Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
verloop van ’n taalstryd is duideliker as ’n mens let op die oogmerke wat lede van taalbewegings en taalhandhawingsveldtogte het:

      (i) Die leiers probeer om ander lede van die taalgemeenskap, veral dié in toonaangewende posisies, bewus te maak van die agterstand van die taal, en probeer taalgetrouheid en taaltrots bevorder. “Ordinarily, it is true, when a mother-tongue community exposed to contact splits on the point of loyalty to its language, the more loyal sector will resort to self-pity and exhortation of the less loyal. But occasionally leaders with more than usual insight will attempt to enhance the language loyalty of their fellow speakers by methodic, organized means,” skryf Uriel Weinreich.[27]

      (ii) Die leiers wil die sprekers van die agtergestelde in alle opsigte ophef, ekonomies, sosiaal en kultureel. Die opheffing kan geskied op twee maniere:

      (a) In die eerste plek moet die taal in die sogenaamde “hoë funksies” tot sy reg kom, d.w.s. gebruik word as praat- en skryftaal in staatsinstellings soos die skool, staatsdiens, leër en geregshowe, maar ook in die kerke en in winkels, kafees en ander private ondernemings. Dis m.a.w. ’n strewe na “gelykgeregtigheid” van die bevoorregte en afgeskeepte taal, of om ’n ander algemene woord in Afrikaanse en Nederlandse publikasies te gebruik, “gelykberegtiging”.

      (b) In die tweede plek wil die leiers ook sorg dat die taal sy “lae funksies” behou, m.a.w. dat gesinne aanhou om die taal as spreektaal te gebruik.

      Na aanleiding van hierdie oogmerke kan ’n mens die volgende fases in taalstryde onderskei:

      (i) ’n Fase waarin die intellektuele die res van die bevolking bewus maak van die taal se agterstand en aanspoor tot taalgetrouheid en taaltrots;

      (ii) die “eintlike” taalstryd wat ’n stryd om funksies is;

      (iii) ’n fase van óf konsolidering óf imperialisme óf agteruitgang wat op die eerste belangrike winste volg.

      Die maatreëls om reg te laat geskied aan klein tale verskil hemelsbreed van dié van taalimperialiste, al sal laasgenoemde ook hul bes doen om dié maatreëls as verdrukking te bestempel, of as pogings om die miskende taal in ander se keelgate af te druk. Die verskil is soos dié tussen ’n uitbreidingsoorlog van ’n groot moondheid en die verdediging van die klein aangevalde staatjie: die optrede van taalimperialiste geskied altyd ten koste van die klein tale, terwyl laasgenoemde se stappe prakties maar noodweer is, partymaal ’n alte powere noodweer.

      4.2.1 BEWUSMAKINGSFASE

      Daarom, gedenk

      Den heiligen werk

      Van al wat U omringt. Blijft trouw aan uw verleden!

      Blijf steeds uw Vlaamschen oorsprong waard!

      Wees Vlaamsch van hert en Vlaamsch van aard!

      Wees Vlaamsch in uwe spraak en Vlaamsch in uwe zeden!

      Uw roem en uw geluk vindt ge op dien weg alleen,

      Met al de heerlijkheid der dagen van voorheen!

      Hierdie gedig van Karel Lodewijk Ledeganck, indertyd beskou as die digterlike credo van die Vlaamsgesindes, is ’n goeie voorbeeld van hoe intellektuele die bevolking probeer opwek om die taal te handhaaf. Die aard van die propaganda word deur praktiese oorwegings en die aard van die tydgees bepaal. Van die einde van die agttiende eeu af en veral in die negentiende eeu het baie Europese taalstryders veral gewys op die grootheid van die volk en die besondere eienskappe van die taal.[28]

      Vandag val die verheerliking van die eie volk en taal en die grootsheid van die verlede plek-plek uit die toon. Die romantiese nasionalistiese propaganda is ná ’n anderhalf eeu se gebruik en misbruik doodgewoon vervelig. In die roem op die deugde van die eie taal en volk was daar partykeer ook die kieme van ’n chauvinisme. Extra Hungarium non est vita, si est vita, non est ita (“Buite Hongarye bestaan geen lewe nie – en as dit bestaan, is dit nie soos hier nie”): Hierdie Latynse rympie tipeer wel die Hongare se sterk patriotisme, maar miskien het ’n oordosis daarvan tot hul latere kortstondige imperialisme bygedra.

      Nasionalistiese bewegings is vandag oor die algemeen nie meer “regsgesind” nie, maar linksgesind. “Blut und Boden” is vervang deur “Das Kapital” – in hierdie ietwat ongenuanseerde karakterisering, skryf ’n Hollandse taalsosioloog, L. Pietersen, steek ’n redelike mate van waarheid.[29]

      Wat nie verander nie, is dat die opwekking van positiewe gevoelens teenoor die eie taal, volk of verdrukte streek gepaard gaan met negatiewe gevoelens teenoor die mededingende taal, volk en “die hoofstad”. Dieselfde anti-Fransheid van die negentiende-eeuse Vlaminge kry ’n mens by die twintigste-eeuse Bretons.

      Taalstryders probeer gewoonlik aansluiting soek by ander verdrukte groepe, in die ou dae veral “stamverwante” volkere. Party Vlaamsgesindes was vroeër sterk pro-Duits.[30] Later in die negentiende eeu het baie van hulle inspirasie geput uit die vryheidstryd van hul stamgenote in Suid-Afrika. ’n Hele “Boere-romantiek” het so in Vlaandere ontstaan.[31]

      In die Eerste Vryheidsoorlog was daar in Vlaandere verskeie manifestasies ten gunste van die Boere. In Januarie 1881 is ’n “Manifest van de Vlamingen aan het volk van Engeland” vir ondersteuning onder die bevolking versprei om ’n beroep op Engeland te doen om verdere bloedvergieting te voorkom. ’n Groep Belgiese liberale, meestal Vlaminge, het in Februarie 1881 ’n versoekskrif aan koning Leopold II gestuur om hom te vra om sy bemiddeling aan te bied. Uit Suid-Afrika het daar offisiële bedankingsbriewe gekom en in April 1884 het die Transvaalse deputasie van pres. Paul Kruger, genl. N.J. Smit en ds. S.J. du Toit Vlaamse kringe in Brussel besoek.

      “Het voorbeeld van de Boeren in de strijd tot behoud van hun zelfstandigheid, werd in Vlaanderen verheerlijkt als een uiting van stambewustzijn en nationale fierheid: de strijd van de verre Nederlandse stamgenoten vond, voor deze flaminganten, in de eigen Vlaamse strijd zijn weerspiegeling en zij wilden ook kracht putten uit het voorbeeld van de Boeren,” skryf H.J. Elias.[32]

      Nog ’n aspek van taalpropaganda is die veroordeling van taalverraaiers.

      J.G. Herder het geskryf: “’n Sogenaamde opvoeding in Frans moet noodwendig die Duitse geeste vervorm en mislei.” “En jy, Duitser, wat terugkeer van die buiteland/sou jy jou moeder in Frans groet?/O, spuug dit uit voor jou deur/Spuug uit die lelike slym van die Seine/Praat Duits, o jou Duitser!” Jahn, ’n latere Duitse nasionalis, het gesê: “Hy wat sy kinders Frans leer of hulle toelaat om dit te leer, is ylhoofdig; hy wat daarmee volhou, sondig teen die Heilige Gees; hy wat sy dogter toelaat om Frans te studeer, is omtrent soos hy wat sy dogters die deugde van prostitusie leer.” In Ierland skrywe Thomas Davies in 1845, in Engels: “To lose your native tongue, and learn that of an alien, is the worst badge of conquest – it is the chain of the soul.”[33]

      Naas hierdie breër nasionalistiese propaganda is daar propaganda wat op die kenmerke van die taal self betrekking het.

      ’n Paar voorbeelde is te vinde in geskrifte waarin sprekers van Guarani op die skoonheid van hul taal wys: dis melodieus, “sy grammatiese struktuur is eenvoudig en sy vervoeging reëlmatig en onveranderlik”; “elke sillabe, elke letter is ’n beskrywende en volledig begripmatige wortel en selfs hoewel dit hierdie eienaardigheid bewaar, oortref dit die moderne flekterende tale deur die sagtheid, vloeiendheid en omvang van sy wonderbaarlike uitdrukkinge”; die taal is bekend vir sy “soetheid en subtiliteit en sy presiese uitdrukking van sowel intieme gevoelens as abstrakte idees”. En: Guarani is besonder geskik vir liefdesverklarings omdat hy so baie klanknabootsende woorde het: ivitu (die wond), parará (die geluid van ’n leë kan), guarará (die geluid van water of reën), pereré (om vlerke te klap), pirirí (die geluid van ’n knetterende vuur), sununú (harde donderweer). ’n Paraguayaan wat met ’n Franse vrou getroud is, het gesê dat hulle ná tien jaar nog nooit rêrig intiem was nie “want sy wil nie Guarani leer nie”.[34]

      Die taalpropaganda, soms mooiklinkend, partymaal niksseggend en ’n keer of wat ronduit onwaar, kan mense ’n tyd lank prikkel, maar die verbeelding van die massa kan dit nie aangryp nie. Met propaganda alleen kan geen taalbeweging