'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
al sy voorskrifte vir Moses te gee. Hy moes dit self in ontvangs kom neem. Sjoe, wat ’n dokument moet dít darem nie gewees het nie. Om te dink Moses kon ’n teks op klip in ontvangs neem wat deur niemand minder nie as God self geskryf is! Praat van ’n waardevolle teks! Onberekenbaar!

      Op pad na God toe het Moses gesien hoe ’n wolk die berg omring. Die vuur wat die berg ook hierna omgewe het, het die Israeliete laat besef dat God weer in gesprek met sy dienaar is. Die wolk en die vuur was die bewyse dat God opgedaag het vir sy afspraak. Dit was die teken dat Hy nou die belangrikste geskrewe dokument in die ganse geskiedenis van die mensdom aan Moses sou oorhandig.

      Om met God te praat, moes Moses bergop. Hy moes eenkant toe gaan. Hy moes leer om nederig en klein voor die Allerhoogste te wees. Vandag nog is dit so. Elkeen wat met God wil wandel, moet leer om eenkant met Hom te kom. Elkeen wat begeer om Godvrugtig te leef, moet baie tyd in stilte saam met die Koning van alle konings deurbring. Daar in die stilte raak jy regtig bewus van sy heiligheid. Daar eenkant leer jy om sy stem te onderskei van die ander stemme en geraas rondom jou. Klim daarom vandag hoër op, na God toe.

      Here, ek kom hoër op, na U toe! Leer my klim.

      18 JANUARIE Lees Jesaja27:2-4

      In God se nuwe wingerd dra mense goeie vrugte

      Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd … (2).

      God se wingerd, waarvan ons in Jesaja 5 gelees het, het Hom vroeër sleg in die steek gelaat. Al die vrugte aan daardie druiwestokke was suur en oneetbaar. Daarom dat Hy besluit het om dit te vernietig.

      Maar daar is goeie nuus. God het besluit om ’n nuwe wingerd aan te plant. Hy gee nie op nie. Sy boerdery hier op aarde gaan steeds voort. En hierdie keer gaan dit ’n goeie wingerd wees; een wat so baie vrug oplewer dat ’n mens net daaroor kan sing. Die Here sal self hiervoor sorg. Hy sal genoeg water verskaf om sy wingerd nat te lei. En ook dag en nag wagstaan sodat niemand sy vrugte kan beskadig of steel nie. Niemand sal toegelaat word om onkruid in die wingerd te saai nie. Want God sal self al sy druiwestokke oppas.

      Ons wat in Christus glo, is nou deel van hierdie nuwe wingerd van God. Jesus is die ware Wynstok en ons almal is die lote (Joh 15). Solank ons in Hom bly, vloei sy lewegewende krag deur ons almal. Dan is daar lewe in oorvloed. En vrug. Dan verheerlik ons God in al die vrugte wat ons dra. Dan kan ander ook van hierdie vrug tot sy eer geniet.

      God plant graag mense oor in sy wingerd en beskerm hulle daar. Hy omring hulle met al sy goedheid en sorg. Soos ’n trotse eienaar sorg Hy dat die beste oes uit hulle lewe voortspruit.

      Here, gee dat ons almal wat in Christus glo, ’n goeie oes sal oplewer tot die eer van u Naam.

      19 JANUARIE Lees Spreuke 10:11-20

      God se mense praat anders

      Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk … (11).

      Mense wat wysheid het, dink altyd voor hulle praat of doen. Hulle is God se soort mense wat altyd eers dink wat die implikasies van hulle woorde en dade vir hulleself en vir ander sal wees. As hulle besef hulle gaan God se saak of ander mense benadeel deur hulle dade, doen hulle dit eenvoudig nie. Want hulle moet altyd God se eer en ander mense se belange eerste stel.

      Dit is wat Jesus van ons almal verwag. Sy soort mense is diensknegte, voetwassers en plekaanwysers. Hulle forseer nie hulle wil tot elke prys op ander af nie, veral nie as hulle optrede mense kan benadeel nie. Dan soek hulle eerder ander, meer geskikte maniere om hulle probleme op te los.

      Wyse mense laat nie dom en onbesonne woorde oor hulle lippe glip nie. Hulle woorde verander mense se lewe. Dit bring hoop waar wanhoop koning kraai. Dit bring nuwe lewe te midde van doodsheid. Daarom luister mense graag na die raad van wyse mense.

      Luister mense as jy praat, of ignoreer almal jou? Miskien moet jy jou dwase woorde inruil vir nuwe woorde – die Here s’n.

      Here, help my om wyse woorde te praat.

      20 JANUARIE Lees 1 Konings 9:1-9

      Leef konsekwent op God se pad

      “Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het sodat my Naam altyd daar sal wees” (3).

      Uiteindelik is Salomo se tempel en paleis kant en klaar gebou. Hierna het die Here nog ’n slag aan Salomo verskyn en beloof dat Hy sy gebede verhoor het. Tog het die Here ook ’n ernstige waarskuwing aan hom gerig dat as die volk ongehoorsaam aan Hom is, hulle almal weggedryf sal word uit die land. Groot rampe sal hulle tref en al die omringende volke sal met Israel die spot dryf. Die Here is heilig. Hy laat nie toe dat mense ’n bespotting van sy Naam maak nie. Ja, God is genadig en goed. Hy beloof sy seën en beskerming aan diegene wat naby aan Hom loop. Maar diegene wat dink dat hulle God kan vasvang in geboue, rituele en tradisies, maak die fout van hulle lewe. Hulle gaan tweede kom.

      Leef jy partykeer naby aan die Here, net om ander kere weer op ver paaie rond te dwaal? Wanneer jy bid, Bybel lees of tussen ander gelowiges is, is jy geestelik op koers, maar tussen jou kollegas en vriende is jy dikwels ’n ander mens. Kom ons erken dit nou maar: Ons almal trap soms in hierdie slaggat. Partykeer is ons dapper gelowiges wat in die voorste loopgrawe saam met ons Here loop, net om ander kere weer lelik uit die geestelike bus te val. Die oplossing? ’n Nuwe lewe, ’n lewe wat van A tot Z geleef word in gehoorsaamheid aan God. Ja, vandag en elke ander dag moet ons vir God ja sê en ja doen. Dit moet ons leefstyl wees.

      Leer my om konsekwent op u pad te leef, Here.

      21 JANUARIE Lees 1 Korintiërs 15:53

      Op pad na God se nuwe wêreld

      Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word … (53).

      Onthou jy nog die eerste Russiese ruimtevaarder Joeri Gagarin? Hy het gesê hy het toe nie God se woonplek daar in die ruimte raakgeloop nie. Die Bybel wil nie ons nuuskierigheid oor die lokaliteit van God se wêreld bevredig nie. Dit kan ook nie, want God woon in ’n ander bestaansfeer as ons. Sy adres is nie die een of ander planeet of sterrestelsel ’n klomp ligjare van ons af nie. Nee, God woon in ’n heeltemal ander dimensie wat nie vir die menslike oog waarneembaar is nie. Ons kan daarom nie die adres van die hemel aandui soos ons op ’n kaart vir iemand kan wys waar ’n plek soos Londen of Pretoria is nie.

      Ons vraag moenie wees “Waar is die hemel?” nie, maar: “Wie staan aan die stuur van sake in die hemel?” Hieroor is die Bybel baie duidelik: Die drie-enige God is daar aan die stuur. Vanuit sy hemelwoning heers die Almagtige oor alles wat ons kan sien, en ook oor dít wat ons nie kan sien nie.

      Wie gaan almal in die hemel bly? Jesus waarborg dat elkeen wat nie op hulle eie goeie werke staatmaak om gered te word nie, maar wat net aan Hom vashou, die ewige lewe as prys sal verkry. Volgens Paulus is ons hemelse burgers. Al wat nog moet gebeur, is dat God op die laaste dag aan ons elkeen ’n onsterflike liggaam gee wat God se heerlikheid weerkaats.

      Here Jesus, wat ’n toekoms het U vir ons moontlik gemaak!

      22 JANUARIE Lees Genesis 13:18

      Wees ’n vlagdraer vir God

      Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou (18).

      Abram moes God se grondgebied vir Hom gaan terugwen. Dit was sy roeping. Hy was daarom altyd die minste wanneer sy eie grond ter sprake was. Daarom dat Abram vir Lot die beste grond aangebied het toe hulle op ’n dag besef het dat die land waar hulle bly, te klein is vir al hulle vee. Abram wou immers nooit vir homself ’n koninkryk bou nie. Hy was die bouer van God se groot koninkryk.

      Abram het gou agtergekom dat die mense van die nuwe land waar hy besig was om God se grondgebied te herwin, nie die Here ken nie. Tog het God nie sy belofte aan Abram vergeet nie en hom weer eens belowe dat al die grond waarop sy voete tans val, eendag aan hom en aan sy nageslag sou behoort. Dit was God se troos aan sy dienaar wat die onbekende moes aandurf.

      Toe Abram in Mamre gaan bly het, het hy besluit om sommer dadelik daardie grond vir die Here op te eis deur