'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
God vergeef sonde. Dit beteken dat Hy dit ook vergeet omdat Hy dit in die diepsee gooi en nie weer daaraan terugdink nie (v 19). Anders as ons wat so sukkel om die slegte dinge te vergeet wat ander mense ons aangedoen het, vergeef en vergeet God. Hy ly aan geheueverlies as dit by verkeerde dinge kom wat voor Hom bely is. Daarom straf Hy nie mense wat hulle skuld in die Naam van Christus aan sy voete kom neersit het nie. Hy hou dit nie langer teen hulle nie.

      God dink nooit weer aan ons sondes terug nie. Wat ’n ongelooflike troos! Daarom jubel ons nogeens saam met Miga dat daar regtig nie nog ’n God soos ons God is nie. Die dooie gode van die nasies se priesters onthou sondes vir altyd en straf en pynig mense. Hulle onthou om swaar laste op hulle volgelinge se skouers te lê en mense gedurig in vrees voor hulle dooie afgodsbeelde te laat leef. Maar die lewende God is die God wat liefde bewys. Hy strooi hande vol genade uit (v 18-19). En Hy maak sonde tot niet deur dit te laat ophou. Hy self gryp in in die lewe van almal wat Hom dien. Hy self gooi hulle sondes in die diepsee en dink nooit weer daaraan terug nie. Juig hieroor en leef!

      Here Jesus, ek jubel omdat U sonde my vergeef en vergeet.

      7 JANUARIE Lees Psalm 16

      Wanneer God jou hele lewe word …

      Here, U is my lewe, U sorg vir my (5).

      Fokus op God! Laat sy grootheid jou gedagtes vul. Leer by Dawid in Psalm 16 hoe om dit te doen. Verklaar God tot die enigste Here van jou lewe én jou gedagtes (v 2). Die eerste stap tot ’n nuwe gedagtewêreld wat jou bevry van geestelike middelmatigheid, is om God elke dag as die Here van jou lewe te sien. Buig elke oggend voor Hom. Sê uit jou hart uit agter Dawid aan: “U alleen is my Here.” Net dit! Doen dit elke dag van vandag af.

      Fokus ook op God se seëninge in jou lewe (v 5-6). Begin om jou seëninge te tel, een vir een. Hou gedurig boek van klein stukkies hemelse genade: die vrolike gelag van jou kinders; ’n koppie stomende koffie saam met ’n goeie vriend; ’n heerlike nagrus; ’n hart vol vrede – tel al hierdie dinge elke aand in jou aandgebed op en laat jou beker van blydskap dan in lofprysing oorloop voor God. Prys Hom in ’n dankgebed. Sê oor en oor vir Hom dankie vir al sy seëninge.

      Leef daagliks in die ritme van lof en dank. Hou op om heeltyd saam met die klakouse te mymer oor al die lewenstorms wat rondom jou woed. Daardie spul trek jou net af in ’n put van negatiwiteit en donkerte. Breek weg hieruit. Laai voortdurend hemelse lof op jou lippe en laat dit oorspoel na jou doen en late. Juig en wees bly. Vier fees, want jy is die Here se spesiale eiendom. Jy is te kosbaar om in donkerte vasgevang te word.

      Here, vul my lewe elke dag met u grootheid.

      8 JANUARIE Lees 1 Johannes 3:1

      Kinders van God

      Hy noem ons kinders van God … (1).

      1 Johannes 3:1 is een van my gunstelingtekste in die Bybel. Dit het my teologie en my verstaan van God verander. Lees dit mooi. Dit sê dat God ons met ’n nuwe aanspreekvorm aanspreek. Hy noem ons toe glad nie sondaars, soos ons dikwels na onsself verwys, nie. Ook noem Hy ons nie “begenadigde sondaars” nie.

      God sê dat ons sy kinders is. Dis sy gunsteling-aanspreekvorm vir ons. Die Nuwe Testament ken ook ’n paar ander, soos heiliges, geliefdes en geroepenes, maar die woorde “kinders van God” is waarmee God se aardse familielede keer op keer aangespreek word. Watter wonderlike woorde uit die mond van God! Watter vreugdevolle nuus dat God nie so min van sy eie handewerk dink soos party van sy kinders wat na hulleself as sondaars verwys nie. Nooit praat God só oor ons wat gered is nie! Ons is sy kinders, sy mense, sy vrygespreektes.

      Kinders van God moet leef soos kinders van die Koning van die heelal. Ons is sy handewerk, sy eiendomsvolk, sy spesiale mense. Ons weerkaats sy glorie, sy eer en sy majesteit.

      Ons is lewende advertensieborde vir sy herskeppingskrag. Ons is die Here se mense. Kom ons wys dit vandag.

      Here, wat ’n wonderwerk dat U my u kind noem. Dankie!

      9 JANUARIE Lees Genesis 1:1, 26-31

      Ek is die meesterwerk van my Skepper

      In die begin het God die hemel en die aarde geskep (1).

      Op ’n dag, iewers ver in die verlede, het God sy hemelse doek oopgerol en hemel en aarde kunstig aanmekaar begin weef. Een meesterwerk na die ander uit die hand van God het gevolg. Tot op die sesde dag. Toe het God sy grootste meesterwerk ooit neergesit: die mens! Dit was die hoogtepunt van alles. So trots was God op sy laaste en beste kunswerk dat Hy daar en dan ophou skep het.

      God het sy allerbeste skeppingswerk vir heel laaste gelos. Nadat Hy die mens gemaak het, het Hy besluit om vir altyd te rus. Op die koop toe het God besluit om vir die mens ’n spesiale rusdag opsy te sit om saam met Hom fees te vier oor sy skepping.

      Ek en jy is die kroon van God se skepping, die heel beste wat Hy ooit gemaak het. Ongelukkig het die sonde later ’n klompie lelike krapmerke op ons almal gelaat. Maar die goeie nuus is dat God dit vandag nog met sy uitveër van genade kan uitvee. Hy kan ons herstel tot handewerk waarop Hy van voor af trots kan wees. Ten spyte van al ons foute, gee God vir ons ’n tweede kans.

      Daarom moet jy vandag haastig padgee uit die wind en die weer van die sonde en jou plekkie in sy kunsgalery kom inneem. Want God hou ook vir jóú plek daar by Hom as een van sy spesiale skeppings. Laat toe dat Hy vandag al die krapmerke van die sonde in jou lewe verwyder. Lyk asseblief weer soos ’n hemelse meesterwerk!

      Here, verwyder asseblief die krapmerke van sonde uit my lewe. Om Christus wil.

      10 JANUARIE Lees Esra 7:11-28

      God gebruik mense sonder dat hulle dit weet

      Esra het toe gesê: “Geloof sy die Here, die God van ons voorvaders!” (27).

      God het die mag om mense se harte te verander. Daarom dat Hy die Persiese koning, Artasasta, se hart sag gemaak het teenoor Esra. Trouens, hy het vir Esra ’n oop deur in Jerusalem gegee om sy werk daar te gaan doen. Dit is eintlik ongelooflik om te dink dat ’n heidense koning bereid was om sover te gaan om iemand soos Esra al hierdie mag te gee om vir sy God te gaan werk. Hoekom het Artasasta dit gedoen? Wel, ’n mens sou kon sê dat hy ’n wyse heerser was wat al sy onderdane die nodige vryheid wou bied om hulle eie godsdiens in stand te hou. Of dat hy ’n goeie diplomaat was. Maar die eintlike rede is dat God in die koning se hart gewerk het om vir Esra Jerusalem toe te laat gaan.

      God kan selfs mense in hoë posisies sagte harte vir sy werk gee. Hy kan mense in ’n oogwink onderstebo loop en begin gebruik in sy diens hier op aarde, selfs al besef hulle nie mooi waaroor dit regtig gaan nie.

      Esra het besef hoe ongelooflik genadig God is om hom na Israel toe terug te stuur. Daarom kon hy God net loof en prys. Hy kon God se hand agter al hierdie dinge raaksien. Jy moet ook vandag mooi rondom jou kyk, dan sal jy sien hoe God mense gebruik sonder dat hulle dit self eens besef. Wanneer jy dit raaksien, moet jy soos Esra maak en God daaroor eer. Dan weet jy Hy staan aan die roer.

      Here, gebruik asseblief baie mense vandag in u diens, ook al weet hulle dit nie. Om Jesus wil.

      11 JANUARIE Lees 2 Kronieke 13:1-22

      Oorwinning kom uit God se hand

      Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee (16).

      Oorlog tussen broers – dis die hartseer verhaal van 2 Kronieke 13. Ná die tragiese skeuring van die ryk van Israel was oorlog onvermydelik. Die nuwe koning van Juda, Abia, het Jerobeam van Israel aangedurf. Abia het 400 000 man na die oorlog gestuur, teenoor Jerobeam se 800 000 man. Maar God was by Abia. Toe hy en sy soldate omsingel is deur Jerobeam se troepe, het hulle ’n oorlogskreet aangehef en met God se krag meer as 500 000 soldate van die tien stamme van Israel laat sneuwel. Op hierdie manier is Jerobeam se mag dramaties ingekort.

      Hoekom het Abia die oorwinning behaal? Ongetwyfeld omdat God daardie dag die aanvoerder van sy leër was en nie hy self nie. God is ’n groot kryger. Wanneer Hy dus die