Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
klim in die bed, skud sy kussing reg. “Nee, maar as die blinde nie kan sien hy is in die bos nie, pla dit hom ook nie.”

      “Natuurlik pla dit hom. Dink jy hy geniet dit om in die selle toegesluit te wees?”

      “Dit pla hom nie genoeg om ons hulp te vra nie.” Hy skakel sy bedlamp af.

      “Jy is belaglik.” Sy trek die duvet oor haar en draai na die kant van die bed. As Roelof reg is, vra Liam dalk nooit vir hulp nie. En waar beland hy dan?

      Douvoordag jaag Althea se gedagtes haar op.

      Sy gaan maak koffie in die stil kombuis en sluit die deur oop wat na die agtertuin lei. Sê nou Roelof is reg? Sê nou Liam wil nie kliniek toe gaan nie?

      Sy trek vir haar ’n patiostoel uit en vou haar voete onder haar in. Kan sy Liam dwing? Hy het so ’n sterk wil van sy eie. Nog altyd gehad. Sal dit enigsins help om met hom kliniek toe te ry, net sodat hy kan weier om uit die motor te klim? Of erger nog, weghardloop.

      Só kinderagtig sal hy darem seker nie wees nie. Of sal hy?

      Te gou is haar koffiebeker leeg. Te vinnig word die skemer helder lig. Haar hart klop al swaarder van die gedagtes wat bly skommel. As Roelof net aan haar kant was, sou dinge soveel makliker gewees het.

      “En as jy nou hier buite sit, hartjie?”

      Haar moeder kan reeds deur ’n ring getrek word. Sy trek ’n stoel vir haar uit.

      “Ek kon nie slaap nie, Moeks.”

      “Is dit oor Liam se dinge?”

      Sy knik. “Dink Moeks ek maak ’n fout?”

      “Ek dink elke ouer doen wat hy glo die beste vir sy kind is. Jy ook.”

      “Roelof dink nie so nie.”

      “Ouers stem nie altyd saam oor wat die beste vir die kind is nie.”

      “Hoe weet ’n mens dan wie is reg?”

      “Sommige dinge leer net tyd jou.” Haar moeder staan op. “Aangesien jy nie haastig is nie, gaan sit ek gou bietjie oats-pap op die stoof. Jy is mos lief daarvoor.”

      Sy kyk haar moeder agterna. Hoe sy sonder dié vrou deur die lewe sou kom, weet sy eerlikwaar nie. Die vrou wat haar alleen grootgemaak het ná haar pa se dood toe sy net elf was. Wat aande om koekies vir die tuisnywerheid gebak het vir ekstra inkomste sodat sy verder kon studeer, totdat beursgeld daarvoor begin sorg het.

      Toe Roelof kom, het hulle plek gemaak vir hom. As hy haar wou hê, moes hy haar moeder ook vat – dit het sy duidelik gestel.

      Dit het nooit gelyk of dit hom pla nie. Veral nie toe die kin­ders kom en haar moeder inspring om te help te midde van hulle twee se besige skedules nie.

      Sy staan op. Sy moet seker gaan aantrek.

      In die badkamer staan Roelof voor die spieël en skeer. “Môre,” groet hy, sy oë meer genaakbaar as gisteraand.

      Ná sy gestort en aangetrek het, wonder sy of sy hom nie tog maar moet vra om saam te gaan hof toe nie. Sy bedink haar. Dit sal net nog ’n woordewisseling afgee. Hy sal tog nie van sy denkwyse afsien nie.

      Tydens ontbyt sê niemand ’n woord oor Liam nie. Dit grief Althea. Die spreekwoordelike olifant in die kamer wat almal ignoreer.

      Die GPS in haar Audi neem hulle reguit hof toe.

      “Is Moeks oukei?” vra sy ná wat soos duisend trappe op en af voel.

      “Ek is oukei.”

      Die staatsaanklaer is ’n heel inskiklike man. Hy verduidelik hoe hulle by die hof moet kom en sê hulle mag Liam wegneem sodra die landdros sy saak aangehoor het.

      Dit laat Althea se hart weer angstig klop. Sê nou Liam wil nie saam met haar gaan nie?

      Die hof is besig, die houtbanke waarheen hulle beduie word hard.

      Toe Liam se naam geroep word en hy met trappe van iewers uit die dieptes verskyn, krimp haar hart ineen. Haar seuns­kind. Haar mislukte poging tot ouerskap.

      Vrees en vernedering straal uit Liam toe hy na die beskuldig­debank stap. Althea neem haar moeder se hand vir troos. As Roelof tog net nou hulle kind kon sien!

      Die staatsaanklaer tree vorentoe. “Edelagbare, die staat gaan nie voort met die klag teen die beskuldigde nie. Gevolglik trek die staat die saak terug.”

      Liam se gesig helder dadelik op. Hy word beveel om te staan.

      Die landdros kyk op van die lêer wat voor hom lê. “Goed, meneer Laubscher, jy is vry om te gaan. Maar ek stel voor jy ruk jouself reg. Dis ’n skande om jou eie ouma se selfoon te steel vir dwelmgeld.”

      ’n Ligpienk blos slaan op Liam se nek en wange uit.

      “As jy nie jou lewe in orde kry nie,” gaan die landdros voort, “gaan daar dalk nie volgende keer genade vir jou wees nie.”

      Liam kyk af na sy hande en knik.

      Althea is dankbaar vir die landdros se voorspraak, gedagtig aan wat kom. Sy en haar moeder staan op, en toe Liam uit die beskuldigdebank tree, volg hy hulle deur toe. Hopelik sien sy die binnekant van hierdie plek nooit weer nie.

      “Dankie, Ma,” sê Liam toe hulle die menigte trappe aandurf om uit die hofgebou te kom.

      Sy kyk om na hom. Sy baard is lank en hy stink na ou sweet. Die vernedering en spanning van die afgelope tyd maak haar kwaad.

      “Jy moet vir jou ouma dankie sê. Dis sy wat die saak teruggetrek het.”

      “Dankie, Ouma.”

      Haar moeder knik woordeloos.

      “En terwyl jy besig is,” kom Althea op dreef, “sê ook sommer jammer vir jou ouma oor jy haar selfoon gesteel het.”

      “Los, Althea,” keer haar moeder. “Dis verby.”

      “Nee, Moeks.” Sy is ’n stoomtrein teen ’n afdraand. “Sê jy is jammer, Liam.”

      “Jammer, Ouma,” mompel hy.

      Die vuur in haar maak haar vreesloos. “Die enigste rede hoekom ons die saak teruggetrek het, is sodat ons jou na ’n rehabilitasiesentrum kan neem. Nou dadelik.”

      “Ma, ek . . .”

      “Moenie vir my Ma nie, Liam! Wil jy teruggaan tronk toe? Het jy gehoor wat die landdros gesê het?”

      Hy stry genadiglik nie verder nie.

      Stilte hang tussen hulle op pad kliniek toe, stem Althea bedaard teen die tyd dat hulle daar aankom.

      Die personeel is behulpsaam en verwelkom Liam vriendelik. Hy teken die vorms sonder teëstribbeling.

      “Nou word jy gesond,” sê Althea toe hulle groet. “Vir die mense wat vir jou lief is én vir jouself.”

      Hy kyk haar nie in die oë nie, knik net stom.

      Laatmiddag, met haar laaste pasiënt voor haar, blaai sy die patologieverslag deur. Sy byt ’n kragwoord terug en hou haar oë gefokus op die papier om tyd te wen. Nou moet sy op haar voete dink.

      Sy maak die lêer toe en kyk op, hou haar stem neutraal. “Die kanker het versprei na die lewer toe, tannie.”

      Nou wag sy vir die reaksie, wat sy teen hierdie tyd weet een van twee is: óf totale ontkenning óf totale uitmekaarval. En vir elkeen moet sy regstaan.

      “Wat is die volgende stap?” Sonder ’n traan.

      Ontkenning sal dit wees. Dit pas Althea.

      “Ek gaan tannie weer vir chemo stuur. Dan kyk ons hoe die kanker daarop reageer.”

      “Dis reg. Wanneer begin ons?”

      Sy sug verlig binnetoe. Die dapperheid van ’n vrou.

      Toe sy die deur agter tannie Van Rensburg toemaak,