'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
dankie dat U my leer om versigtig te leef!

      15 MAART Lees Spreuke 14:23

      Aanvaar verantwoordelikheid vir jou eie lewe

      Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek (23).

      Die Spreukeboek skryf armoede dikwels toe aan mense se luiheid. Daar is ’n groot waarheid in hierdie siening opgesluit. Te veel mense droom dagdrome oor groot rykdom wat nog op pad is, maar hulle verroer nooit ’n vinger om uitvoering aan hulle drome te gee nie. Dit is maklik om planne te maak en lugkastele te bou, maar selfs die beste plan ter wêreld bly maar net so groot soos daardie paar breinselle wat dit uitgedink het as dit nie tot dade oorgaan nie.

      Harde werk is die sleutel tot sukses. So sê Spreuke. Sonder toewyding en die nodige sweet en trane is drome op die ou end maar net leë drome. Moenie dwaas optree nie. Werk hard. Dan sal daar altyd genoeg kos op jou tafel wees en genoeg komberse om warmte te verskaf.

      Bid ook dat God aan jou die nodige gesondheid sal skenk sodat jy luiheid met ’n goeie dosis fluksheid kan koudsit. Gee aan die Here die eer as jy elke dag ’n goeie dag se werk agter die blad het as tuisteskepper of as ambagsman; as kantoorwerker of onderwyser. Deur sy genade kom jy dan jou roeping na!

      Christus, aan U al die dank dat ek elke dag kan werk.

      16 MAART Lees Spreuke 15:1-4

      Koel jou woorde af

      ’n Sagte antwoord laat woede bedaar … (1).

      Woorde is wapens. So het ons al ’n paar maal in Spreuke gesien. Ons woorde is wapens van vrede, of wapens van vernietiging. Wanneer jy die Here se soort taal praat, gebruik jy opbouende woorde wat ’n verskil maak aan ander se lewe. Dan is jou tong nie meer ’n dodelike wapen wat ander stukkend kerf nie, maar ’n instrument van vrede. Kies daarom jou woorde versigtig.

      Bly partymaal stil, al weet jy jy is reg. Soms “praat” jy juis die Here se soort taal wanneer jy stilbly. Moenie ander mense boelie met jou kwaai woorde en hulle vriendskap in die proses verloor nie. Gaan ook altyd eerlik met die waarheid om. Moenie noodleuens vertel om uit ’n verleentheid te kom nie.

      Bou ander op met jou woorde. Laat jou woorde soos ’n borrelende fontein wees wat mense bemoedig en op die regte pad hou. Wanneer almal rondom jou afbrekende, moedelose taal gebruik, moet jy sorg dat jy die taal van hoop op jou lippe het. Dan moet jou taal ’n lig in die donker wees; strelende salf vir ander se wonde.

      Praat van nou af die Here se soort taal met ander. Hou elke dag aan met oefen totdat jy dit regkry!

      Here, bind ons met u liefdesbande saam.

      17 MAART Lees Spreuke 15:16-17

      ’n Bietjie is soms beter as baie

      Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor (16).

      Die samelewing se skroewe is vinnig besig om uit te val. Links en regs is onskuldige mense die slagoffers van misdaad, korrupsie en uitbuitery – sonder dat te veel hane daaroor kraai. Ons moderne wêreld word by die dag ouer en net nog meer stukkend. Die oplossing: Terug na ’n eenvoudige leefstyl waar mense tevrede is met wat hulle het. Wanneer mense weer die moed het om hulle hand in God se sterk hand te sit en Hom onvoorwaardelik te vertrou, sal die wêreld weer gesond word.

      Spreuke leer ons juis vandag hierdie groot lewensles. Geluk kom nie net in oorvloed en in oordaad nie, maar ook in klein dosisse. Daarom kan ons gelukkig wees, al besit ons nie baie nie. Want die Here is ons rots. Hy is ons veilige vesting in die dag van nood. Kom ons bid dat die Here ons sal leer om regtig tevrede te wees. Kom ons wys met ons woorde en dade dat ons vrede het met wat ons het. Dan wen wysheid en word God opnuut verheerlik. Dan gaan ons geestelik vinnig vooruit.

      Here, maak my tevrede met wat ek vandag het.

      18 MAART Lees Spreuke 16:18-19

      Leef nederig

      Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val (18).

      Die groot gevaar in ons dag is hoogmoed. God haat hoogmoedige mense. Hy hou net mooi niks van diegene wat so groot is in hulle eie oë dat hulle dink alles en almal moet voor hulle buig nie. Dalk ken jy ook sulke mense. Hulle praat gedurig oor hulleself en laat jou gou-gou verstaan hoe goed, belangrik, ryk, slim, sterk, vernaam, bekend, gewild, geleerd, kundig, oulik … hulle is. Hierdeur gee hulle nie net aanstoot aan ander nie, maar ook aan die Here. Hoekom? Wel, sulke mense buig nie voor Hom nie. Hulle ego is so groot dat daar nie nog plek oor is in hulle lewe vir die lewende Here nie. Daarom spot hulle dikwels met God, want hulle is mos nie bang vir Hom nie. Nee, daarvoor is hulle veels te groot in hulle eie oë.

      God stamp hoogmoedige mense van hulle selfgemaakte troontjies af. Hy laat hulle struikel omdat hulle in sy pad staan. Eet eerder ’n stukkie brood in eenvoud saam met ander wat die Here vrees, as saam met rykes wie se tafels kreun van die oorvloed, maar wat geen respek vir die Here het nie.

      Leef nederig en skaar jou by die nederiges.

      Leer my om nederig te wees. In Jesus se Naam.

      19 MAART Lees Spreuke 17:22

      Leef jouself gesond

      ’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput (22).

      “Lag en almal lag saam, huil en jy huil alleen.” Nogal ’n waar spreekwoord, nè! Net soos antibiotika en hoofpynpoeiers is lag ook medisyne. Vra maar vir navorsers wat op hierdie terrein navorsing doen. Ongelukkig vergeet ons dikwels om die voorskrif vir vreugde by die regte Adres te kom afhaal. Mense wat lag, is gesonder as mense wat altyd terneergedruk is.

      Hoe gereeld lag jy? Maak jy tyd vir humor en vrolikheid in jou lewe, of dra jy die wêreld se probleme op jou skouers? Bekommer jy jou so oor jouself, jou familie, die ekonomie, die kerk, die werk, sport, en wat nog alles, dat jy nie tyd het om te glimlag nie? Trek jy ellende en bekommernis aan soos ’n kers motte aantrek? Wel, hier is die oplossing, direk uit God se skool van wysheid: Hou op om jou te bekommer! Lag ’n slag. Raak vrolik.

      Skep doelbewus geleenthede vir vreugde. Lag saam met vriende oor al julle kaskenades op skool of op universiteit. Vertel vir jou kinders of familie van jou grootste verleenthede, en lag lekker saam hieroor. Moenie die lewe te ernstig opneem nie. Die Here wil hê jy moet ligvoets hierdeur gaan.

      Lewende Heer, dankie dat U my leer lag!

      20 MAART Lees Spreuke 19:23

      Slaap veilig vanaand

      Wie die Here dien, se lewe is veilig; so ’n mens slaap rustig … (23).

      Slaap jy goed? Of laat jou probleme en vrese jou baie nagte rondrol? Dan moet jy iets daaraan doen. Jy moet sorg dat jou geloof ’n verskil maak aan jou manier van slaap, want die Here gun jou elke aand ’n goeie nagrus.

      Wanneer jy in ’n lewende verhouding met Christus staan, het dit nie net ’n impak op jou manier van leef terwyl jy wakker is nie, maar ook wanneer jy slaap. Bekommernisse hou ’n mens wakker; daarom moet jy leer om jou probleme aan God se voete neer te lê. As jy bereid is om Hom hiermee te vertrou, sal Hy aan jou die nodige wysheid gee om elke probleem, elke knik in die pad en elke krisis in jou lewe uit te sorteer terwyl jy bedags wakker is. Nee, Hy los dit sommer al vir jou op terwyl jy in die aand rustig slaap.

      As jy op God se pad van wysheid leef, dan het jou geloof elke dag en elke nag veel meer te make met jou slaappatrone as wat jy ooit kan droom(!). Daarom moet jy leer om die Here van vandag af te vertrou, selfs as jou oë toe is. Dan gaan jy vanaand ’n slag rustig slaap; môreaand ook.

      Here! Laat my in u arms rus.

      21 MAART Lees Spreuke 21:1

      Niemand is te belangrik om te buig nie

      Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here … (1).