. . Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор:
Издательство:
Серия:
Жанр произведения:
Год издания:
isbn:
Скачать книгу
voor jou en rondom jou glad nie meer saak nie. Wanneer God by jou is, is jy altyd in die meerderheid. Dan wink die oorwinning en tel die gevare rondom jou hoegenaamd nie.

      Maak seker dat jy elke dag aan God se kant staan. Veg net in sy leër. Dra sy hemelse wapenrusting en staan sterk in die geveg. Die oorwinning is verseker. Jesus het die prys klaar betaal. Die uitslag van die geveg is reeds bekend. Moenie moed verloor nie. Bly op die voorpunt. Wees ’n vegter vir die saak van die Allerhoogste.

      Jesus, gee aan my die regte onderskeidingsvermoë.

      12 JANUARIE Lees Johannes 14:1-4

      God se huis is groot genoeg

      “In die huis van my Vader is daar baie woonplek” (2).

      Dis sleg om alleen te wees. Vra maar vir die dissipels. Terwyl hulle vir oulaas rondom Jesus sit hier kort voor sy kruisiging en na sy leringe luister, hoor hulle slegte nuus: Jesus gaan weg! Maar hierdie slegte nuus duur net een sinnetjie lank. Daarna volg die goeie nuus dat Jesus gaan plek maak vir al sy mense daar in sy Vader se hemelse woning. Wanneer daardie plekke gereed is, gaan Jesus terugkom om sy aardse eiendom te kom haal om vir ewig by Hom in die Vader se hemelse woning te bly.

      Jesus se goeie nuus is dat daar ruim woonplek in die hemel is. In God se hemelse woning is daar baie kamers, ook vir mense soos ek en jy. Vir ons wat voor Hom buig en aan sy verlossing vasklou, wag daar ’n nuwe woonplek in die hemel. Tans is ons woonplek daar nog onder konstruksie. Daarom leef ons nog. Maar eendag, wanneer ons blyplek in die hemel gereed is, kom haal Jesus ons. Dan neem Hy ons na ons ewige woonplek daar by Hom.

      Wat ’n vooruitsig! Wat ’n wonderlike nuwe adres om na uit te sien! Daarom weet ons dat dit nie sleg is dat Jesus weggegaan het nie. Hy moes weggaan om sy werk voort te sit daar in God se hemelse woonplek. Hy moes weggaan om ons permanente blyplek te berei.

      Here, ek sien uit na my nuwe hemelse adres.

      13 JANUARIE Lees 1 Samuel 3:1-18

      Luister as God praat

      “Praat, Here, u dienaar luister!” (10).

      Samuel beteken “van God afgesmeek”. Klein Samuel het grootgeword in die tempel van die Here. Tog het Samuel nog glad nie die Here geken nie, want Hy het Hom nog nie aan hierdie jong seun geopenbaar nie. Tot een nag, toe die Here skielik met Samuel kom praat het. God het na hom geroep, maar Samuel het gedink dit is Eli wat met hom praat. Toe dit ’n paar keer gebeur, het Eli besef dit is God self wat met Samuel praat. Hy het hom toe geleer hoe om te antwoord as God weer praat. Hierna het God weer na Samuel geroep, waarop Samuel hom tot beskikking van die Allerhoogste gestel het.

      In ’n tyd dat God se stem stil geword het en openbarings bitter skaars was in Israel, het die Here ’n jong seun uitgekies om sy stem te hoor. Dit is nie altyd die geleerdste mense wat deur God gekies word om sy stem te hoor nie. God is getrou. Hy stuur altyd op die regte tyd die regte mense vir sy werk.

      Kom ons vertrou die Here en bid soos nooit tevore nie dat Hy in hierdie tyd van geestelike armoede nuwe mense vir Hom na vore sal laat kom. Kom ons elkeen sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

      Here, maak my gehoorsaam aan u roeping.

      14 JANUARIE Lees Eksodus 20:1-17

      God se tien rigtingwysers

      “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het” (2).

      Die Tien Gebooie van God is die hart van alles wat Hy van ons vra. Dit is die rigtingwysers op die pad terug na God toe. Nee, dit is nie die manier hoe jy gered word nie. ’n Mens onderhou mos nie God se wet sodat Hy jou as sy kind moet aanvaar nie. Nee, omdat jy glo in sy Seun wat jou uit genade kom red het, onderhou jy die wet as die manier hoe jy aan God se wil voldoen. Jy hou ook die Tien Gebooie uit dankbaarheid. Met ander woorde, jy sê elke dag met jou dade van gehoorsaamheid vir God dankie vir sy reusegenade wat jou hele lewe van kop tot tone oorspoel het.

      God se Tien Gebooie is die stippellyne op die lewenspad wat vir jou wys aan watter kant van die pad jy elke dag moet leef. Dit sê vir jou watter soort dinge God se hart bly maak en watter nie. Die Tien Gebooie is die geheim vir ’n gelukkige lewe; dit is die koersaanduiders vir ’n sterk geestelike fondament.

      Wanneer jy die Tien Gebooie gehoorsaam, verander dit meteens al die verhoudings waarin jy staan. Byvoorbeeld, wanneer jy elke dag kies om jou huwelik heilig te hou (v 14), dan is jou verhouding met jou vrou of man die belangrikste van alle aardse verhoudings. Dan werk jy gereeld hieraan. Dan groei jou liefde elke dag vir jou huweliksmaat. En dan word God hierdeur geëer.

      Onderhou vandag die Tien Gebooie. Dan word God se Naam verheerlik.

      Here, leer my om al u gebooie te onderhou. Om Jesus wil.

      15 JANUARIE Lees 2 Samuel 9:1-13

      God se mense leef relevant

      “… ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa” (7).

      Vandag se mense leef en dink anders. Navorsers sê dat die sogenaamde “X- en Y-generasies” wat sedert 1970 gebore is, nie meer vorige geslagte se idees en drome deel nie. Om nie eens van die Millennials te praat nie! Hierdie nuwe geslagte is meer individualisties en vrydenkend. Hulle aanvaar nie alles wat hulle hoor nie. Wanneer ’n bepaalde instelling, soos die kerk, hulle dus nie aanstaan nie, bly hulle weg.

      Watter wonderlike geleentheid vir die kerk om weer Bybelse waardes aan hierdie geslagte voor te hou en uit te leef; om soos ’n Dawid van ouds vir hulle te wys dat jy vir hulle en hulle kinders omgee! Die kerk het so ’n ongelooflike verhaal om te vertel en uit te leef – die verhaal van Christus wat aarde toe gekom het om mense se groot seerkry te kom heelmaak. Sy absolute liefde en opoffering; sy deernis met almal wat swaar kry; sy afkeer van dooie godsdienstige instellings; sy onvoorwaardelike liefde vir sy Vader; die verlossing wat Hy bring vir soekende mense is juis die dinge waarna vandag se generasies op soek is.

      Kom ons word lewende preke vir die generasies wat na God smag.

      Here, help ons om relevant te leef tot u eer.

      16 JANUARIE Lees Genesis 5:24

      Wandel met God

      Henog het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem (24).

      Om met God te wandel – is dit ook jou begeerte? Smag jy na ’n dieper en meer opregte verhouding met die Here? Wil jy nog meer bewus wees van sy teenwoordigheid in jou lewe? En van sy groot krag in al jou woorde en dade? Smag jy na ’n groter belewenis van God se liefde, na meer gebedsverhorings, na ware innerlike vrede? Wel, dan moet jy maar net naby aan God loop – soos Henog.

      Henog het elke dag saam met God gewandel. Hy was altyd op God se voetspoor. Ja, so naby was Henog aan sy Heer dat hy duidelik kon sien waar die hemelse voetspore elke tree val. Hy kon die fluistering van die Allerhoogste se stem duidelik onderskei van al die klanke en geraas rondom hom.

      Kom leer vandag by Henog. Leer soos hy om elke dag naby aan God te bly. Begin elke dag aan God se voete en eindig elke aand weer daar. Bid dat die Here ook die res van die dag saam met jou sal loop. Stap jy dan maar net elke dag daar waarheen die Here jou lei. Leer om in pas met Hom te stap, nooit andersom nie. Moenie probeer om God by al jou skemas en plannetjies te laat aanpas nie. Val jy maar net in by God se dagbeplanner; by sy kalender!

      Onthou, dit is ’n lewenslange oefening om saam met God te loop. En dit gebeur een dag op ’n slag. Wees geduldig en volhard maar net vandag op hierdie pad. God sal vir môre en oormôre sorg!

      Here, leer my om in pas met U te bly. Om Christus wil!

      17 JANUARIE Lees Eksodus 24:12-18

      Bergop, na God toe

      “Klim nou die berg verder uit na My toe …” (12).

      Op ’n dag het God weer vir Moses