'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
om van te leef.

      Die keuse is joune. Stel jy belang om Wysheid se ware te bekom? Terloops, dit is gratis. Vra maar net vir die Here om jou lewe te kroon met sy wysheid. Wysheid staan juis vandag langs jou lewenspad.

      Ek loof U, Here, dat u wysheid ook my pad gekruis het.

      9 MAART Lees Spreuke 9:1-6

      Nog ’n kans

      “Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!” (4).

      Wysheid is vandag weer aan die woord. Hierdie keer het sy egter ’n groot huis gebou wat stewig op sewe klippilare rus. Van hier af loop haar werkers oral rond met die uitnodiging dat mense in haar huis moet kom bly. Haar voedsel en drank gee lewe. Dit laat mense se dwaasheid soos mis voor die son verdwyn.

      Wysheid wink jou nader. Elke dag moet jy opnuut kies om op haar pad te kom stap. Dit is so maklik om die spoor byster te raak. Luister daarom mooi as een van Wysheid se werkers in jou omgewing praat. Jy loop hulle gewoonlik raak op Sondae in die kerk, of wanneer jy by ’n Bybelstudiegroep of selgroep betrokke is. Oral is die Here se boodskappers besig om namens die Here mense nader te wink na sy huis.

      Wil jy nie ook aanmeld as ’n werker in diens van die Here se wysheid nie? Bemeester dit eers self deur elke dag die Here te dien. Verkondig dit dan luidkeels deur ander op te roep tot gehoorsaamheid aan God se voorskrifte. Wees ’n voltydse werker in diens van die lewende God.

      Here, ek meld vandag aan as een van u werkers.

      10 MAART Lees Spreuke 9:13-18

      Oppas vir Dwaasheid se strikke

      Dwaasheid is soos ’n vrou wat luidrugtig bly klets … (13).

      Om wys te wees, moet daar dwase ook wees! Hoe anders ken jy wyse mense uit as jy nie mooi weet wie die opposisie is nie? Wel, Wysheid se opposisie is ook ’n vrou – Dwaasheid. Net soos Wysheid het sy ook ’n huis gebou en is sy besig met ’n reuse-bemarkingsveldtog. Luidrugtig nooi sy almal wat by haar huis se deur verbystap om haar ware te kom uittoets.

      Wat het Dwaasheid te bied? Slegte dinge, dwaasheid, gesteelde goedere, die dood self! Ja, Dwaasheid beloof hoop, maar sy gee wanhoop. Sy beloof oorvloed, maar haar slagoffers sterf van die honger. Sy vertel dat lewe op haar voorstoep te vinde is, maar sy deel net dood en vernietiging uit.

      Hoe tragies dat Dwaasheid so suksesvol is! Op elke straathoek van die lewe is haar slagoffers te sien wat hulpeloos en hooploos voortstrompel, al dieper die doderyk in! Jonk en oud trap in haar strikke. Oppas! Druk jou ore toe as Dwaasheid jou naam uitroep. Maak jou oë toe as jy haar iewers in jou omgewing sien. Vlug, want die dood skuil agter haar vals glimlag. Vernietiging kruip weg agter haar skynheilige aanbiedings. Skuil net by God. Dan is jy veilig.

      Laat my asseblief vlug voor elke dwaasheid, o God.

      11 MAART Lees Spreuke 11:9-13

      Moenie gate in ander se lewe praat nie

      Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit … (13).

      Oppas vir jou woorde. Die skade wat jou tong aan diegene rondom jou kan aanbring, is soms onherstelbaar groot. Dit laat dikwels permanente letsels op die lewe van vriende, familie en kollegas.

      Wanneer jy God se hand laat los, verander jou tong in ’n wapen van vernietiging. Dan begin jy om ander mense agter hulle rug te beskinder en te beswadder. Dan kan jy nie gou genoeg by jou vriende uitkom met die sappigste nuus oor iemand anders nie. In plaas daarvan dat jy ander in hulle afwesigheid beskerm, steek jy nog ’n mes of twee in hulle in. Moet dit asseblief nie doen nie! Gee jou tong elke dag vir die Here.

      Dink voor jy praat. Gebruik eers jou verstand voordat jy jou mond gebruik! Plaas ’n wag voor jou lippe. Keer dat dom of gevaarlike woorde uit jou mond ontsnap. Die Here verwag dit van jou. Dit is ’n wesenlike deel van jou godsdiens. Jou tong moet onder huisarres wees, onder permanente arres van die Here. Hy wil jou tong laai met lewende woorde; met die taal van hoop. Gee jou lippe daarom vandag aan Hom. Vertrou die Here om die regte woorde oor jou lippe te laat stroom.

      Here Jesus, plaas ’n hemelse wag voor my lippe.

      12 MAART Lees Spreuke 12:1-4

      ’n Leerbare gees is nodig

      Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang … (1).

      Op ’n dag sê ’n man voor Bybelstudie vir my dat hy dit net bywoon ter wille van sy gesin. Self hoef hy niks meer te leer nie, want hy is geestelik volwasse genoeg. Dit het my nogal diep laat nadink. Kan ’n mens ooit by ’n punt uitkom dat jy nie meer hoef te leer nie? Ek dink nie so nie.

      As jy geestelik wil groei, moet jy ’n leerbare gees hê. Dan moet jy altyd bereid wees om by ander te leer. ’n Mens is nooit te oud, te slim of te geleerd om nog iets te leer nie. Jy weet nooit alles nie. Inteendeel, hoe langer jy op God se pad stap, hoe meer besef jy hoe min jy weet.

      Voltydse studente in God se skool van wysheid sien die lewe as ’n groot leerskool. Kindertjies, slim professore, tuinwerkers, huisvroue, kelners, direkteure – ja, almal met wie hulle daagliks te doen het, is mentors, afrigters en leermeesters. Maar hierdie studente van wysheid wil veral by die Meester self, by Jesus Christus, kom leer. Aan sy voete is daar altyd nog plek vir iemand met ’n leerbare gees. By Hom bruis daar altyd strome van lewende water. Jesus het oorgenoeg brood vir elke hongerige en genoeg water vir elke dorstige. Kom sit daarom vandag aan sy voete.

      Here, maak my gewillig om te leer by ander en veral by U.

      13 MAART Lees Spreuke 13:1-3

      Praat ekonomies

      Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe … (3).

      Party kerkmense dink dat kwaadpraat, lelike taal, venynige woorde en ’n geskinder nie sulke “groot sondes” is soos owerspel of drankmisbruik nie. Talle kerkvergaderings is al gehou oor sosiale euwels, maar ons beskou dit nie as ’n ramp wanneer mense kwaadpraat en mekaar met hulle skerp tonge aan flarde skeur nie. Dan word kerklike sinodes nie byeengeroep nie. Tog word hierdie oortredings van “die mond” die heel meeste in die Bybel behandel.

      Die tong is ’n wapen wat die grootste vernietiging kan aanrig. Dit is soos ’n bol vuur wat binne-in jou mond rondhang. Spreuke vertel ook dat die woorde van ’n dwaas dodelik is. Jy het altyd ’n keuse of jy jou tong as ’n destruktiewe wapen wil gebruik – as ’n mes wat ander se lewe opkerf, of as ’n instrument van vrede. Jou tong skuif berge – elke dag! Die vraag is net of jy die regte soort berge in die regte rigting skuif.

      Kies daarom jou woorde versigtig. Dink altyd voor jy praat. Vang jou lelike en bitter woorde voordat hulle oor jou lippe ontsnap. Bly dus partykeer stil, al weet jy jy is reg.

      Drie-enige God, lei my vandag om u wil te doen.

      14 MAART Lees Spreuke 14:15

      Versigtig, versigtig!

      ’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee (15).

      Versigtigheid is die wagwoord van wyse mense. Dwase mense is voortvarend. Hulle praat maklik en doen oorhaastig sekere dinge, maar hulle deurdink nie die gevolge van hulle dade voor die tyd nie. Daarom dat hulle dwase dinge aanvang.

      As jy ’n student in die Here se skool van wysheid is, is elke tree wat jy gee ’n deurdagte een. Jy weet immers dat jy op die Here se pad stap. Op jou skouers rus die dure plig om wys en opreg te wees. Jy moet ’n voltydse advertensie wees van die Here se nuutmakende krag en goedheid. Jy moet sy liefde en genade weerkaats in alles wat jy sê, dink en doen. Daarom dink jy mooi voordat jy iets doen. Daarom oorweeg jy al jou opsies versigtig voordat jy optree, want dit is wat wysheid van jou vra. Dit is wat die Here van jou verwag.

      Luister versigtig na wat ander sê. Moenie te gou reageer met ’n ondeurdagte opinie nie. Dink eers rustig na oor alles wat gesê is. Kies jou woorde met oorleg. Loop versigtig, anders trap jy in die strikke van die dwase. Moenie dwaas