapper met ’n boodskap: “Ek het julle lief!” Wat ’n manier om te sê dat Israel nog saak maak! Wat ’n trooswoord!

      Nee, hulle is nie afgeskryf en vergete nie. Hulle is nie alleen tussen die nasies hier op moederaarde nie. Al die ander nasies rondom hulle wat so verwaand is, sal tweede kom. Die Edomiete met hulle grootheidswaan se nuwe bouwerke sal spoedig in puinhope verander. Ja, tot ver buite die grense van Israel sal sy volk weer die Here se magtige handewerk sien. Dit is die eerste genadewoorde van Maleagi wat die Here stuur na sy moedelose mense toe. Hulle moet dit hoor en sien.

      In ons dag gaan die liggie van hoop dikwels af rondom ons. Moedeloosheid oorval ons so maklik. Dan wonder ons saam met die mense in Maleagi se tyd of die Here nog van ons weet. Die goeie nuus is dat Hy ons ook liefhet. Die kruis van Golgota roep kliphard uit dat God nie vergeetagtig is nie. Hy onthou ons elkeen. Hy ken ons selfs by die naam, so naby is Hy deur sy Gees aan ons. So groot is sy ontferming oor elkeen wat Hom dien.

      Here, help my om te volhard wanneer dit moeilik gaan.

      28 JANUARIE Lees Miga 6:6-9

      Wat vat ek saam as ek na die Here toe gaan?

      Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan … ? (6).

      God is heilig. Miga weet ’n mens stap nie sommer net by Hom in nie. Daarom vra hy namens sy volk wat hulle kan saamvat om die Here se goedgesindheid te wen. Miga noem dan ’n klompie moontlikhede: jaaroud kalwers en duisende ramme saam met tienduisende offers van olie (v 6-7). Dalk sal die Here die offers aanvaar en sy volk se sondes miskyk. Die Israeliete kan ook hulle eersgeborenes aan die Here gee. Stel die