'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
burgers wat voor die Here moet buig nie, maar ook die owerhede. Gemeenskapsleiers en politieke leiers moet ook God se gesag oor hulle lewe erken. Maar ons moenie die verantwoordelikheid net aan hulle oorlaat om ’n Christelike samelewing te probeer skep nie. Nee, dit is in die eerste plek ons roeping as gelowiges.

      Dink maar aan iets soos godsdiensonderrig op skool: Te lank het ouers hulle plig versuim deur nie hulle kinders te onderrig in die Here se Woord nie. Dit is mos makliker om van die skool of die kerk te verwag om dit te doen. Hulle betaal immers skoolgeld en gee hulle bydraes aan die kerk!

      Natuurlik het die kerk en die skool ’n plig om kinders in die vrees van die Here op te voed, maar dit mag nooit godsdiensopvoeding in ouerhuise vervang nie. Die Here roep ouers in die eerste plek op om vir hulle kinders voorbeelde van toewyding aan Hom te wees. Om as familie die Here saam te dien, moet so natuurlik wees soos om elke dag te eet en te slaap. Ouerhuise moet veilige hawens wees waar die Here se Woord geken, gelees en beleef word!

      Here, maak ons huise die plek waar U gedien word.

      22 MAART Lees Spreuke 22:1

      Leef eervol

      ’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom … (1).

      ’n Wyse mens weet dat hier op aarde, waar diewe inbreek en steel en ouderdom alles laat verweer, niks vir ewig hou nie. Die duurste meubels word oud en die mooiste motors verloor later hulle glans. Maar iets wat vir altyd bly bestaan, is die Here se wysheid. As jy bereid is om dit elke dag uit te leef, leef jy eervol. Dan is jou lewe versier met kalmte en vrede. Dan stroom wyse woorde gedurig oor jou lippe en stille krag vanuit jou binneste.

      As jy wysheid het, weet jy dat ’n goeie naam al is wat jy het. Jou integriteit as ’n man of vrou van die Woord is van onskatbare waarde. Vergeet daarom van geld – dit sal vergaan. Vergeet van roem – môre is vandag se helde oud en vergete. Moenie agter sukses aanhardloop nie – dit hou net vir ’n kort tydjie. Maar kies vir eer voor God en nie mense. Moenie jou eie beuel probeer blaas en jou eie eer soek nie. Streef daarna om God te eer en om ander met groot respek te behandel. Dan sal almal jou op hulle beurt as ’n eerbare mens behandel.

      Leef jy eervol? Of tel jy ook onder diegene wie se godsdiens net Sondae werk, terwyl jy die res van die week jou eie ding doen? Nou ja, stop dit sommer nou dadelik.

      Here, laat my in eer voor U en voor ander leef.

      23 MAART Lees Spreuke 23:1-8

      Moenie geld se slaaf wees nie

      Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie (4).

      Wat gebeur tans in jou lewe? Werk jy jouself flou om ’n goeie toekoms vir jou gesin te verseker? Al jou pogings gaan waarskynlik geen vrugte afwerp nie. As jy ’n werkverslaafde is, is jy tog al lankal ’n vreemdeling vir jou eie mense. Al wat dan nog tel, is werk en geld! En wat help dit as jy almal naby aan jou verloor het? Daar is geen waarborg dat geld kitsgeluk of sukses waarborg nie. In elk geval, as jy ’n geldslaaf is, sal geen hoeveelheid geld ooit genoeg vir jou wees nie.

      Dit is nie verkeerd om geld te maak nie, maar daar is fout as jy geld se slaaf word. Geld is ’n harde baas en uiteindelik beroof dit jou van jou gesondheid, jou vreugde, jou gesin en jouself … Hou daarom dadelik op om jouself so vir blink goed af te sloof. Jy gaan ’n hand vol wind vang as dit jou enigste ambisie in die lewe is. Boonop gaan jy God ook nog verloor. Dit is nie ydele woorde nie. Wil jy regtig alles verloor, net omdat geld en besittings jou baas is?

      Kies opnuut om saam met God te loop. Dan is jy op koers. Stel jou besittings in sy diens en jy sal altyd meer as genoeg hê.

      Here, leer my om nie ’n geldslaaf te wees nie.

      24 MAART Lees Spreuke 25:27-28

      Bly kalm, wees op jou plek!

      Om te veel heuning te eet, is nie goed nie, ook nie om eer te bly soek nie (27).

      Wanneer jy jouself trommeldik eet aan lekkernye, weet jy wat die gevolge gaan wees: ’n seer maag en ’n groot naarheid. Wel, wanneer jy te veel aandag soek en gedurig in die kollig wil wees, moet jy ook pyn te wagte wees. Jy gaan siek word vir jouself! Jy gaan te vol van jouself raak en dink jy is die middelpunt van die heelal terwyl jy inderwaarheid maar net ’n klein spikkeltjie iewers langs die kantlyn van die lewe is. Moet dus nie gedurig aandag soek en vis vir komplimente nie. Moenie so verskriklik afhanklik wees van die erkenning van ander nie. Doen jou eie ding. Wees jou eie mens. Buig voor die Here en laat Hy die belangrikste in jou lewe wees.

      By die Here leer jy die wonderlikste dinge. As jy bereid is om voor Hom te buig, bedaar die onrus in jou gemoed. Dan kom daar ’n kalm selfbeheersing en rustigheid oor jou wat jou lewe op ’n vaste koers plaas. Dan sal jy nie meer so impulsief optree nie en eers dink voor jy iets doen.

      Moenie van vroeg tot laat rondskarrel nie. Kom tot rus. Vind vrede aan die voete van die Heer. Buig in stilte voor Hom neer.

      Here, laat my rus vind vir my siel aan u voete.

      25 MAART Lees Spreuke 26:1-6

      Gee die regte antwoord

      Moenie ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier beantwoord nie (4).

      Weerspreek die skrywer van Spreuke homself hier in vers 4 en 5? In vers 4 hoor ons dat ’n mens nie ’n dwaas na sy domheid moet antwoord nie, maar in vers 5 lees ons dat jy juis ’n dwaas op sy eie dom manier moet antwoord. Hoe op dees aarde werk dit?

      Die skrywer het baie goed geweet wat hy doen toe hy hierdie twee verse rug teen rug geplaas het. Hy wou die punt helder en duidelik maak dat wyses weet hoe om verskillende situasies te lees. Hulle weet wanneer om te praat en wanneer nie. Nog meer, hulle weet wat om vir wie te sê.

      Hoe weet ’n mens wanneer om te praat en wanneer nie? Wel, dit is hier waar wysheid inkom. Van jou kant af moet jy jou tong elke dag aan die Here gee en Hom vra om jou te leer om dit reg te gebruik. Los dan die res oor aan Hom. Vertrou die Here met elke woord van jou. Wanneer jy in ’n situasie beland waar jy nie weet wat om te sê nie, bid ’n vinnige skietgebedjie om hemelse wysheid. Hierna sê jy jou sê! Of jy hou jou mond!

      Smeek die Here om wysheid. Vra dat Hy jou tong sal afrig. Pleit by Hom dat Hy jou altyd die regte woorde op die regte tyd sal gee.

      Grote God, ek smeek U: neem my tong in u diens.

      26 MAART Lees Spreuke 27:1

      Leef eers vandag voordat jy na môre kyk

      Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie (1).

      God gee lewe in “een dag op ’n slag”-porsies weg. Nooit waarborg Hy vyf jaar of tien jaar se lewe vooruit nie. Nee, Hy gee net vandag se stukkie sonskyn, reën en lewe. Môre s’n moet wag totdat môre aangebreek het. Vergeet dus ’n slag van môre. Daaroor besluit God!

      As jou lewe vandag nie lekker of opwindend is nie, kan jy iets doen om dit op te vrolik. Moenie wag dat ander mense dit vir jou doen nie. Moet ook nie dink die lewe skuld jou iets nie. Dan gaan jy jou lewe lank met ’n lang gesig rondloop. Nee, waag dit om vandag ’n feesdag te maak. Vier nou ’n stukkie vreugde oor ’n koppie koffie saam met vriende en familie. Maak vandag tyd vir jou kinders en jou huweliksmaat. Laat staan ’n paar van jou afsprake; kanselleer ’n paar vervelige vergaderings.

      Begin leef, want jy het net vandag tot jou beskikking om dit te doen. Slegs as God wil, sal jy môre die son sien. Maar dit is nog ’n hele dagreis verder se toekomsmusiek. Leef nou voluit. Maak vandag die moeite werd en vertrou die Here met die dag van môre. Net Hy hou die sleutels van die toekoms vas. Net Hy kan sê of jy môre die son gaan sien opkom, of nie.

      Here, dankie dat ek vandag voluit mag leef.

      27 MAART Lees Spreuke 27:17

      Vriendskap kan goeie raad en vermanings aanvaar

      Yster