Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу

      Sommige immigrante het as kinders nog hul moedertaal geleer, maar dit later in hul lewe verleer. Dié wat getrou het met vroue of mans wat reeds Engels was, het Engels makliker aangeneem as dié wat nog met taalgenote getrou het. Groot groepe immigrante het binne twee of drie geslagte met die Amerikaanse bevolking “geassimileer” geraak.

      Assimilasie is ’n term wat verskillende wetenskappe gebruik, maar alle gebruike hou verband met die Latynse werkwoord waarvan die woord afgelei is, nl. assimilare, wat “om gelyk te maak” beteken.

      Thomlinson onderskei drie stappe in die assimilasie van immigrante.[11] Die eerste is opneming in die ekonomie van die land, die tweede is biologiese samegroeiing deur ondertrouery en die derde is kulturele en sosiale assimilasie.

      Wanneer iemand die norme en waardes van die nuwe gemeenskap in so ’n mate aanvaar dat hy feitlik nes die ander lede daarvan optree, kan ’n mens sê dat hy geassimileer is. Immigrante wat nog met die taal sukkel, is nie volledig geassimileer nie.

      Die assimilasieproses kan só verloop dat ’n enkeling of groep in die samelewing van die nuwe land opgaan sonder om die kultuur enigsins te verander.

      Die kulture van die verskillende groepe kan ook met mekaar saamsmelt en ’n nuwe kultuur vorm wat elemente van albei het, maar ook van albei verskil.

      N.J. Rhoodie en C.F. Swart sê daar is ook ’n derde moontlikheid, nl. “kulturele pluralisme, wat nie die verdwyning nie van een van die twee kulture impliseer, maar (inhou) dat hulle langs mekaar bestaan en ontwikkel”.[12]

      Hierdie drie moontlikhede bestaan ook vir tale waarvan die sprekers in dieselfde gebied met mekaar in aanraking kom. Die tale kan vermeng raak sodat ’n nuwe taal ontstaan, die een taalgemeenskap kan die taal van die ander aanneem, of daar kan ’n min of meer stabiele twee- of meertalige situasie (die ekwivalent van “kulturele pluralisme”) ontstaan. Laat ons kortliks na elk van dié drie moontlikhede kyk.

      2.1 TAALVERMENGING

      In ’n taalkontaksituasie gebruik dieselfde mense verskillende tale – hulle is tweetalig (of meertalig) en praat die ander taal in sommige opsigte soos hul eie taal. So kan ’n Duitssprekende Engels “soos Duits” praat as hy sê: “He comes tomorrow home” omdat ’n mens dié woordvolgorde in Duits gebruik: “Er kommt Morgen nach Hause.”[13] So ’n taalgebruiker pas die norme van sy moedertaal op die ander taal toe, of anders gesê, die norme van sy moedertaalsisteem versteur die norme van sy tweede taal. Sulke taalversteurings kan alle aspekte van die taal raak: ’n mens kan woorde uit die moedertaal in die tweede taal gebruik, sekere klanke uitspreek soos klanke in jou moedertaal of die sintaktiese patrone van jou moedertaal in die tweede taal gebruik.[14]

      Ook die omgekeerde van die versteuring van die tweede taal kan plaasvind: taalgebruikers kan die norme van die tweede taal in hul moedertaal toepas. In die omgang sê baie Afrikaanstaliges dat iemand sy tale “mix” as hy baie uit Engels oorneem. Noorse immigrante in die VSA gebruik dieselfde uitdrukking: han mixer (“hy mix/meng”).[15]

      In ’n taalkontaksituasie is daar altyd versteurings in sowel die moedertaal as die tweede taal.

      Taalversteurings kan in so ’n groot mate en by soveel sprekers voorkom dat die karakter van een of albei tale kan verander. Die tale smelt saam of konvergeer. So ’n taal, wat die produk van menging is, is Tsonga. Dit het ontstaan uit ’n vermenging van Zoeloe met die inheemse Tsonga- en Tembe-tale van Mosambiek.

      E.B. van Wyk beskryf die geskiedenis as volg: “Gedurende die bewind van Shaka het ’n Zoeloe-generaal, Soshangana, na Mosambiek uitgewyk, waar hy die plaaslike Bantoes onderwerp en by sy gevolg geïnkorporeer het. Die oorspronklike Mosambiekse tale was waarskynlik verwant aan die Shona-tale van Rhodesië, maar as gevolg van die invloed van Zoeloe het ’n nuwe taalgroep ontstaan wat nóg Nguni nóg Shona is, hoewel dit ’n duidelike brug tussen dié twee taalgroepe vorm. Soshangana se mense is in Suid-Afrika ook bekend as die Sjangaans, ’n naam waarvan die herkoms duidelik is. ’n Deel van die stam het later as gevolg van interne struwelinge weggebreek en weswaarts uitgewyk, waar hulle hulle in Noord-Transvaal en die Oos-Transvaalse Laeveld gaan vestig het.”[16]

      Uriel Weinreich noem vier kriteria wat ’n mens kan help bepaal of daar ’n nuwe taal uit die kontak tussen twee tale ontstaan het of nie. Die eerste kriterium is die mate van verskil. Die twee tale wat in aanraking met mekaar kom, moet taamlik baie van mekaar en ook van die nuwe taal verskil voor ons kan sê dis regtig ’n nuwe taal. Verder moet die nuwe taal taamlik stabiele vorme hê, die sprekers moet dit vir ’n hele paar funksies kan gebruik en hulle moet dit self ook as ’n taal beskou.[17]

      ’n Taal kan derhalwe op twee maniere “sterf”: mense kan ophou om dit te praat, of dit kan so verander vanweë versteurings deur ’n ander taal dat dit in een of ander stadium ophou om “dieselfde” taal te wees as voorheen.

      2.2 TAALVERPLASING (TAALVERSKUIWING)

      Die proses waarvolgens ’n groep mense hul eie taal laat vaar en ’n nuwe taal aanneem, noem ons “taalverskuiwing” (’n direkte vertaling van “language shift”), “taalverplasing” (’n term van E.B. van Wyk), “taalverwisseling” (’n woord wat H. Rooseboom gebruik in sy vertaling van H. Vedder se geskiedenis van Suidwes-Afrika) of “taaloorname” (wat A.J.G. Oosthuizen gebruik in sy beskrywing van die akkulturasieproses aan die Rand).

      Taalverplasing hoef nie gepaard te gaan met kulturele of sosiale assimilasie nie. Dit word getoon deur ’n raaiselagtige geval van taalverplasing in Suider-Afrika.

      Die Damaras van SWA/Namibië noem hulleself “swart mense” (Nu Khoen). Dis ook die Namas se benaming vir hulle, terwyl die Herero’s van die “swart slawe” (Ovazoro) praat. Hierdie “swart mense” praat dieselfde taal as die “rooi mense”, soos hulle die Namas noem. Ondertrouery en sosiale vermenging het selde plaasgevind in die paar eeue wat verloop het nadat die Damaras die taal van die Namas aangeneem het.

      Waarom die Damaras die taal van die Namas aangeneem het, is onbekend. Dr. H. Vedder behandel in sy werk oor die voorgeskiedenis van Suidwes ’n paar gissings. Hy het onder die Damara in die Otavi-hoogland sowat ’n dosyn woorde opgeteken wat nie voorkom in Nama of ander tale van die gebied nie. B. Stuck het vasgestel dat hulle met woorde in die Soedantale verwant is.

      Na aanleiding daarvan wonder Vedder: “Is die verklaring miskien dat die rondtrekkende Namastamme op hul trektogte iewers in die binneland van Afrika uit die negerstamme bediendes verkry het, wat dan met hulle saam getrek het en geen lus gehad het om hul meesters, wat baie vee besit het, te verlaat nie omdat die kosvoorsiening by ’n ryk veebesitter altyd gewaarborg is? Het deur die verkeer met hul geel base miskien geleidelik in die loop van geslagte die eie taal vergeet geraak en het hulle nie miskien ná verloop van tyd die taal van die meesters aangeneem nie? As dit die oplossing van die raaisel is, dan het ons ook ’n verklaring van die feit dat die Bergdama sonder uitsondering die Nama-taal praat. Ook die opvallende verskil in liggaamsbou van hierdie swart ras, wat varieer tussen die suiwer neger-tipe en die fyn Herero-tipe kan ons dan verklaar. Ons het dan te doen met mense uit allerlei Afrikaanse stamme, wat in die loop van die eeue bediendes van die rondswerwende Hottentotte geword en dan by hulle gebly het. Ook sou dit ’n bietjie lig werp op die sonderlinge feit dat juis hierdie volk, wat onder die volke van Suidwes op die laagste trap van ontwikkeling staan, die kuns verstaan het om yster te smelt en te bewerk. Al die Bergdama het wel nie die kuns verstaan en beoefen nie, maar dit is ’n feit dat die Bergdama die eerste smede in Suidwes was. Het hulle nie hul bedrewenheid saamgebring uit die tuiste van die smede van Afrika, die noordelike gebiede, en het hulle nie die kuns wat hul meesters nie verstaan het nie, beoefen in diens van hul base omdat hul meesters die produkte (asgaaie en pylpunte) nodig gehad het nie?”[18]

      Hierdie verklaring is ’n maklike en bevredigende oplossing vir die raaisel van hul taalverwisseling, skryf Vedder, maar die geskiedenis van die Nama staaf nie hierdie veronderstelling nie. As die Bergdamaras saam met die Nama getrek het met hul koms na Suider-Afrika, sou daar in die ou berigte aanduidings gewees het dat daar by die Namas ’n swart volk was. Dergelike mededelinge bestaan