'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
beters om te doen: Ons moet elke dag ons geloofsklere aantrek en ’n verskil maak aan die omgewing waar ons rondbeweeg. Ons moet gasvry wees teenoor ander en hulle met oop arms ontvang. Hulle moet met sagte woorde en goeie dade van ons kant af gedien word. Sulke dade bepaal of ons geloof ’n verskil in ons lewe maak.

      Here, maak my gasvry en deernisvol.

      26 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 4:13

      Wees bly as jy swaar kry

      Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel … (13).

      Petrus het al die fasette van die lewe geken – swaarkry en voorspoed; rykdom en armoede. Omdat sy geluk nie van uiterlike omstandighede afhanklik was nie, kon verandering aan sy omstandighede hom nooit van sy vrede ontneem nie. Wanneer hy genoeg gehad het om van te leef, was hy nie hoogmoedig daaroor nie. Wanneer hy brandarm was of in tronke gestop is oor sy geloof, het hy nie dikmond rondgeloop nie. Nee, Petrus kon die lewe leef omdat Christus altyd sy enigste bron van krag was.

      Het jy al ooit regtig swaar gekry ter wille van jou geloof? Het kollegas of vriende jou al skeef aangekyk, of met jou geloof gespot? Moenie moedeloos word hieroor nie. Jy het so pas die regte medisyne vir moedeloosheid in die Woord gekry: Wees bly as so iets gebeur. Dit wys jou geloof is eg. Jy kan vasbyt! Laat Christus maar net die Here van jou hele lewe wees, dan reën dit seën! Dan is hemelse vreugde jou metgesel, al stort die wêreld rondom jou in duie en al spot almal met jou. Dan is jy tevrede, al is almal rondom jou slawe van bitterheid. Dan kan jy opreg sê: “Christus is my hele lewe; daarom skaam ek my nie om vir Hom teenstand te weerstaan nie.”

      Heer, ek loof U dat ek teenstand in u Naam kan weerstaan.

      27 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 5:5

      Wees nederig

      Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help … (5).

      Volgens Jesus is daar net plek vir nederige mense in die hemel. Hoekom? Omdat hulle altyd opkyk na God en groot respek het vir ander mense. Daarom dat die rolle in die kerk so dramaties omruil: vir God is die kleinstes op aarde die grootstes van almal. Net kinders en grootmense met kinderharte het ’n kans by God. Almal wat geleer het om kinderlik gelowig op te kyk na hulle hemelse Vader vir elke stukkie daaglikse brood, groei agteruit in die regte rigting. Hulle word weer klein op die regte plek.

      Die enigste hoop vir hierdie wêreld is dat mense weer na God toe sal groei. Mense moet weer respek betoon aan God en aan die mense wat saam met hulle die lewenspad deel. Is dit nie tyd dat jy ook agteruit groei en weer so nederig soos ’n kind word nie? Daar is soveel vreugde in die lewe wanneer jy weer jou kinderskoene voor God aantrek. Gaan leer ’n slag by die kleintjies ’n paar geloofslesse, of by daardie klein groepie nederige mense in die kerk. Hulle sal jou help om weer in verwondering voor ons hemelse Vader en voor sy aardse handewerk te staan. Hulle sal jou ook wys hoe om ander mense met agting en respek te behandel.

      Nederigheid is so nodig in die kerk, Here. Leer ons om kinderlik klein voor U en ander te leef.

      28 FEBRUARIE Lees 1 Tessalonisense 5:21

      Hou vas aan wat reg is

      … behou wat goed is (21).

      In die 1953-vertaling het hierdie teksvers gelui: “Beproef alle dinge en behou die goeie.” Hieruit het mense veels te maklik afgelei dat Paulus bedoel het ons moet maar met sondes eksperimenteer en dan op die harde manier leer wat reg en verkeerd is. Dit is hoegenaamd nie wat hy hier bedoel het nie.

      Die 1983-vertaling bring die betekenis van sy woorde baie duidelik na vore. Paulus bedoel dat ons alle profetiese uitsprake van mense wat sê hulle tree op in die Naam van die Here moet evalueer. As ons agterkom dat iets nie die toets van God se openbaring deurstaan nie, moet ons dit nie aanvaar nie. Indien ons egter oortuig is dat iemand wel in die Here se Naam gepraat het, moet ons die goeie hieruit vir onsself neem en dit gaan uitleef.

      Paulus bedoel nie dat ons moet verander in ’n klomp kritici wat heeltyd foutvind met ander gelowiges se woorde, of dink dat ons alle wysheid in pag het nie. Nee, ons moet nederig maar eerlik met die Skrif omgaan en seker maak dat ons die Heilige Gees se openbaring reg hoor. Dan alleen het ons die reg om te sê dat iemand nie die Woord reg uitgelê het nie. Dan alleen kan ons waag om vals uitsprake wat in die Here se Naam gemaak word te ontmasker.

      Gee aan ons die gawe van onderskeiding, Here.

      29 FEBRUARIE Lees Johannes 10:28-30

      In veilige hande

      “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie” (29).

      Het jy al ooit ’n Bybelteks so mooi soos Johannes 10:28-30 gelees? Dis fenomenaal. Dis aardskuddend. Dis die evangelie in suiwer, onverdunde vorm. Dis lewe. Om te dink dat Jesus sy magtige, spykerdeurboorde hande sit onder elkeen wat in Hom glo. Om te dink dat Hy ons elke dag en elke nag styf vashou. Dit gaan my verstand te bowe. Maar die goeie nuus hou nie hier op nie. Dit gaan nog verder. Hoor hoe Jesus sê dat Hy ons as lewende geskenke uit die Vader se hand ontvang het.

      Ons is God se kosbare eiendom. God het ons Syne gemaak. Daarom hou Hy ons ook vas. Hy sit sy hande bo-oor ons. Dus is ons in die hande van die twee sterkste Persone in die ganse heelal. Jesus se hande is onder ons en God se magtige hande bo-oor ons. Ons is in hemelse hande, elke asemteug van elke dag. Daar gaan nie ’n enkele dag verby dat ons op ons eie is nie. Ons word gedra deur hemelse hande, God s’n en Jesus s’n! Praat van genade! Daarom kan niks of niemand ons ooit van God skei nie.

      Hou vas aan Johannes 10:28-30 se woorde. Maak dit jou eie as die storms in jou lewe woed en jy ver van God af voel. Weet en glo dat jy in veilige hande is. Voel die spykermerke van Jesus se hande onder jou en die Vader se versorgende hande bo-oor jou, en glo!

      Drie-enige Heer, dankie vir u magtige hande rondom my.

      Maart

      Lewenswysheid uit Spreuke

      1 MAART Lees Spreuke 1:1-7

      Wysheid = diens aan die Here

      Kennis begin met die dien van die Here … (7).

      Ons moet nie in die strik trap om te dink dat Spreuke net ’n boek vol mooi gedagtes is nie. Die Spreukeboek het ontstaan in ’n krisistyd aan die koninklike hof in Israel. Die leiers van die volk het besef dat die jonger geslag te wild en rof grootword. Toe is daar begin om hulle op te lei in lewenswysheid. Die Spreukeboek is ’n samevatting van hierdie wysheidsleringe.

      Spreuke bestaan uit vyf gedeeltes: Spreuke 1–9 leer ons wat die voordele van wysheid is, terwyl Spreuke 10–22:17 ’n klompie kort, kernagtige wyshede bevat wat verskillende waarhede leer. In Spreuke 22:17–24:34 tref ons die woorde van ’n klompie wyse manne aan. In hoofstuk 25–29 tref ons die Hiskiaspreuke aan wat veral te doen het met die staatsbestel, die landbou en die natuur. Hoofstuk 30–31 is die samevoeging van Agur se woorde, gedigte en ’n paar uitsprake oor hoe wyse vroue moet optree.

      Die hart van wysheid word aangrypend in ons teksvers saamgevat: Wysheid is om die Here te dien. Mense wat op die Here se pad van wysheid stap, begin en eindig elke dag laag aan sy voete. Hulle enigste doelwit is om God te verheerlik. Doen dit en leef wys!

      Here, leer my u wysheid.

      2 MAART Lees Spreuke 2:1-12

      Systap verkeerde paaie

      Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af … (12).

      Die lewe is soos ’n pad. So vertel die Spreukeboek oor en oor. Soos dit maar met enige pad gaan, moet ’n mens seker maak dat jy op die regte roete is. So nie, verdwaal jy en beland waar jy nie moet wees nie. Omdat daar soveel afdraaipaaie en verdwaalpaaie op die lewenspad is, is dit noodsaaklik dat jy weet waar die regte pad is en hoe om daarop te bly. Spreuke sê dat die beginpunt van die pad die Here is. Alle wysheid kom van Hom af. Hy en Hy alleen is die Waarheid,